’n Ander soort aftrede

MAANDAG 25 JULIE 2022

Karl Marx se tweede oudste dogter, Jenny Laura Marx, en haar eggenoot, Paul Lafargue, het saam selfmoord gepleeg in 1911. Hulle het die grootste deel van hul volwasse lewens gespandeer aan rewolusionêre werk, onder andere die vertaling van Karl Marx se werke in Frans. Toe sy 66 was en haar man 69, het hulle besluit hulle het niks meer om te gee aan die saak waaraan hulle hul lewens gewy het nie.

Paul Lafargue het in ’n brief onder andere die volgende geskryf ter verduideliking: “Healthy in body and mind, I end my life before pitiless old age which has taken from me my pleasures and joys one after another; and which has been stripping me of my physical and mental powers, can paralyse my energy and break my will, making me a burden to myself and to others. For some years I had promised myself not to live beyond 70; and I fixed the exact year for my departure from life. I prepared the method for the execution of our resolution; it was a hypodermic of cyanide acid.”

Dis verseker ’n onaangename onderwerp. Ou man of vrou reken hulle is nie meer bruikbaar nie, of kan nie meer ’n bydrae maak nie, so verhaas die einde. Sou regerings en maatskappye wat toenemend hoë pensioenuitbetalings moet maak aan mense wat langer en langer leef, entoesiasties wees oor so ’n idee? Wie weet.

Tog dink ek: Stel jouself voor jy is 70 jaar oud. Jy is enkellopend, of ’n weduwee of wewenaar. Jy’t geen kinders of kleinkinders nie. Jy’t ook nie veel van ’n pensioen nie, en jy is nie meer lus om te werk nie.

Dan kom jy te hore van ’n program met ’n naam soos “Dignified Last Journey”.

Voor jy die program se fasiliteit betree vir die laaste kilometer van jou reis, help ’n konsultant jou om jou sake af te handel, jou laaste besittings te verkoop of weg te gee, totsiens te sê aan jou oorblywende vriende of kennisse, en so aan.

Dan breek jou laaste paar dae aan. Jy eet lekker maar gesonde kos – jy wil nie negatiewe gevolge ervaar in jou laaste dae nie. Gemak is die sleutelwoord. Jy begin ook daagliks dosisse morfien kry. Jy slaap lekker, en elke dag langer. Op Dag 7, wanneer jy die laaste inspuiting kry, dink jy nie meer nie. Jy’s in droomland.

______________________

Aangehou stap, en geskryf …

WOENSDAG 20 JULIE 2022

Stel jou voor jy’s in jou vroeë dertigs. Jy wil woon – ek herhaal, wil woon – in ten minste dieselfde provinsie as jou familie, sodat jy hulle kan sien een of twee keer per maand, en jy wil in dieselfde stad woon as ten minste ’n halfdosyn ou vriende saam met wie jy gereeld kan kuier. Stel jouself verder voor jy wil wees in ’n ernstige verhouding, met dalk ’n kind of twee. Jy wil wees gevestig in jou werk, met ’n bevredigende sosiale lewe.

Nou stel jouself voor jy bevind jouself in werklikheid in ’n vreemde land aan die ander kant van die aardbol. Jy sien jou familie dalk een keer elke twee jaar. Jy het ’n paar vriende, maar sien hulle min. Jy’s enkellopend, met geen verhouding in die pyplyn nie. Jou werk is nie vervullend nie, en jy herinner jouself gereeld daaraan, of word herinner, dat tyd besig is om uit te loop om jouself in ’n beroep te vestig.

Om dinge te kompliseer, is jy nie vasgevang in ’n situasie waar jy net kan bedank en ’n vliegtuigkaartjie kan bespreek terug huis toe nie. Jy het ’n woonstel vol boeke en meubels en muurbehangsels en ornamente met sentimentele waarde. Jou inkomste is voldoende om goed genoeg te eet en redelik sag te kan slaap, maar jy’t nie genoeg spaargeld om vir te lank te oorleef as jy terug gaan na jou eie land toe nie.

Jy kan natuurlik al die meubels, die muurbehangsels, en ’n paar ornamente agterlaat en terug gaan huis toe, en hoop alles werk uit. Probleem is, jy het presies dit gedoen ’n paar jaar tevore toe jy in ’n soortgelyke situasie was in ’n ander land, en kom ons sê maar net, dit het nie uitgewerk nie.

Wat doen jy?

Jy kan nie huis toe gaan nie, want jy’s klaar by die huis?

Aanvaar dit net, en druk vorentoe?

Wat het ék uiteindelik gedoen?

Om op te pak en weer my geluk te gaan probeer in Suid-Afrika het ek nie voor kans gesien nie. So, ek het my oë op skrefies getrek en aangehou stap.

En geskryf:

sink

almal hardloop weg, die rotte vlug
hy is … soos sy skip wat sink

met plegtige respek kom die salutasie
middelvinger in die lug
trek ’n blokfluit uit sy gatsak
speel ’n doodspsalm, keer
die golwe met sy voorkop

kalm spoel die dieptes
lewe die fontein van oorvloed
manna, kwartels, eilandstiltes
in wysheid byt hy, met vlymskerp tande
in die soet vlees van tweede lewe

so kom maar aan verraaiers!
kruip maar nader spotter-skare!
een vir een sal julle voor die werklikheid moet staan
en as julle oë dit nie kan sien, en julle ore nie kan hoor nie
laat ek dit dan uitskree om dit in te sink:

DAAR SAL ALTYD LEWE WEES!

selfs vir die enkele oorlewende.

* * * * * * * * * * *

storm

storms stu my voort
my groteske beeld te groot
om in ’n sleutelgat te pas
’n kas te klein en te benoud
’n goue kou te fyn en veels te koud
ek storm voort in woeste vaart
met wandelstaf en dagoue baard

* * * * * * * * * * *

slyp

skuifel stom in stowwerige spasies rond
maak asbakkies een na die ander
vol en weer leeg; bekers vol koffie
vars bottels tee van die deurnagkafee

ou stoele gee mee
die gewig van aandlug versuur
in die aangesig van afwesige lig
wieg ek vorentoe-en-terug, vorentoe-en-terug

blyk dit mens moet soms
jou kloue trek uit die modder van tyd
meer filosofies moet wees
oor die gewag tot dinge weer draai

so as dit nie anders kan nie
moet ek van vooraf my somme weer maak:

een duisend sewe honderd vyf en
tagtig een duisend sewe honderd
vier en tagtig, een duisend sewe honderd
drie en tagtig, een duisend …

nagte sonder jou.

* * * * * * * * * * *

geografie

nuwe behuising trek
lyne skuins oor my planne
my oë op skrefies tuur ek
deur ander vensters na bure se mure

veronderstel ek weet van meer
as net lewe en dood en pype vol muise
sou ek die preke van ouds kon memoriseer
het ek te veel geleer van oumenstehuise

ek loer soms te diep in die bottel van tyd
skryf notas op vloere met potlood en kryt
byt soms ’n knippie te veel
af van geel-verouderde reëls

na nuwe behuising moet mens soms trek
die werk van ’n man soos ’n vrou mos nooit klaar
maar ek skryf maar my lyne en hou maar my bek
trek my oë op skrefies tot volgende jaar

(Sondag, 14 September 2003)

* * * * * * * * * * *

(ongetiteld)

ek voel myself
onverantwoord’lik na aan jou
minder as jou teenwoordigheid
onvoorwaard’lik na aan my
ek voel te meer
myself onaangeraak
terwyl ek lewe binne jou

* * *

veertig ton gebeure swyg
verdoof my liefde as’t ware
sal ek ooit, solank ek leef, die byl ontdek
wat kappend my al soveel jare jaag?

* * * * * * * * * * *

skoene

op pad na ’n kafee, sien jy dit weer:
’n woestyn, in die middel van die see
jy wil nader sluip, kruip, anderkant toe mik
maar tyd en plek is ’n skoen wat druk

jy dink oor koffie, koop dan tee
praat van uithou, aanhou, gee dan mee
wil verwilderd “nee” sê, knik dan “ja”
knipoog kamma-koel, vlug dan weer verdwaas

soms sê ek jy gee te maklik in
te min sien durf en waagmoed as talent
swerwers slaan graag tent op in die nag
klap swepe douvoordag teen bome vas

sê tog jy wil saamgaan, sê tog jy wil slaap
sê tog jy’t genoeg gehad, sê tog eenmaal “ja”
vermoed ’n bietjie, glo, wik en weeg maar weer
want hierdie tyd en plek, druk veels te veel

* * * * * * * * * * *

(nog ’n) naggedig

ek sloof my af, maar
die nag bly ’n bodemlose skag
soos ’n myner van ’n skoner aard
grawe ek na woorde, lig en beelde

gepaste metafore bederf deur skyn
staan soos heiliges reeds oor my oopgekerfde graf;
terwyl ek op ’n drafstap soek na dagbreek
breek die pik, die graaf, die hysbak na die lig

en bly ek
steeds
vasgevang
in nog ’n naggedig

* * * * * * * * * * *

plek

i

onstuimig brand die vorm
laat die inhoud vars, onaangetas
klere van ’n ander eeu
hang onderstebo in my antieke klerekas

kyk aandagtig na die strate, markte
vroetel bietjie rond in hawestede
sluip kaalvoet snags deur halfverligte stegies
vou jou toe in ’n boemelaarskombers

te veel preek graag oor spreuke lank vergete
sing vals psalms oor verdoemde ou idees
rym dogma in met nuwe wetenskap
steel slinks oornag, woorde uit ’n kerker-biblioteek

ii

dosyne agterkinders, groter ouers voor
portrette teen verlepte mure, skyn halfhartig voort
boeke vol museums en ou geboue
sketse in ’n duisend gange vol gedagtes

herinner slegs, sing melodies sonder stop

priesters dans met ou karosse gedrapeer
oor skouers hangend onder die gewig
vyftigduisend jaar se soeke na ’n waarheid
hou in dreunsang aan om te dikteer:

dat plek en wete
nie net is waar jy behoort
maar waar, aan die einde
die siel behoort te wees

______________________

Alternatiewe lewenspaaie het gekruis vir my in 1995

MAANDAG 18 JULIE 2022

Toe ek in Maart 1995 Europa toegegaan het, het ek net genoeg geld gehad vir omtrent twee weke se goedkoop akkommodasie.

Ek het geland by Orly lughawe, omtrent tien kilometer suid van een van die mooiste stede in Europa – Parys. Dit was aan die begin van Maart, so toe ek uit die Kaap weg is, was dit nog warm genoeg vir ’n kortbroek en T-hemp. Die oomblik toe ek uit die vliegtuig klim en die 2º Celsius lug my gesig tref, het ek gedink ek gaan dood vries nog voor ek die Eiffeltoring gesien het.

Oorblyfsel van ’n vliegtuigkaartjie

Ek het ’n bus gevat stad toe. Uit die venster het ek karikature van Frankryk gesien: ’n man met ’n vet snor met ’n baguette onder sy arm; ’n taxibestuurder met ’n vet snor wat met oordrewe handgebare verduidelik dat die man in ’n ander kar verkeerd was; ’n aantreklike vrou in ’n bloedrooi rok en los, golwende hare, wat ek seker was na parfuum geruik het.

Ek het uitgeklim toe ek gereken het ons min of meer in die middestad was. Die bushalte was ’n paar blokke van die Seine af, en aan die ander kant van ’n groot park was die Les Invalides – waar ek ’n paar dae later ’n loopgraafjas sou sien met moddervlekke van die Eerste Wêreldoorlog.

Uitsig van die woonstel af

Ek het op ’n bankie langs die bushalte gaan sit en ’n Paul Revere gerook, en myself hoogs gelukkig geag.

Toe het ek begin soek na my blyplek – ’n een slaapkamer woonstel van ’n kennis van hoërskool. Al leidrade wat ek gehad het, was die kriptiese notas van ’n gemeenskaplike vriend wat ’n jaar tevore daar oornag het. Dit het my omtrent sewe ure gevat om dit op te spoor. Teen laatmiddag het ek my eerste frank gespandeer by ’n supermark in die buurt – op ’n stuk kaas, ’n pak macaroni, en twee blikkies Tsjeggiese bier.

Bron van kaas en goedkoop bier

Die eerste week was ek alleen in die woonstel. Ek het elke dag kilometers ver gestap – na die Eiffeltoring toe, na die Place de la Concorde, na die Père Lachaise begraafplaas, na die Moulin Rouge, en op en af die Champs-Elysées. Ek het ook een dag die trein gevat uit die stad uit na die paleis in Versailles – ’n definitiewe hoogtepunt.

Kennis se woonstel in Parys

Aan die einde van die week het my kennis teruggekom. Ek het nog ’n paar dae gebly, en toe ’n buskaartjie gekoop Amsterdam toe. Hier het ek die Anne Frank Huis besoek … en nie die Van Gogh Museum nie omdat dit te duur was.

Die plan was van die begin af dat ek een of ander werk moes kry om myself aan die lewe te hou en elke nou en dan interessante plekke te besoek. In Parys was dit nie moontlik nie vanweë die taal. In Amsterdam het ek na ’n McDonald’s toe gegaan en gevra oor werk. Die aansoekvorm het aangedui dat indien ek nie ’n burger was nie (bedoelende van die land, nie die tipe wat ’n mens eet nie), ek moes kon bewys dat ek ’n vlugteling was. Ek het ook ontmoet met die seun van ’n vriend van ’n professor van universiteit. Hy’t vae idees gehad oor klop aan deure om jou dienste aan te bied as skoonmaker, of so iets.

Volgende stop, Londen: Die hoofstad van onwettige werk vir enige iemand van enige plek in die wêreld. Ek het ’n bed gekry in ’n kamer saam met ses of sewe ander mans in ’n klein hotelletjie nie ver van Victoria Stasie af nie. Vinnig vriende gemaak en rondgeloop vir ’n paar dae – ’n foto laat neem van myself met Tower Bridge in die agtergrond, en die Imperial War Museum en die Britse Museum besoek, maar nie juis werk gesoek nie. Een aand op die nuus was daar ’n item oor ’n man van Nigerië wat onwettig gewerk het. Die polisie het hom kom soek waar hy gewoon het. Hy’t geskrik, by die venster uitgespring, en homself doodgeval. ’n Ander Suid-Afrikaner wat ook in die hotel gebly het, het gepraat van konstruksiewerk, en dat dit help as jy ’n werkvakansie permit het.

Hotel in Londen
Brug met toeris op ’n sonnige dag in Londen

Vriende van my het die vorige jaar ses maande in Brittanje spandeer op werkvakansie permitte. Geen verrassing dat dit na ’n aantrekliker opsie gelyk het as om vir die polisie te vlug nie.

Rooiligbuurt in Amsterdam

Ek het besluit om terug te gaan Amsterdam toe, vanwaar my vlug bespreek was terug Suid-Afrika toe – eintlik eers maande later, maar ek kon dit verander. Iemand het gepraat van goedkoop jeughostelle in die rooiligbuurt waar ’n mens gratis bed en ontbyt kan kry as jy help skoonmaak en wasgoed was. Ek het plek gekry in ’n hostel in ’n kamer wat geruik het na stink sokkies en ongewaste lywe. Ek het navraag gedoen oor werk, en hulle het gesê hulle sal dink daaroor (om te kyk of jy betroubaar is, het ek later verneem). Ek het egter net genoeg geld oorgehad vir ’n paar dae, so op die derde dag het ek die lugdiens gebel en plek bespreek op die vroegste vlug terug Suid-Afrika toe. ’n Dag voor ek sou vlieg, lig die bestuurder my in dat hulle van my dienste gebruik kan maak as ek nog belangstel. Ek het egter teen daai tyd minder as die ekwivalent van tien euro oorgehad.

Hande in die sak, maar platsak

Natuurlik dink ek vandag terug aan geleenthede wat ek nie aangegryp het nie. Hoekom het ek nie aansoek gedoen vir ’n werkspermit voor ek gegaan het nie, siende dat ek goed geweet het watse voordele dit sou inhou? Feit is, ek het probeer, maar die reisagent het gesê dit sal iets soos twee weke vat, en ek het nie twee weke gehad nie. Eers later het ek uitgevind dit vat net ’n dag of twee. Die twee weke in Parys, al het ek nie betaal vir verblyf nie, het ook geëet in my finansies in. Hoekom het ek nie in die eerste week in Amsterdam uitgevind oor die gratis bed-en-ontbyt as jy werk by die plek nie? Weet nie. Hoekom het ek nie meer aktief rondgevra in Londen vir geleenthede nie? Gebrek aan selfvertroue? Gebrek aan motivering? Die man wat na sy dood gespring het, sou seker op enige iemand ’n indruk gemaak het, maar daar was tog immers duisende ander mense wat onwettig gewerk het in Londen of elders op die eilande. En hoekom nie tog die werk vat in die hostel en kyk of ek oorleef vir ’n paar weke tot iets anders gebeur nie? Seker gedink my plan om terug te gaan Suid-Afrika toe, aansoek te doen vir ’n werkspermit, en dan terug te kom was meer sinvol. En veiliger.

Vriende gemaak op ’n servet

Sou dit gehelp het as ek ’n maat gehad het daar wat gesê het: “Kom ons doen dit! Kom ons vat ’n kans!”?

Ja, dit sou ’n verskil gemaak het.

’n Paar weke nadat ek terug was in Suid-Afrika, hét ek aansoek gedoen vir ’n werkspermit, en dit gekry. Pragtig het dit gepryk in my paspoort vir ses maande, en toe verval. Nooit genoeg geld bymekaar gemaak vir ’n tweede vliegkaartjie Europa toe nie.

Net mooi in die tyd wat die werkspermit verval het (einde 1995), het ek ’n advertensie gesien vir “Teaching in Korea” in die Cape Times. Wat daarna gebeur het, is die tydlyn van my werklike lewe die afgelope kwarteeu.

Hoeveel alternatiewe tydlyne het nie in daai paar maande van 1995 kruis en dwars oor mekaar geloop nie?

Kan ’n mens sê met sekerheid dat alles anders sou uitgewerk het as jy een ding verander het jare gelede, ja gesê het vir iets, nee gesê het vir iets anders, ’n later vlug gevat het, ’n ander rigting gestap het, ’n groter kans gewaag het? Wil jy hê dat dinge anders moes uitgewerk het?

Ek is gelukkig met my huidige lewe, en met hoe my lewe verloop het die laaste 27 jare. Maar sou ek my oë toemaak en die alternatiewe lyne word aan my ontbloot, sien ek ’n interessanter lewe as die een wat ek geleef het? Sou dit meer droom gewees het as nagmerrie, of andersom?

______________________

Biologiese ontwerp en doel in jou lewe

DINSDAG 12 JULIE 2022

Scott Adams in Episode 1800 van sy YouTube Livestream (54:42): You find meaning in your life when what you do most closely aligns with your biological design. (Nie ’n direkte aanhaling nie want ek wou dit ’n klein bietjie duideliker stel.)

Een voorbeeld is iemand wie se liggaam en brein mees geskik is om kinders groot te maak. As hierdie persoon betekenis in iets anders probeer vind, sal die ervaring minder positief wees as wanneer hulle betrokke is in die proses van kind grootmaak.

Adams sien homself as ’n “Tribal Elder” vir die internasionale gemeenskap van mense wat gereeld inskakel op sy livestreams, en wat lees wat hy skryf. As hy dus besig is om te praat oor hoe hy dinge sien – reg of verkeerd, slim of onkundig oor ’n spesifieke onderwerp, of as hy advies gee oor hoe om sekere struikelblokke te oorkom, is hy besig om te doen wat hy sien as mees geskik vir sy biologiese ontwerp. Soos meeste mense wou hy ook voortgeplant het, maar die behoefte het uiteindelik minder op hom gedruk as die motivering om ’n Elder te wees. Ander mense is weer meer geskik om fisiese stryd te voer vir ander mense se lewens – mense wat in die brandweer diens doen is een voorbeeld.

Ek hoef nie lank te gedink het aan wat my die sterkste bewussyn gee van ’n betekenisvolle lewe nie. Ek weet al vir die grootste deel van my volwasse bestaan dat om te skryf my vul met … ek kan amper so ver gaan om te sê … euforie. Natuurlik is dit sterker met sekere stukke, en minder so met ander. Maar niks anders vul my met so ’n sterk bewussyn dat ek doen wat ek veronderstel is om te doen nie. Die idee van biologiese ontwerp is maar net die nuutste manier om uitdrukking te gee daaraan.

Is dit anders as om te sê dit voel reg? Ek reken dis in dieselfde buurt, indien nie min of meer dieselfde ding nie.

Enige ernstige mens word geleer om nie gevoelens soveel te vertrou as rede en kritiese denke nie. Maar kom ons sê jy vind jouself tien of twintig of dertig keer in ’n situasie waar jy kinders moet oppas of waar jy jouself op een of ander wyse kreatief uitdruk, of waar jy aan ander mense dinge leer. Elke keer is daar ’n gevoel van tevredenheid en geluk wat nie in ander situasies teenwoordig is nie, of wat volgens jou eie subjektiewe maatstaf, so sterk manifesteer nie. Na die eerste paar kere elimineer jy kos wat jy geëet het of aangename weer of geselskap as die bron van die gevoel. Jy’t dalk die gevoel gekry selfs wanneer jy honger was, of iets geëet het wat nie goed gesit het met jou nie. Jy’t die gevoel gekry op dae wat onaangenaam warm was, en op dae wat dit bitter koud was. En jy’t die gevoel gekry mét of sonder geselskap. Moet die gevoel steeds geïgnoreer word, of probeer jou liggaam vir jou iets sê?

______________________

Jy ly aan waan, maar ek reken jy’s orraait

SATERDAG 2 JULIE 2022

Sê jy’t ’n buurman. Hy’s ’n toegewyde Moslem, maar geen ondersteuner van die meer radikale bewegings wat mense assosieer met geweld in die Midde-Ooste en Europa nie. Hy’s ’n plaaslike besigheidsman – besit ’n klein winkel in ’n besige area.

As toegewyde Moslem glo hy dat hy beter is as ongelowiges – wat jou, sy buurman insluit.

Jy het al ’n paar keer diep gesprekke met hom gevoer oor gode/God, realiteit, geloof en godsdiens, en hoe ’n mens weet wat jy weet. Jy is oortuig daarvan dat hy vas glo daaraan dat ’n Moslem superieur is aan ’n nie-gelowige.

Jy soek bietjie rond op die Internet, en kry die volgende van Wikipedia oor waan: “A delusion is a false fixed belief that is not amenable to change in light of conflicting evidence. As a pathology, it is distinct from a belief based on false or incomplete information, confabulation, dogma, illusion, hallucination, or some other misleading effects of perception, as individuals with those beliefs are able to change or readjust their beliefs upon reviewing the evidence. However: ‘The distinction between a delusion and a strongly held idea is sometimes difficult to make and depends in part on the degree of conviction with which the belief is held despite clear or reasonable contradictory evidence regarding its veracity.’”

So, jou buurman dink dat hy ’n beter mens is as jy omdat hy ’n bepaalde stel oortuigings aanhang.

Jy dink hy ly aan waan.

Nietemin, jy’t onlangs verjaar, en besluit om ’n paar mense oor te nooi vir aandete. Jy nooi ook jou buurman, en hy aanvaar die uitnodiging.

Die aand is heel aangenaam. Almal geniet die kos, en die besprekings is interessant en gevarieerd.

Aan die einde van die aand bedank jou buurman jou vir die uitnodiging. Jy sê dankie dat hy gekom het.

Hy dink nog steeds sy geloof maak van hom méér as jy, en jy dink steeds hy ly aan waan.

* * *

Sommige mense is gevul met absolute vertroue in hulle delusies.

Dit is ook ’n algemene verskynsel dat mense wat ly aan ernstige delusies oor die aard van realiteit nietemin kan funksioneer in uiteenlopende situasies en verskillende omgewings sonder veel probleme.

Dink maar net aan miljoene Christene wat vas oortuig is daarvan dat Hindoes en Moslems en mense van ander gelowe ná hulle afsterwe vir ewig in die Hel sal brand, maar andersins funksioneer hierdie Christene heeltemal goed in die samelewing. Dink ook aan Moslems en Hindoes en mense van ander gelowe wat vas oortuig is mense wat nie glo soos hulle nie en nie die rituele uitvoer wat lidmaatskap bevestig aan ’n bepaalde simboliese werklikheid nie, onkundige dwase is wat eendag die prys gaan betaal vir hulle hardkoppigheid. Terselfdertyd het hierdie Moslems en Hindoes en mense van ander gelowe geen probleem om die mees gevorderde uitdagings in hulle sosiale en beroepslewens die hoof te bied nie.

Nie net kan jy ly aan ernstige waan en heeltemal goed funksioneer in die gemeenskap nie, jy kan ook ’n besonders positiewe verskil maak aan ander mense se lewens, en ’n uiters positiewe nalatenskap agterlaat.

* * *

Eintlik deel van ’n ander bespreking, maar ek vra nietemin: Is religieuse oortuigings noodwendig waan? Ek glo, nee. Nie as jy erken dat dit waaraan jy glo, nie noodwendig bewys kan word nie, en dat jou geloof ’n persoonlike keuse is om te glo aan iets wat jy hoop, wáár is. Dit is, met ander woorde, nie waan as jy sê, “Ek weet dit waaraan ek glo, is moontlik nie waar nie.”

(Terloops, hierdie stuk teks gaan nie regtig oor godsdiens nie.)

______________________