Oor godsdiens, en die waarde voorsien deur ’n legende

SONDAG 30 DESEMBER 2018

11:00

Vanoggend ’n artikel gelees wat argumenteer dat God verbeelding is – nie soos verbeelding nie, maar dat God in werklikheid Verbeelding is.

Elk geval, die deel waarvan ek op daai oomblik meer gehou het, was die skrywer se sortering van godsdiens met wetenskapfiksie, spookstories, en astrologie: “I was expelled from the Paradise of innocence that long ago summer, but imagination never abandoned me. It sank underground throughout my teen years in a voracious appetite for reading, especially science fiction, and hooked itself tenaciously to anything in popular culture that left it room to breathe — religion, ghost stories, astrology, the New Age …”

Dit het my herinner dat mense wat gelowig is, selfs in die mees tradisionele wyse, ’n versugting het na iets meer – iets verder as hierdie soms vervelige, soms eentonige, soms verskriklike, en soms hartseer lewe. Ek kan selfs insien hoe so ’n tradisioneel gelowige persoon iemand wat glad nie glo in God nie, sien as iemand sonder ’n verbeelding, selfs dat so ’n persoon bekrompe is.

Hierdie is ’n positiewe beskouing van godsdiens – dat dit kreatief is, kenmerkend van ’n persoon met ’n lewendige verbeelding.

My probleem met godsdiens soos ek dit ken, en soos dit aan my as kind geleer is, is die sterk assosiasie met voorskrifte en doktrine, waaraan eenvoudig geglo móét word as jy ewige verdoemenis wil vryspring. Hierdie manifestasie van godsdiens is allesbehalwe kreatief – dit sê immers ’n vet rooi, waarskuwende “Nee!” vir enige iets wat buite die lyne beweeg. Dit vereis wel verbeelding. Dit vra dat jy jou kop (of jou “hart”) moet oopmaak en bereid moet wees om te glo in iets wat jy nie kan sien nie. Dit vereis egter dat jy jou verbeelding nét genoeg moet gebruik om te kan aanvaar wat die sogenaamde heilige tekste voorskryf, of wat die gesaghebbendes in die geloofsgemeenskap jou leer om te glo. Gee jy jou verbeelding vrye teuels, soek jy moeilikheid. Die “waarheid” is immers reeds “geopenbaar” – hoekom wonder oor dinge wat net probleme kan veroorsaak?

16:11

Dis ’n bewolkte dag, met die temperatuur in die lae twintigs. Ek is in Kaohsiung se West Bay (Sizihwan) – ongeveer 25 minute se fietsry van ons woonstel af, by die National Sun Yat-Sen Alumni House – op die kaai wat oor die Straat van Taiwan kyk. Behalwe vir die see, sluit my uitsig ook in die groot rots met die ligtoring op die piek – volgens my een van Kaohsiung se beste natuurlike besienswaardighede, die berg by die universiteit, en ’n verskeidenheid mense.

Ek peusel aan klein tamaties, ’n piesang, en ’n filo-deeg koekie met botter en suiker in die binnekant wat ’n student Donderdagaand vir my gegee het. Met my nuwe wit oorfone op my kop, het ek eers geluister na twee Wealth & Mindset praatjies, en toe na Bruce Springsteen se Darkness on the Edge of Town.

Alles in ag genome, is dit my beste Sondag-uitry van die jaar.

* * *

Die tweede praatjie waarna ek geluister het, het gepraat van waarde wat ’n mens moet lewer as jy geld wil maak.

Soos ek toe daarna na die eerste twee Springsteen snitte luister, onthou ek wat ek gelees het oor wat resensente geskryf het oor hom toe sy debuut-album verskyn het in die vroeë sewentigs: dat sy lirieke herinner aan Bob Dylan, en sy sangstyl aan Van Morrison. Daar was dus nog nie Springsteen soos mense hom vandag ken nie, net iemand wat soos een bekende sanger liedjies geskryf het, en soos ’n ander bekende sanger gesing het.

Wat het hy gedoen? Hy’t aangehou liedjies skryf, en aangehou sing, en uiteindelik sy eie plek in die son gevind.

Wat het egter van hom ’n legende gemaak, om nie te praat van miljoene dollars nie? Hy het oor en oor en oor waarde geskep vir mense wat betaal het om hom te sien optree. Hy’t stories vertel. Hy’t sy hart uit gesing. Anders as sommige groepe of sangers, het hy nie net uitgekom op die verhoog en sy vyftien of twintig liedjies gesing en weer verdwyn nie – hy sou aand na aand vir drie of vier ure lank konsert hou. En aand na aand het konsertgangers gevoel hulle ervaar iets spesiaals.

Dit is wat Springsteen gegee het vir mense. En dit het nie net van hom ’n kreatiewe en kommersiële sukses gemaak nie, dit het van hom ’n legende gemaak.

______________________

Oor tyd, skryfwerk, gedagtes, boeke, my pa, en tradisie

WOENSDAG 5 DESEMBER 2018

Chris Rempel, ’n bemarker op wie se nuusbrief ek ingeteken was jare gelede, sê die volgende oor tyd: “[In] business, focus as much on earning time as you do on earning money. And when the money does come in, use it to further guard your time by choosing investments that aren’t ‘jobs in disguise’.”

Wat dit vir my sê, is dat ’n mens amper as ’n saak van roetine moet kyk na die ure wat jy spandeer elke dag, en ’n gesprek met jouself moet hê wat lyk soos die volgende:

“Is daar enige manier hoe ons daai uur kan bevry?”

“Watter uur?”

“Daai ene, tussen 18:00 en 19:00. Is daar ’n manier hoe ons iemand anders kan betaal om te doen wat ons dán doen? Of, is daar nie ’n beter manier om te doen wat ons dan doen nie? Of is daar nie ’n ander manier hoe ons dieselfde resultaat kan kry (heel waarskynlik geld) deur iets te doen wat minder van ons tyd opneem nie?”

SATERDAG 8 DESEMBER 2018

Waaroor gaan my skryfwerk?

Ek het ’n diepgesetelde behoefte om myself te verstaan, en so ook die wêreld waarin ek my daaglikse bestaan voer, en om soveel as moontlik te maak van die een lewe wat ek het.

Dan, wanneer ek reken ek het iets uitgesorteer, of tot een of ander insig gekom, het ek ’n sterk behoefte om dit te deel met mense. Om te skryf het nog altyd geregistreer in my kop as ’n goeie manier om dit te doen.

WOENSDAG 12 DESEMBER 2018

Ek sal uiteindelik kan sê die proses om finansieel onafhanklik te raak, was genotvol, stimulerend, vervullend, en uiters interessant, omdat feitlik alles wat ek gelees het, en toegepas het, neergekom het daarop om myself te verbeter.

DONDERDAG 13 DESEMBER 2018

Eerste samehangende gedagte na ek vanoggend wakker geword het: “Ek moet ‘net redelik’ verander na ‘steeds redelik’.” (In verwysing na ’n titel, “Het ek die rooi pil gesluk, of is ek net redelik?”)

Hier’s ek nou, ’n paar ure later, en ek dink steeds dis ’n goeie idee. Maar het ek regtig die idee gekry die oomblik toe ek wakker geword het? Ek glo nie. Ek dink dit was gister al in my gedagtes, maar te veel ander gedagtes het dit blokkeer. Toe ek vanoggend wakker word, was daar geen blokkasie nie – en die idee was as’t ware ontbloot.

Moet wees hoekom baie mense goeie dinge sê oor meditasie.

SATERDAG 15 DESEMBER 2018

Ek kan wat ek hierdie jaar geleer het oor finansiële sake opsom onder drie hoofde:

Een: Finansiële intelligensie: Wat is geld? Hoe bestuur banke werklik hulle besigheid? Waar en hoe moet jy jou geld belê?

Twee: Tegniese aspekte daarvan om geld te maak te ontvang: Om ’n besigheid te begin, volg hierdie stappe … of, om handel te dryf op die finansiële markte, begin hier …

Drie: Welstand ingesteldheid – sorteer onder Positiewe Ingesteldheid/Positiewe Sielkunde

Neem dit in ag wanneer jy boeke oor persoonlike finansies oorweeg. Min boeke dek meer as een van hierdie areas.

DINSDAG 18 DESEMBER 2018

My pa ís uiteindelik my held. Ten spyte van terugslae wat baie ander mans oor die afgrond sou gestoot het, het hy eenvoudig homself elke keer opgetel, en aangehou stap. Dit is hoe ek wil wees. En nie net het hy aangehou stap nie, hy doen dit met vreugde. En nie met vals vreugde omdat hy glo hy moet die skyn voorhou nie – dis ’n hardnekkige vreugde.

DONDERDAG 20 DESEMBER 2018

Ek lees Nagmaalsnaweek deur die jare van Prof. Bun Booyens. Ek besef weereens: Die godsdiens van die Afrikaner behels heelwat tradisie – om die waarheid te sê, heelwat volkstradisies van die Afrikaner is godsdienstig van aard.

Dit volg dus dat toe ek die godsdienstige oortuigings van my jeug laat vaar het, ek ook afstand gedoen het van belangrike tradisies van die kulturele groep waarbinne ek gebore en getoë is.

Watse alternatief het ek egter gehad? Tradisie is belangrik – sonder dit vind ’n mens dit moeiliker om jouself verbind te voel met jou voorsate. Maar hoe kon ek voortgaan om die godsdienstige tradisies van my voorsate te eerbiedig as die metafisiese onderbou daarvan nie meer vir my geloofwaardig was nie? Ek meen, is oneerlikheid ’n tradisionele waarde?

______________________

Moet ’n mens negatiewe nuus vermy?

VRYDAG 7 DESEMBER 2018

Ek voel altyd dat ’n mens moet weet wat aangaan in die wêreld, sodat jy voorbereid is daarvoor as iets sleg gebeur, of as iemand oor jou pad kom wat jou skade wil aandoen. As jy net fokus op die positiewe, gaan jy immers so onvoorbereid wees op die negatiewe as wat die Maya of Inkas was toe Europeërs met hulle gehoes en geproes by hulle kuste aan wal gestap het 500 jaar gelede.

Feit is egter dat daar elke dag miljoene slegte dinge gebeur – letterlik, miljoene slegte dinge. Geweld word gepleeg tussen mense agter geslote deure; roof en moord word gepleeg; aanvalle word geloods op niksvermoedende mense; een persoon of groep boelie ’n ander persoon op die internet, of by die skool, op by die werk, of op die speelgrond; mense bedrieg ander mense uit hulle hardverdiende spaargeld uit. Dit wat ’n mens sien op die een of twee nuuskanale wat jy kyk, of die een of twee koerante of webwerwe wat jy besoek, is ’n druppel in die emmer. As jy dan op hoogte wil bly van slegte dinge wat gebeur, hoekom tevrede wees met ’n druppel in die emmer? Hoeveel dink jy gaan daai druppel jou voorberei daarvoor as jy in ’n situasie is waar jy die slagoffer kan word van ’n boosaard?

Die ander ding is dit: As jy fokus op positiewe mense, en positiewe omgewings, is die kans goed dat jy in elk geval mense wat jou skade wil aandoen, gaan vermy sover as moontlik, en jouself heel waarskynlik nié gaan begeef in omgewings waar risiko hoog is dat iets sleg gaan gebeur nie.

Aan die einde kan jy nie alles beheer wat met jou gebeur nie. Ons almal is tot ’n mate vasgevang in ’n tuimeltreinrit. Of sal ek eerder sê, ons almal is vasgevang in een of ander tuimeltreinrit. ’n Mens het wel ’n keuse waar jy sit, en jy hét soms ’n baie goeie idee watse tuimeltrein watse tipe draaie maak.

’n Nuwe jaar is amper op ons voorstoep, so dis dalk ’n goeie tyd vir ’n voorneme: Gaan deur jou sosiale media, en deur ander bronne van inligting wat jy deur die loop van die dag onder oë het, en maak skoon wat jou nie help om ’n beter lewe te skep en te lei nie. En, meer spesifiek vir myself, dalk is minder nuus tydens ontbyt ook glad nie so ’n slegte idee nie.

______________________

’n Geskiedenis van negatiewe oortuigings en persepsies

SONDAG 2 DESEMBER 2018

Wat gebeur wanneer ’n mens bewus raak van presies hoe belangrik dit is hoe jy dink aan jouself en aan jou lewe, en van die graad waartoe ’n mens jou eie realiteit skep – beide positief en negatief, en hierdie oortuigings dan nie net toepas op pogings om jou eie lewe te verbeter soos om meer geld te maak nie, maar dit ook toepas op een van jou ander groot belangstellings, naamlik politieke geskiedenis?

* * *

Teen 1960 was 70% van die bevolking van Suid-Afrika swart, omtrent 10% bruin en Indiër, en omtrent 20% wit. Swart mense, asook bruin mense en mense van Indiese afkoms, was diep bewus daarvan dat hulle minder regte geniet het as die wit bevolking, en dat hulle nie soortgelyke geleenthede gehad as hulle wit medelandsburgers nie. Verskeie veldtogte is van stapel gestuur om druk te plaas op die regering om die situasie reg te stel.

Hoekom het hierdie pogings grootliks misluk in daai dekades? Hoofstroom geskiedenisboeke verduidelik dat die wit regering toegang gehad het tot beter wapens, en beter instrumente om die swart bevolking, en bruin en Indiese bevolkings, te onderdruk, en hulle aspirasies in bedwang te hou.

Ek reken nog ’n faktor het ’n rol gespeel. Ek glo ’n kritiese persentasie van die volwasse swart, bruin en Indiër bevolkings het geval vir die slenterstreek van wit oppermag. Dit kan selfs gesê word dat hulle vasgevang was in ’n tronk waarin hulleself die hoofspelers was.

Weereens kan ’n mens vir Marcus Garvey aanhaal wat geskryf het: “Liberate the minds of men and ultimately you will liberate the bodies of men. […] We are going to emancipate ourselves from mental slavery, for though others may free the body, none but ourselves can free the mind.”

* * *

“Sê jy hulle was verantwoordelik vir hulle eie ellende?” mag iemand vra wat gedagtes polisieer om seker te maak dit oortree nie die voorskrifte van die heersende dogma teen die einde van die tweede dekade van die 21e eeu nie.

Ek skryf net neer wat in my gedagtes is, sal ek antwoord. Ander mense kan hulle eie interpretasies maak volgens hulle oortuigings.

* * *

Impliseer mense wat my sal kritiseer vir hierdie gedagte-trein dat swart, bruin en Indiër mense nie in die vyftigs en sestigs en sewentigs in staat was daartoe om positiewer, meer vervullende lewens te skep nie? Was mense soos Nelson Mandela, Walter Sisulu en Oliver Tambo nie bewyse dat dit moontlik was nie? Húlle het immers nie die slenter van wit oppermag geïnternaliseer nie. Dit was hoekom hulle beskou was as gevaarlik, en hoekom die wit regering dit as so belangrik geag het om hulle aksies, en wát hulle kon sê aan wié, aan bande te lê! Spesifiek hierdie drie mans, maar ook talle ander swart, bruin, en Indiër mans en vrouens, het bevestig dat jy in staat is daartoe om jou eie werklikheid te skep, waarin jy suksesvol kan wees ten spyte van teenstand.

“Maar een van die drie mans wat jy noem, het opgeëindig in ballingskap, en twee in die tronk vir dekades lank,” sal my opponent in so ’n debat my herinner.

Dit is waar, sal ek antwoord, dat wat ander mense besluit, ’n effek het op jou eie vermoë om jou lewe in ’n bepaalde rigting te stuur. Mandela, Sisulu en Tambo hét in ballingskap of in die tronk opgeëindig omdat nie genoeg ánder mense soos hulle gedink het nie. Dat hulle nie aanvanklik suksesvol was nie – of dat dit vir drie dekades geblyk het dat hulle misluk het, was nie ’n verwerping van die idee dat jy in staat is om jou eie welstand en geluk te skep nie. Dit het bloot bewys dat dit saak maak as nie genoeg ander mense ook so glo nie. Om nie te praat van wat gebeur as ’n betekenisvolle deel van die bevolking glo dat hulpbronne beperk is, en hulle steun gee aan ’n regering wat ander bevolkingsgroepe onderdruk sodat hierdie deel van die bevolking meer vir hulleself kan kry nie.

Die geskiedenis van Suid-Afrika is ’n geskiedenis van negatiewe oortuigings en negatiewe persepsies oor die self, oor ander mense, en oor die lewe, wat noodwendig lei tot negatiewe reperkussies.

1960 Sensus

______________________