Dis dan dit vir ou Vet Dier

DONDERDAG 11 NOVEMBER 2021

Ons het gistermiddag, Woensdag 10 November 2021, die laaste keer vir Ou Vet veearts toe gevat.

Hy’t in Augustus erg opgegooi. Ons het gedink dis die einde. Hy’s hierdie jaar vyftien jaar oud, so ons dink al vir ’n geruime tyd hy sal dalk nie nog ’n jaar saam met ons wees nie.

Hy’t egter vinnig herstel, weer op die meubels gespring, sy gewone hoeveelheid kos geëet, en so aan.

Sondag 3 Oktober gooi hy weer op. Dié keer is dit erger. Ons het nie gedink hy gaan die aand uitsien nie. Die volgende oggend sien ek ’n dooie duif op die sypaadjie. “Death is in the air,” dink ek.

Ons het hom die middag veearts toe gevat, en die veearts het na ’n vlugtige fisiese ondersoek en ’n bloedtoets verklaar dat hy nierontsteking het, en dat hy net ’n twintig persent kans het om te herstel daarvan. Ons het hom vir drie dae by die kliniek gelos terwyl hy vloeistowwe gekry het. Daar was geen sekerheid of hy weer huis toe sou kom nie.

Drie dae later het ons hom teruggebring. Hy was onseker op sy bene, en het na ’n paar rondtes deur die woonstel besluit op die vloer aan die linkerkant van die bed in die hoofslaapkamer as sy laaste domein.

Dis waar hy gebly het vir die volgende vyf weke.

Ons het hom elke twee dae teruggeneem veearts toe vir vloeistowwe en so nou en dan ’n vitamieninspuiting.

Sommige dae het hy goed geëet en water gedrink; sommige dae het hy net gelê en voor hom uitgestaar. Die eerste week van November het ek aan die veearts se assistent gesê hy’s stabiel, loop ’n bietjie rond, en dat ek hom ’n paar keer sien eet en drink het. Hy’t dit wel nie altyd gemaak tot by die katsand nie, en hy’t ’n bietjie gelek, so sy lêplek moes gereeld skoongemaak word.

Sondag 7 November 2021 was die eerste keer wat ons bloed in sy ontlasting gesien het. En nie ’n bietjie nie. Dit was sleg.

Teen Dinsdag het hy nie meer geëet nie. Die weer het ook koeler geraak, en gelukkig het hy nie opgestaan en op die koue teëls gaan lê as ons hom op ’n handdoekie gesit het vir gemak met handdoekrol vir higiëne nie.

Ons het hom weer veearts toe gevat, en weer die onderwerp aangeroer van genadedood.

Ons het besluit óf Woensdag, óf Vrydag. ’n Artikel op die Internet het ’n veearts aangehaal wat sê om ’n dier sy finale inspuiting te gee, is een van die maklikste aspekte van sy werk, want hy bring aan ’n terminale siek dier verligting. Hy’t ook gesê dis een van die laaste uitdrukkings van barmhartigheid wat die eienaar kan gee aan ’n geliefde troeteldier.

Teen Dinsdagaand het ek gereken dat ons nie meer moet uitstel nie. Natasja het die volgende oggend vroeg die veearts laat weet.

Ek is bietjie van ’n swakkeling met hierdie sake. Toe ons besluit die uur het gekom, het ek hom van die vloer af opgetel en hom vir oulaas in sy kat-draer gesit. Hy’t net ’n bietjie gemurmureer.

By die veearts het ons hom uitgehaal en op die tafel neergeplaas. Ek het sy kop ’n paar keer gestreel … en toe besluit om weg te staan.

Die veearts het hom ’n slaapmiddel ingegee, en seker drie sekondes daarna toe dip sy kop af. Toe, met ’n groter inspuiting met vloeistof met ’n geel-oranje skynsel in sy hand, vra die veearts ons of ons seker is ons wil voortgaan. Ons het geknik. Toe spuit hy hom in. Ek het weggestap na die wasbak toe.

Ons het rondgestaan vir ’n paar minute. Die personeel het gepraat. Natasja het gepraat. Die veearts het gepraat. Ek het gevra hoe lank dit sal vat voor dit verby is. Natasja het meer spesifiek gevra hoe lank dit sal vat tot sy hart stop. Die vrou met wie ons die meeste gepraat het, sê toe dat dit reeds verby is. Sy hart het reeds gestop.

Ons het een van sy gunsteling komberse oor hom gedrapeer. Die personeel het sy liggaam oorgeplaas in ’n nuwe kartondoos, en verduidelik wat die proses is met die verassing.

Ons het betaal wat ons moes betaal, en almal bedank vir hulle hulp.

En huis toe gery met die leë kat-draer.

’n Troeteldier is een van daai dinge wat die lewe die moeite werd maak – spesifiek die hartseer, en die alleenheid, en die bekommernisse wat soms deel is van ’n mens se alledaagse bestaan.

Nou ja, dis dan dit.

______________________

Wat positiewe denke in praktyk beteken

DINSDAG 9 NOVEMBER 2021

Ek is ’n groot voorstander van positiewe denke – om te glo jy kan iets doen as jy jouself genoeg inspan.

Maar soms voel dit reg om Duiwelsadvokaat te wees, om eenvoudig te sê: Dit gaan nie werk nie; jy gaan jou tyd mors. Of, die waarskynlikheid is bitter skraal dat iets ’n sukses gaan wees.

Iemand sal my – van alle mense – dan wys op die krag van positiewe denke.

Die Duiwelsadvokaat antwoord: Dit is heeltemal akkuraat om te wys op wat jy kan uitrig met die regte ingesteldheid. Maar is jy bewus daarvan dat sukses met ’n spesifieke onderneming ’n massiewe hoeveelheid werk vereis? Is jy bewus daarvan dat jy ’n duisend of meer ure sal moet spandeer daaraan voor jy enige opbrengs sien? Is jy gereed om daarop te fokus soos ’n laserstraal? Is jy bereid om honderde of selfs duisende dollars daarop te spandeer?

Dit is wat positiewe denke in praktyk beteken: Om te glo dat iets so te sê reeds ’n realiteit is, so by so dat jy net jou hand moet uitstrek om dit aan te gryp. En as jy soveel daaraan glo, sal jy mos enige hoeveelheid tyd daaraan spandeer, met laser-fokus en geen moeite gespaar nie, en jy sal niks daarvan dink om ’n klomp geld te spandeer daaraan nie.

Positiewe denke is ’n krag om mee rekening te hou. Maar jy moet kan bewys en vertoon dat jou denke meer is as net woorde.

As jy dit nie kan doen nie, is jou onderneming verdoem tot mislukking. En kom ons wees eerlik: Op hoeveel projekte in jou lewe gaan jy werklik ’n duisend ure se harde werk insit? Op hoeveel ondernemings gaan jy ten minste maande van jou lewe spandeer, en honderde of duisende hardverdiende dollars?

______________________

Die digter in die vryemark, liberale demokrasie

SONDAG 7 NOVEMBER 2021

Ek het in my laat twintigs en vroeë dertigs ’n probleem gehad daarmee dat die talentvolle digter, of die liriekskrywer, of die musikant nie huur kan betaal, vir homself kan sorg, of kan bekostig om te trou en ’n gesin te begin as hy nie werk produseer waarvoor mense betaal nie – ongeag hoe briljant sy werk is.

Die vraag is, wie moet die digter of liriekskrywer of musikant se huur betaal, vir hom sorg, en hom in staat stel om te trou en ’n gesin te begin as hy dit nie self kan doen nie? Die regering? Wat sal die regering eis vir die guns? Sal die kunstenaar steeds kreatiewe vryheid hê? Sal die digter steeds die regering kan kritiseer is sy poësie? Sal die liriekskrywer steeds die staatsleier kan uittart met haar lirieke?

Ek het in my twintigs en dertigs ’n paar gedigte geskryf. Ek het dit beskou as waardevolle werk. Ek het geweet dit sou nooit geld maak nie, maar ek het gehoop dat dit gelees sal word.

So, wat het ek gedoen as ’n digter en skrywer in ’n vryemark, liberale demokrasie? Ek het ’n domeinnaam geregistreer, ’n webtuiste ontwikkel, en van my skryfwerk daarop gepubliseer. Toe het ek my gedigte in ’n Word dokument geformateer, en dit self gepubliseer in twee digitale formate, en sogenaamde druk-op-versoek formaat. Ek het dit ook gratis beskikbaar gestel op ’n paar groot webblaaie.

Soos ek verwag het, verkoop ek min kopieë, maar wat sou ek eerder wou sien – ’n regering wat mense dwing om dit te lees?

______________________