’n Patroon van twyfel en min skryf

MAANDAG 12 MAART 2018

Dis al Maart, en ek trek maar op bladsy 14 van hierdie jaar se notaboek.

Ek is deesdae nie altyd so seker daarvan dat ek nog iets het om te sê nie. Daar was ’n tyd wat ek met groot selfvertroue ’n argument kon voer. Ek is nie seker of ek dit nou kan doen nie.

Sekerlik het dit iets te make met die feit dat ek in my laat veertigs is.

Toe wonder ek oor vorige dekades. Siende dat 1998 – my laat twintigs – ’n jaar van groot omwenteling was, sou mens dalk verwag het dat ek meer sou skryf. Ek het nie veel geskryf nie. Die jaar toe ek 37 geword het – 2008, het ’n paar stukke opgelewer, maar niks in vergelyking met byvoorbeeld 2001 of 2003 of 2004 nie. Gaan 2018 die patroon voortsit?

Ek het ook vroeër vandag gedink dat hierdie storie van onseker wees oor die waarde van wat ek skryf, nonsens is. “Wees bereid om verkeerd te wees!” het ek myself herinner.

’n Paar minute later het ek egter begin twyfel daaraan of dit ’n goeie benadering is.

MAANDAG 19 MAART 2018

As die keuse is tussen DELUSIE en OM SOOS ’N WURM TE VERGAAN, kies ek DELUSIE.

______________________

Wat jy kry as jy strand toe gaan een naweek

MAANDAG 5 MAART 2018

16:21

Ek sê ’n paar dae gelede vir [N.], as ons genoeg geld maak uit ons Engelse klasse om geld te kan spaar, gee ons te veel klasse. Ons sal nooit, ooit genoeg geld vir ons oudag kan spaar deur teen NT$620 [omtrent USD20] per uur Engelse klasse te gee nie – dit nog op ’n deeltydse skedule waaroor ons geen beheer het nie.

Ons moet eenvoudig meer tyd spandeer aan ondernemings waarmee ons hoop om in die toekoms ons huidige inkomste te vervang – en hopelik te verdubbel en moontlik te verdriedubbel. Selfs al het ’n onderneming slegs ’n 50/50-kans, moet ons dit vat. Soveel te meer as dit die ontwikkeling van vaardighede behels waaroor ons nie tans beskik nie, maar wat ons in die toekoms kan gebruik.

17:46

Ek is amper 47. [N.] is amper 40. As ons dink ons kan staatmaak op ons inkomste uit die Engelse klasse wat ons gee, leef ons in ’n fantasiewêreld. Elke nou en dan word ons uit hierdie fantasie geruk – soos vandag toe ek ingelig word dat daar ’n vertraging is met my werkspermit, en dat iemand anders my klasse vir die volgende paar dae sal moet gee, maar as ons weer sien, is ons weer gesus deur die relatiewe gemak waarmee mens geld maak met Engelse klasse.

Feit is, ons kan nie daarop staatmaak nie! En dit geld net soveel vir enige van ons vriende wat ook hier in Taiwan hulle brood en botter verdien as Engelse onderwysers! Tensy jy ’n permanente posisie het, met pensioen en drie weke betaalde verlof, en betaalde openbare vakansiedae, vra jy eenvoudig om wreed ontnugter te word as jy dink alles is pluis!

Natuurlik sê ek hierdie dinge al vir amper so lank as wat ek in Taiwan is. En ek het al soveel lewensenergie en tyd en geld gespandeer om te probeer om op ander maniere as met Engelse klasse geld te verdien, dat ek eerder nie daaraan wil dink nie, om myself die emosionele ongemak te spaar.

Die moontlikheid kom elke nou en dan op om nóg ’n klas te aanvaar, nóg ’n aand wat jy kon werk aan ander ondernemings, wat opgeoffer sal moet word om NT$600 of NT$900 te verdien. Hier is wat jy jouself moet afvra: Kan ek nie my huur betaal nie? Is dit hoekom ek die klas moet vat? Eet ek nie genoeg nie? Val my klere van my lyf af en ek het die ekstra geld nodig om vir my ’n paar jeans te gaan koop by Costco? Indien jy “nee” antwoord op al hierdie vrae, indien jy antwoord dat jy net dink dit sal goed wees om ’n ekstra NT$X of NT$Y per maand te kry, stel ek voor jy gaan strand toe een naweek, gaan sit op die sand, en staar voor jou uit vir ’n paar ure. Want dis duidelik dat jy nie genoeg dink oor jou lewe, en oor die gevolge van hoe jy dit leef nie.

______________________

Want geld is god

SATERDAG 3 MAART 2018

Geld is Baas. Geld is Koning. Geld – kom ons wees eerlik daaroor – is God. Mense wy hulle lewens daaraan toe. Mense sterf daarvoor, en mense maak dood daarvoor.

As ek my sin kon kry, het ek my lewe ingerig op so ’n wyse dat ek nie veel geld nodig het nie, en derhalwe nie nodig het om veel geld te maak nie. Maar omdat ek die druk van die moderne beskawing verstaan, probeer ek ook om so gereeld as moontlik my hopie kontant aan te vul. Om die waarheid te sê probeer ek al vir baie lank om veel, veel meer geld te maak as wat ek werklik nodig het, sodat ek onder andere my ouers kan bystaan op hulle oudag.

Om verskeie redes is ek tot dusver nie vreeslik suksesvol daarin gewees nie. Ek maak genoeg om te oorleef, maar nie veel meer as dit nie. Ek is dus genoodsaak om my lewe in te rig op so ’n wyse dat ek met minder oor die weg kan kom. Dit volg dat ek kan beweer dat ek ’n goeie lewe het, en dat ek relatief gelukkig is, omdat ek geleer het om ’n goeie lewe te leef en gelukkig te wees met wat ek wel het – wat nie juis veel is nie, materialisties gesproke.

Maar ongelukkig is geld, God. Jou bejaarde ouers kan nie gehelp word met jou idees oor ’n eenvoudige lewe nie. Jou bejaarde ouers kan nie kos koop met jou kreatiewe vaardighede nie. Jou bejaarde ouers se mediese fonds kan nie betaal word met jou gedigte of jou aantekeninge oor die mens se bestaan nie. Net kontant is goed genoeg. As die rekening kom, en jy kan nie genoeg kontant uit jou kas, onder jou matras, onder jou kussing, uit jou lessenaar, uit jou skoen, uit jou sak of beursie, of uit die bank trek nie, kan jy maar net sowel hel toe gaan. Want geld is God.

______________________

Waarvoor ek geprogrammeer was

DONDERDAG 1 MAART 2018

Persoonlikheid (gegewe), omstandigheid (gegewe), kultuur en godsdiens (beide gegewe), het my tot ’n groot mate* geprogrammeer om ten minste aanvanklik as volwassene nie materiële gewin na te jaag nie.

Waarvoor is ek geprogrammeer? “God”, “Die Waarheid”, “Volg die Regte Pad”, doen jou deel om mense te help om “die lig” te sien. Die najaag van materiële gemak, geld, en status, was van mindere belang. Nie my keuse nie, let wel, maar hoe ek geprogrammeer is. Of, ek het sekerlik ’n keuse gehad, soos wanneer die dominee vir jou vra wanneer jy sestien is of jy kies vir Jesus of vir Satan. Dis ’n keuse, orraait.

Ek sê aanvanklik het persoonlikheid, omstandigheid, kultuur en godsdiens my geprogrammeer – of soos een dominee lief was om te sê, gedring – om sekere dinge te doen en nie ander nie, want uiteindelik het ek harder en harder probeer om geld te maak, en meer en meer tyd spandeer daaraan. Maar, wat was my opleiding daarvoor? Het ek op skool geleer van beleggings? Is ek as tiener of jong volwassene blootgestel aan suksesvolle ondernemings by die huis? Nee, en nee. Waaraan ek blootgestel is, is ouers wat hulleself doodgewerk het om geld in te bring om huur te betaal, skoolfonds te betaal, en kos en klere te koop, maar as “God” besluit “hy” toets jou, om te sien hoe jy reageer in ’n bepaalde situasie, dan rol “hy” eenvoudig ’n klip in jou pad en dan struikel jy. Dit was my opleiding. Dit was waaraan ek blootgestel is.

Natuurlik is ek al vir jare besig om myself te deprogrammeer. Maar laat ons nie onsself verbeel ons het in ’n vakuum grootgeword nie. Ja, jy beweeg aan en jy verbeter jouself en jou lewe ten spyte van psigiese klippe wat in jou pad gerol is toe jou brein en persoonlikheid nog besig was om te vorm. Maar kom ons verbeel nie onsself dat wie jy was as tiener nie ’n invloed gehad het op hoe jy gedink het toe jy oorgegaan het in jou volwasse jare nie, en dat besluite wat jy toe gemaak het, nie steeds ’n impak het op jou lewe twintig jaar later nie.

* Ek weet “tot ’n groot mate” is ’n “weasel phrase”, maar ons praat hier van indoktrinasie en die invloed van die omgewing op die psige – nie iets wat jy kan meet soos bestanddele vir ’n koek nie.

[Ek klink omgekrap in hierdie teks, en in ’n paar ander stukke voor hierdie een, en ná hierdie een. Feit is, ek was. En ek is nie in die gewoonte om notas wat ek geskryf het in ’n slegte bui, weg te gooi wanneer ek beter voel nie. Dit is net soveel deel van my waarheid as notas waar ek positief en gelukkig is.]

______________________