Gesprekspunte, slagoffers, programmering, “witheid”, einde van ’n projek

Week 29, 2020

MAANDAG 13 JULIE 2020

Daar’s ’n fassinerende tendens in publieke diskoers. Iets is waar en korrek. Dan wys iemand wat geklassifiseer word as “regs” daarop dat die ding waar en korrek is. Dan word dit ’n “regse gesprekspunt” dat iets waar en korrek is. Is die ding dan nou waar en korrek of nie?

Of iets is ’n goeie idee, soos om genoeg water te drink, of nie te veel suiker te eet of te drink nie. Dan gee iemand wat geklassifiseer word as “konserwatief” sy of haar ondersteuning aan die idee. Dan word dit ’n “konserwatiewe beskouing” dat die idee goed is. Is die idee dan nou goed of nie?

DINSDAG 14 JULIE 2020

Telling blacks in poverty that they are victims of capitalism and racism makes it more likely that they remain in poverty.

— Larry Elder (@larryelder) July 12, 2020

(Vir in geval die twiet verdwyn, kliek hier vir ’n skermgreep.)

Gestel ’n jong volwasse man was al ’n slagoffer van kapitalisme – sê die ou het gewerk vir ’n besigheid waar die eienaar besluit het arbeidskoste is te hoog en sy wins is te laag om die besigheid die moeite werd te maak vir hom, en hy laat gaan toe ’n paar werkers. ’n Mens kan argumenteer dat die man ’n slagoffer was van kapitalisme. Maar gaan dit hom help om dit vir hom te sê? Gaan dit hom help om kos op die tafel te sit deur dit by hom in te hamer en die sin van ongeregtigheid in hom te laat prut tot dit kookpunt bereik? Of sal dit beter wees om hom te leer hoe hy homself kan verbeter, en sy vaardighede kan uitbrei en verskerp, en hoe ook hý in ’n vryemark kapitalistiese stelsel kan floreer?

’n Soortgelyke argument kan gemaak oor ’n jong volwasse man wat al etlike kere vooroordeel ervaar het in sy lewe oor ’n aspek van sy persoon waaroor hy geen keuse gehad het nie, soos velkleur of etnisiteit. Is dit opbouend om ’n sin van misnoegdheid in hom te kweek? Sal dit hom help om suksesvol te wees en te floreer? Sal dit sy kinders help om self te floreer as volwassenes as hierdie misnoegdheid ook by hulle geprogrammeer word? Of sal dit beter wees as hy aan sy kinders leer dat sommige mense ander mense sleg behandel, maar dat húlle in die minderheid is, en dat daar veel meer mense in die wêreld is – van alle rasse en etnisiteit, en van verskillende kulture en oortuigings – wat hulle suksesvol wil sien?

* * *

En hierdie:

KKK: Whites are the superior race, and we pride ourselves in accepting it.

CRT: Whites are the superior race, and we hate ourselves for accepting it.

— James Lindsay, knows kung fu (@ConceptualJames) July 14, 2020

(Vir in geval die twiet verdwyn, kliek hier vir ’n skermgreep.)

Steek daar nie waarheid in nie? Dissipels van Critical Race Theory glo immers dat ongeag die talent, intelligensie, entrepreneursvermoë, kreatiwiteit, en ondersteuning van vriende en familie, geen swart persoon in ’n samelewing waar hulle ’n minderheidsgroep is ooit bokant ’n sekere vlak van sukses kan styg nie. Hoekom nie? Volgens die CRT-dissipels, omdat wit mense eenvoudig te magtig is, en almal wat nie wit is nie, onderdruk in ’n wit-oorheersde stelsel want … Hoekom presies? Omdat dit nie goed is as almal woeker en geld maak en geluk vind en suksesvol is nie?

WOENSDAG 15 JULIE 2020

Die sentrale idee van Mark Douglas se boek, Trading in the Zone, is dat kragtige gedagtes, insluitende oortuigings en fobies, soos bondels elektrisiteit is in jou brein – amper soos gelaaide batterye. Elke keer wanneer ’n sekere ding gebeur, of wanneer iemand iets sê, is dit asof iemand die draadjies verbind aan die battery, en dan “skok” dit jou in een of ander reaksie of gedrag in.

Almal word geprogrammeer van kleins af met sekere oortuigings, of dit word aan jou duidelik gemaak dat jy op ’n bepaalde manier moet reageer op bepaalde stimuli, of jy word blootgestel aan dinge wat jou bangmaak, wat die assosiasie by jou tuisbring dat hierdie spesifieke ding gevaarlik is, en jou skade wil aandoen. Al hierdie oortuigings, vrese, en gedragsassosiasies is volgens Mark Douglas soos bondels elektrisiteit in jou brein.

Hier’s die belangrike ding: Dit is moontlik om hierdie bondels elektrisiteit te deaktiveer, om die “battery” pap te maak, as’t ware. Dit sal altyd in jou brein wees, maar soos met enige pap battery, as jy later die draadjies bymekaar bring, sal die skok ligter en ligter raak, tot jy dit uiteindelik nie eens meer voel nie. Dit is hoe vrese mak word. Dit is hoe oortuigings minder belangrik word. En dit is hoe slegte gedrag wat ’n gewoonte geraak het, verander kan word, met die verwagte positiewe resultate.

Dit wat voorheen ’n slegte invloed op jou uitgeoefen het, is steeds daar, maar die effek is so te sê zero.

DONDERDAG 16 JULIE 2020

Volgens die National Museum of African American History and Culture, en ’n PDF wat aan hul webwerf gekoppel is, is die volgende algemene kenmerke van die meeste Amerikaanse witmense, meeste van die tyd:

• Ruwe individualisme

• Die kernfamilie

• Klem op die wetenskaplike metode

• Harde werk is die sleutel tot sukses

• Beplanning vir die toekoms

• Uitstel van bevrediging

• Fokus op aksie

• Besluitneming

• Geskrewe tradisie

• Hoflikheid

Ek het ’n paar maande gelede op ’n soortgelyke lys afgekom en was huiwerig om te glo dat dit ’n werklike dokument is wat gebruik word deur mense wat hoop om ernstig opgeneem te word. Toe ’n goed ontwerpte infografika hierdie week op sosiale media die rondte begin doen, het ek weereens gewonder: Is dit moontlik dat mense ernstig is met hierdie storie?

Ek volg toe ’n skakel … en daar sien ek dit: ’n volledige uiteensetting met die berugte infografika op die bladsy, op die webwerf van die National Museum of African American History and Culture.

Die lys bevat ’n paar ander items wat ekself te belaglik sou ag om te publiseer op ’n openbare forum – dinge soos dat “meeste wit mense meeste van die tyd glo” dat die vrou ondergeskik is aan die man; dat wit mense ’n voorkeur het vir biefstuk en aartappels want “vervelig is die beste”; dat wit mense se idee van vroulike skoonheid soos Barbie lyk – blond en maer; dat emosie nie getoon moet word nie, en dat ’n mens se persoonlike lewe nie bespreek moet word nie. En meeste wit mense is aggressief en ekstrovert? Seriously?

Dan is daar die dinge waar jy sou wou sê, “So, what?” voordat jy onthou dat “witheid” veronderstel is om sleg te wees, en dat daar van mense verwag word om hulself van hierdie dinge te distansieer:

• Vakansies van wit mense is gebaseer op die Christelike godsdiens … Waarom sou dit nie wees nie? Wit mense kom uit Europa, waar hierdie godsdiens tweeduisend jaar lank die septer geswaai het!

• Wit mense aanvaar dat individue beheer oor hul omgewing het. Het ons nie tot ’n groot mate beheer oor ons omgewings nie? Is dit polities verkeerd om te beweer dat ’n skoon, netjiese omgewing bevorderlik is vir beter gemoed? Niemand beheer weerstelsels of aardbewings nie, maar het jy nie ten minste beheer oor die kombuis, die yskas, die sitkamer, en jou slaapkamer nie?

• Die meeste wit mense glo blykbaar dat hulle altyd “iets” aan ’n situasie moet doen. Sommige mense – van alle rasse, kleure, en geloofsbelydenisse – het sekerlik hierdie neiging, maar die meeste wit mense? Hoe het hulle dit vasgestel? Dit is immers ’n baie spesifieke persoonlikheidseienskap!

• Wit mense se idee van geregtigheid is gebaseer op die Engelse gemenereg, en estetika is gebaseer op die Europese kultuur? Waarom sou geregtigheid in samelewings wat oorspronklik deur Europese mense ontwikkel is, of dan in hierdie geval spesifiek uit Engeland, nie gebaseer wees op die Engelse gemenereg nie, en hul estetika nie op die Europese kultuur nie?

Ek het sover die helfte van my lewe in Noordoos-Asië gespandeer, en meeste van die kenmerke wat toegeskryf word aan wit mense, herken ek in die Taiwannese mense met wie ek werk, en waarmee ek sosialiseer, en waarmee ek vir ure lank gesels elke dag in ’n klaskamer. Die mense wat hierdie ligsinnige propaganda skryf vir ’n kulturele rewolusie wat zero kans het om op die langtermyn te slaag, moet regtig ’n bietjie verder kyk as hulle eie klein wêreldjies!

NUUT:

Dit lyk asof iemand by die National Museum of African American History and Culture die boodskap gekry het dat mense buite hulle binnekring na die infografika gekyk het, en die konsensus nie positief was nie. Bogenoemde skakel na die PDF is ook verwyder (die PDF is wel steeds beskikbaar op die webwerf van Cascadia College). Een Twitter-gebruiker het ’n kopie van die grafika geplaas, en as dít uiteindelik verwyder word, is ek seker dat meer kopieë in ander uithoeke van die internet gevind kan word.

We have listened to public sentiment and have removed a chart that does not contribute to the productive discussion we had intended.

The site’s intent and purpose are to foster and cultivate conversations that are respectful and constructive and provide increased understanding.

— Smithsonian NMAAHC (@NMAAHC) July 16, 2020

VRYDAG 17 JULIE 2020

Ek oorweeg om hierdie projek, wat ek begin het dertien weke gelede, op te skort. Redes sluit die volgende in:

• Ek het gedink ek gaan oor ’n verskeidenheid onderwerpe skryf, maar sedert die begin van Junie skryf ek omtrent net oor politiek – belangrik, maar dit raak eentonig.

• Die politieke opinies wat ek uitspreek, word deur kortsigtige kommentators gesien as “konserwatief” of “regs”, dit ten spyte daarvan dat een van die hoë-priesters van Woke, Don Lemon van CNN, sewe jaar gelede presies dieselfde tipe sentimente gehuldig het, met sy kenmerkende “Listen to me, I know …” houding. Was dit toe verkeerd, of het die beskouing van “links” en “regs” dramaties geskuif die afgelope paar jaar? Ek verkies in elk geval ’n posisie bokant politieke skeidslyne. In die huidige geëlektrifiseerde atmosfeer word ek in ’n politieke stam in geboender deur mense wat skynbaar nie verby stamme kan sien nie.

• Ek fokus amper uitsluitlik op kort stukkies. Ek sal graag weer ’n stuk wil skryf wat langer is as drie paragrawe. Nie net die onderwerp van my skryfwerk deesdae nie, maar ook die formaat raak eentonig.

• Ek het ander projekte waaraan ek wil werk – seker ’n dosyn of meer stukke van verlede jaar en vroeg hierdie jaar wat ek nog moet redigeer. En dan is daar nog twee bundels in my reeks van drie jaar gelede wat ek moet afhandel.

• Die ervaring om myself te forseer om elke dag iets te skryf, was insiggewend. Ek sal graag wil sien wat ek kan optower as ek elke dag ’n uur lank werk aan iets wat nie so beperk is in formaat of onderwerp nie.

Wat het ek geleer die afgelope dertien weke?

• Ek het nie geweet hoe lank ek so ’n projek sou kon volhou nie. Ek het nou die antwoord.

• As jy jouself forseer om elke dag iets te publiseer, dink jy aan goed om te skryf. Ek het telkemale myself gevind waar ek net ’n paar gedagtes aanmekaar wou ryg vir my eie vermaak op pad om kos te koop, of op pad terug van die supermark af, net om te onthou dat ek nog iets soek om oor te skryf daai dag. Soos die idee om elke dag te dink aan tien dinge om voor dankbaar te wees jou brein fokus daarop om presies sulke dinge raak te sien, so gryp jou brein vinnig iets vas as jy soek vir iets om oor te skryf.

Wat gaan ek nou doen?

Ek gaan seker maak al die stukke van Bundel 8: Oor skryfwerk en die skrywer het ’n laaste deurlees gehad, dan gaan ek die dokumente wat die fisiese en elektroniese boeke gaan word, aanmekaar sit. Dan is daar nog ’n paar paragrawe wat ek wil hersien in Dertien minute op ’n Saterdagaand – wat ek reeds in 2013 gepubliseer het (sukkel nog om dinge te laat gaan). En wie weet, dalk skryf ek nog ’n bietjie oor politiek.

Hier is skakels na al die stukke in die projek wat dan vandag tot ’n einde kom:

Nuwe projek, kanse waag, Chinese identiteit, rympies en drome

Kruideniersware, irriterende karakters, boeke, self-kritiek, en ’n model van ’n ou dorp

Te dom of te slim, argumente, ou stede, swaar gedagtes, en die virus leeslys

Simulasie, dinge verander, twee broers, selfvertroue, en ’n boereoorlog

Snaakse mense, lewe in Taiwan, volle weergawe van jouself, droomtonele, en ou foto’s van my buurt

Gunsteling winkel, die Ngo-broers, oorlogdokumentêre, en ’n paar ander gedagtes

Protes en onlus, gedienstige volwassenes, Taiwannese onafhanklikheid, koop-en-verkoop

Mode, nonsens, inkopies, feite en wetenskap, en vaardighede

Onderwerping aan organisasies, ideologiese virusse, en programmering van die psige

Rassistiese bewegings, identiteit, vrae, en redes

Belangrike dae, moderne antirassisme, beloofde middagete, en ’n besoek aan Taipei

Hulpeloosheid – vermy die plaag – wees ’n goeie mens

______________________

Hulpeloosheid – vermy die plaag – wees ’n goeie mens

Week 28, 2020

MAANDAG 6 JULIE 2020

Aangeleerde hulpeloosheid is wanneer ’n mens of dier herhaaldelik blootgestel word aan ’n stimulus wat hulle nie in staat is om te ontsnap op daai oomblik nie. Uiteindelik gaan lê die gedagte in die mens of dier se onderbewuste dat hulle geen beheer oor die situasie het nie. Hulle gedrag manifesteer ’n aanvaarding dat daar niks is wat hulle kan doen om weg te kom van die ongemak, of om hulle situasie te verbeter nie.

Selfs wanneer daar later ’n geleentheid is om die bron van hulle ongemak te ontsnap, of ’n manier om hulle situasie te verbeter, verhoed hierdie aangeleerde hulpeloosheid dat hulle van die geleentheid gebruik maak.

Omdat hulle verwag dat iets sleg gaan gebeur en omdat hulle glo hulle magteloos is om iets daaraan te doen, doen hulle niks nie. Hulle hou bloot aan om die pyn en ongemak te verduur. Dit ten spyte daarvan dat dit binne hulle vermoëns is om ten minste die pyn en ongemak te verminder, of selfs om van hulle situasie te ontsnap.

Die moontlikheid dat hulle nie pyn en ongemak hoef te verduur nie, selfs dat hulle ’n omgewing en situasie kan skep waar hulle merendeels gelukkig en tevrede kan wees, dring nie deur die waas van hulpeloosheid nie.

Die mens wat die potensiaal gehad het om gelukkig en tevrede te wees, en selfs ander mense te help om hulle aangeleerde hulpeloosheid te deaktiveer en gelukkig en tevrede te wees, bly hulpeloos, ongelukkig en ontevrede. Die potensiaal bly onvervul.

DINSDAG 7 JULIE 2020

’n Pa sê vir sy kinders, “Moenie moeite doen nie. Julle sal dit in elk geval nie maak nie.” In ag genome die enorme negatiewe effek wat dit waarskynlik sal hê op die kinders se lewens, kan ’n mens ’n argument uitmaak dat die pa ’n euwel persoon is.

As iemand – veral iemand in ’n gesagsposisie – vir mense sê dat ’n positiewe selfbeeld en ’n goeie mate van selfvertroue problematies is, dat hulle eerder hul selfbeeld bietjie moet knak en hulle selfvertroue moet verlaag, kan ’n argument uitgemaak word dat hierdie persoon ’n toksiese invloed uitoefen, en dat hy of sy vermy moet word soos die pes.

Terloops, individue pleeg misdade, nie gemeenskappe of groepe nie. Individue studeer hard en kry goeie punte, nie gemeenskappe of groepe nie. Individue werk hard, en kry goeie poste, nie gemeenskappe of groepe nie.

Hier volg dan vandag se opvoedkundige les, komplimente van Twitter (kliek op die twiet om die hele boodskap te lees):

The City of Seattle held a training session for white employees called “Interrupting Internalized Racial Superiority and Whiteness.”

So I did a public records request to find out exactly what this means. Let’s go through it together in this thread. 👇

— Christopher F. Rufo (@realchrisrufo) July 6, 2020

WOENSDAG 8 JULIE 2020

Enige redelike mens weet dis ’n slegte idee om “wolf” te roep. Jy wil jou waarskuwings spaar vir werklike gevaar.

’n Waarskuwing is beslis wat James M. Masnov gee in die inleidingsparagraaf van sy artikel, “History Killers: The Academic Fraudulence of the 1619 Project”. Hy praat van die begin van ’n nuwe donker era, waarin mense wat glo in liberale waardes ’n eksistensiële stryd voer met donker magte.

In die res van die artikel bespreek hy die kontroversiële 1619 Projek, waarin die skrywer, Nikole Hannah-Jones, aanvoer dat slawerny die werklike basis is van die Verenigde State van Amerika; dat 1776 nie die begin van die VSA was nie, maar 1619, toe die eerste slawe gearriveer het, en dat die Amerikaanse Vryheidsoorlog teen Brittanje gevoer is om die instelling van slawerny te beskerm.

Masnov verduidelik waarom die sentrale idee agter die 1619 Projek histories vals is. Hy voer ook aan hoe liberalisme beter antwoorde bied vir wat steeds verkeerd is met Amerika as wat die sogenaamde Sosiale Geregtigheidsbeweging en organisasies soos Black Lives Matter kan bied.

Maar die eerste paragraaf slaan definitief die hardste. En tensy jy met jou kop in die sand staan, behoort jy duidelik die buitelyne te kan sien van die wolf waaroor hy waarsku.

“History Killers: The Academic Fraudulence of the 1619 Project”

DONDERDAG 9 JULIE 2020

’n Betekenisvolle proporsie Westerse politieke, opvoedkundige, intellektuele en kulturele figure in dominante posisies wil hê dat nie-swart mense aan hulleself moet dink as rassiste. Vir my is dit eenvoudig nie waardevol om so aan myself te dink nie. So ’n denkwyse hou vir my geen praktiese waarde in nie.

Wat wel vir my van praktiese waarde is, is om aan myself te dink as iemand wat nie iemand takseer op sy of haar velkleur of etnisiteit nie, maar eerder op die inhoud van hulle karakter. Uit jare se ervaring het ek geleer dat mense goed reageer daarop, en dat dit lei tot positiewe en konstruktiewe sosiale en professionele verhoudings.

Ook uit eerstehandse ervaring, en uit wat ek kan aflei uit ander mense se ervarings, is dit ’n benadering wat werk vir vele ander mense aan beide kante van die sosiale interaksie. Dit maak dus sin vir my om voort te gaan om te doen wat werk.

VRYDAG 10 JULIE 2020

Ek was op ’n stadium van my lewe idealisties, en het vasgehou aan romantiese idees van ’n meer ideale wêreld. Ek het ook geglo dat ek nooit my idealisme sal laat vaar nie.

Ontnugterd was ek dus toe ek verneem dat ook die Duitse Nazi’s gesien word as romanties in hulle geloof in ’n suiwer Ariese Duitsland, sonder enige Jode of ongure nie-Duitsers. Selfde reaksie toe ek gelees het dat die Taliban in Afghanistan, en later ISIS in Irak en Sirië, ook beskou word as idealiste wat glo in ’n romantiese ideaal van mans met baarde en vrouens wat gehoorsaam is aan hulle mans, in ’n samelewing wat lyk soos agste-eeuse Arabië, en wat volgens soortgelyke wette en regulasies regeer word.

Dit was duidelik dat romanties en idealisties ander betekenisse gehad het as om blomme vir jou vriendin te gee op Valentynsdag, of om drome te koester om ’n skrywer te word.

Daar was ook ’n tyd toe ek geglo het “links” beteken om geïnteresseerd te wees in geregtigheid vir almal, veral vir die “underdog”, en dat linksgesindes meer omgee vir hulle medemens; ook dat “konserwatief” mense beskryf het wat godsdiens in ander mense se kele wou afdruk, en wat geglo het groot maatskappye ’n groter sê moet hê in hoe die samelewing regeer word as die gewone man en vrou op straat.

Ek het ook naïewe idees gehad oor rewolusies, en oor sosialisme. ’n Paar boeke oor Mao en Stalin, en oor Rooi China en die Sowjet Unie het egter die realiteit van kommunistiese state redelik duidelik uitgespel. Ek was ook bewus daarvan dat ek aangetrokke was tot sosialisme omdat ek sleg was daarmee om te woeker vir meer geld in ’n vrye mark stelsel.

Ten laaste moet dit genoem word dat ek op ’n stadium beïndruk was met die idee dat filosowe, en ander akademici, nie net die wêreld moet bestudeer nie, maar moet verander. Mense begeer dat hulle lewens, en hulle werk, moet saak maak. Wie is tevrede daarmee om die wêreld te analiseer as hulle soveel meer kán doen? Die idee dat akademici nie aktiviste kan wees en steeds getrou kan wees aan die objektiewe bestudering van hulle onderwerp nie, was nie op daai stadium so duidelik aan my nie. As jy immers ’n aktivis is, hoe kan jy kyk na nommers en name en ander leidrade en dit volg waarheen dit jou vat, as jy reeds besluit het waarheen jy wil gaan? Dieselfde geld vir joernaliste.

Dis al wat ek wou sê. Goeie dag.

______________________