’n Terugkeer na godsdiens – op ’n manier

SONDAG 25 NOVEMBER 2018

Hierdie jaar mag uiteindelik blyk te wees die jaar van my terugkeer na godsdiens.

Ek het “god” op ’n manier herontdek – die ongelooflik magtige teenwoordigheid wat jou swaar straf as jy nie ’n goeie verhouding met “hom” het nie, maar as jy jou vrede kan maak met “hom”, is die wêreld jou pêrel.

Geloof hierdie keer is ook prakties. Jy word uitgenooi om te dink daaroor … en as jy sien dat dit sin maak, kan jy jou lewe transformeer. As jy dit nie wil aanvaar nie, sal jy nie verdoem word tot hel aan die einde van jou aardse bestaan nie, maar jou aardse bestaan mag dalk voldoende ellendig wees om te dien as jou persoonlike hel.

Ek praat natuurlik hier van die beskouing dat dit saak maak hoe jy dink aan jouself en jou lewe, en van jou verhouding met geld.

DONDERDAG 29 NOVEMBER 2018

Positiewe gedagtes, die ontwikkeling van ’n gesonde verstand en liggaam as deel van die proses om ’n goeie lewe te skep, ’n positiewe verhouding met ’n alomteenwoordige krag, die idee dat hierdie denkwyse soos ’n spier is wat gereeld geoefen en versterk moet word … lui dit ’n klokkie?

Ek verbeel myself vanoggend hoe dit sou wees indien ’n mens hierdie positiewe, kreatiewe benadering tot die lewe moet hanteer soos ander mense Evangeliese Christenskap hanteer, of dan soos ekself dit benader het in my tienerjare en vroeë twintigs. Voorbeelde sluit in dat ’n mens elke aand voor jy gaan slaap, en elke oggend na jy opstaan eers mediteer vir ’n paar minute, en dalk ’n bladsy of twee lees in ’n boek oor positiewe denke of selfverbetering. Dit sluit ook in dat jy dalk nodig het om vrede te maak met geld (beslis ’n belangrike aangeleentheid in my geval), en ’n nuwe, positiewe verhouding te begin daarmee. (As ’n mens lus is om dit ’n interessante spin te gee, kan jy natuurlik verwys na Geld, met ’n hoofletter.) Jou verhouding met ander mense met wie jy in aanraking kom, word ook geaffekteer. In stede daarvan dat jy reageer om negatiewe stimuli van ander mense, besluit jy om sover moontlik op die positiewe te fokus, en nie toe te laat dat jy ingetrek word in iemand anders se negatiewe spasie nie. Laastens sluit dit ook in – as jy gelukkig is – om gereelde ontmoetings te hê met mense wat soos jy dink en glo, ten einde julle lewensuitkyk en benadering tot die lewe te bevestig en te versterk.

Feit van die saak is, jy dryf óf deur die lewe met geen spesifieke uitkyk, doel of visie nie, en reageer bloot op dinge wat mense sê en doen, en op gebeure wat jou affekteer, óf jy kies doelbewus ’n bepaalde lewensuitkyk wat jou in staat sal stel om beter te funksioneer in die gemeenskap waar jy woon, om meer gedoen te kry in jou lewe, om uiteindelik gelukkiger te wees, en om dalk net ’n positiewe effek te hê op ander mense se lewens. Sommige mense kies geïnstitusionaliseerde religie met eeue-oue tradisies. Ander mense kies om sekere dinge te glo wat betref die funksionering van die menslike liggaam, en hoe die brein en persoonlikheid werk. (Daar is natuurlik vele mense wat in albei kampe is.)

Beide die tradisionele godsdienstige wat daagliks aksies neem en op ’n bepaalde wyse dink en kommunikeer, en die persoon wat glo in positiewe denke en selfverbetering wat ook daadwerklik op ’n daaglikse basis sekere aksies neem en op ’n sekere wyse dink en kommunikeer, sal iets herken in die ander een – ’n poging om jou lewe te leef op ’n manier wat beter werk as om maar net elke dag te vat soos dit kom, tot jy vergaan.

______________________

Programmering en ontdekking

WOENSDAG 28 NOVEMBER 2018

09:54

Iemand sê iets op Twitter oor gevolge van hulle grootwordproses. Ek verbeel myself sommige mense sal die persoon kritiseer dat hy kla in stede daarvan om dankbaar te wees vir wat hy gekry het.

Besef ek: Die persoon se argument is nie een van klagte nie, maar van kreatiewe proses.

Punt 1. Aanvaar jy is programmeerbaar.

Punt 2. Aanvaar jy wás geprogrammeer as kind en selfs as jong volwassene, en dat hierdie programmering ’n normale aspek is van lewe tussen lede van dieselfde spesie (ander diere doen dit ook). Aanvaar ook dat jy as volwassene die proses voortgesit het deur jou vroeëre programmering te internaliseer en te bevestig, selfs te verhard.

Punt 3. Uiteindelik konfronteer jy jou programmering, en jy identifiseer “foute” – dinge wat jy aanvaar het as waarhede wat nie werklik waarhede is nie.

Punt 4. Jy begin die proses om jouself te programmeer vir die wêreld en omgewing waar jy jou daaglikse bestaan voer.

12:38

Jy ontdek jouself soos jy ouer raak. Maar onthou: Jou ouers – die primêre programmeerders in meeste mense se lewens – ontdek jou ook soos jy ouer raak.

Jy word nie gebore met ’n instruksiehandleiding nie: “Moenie vir Jannie bangmaak met iets glibberigs nie. Hy sal ’n lewenslange fobie ontwikkel …”

Jou ouers kan nie wag tot hulle jou leer ken het voor hulle begin om jou te programmeer met basiese oortuigings, voorkeure, afkeure, en so meer nie. Natuurlik gaan hulle foute maak! Tyd is nie aan hulle kant nie. As hulle jou ’n blanko doek gelaat het tot hulle jou unieke samestelling ontdek het, of tot hulle presies geweet het watse programmering jy nodig sou hê om optimaal te kon funksioneer as volwassene, sou jy ’n groter fokop gewees het as wat jy is omdat hulle ’n paar foute gemaak het.

______________________

Die verskriklike waarheid van makliker geld

SATERDAG 24 NOVEMBER 2018

Ek lees ’n artikel oor valutahandel. Dit gaan oor ’n strategie waar ’n mens elke dag net ’n paar minute spandeer deur na die markte te kyk, en met slegs een of twee transaksies genoeg wins kan produseer om van te leef. Na ’n paar minute kan ek dit nie meer hou nie: “Honderde punte in ’n maand?! En jy kyk net ’n paar keer per dag na die mark?! Kan dit wees dat daar mense is wat so maklik geld maak?!”

Onthou: Hierdie uitbarsting kom nadat ek onlangs besef het dat ek ’n bepaalde bloudruk in my kop rondgedra het vir jare lank dat dit moeilik moet wees om geld te maak, dat ’n mens selfs moet verwag om te sukkel. Onthou ook dat ek hierdie programmering gekonfronteer het, en reeds begin het om dit te deaktiveer.

Feit is, die gedagte dat sommige mense enorme hoeveelhede geld maak sonder om vreeslik hard te werk (om dit sagkens te stel), stuit ’n mens teen die bors. Jy wil dit nie hoor nie. Jy hoor ’n stem van binnekant wat prewel, “Nee … nee … nee …” Jy dink aan plaasarbeiders wat vir dekades lank in die son staan en werk, aan fabriekswerkers wat vir dekades lank vervelige werk staan en doen, aan kantoorwerkers wat ná vyf jaar voel asof die gedreun van die lugverkoelingstelsel en die gedreun van mense wat iets probeer verkoop per telefoon langs hulle, hulle van hul kop af gaan maak … en dan gaan hulle voort om dit te doen vir nog twee of drie dekades lank.

Tog weet ’n mens dat daar mense is wat miljoene genereer deur produkte, of eiendom, of besighede of maatskappye te koop en te verkoop. Daar’s vermaaklikheidsterre wat miljoene maak deur liedjies te sing wat ander mense vir hulle skryf. En daar’s sportsterre wat vragte vol kontant verdien deur met ’n skeermes te poseer vir die kamera en breed te glimlag (en dan met ’n beter kwaliteit skeermes te skeer).

Ek dink die probleem is dat meeste mense hierdie voorbeelde afskryf as uitsonderings op die reël. Ek dink meeste mense verwag dat gewone mense soos húlle hulle brood en botter moet verdien in die sweet van hulle aangesig (of met die gedreun van die kantoor se lugverkoelingstelsel in die agtergrond). En omdat meeste mense verwag dat dit die realiteit moet wees, neem hulle aksies om hierdie realiteit te skep, en te handhaaf.

’n Siniese leser sal vra, “Wat is ‘maklik’?”

Natuurlik verskil mense se idees van maklik. Wat ek maklik vind, is dalk vir iemand anders onmoontlik, en andersom. Vele mense assosieer ook “maklike geld” met kriminele bedrywe.

Indien jy skepties is oor die moontlikheid dat jy meer geld kan maak as wat jy tans doen deur minder ure per dag te werk, stel ek die volgende toetsvraag voor: Is jy bereid om R1000 op die tafel te plaas in ’n weddenskap dat daar nié “gewone” mense is wat groot hoeveelhede geld na hulle toe kanaliseer op wettige wyses wat jy nie sal beskou as harde arbeid nie? Is jy bereid om so weddenskap te vat? Indien nie, is jou posisie dat dit moeilik moet wees om geld te maak, dat ’n mens selfs moet sukkel, dat die norm is dat ’n mens ten minste veertig ure per week moet spandeer “by die werk”, nie die werklike waarheid nie, maar bloot hoe jy geprogrammeer is. En hoe jy kies om te bly glo, want die alternatief sal vereis dat jyself dalk ernstige introspeksie sal moet doen.

______________________

Om te word wie ek nog altyd was

DONDERDAG 8 NOVEMBER 2018

Om nie genoeg geld te maak nie, of om finansieel te sukkel, is soos om jou hele lewe te spandeer in ’n klein dorpie, want jy dink nie jy sal dit êrens anders kan maak nie. Jy is in hierdie dorp gebore. Jy ken almal en almal ken jou. Jy ken al die strate, al die eetplekke, die beste plekke om vars groente en vrugte te kry, die beste swemplekke, die beste plek om na die sterre te kyk. Tog het jy nog altyd begeer om méér met jou lewe te doen. Jy wou nog altyd meer as net hierdie klein dorpie ervaar het, en ander mense ontmoet het – verskillende mense, miskien selfs interessanter mense; mense met verskillende lewensuitkyke en verskillende menings. Jy’t al selfs gedink daaraan om ander tale te leer. Jy voel dikwels gefrustreerd, soms eensaam, dikwels ongelukkig, maar almal is van mening dat jy dit nêrens anders sal kan maak nie. (Kyk na so-en-so wat probeer het – kyk waar hulle opgeëindig het, sal die mense altyd sê.) So, jy hou jou drome vir jouself en byt maar vas tot die einde toe.

Intussen is die wêreld vol mense wat uit klein dorpies gekom het, wat drome gehad het, wat hulle drome nagestreef het, en wat geglo het dat ook húlle dit op plekke kan maak wat groter is as die klein dorpies waar hulle gebore is en grootgeword het. Hulle het geglo dat hulle nie net oukei sal wees nie, maar dat hulle in ’n groter wêreld met minder beperkings en meer opsies sal kan floreer – waar hulle meer sal kan ervaar, meer sal kan leer, en sal kan groei tot in die volste weergawe van wie hulle kan wees.

* * *

Ek het vir veertien jaar lank sigarette gerook. Ek het gedink aan myself as ’n roker. By sosiale geleenthede het ek geweet wie die ander rokers was, en saam met hulle buite op die balkon of op die stoep gestaan en rookwalms blaas. Toe kom die punt wat ek ernstig daaroor geraak het om op te hou rook (of ernstiger as die vorige kere). Binne ’n kwessie van ’n paar maande het ek aan myself begin dink as ’n gesonde ou – ’n nie-roker. Na ’n paar jaar het ek nie eens meer per geleentheid een of twee sigarette buite ’n restaurant gerook saam met gewoonterokers nie. Ek het ten volle die identiteit van die roker ontgroei. Rook was iets wat ek op ’n stadium gedoen het, maar waarvan ek aanbeweeg het.

Dieselfde met beskouings oor geld en sukkel om geld te maak. Vir lank was dit deel van my identiteit. Ek het myself gesien as iemand wat sukkel om geld te maak. Ek het myself gesien as iemand wat beter sou doen in ’n wêreld waar geld nie so ’n groot faktor is nie. Ander mense het my ook geken as iemand wat nooit veel geld het nie – as hulle dit nie kon raai nie, het ek waarskynlik iets gesê wat dit duidelik sou maak.

Nou weet ek dat hierdie identiteit van sukkelaar-met-geld ook nie die waarheid was nie. Ek was nooit in wese ’n roker nie; dit was bloot ’n slegte gewoonte wat ek vir ’n paar jaar gehad het. So ook is dit nie my waarheid dat ek moet sukkel om geld te maak nie. Dat ek vir jare lank daarmee gesukkel het, was eenvoudig die resultaat van onbeplande slegte kondisionering, gebrek aan die regte opvoeding oor geld (waarvoor ek self verantwoordelikheid aanvaar siende dat ek al vir amper dertig jaar ’n volwassene is), en – soos sigarette – ’n paar slegte gewoontes wanneer dit gekom het by geld.

* * *

Wanneer jy jonk is, kom idees oor geld en oor geld verdien soms universeel voor; dit wil sê, jy veronderstel dat jy dieselfde idees en opvattings deel met jou skoolmaats en neefs en niggies en ander mense van dieselfde ouderdom in jou buurt.

Wat ’n mens natuurlik eers jare later besef, is dat opvattings oor geld, ’n mens se verhouding met geld, hoe dit werk om geld te verdien en te akkumuleer en te belê of daarmee rond te speel, selfs hoe jy dit spandeer, spesifiek was tot jóú, en miskien jou sibbe. Daar is ’n goeie kans dat jou skoolmaats en vriende en neefs en niggies van min of meer dieselfde ouderdom, en ander kinders in die buurt, ’n totaal verskillende opvoeding gekry het oor geld en verwante sake.

Natuurlik kry jy uitgebreide families of buurte of gemeenskappe waar daar groot ooreenstemming is tussen wat volwassenes hul kinders leer oor persoonlike finansies. Nietemin, ’n mens se verhouding met geld, en wat jy jou kinders leer, of wat jy geleer het van jou ouers, kan nie so maklik vasgevat word soos godsdiens of politiek of kultuur nie, en die lesse is in vele gevalle subtiel. Dit is derhalwe maklik om as kind totaal onbewus te wees van die effek wat dit het op jou ontwikkeling, of as ouer om bewus te wees van wat jy jou kinders leer.

* * *

’n Kind word groot in ’n huis waar hy geleer word dat hy moet dans en sing vir sy brood en botter. Inderwaarheid is hy ’n ingetrokke outjie, en hy geniet dit glad nie. Dis nie wie hy is nie. Die verhoog is nie sy natuurlike domein nie. Na vele jare ontdek hy dat hy eerder huise wil ontwerp. Mens kan amper sê dat hy in wese ’n ontwerper is.

Vir my is die toestand van bekommernis oor geld soos daai outjie wat ernstig ongemaklik is op die verhoog. Bekommernis oor geld is nie my waarheid nie. Dit kom nie natuurlik vir my nie. Dit stoot op in my binneste en sit in my keel vas. Mens kan amper sê dat ek in wese ’n welgestelde ou is wie homself nooit oor geld hoef te bekommer nie.

Wat ek nou doen, is om hierdie negatiewe beskouings te konfronteer en te vervang met positiewe beskouings. Die uiteinde van die proses is dat ek sal wees wie ek nog altyd diep in my binneste was, maar nie kon uitdruk nie. Ek word dus nie ’n nuwe mens nie. Ek word bloot wie ek nog altyd was.

SONDAG 18 NOVEMBER 2018

Daar word gesê ’n mens moet buite jou gemaksone gaan as jy sukses wil behaal. Vir my, met geldmaak, was dit die teenoorgestelde. Ek het geglo geld was slegs te vinde buite my gemaksone – as iets maklik was, of lekker was om te doen, kon dit uit die aard van die saak nie werk nie. Iets moes moeilik wees, onaangenaam, vervelig. Dan, en alleenlik dan, het ek ’n kans gestaan.

______________________