Oor tyd, skryfwerk, gedagtes, boeke, my pa, en tradisie

WOENSDAG 5 DESEMBER 2018

Chris Rempel, ’n bemarker op wie se nuusbrief ek ingeteken was jare gelede, sê die volgende oor tyd: “[In] business, focus as much on earning time as you do on earning money. And when the money does come in, use it to further guard your time by choosing investments that aren’t ‘jobs in disguise’.”

Wat dit vir my sê, is dat ’n mens amper as ’n saak van roetine moet kyk na die ure wat jy spandeer elke dag, en ’n gesprek met jouself moet hê wat lyk soos die volgende:

“Is daar enige manier hoe ons daai uur kan bevry?”

“Watter uur?”

“Daai ene, tussen 18:00 en 19:00. Is daar ’n manier hoe ons iemand anders kan betaal om te doen wat ons dán doen? Of, is daar nie ’n beter manier om te doen wat ons dan doen nie? Of is daar nie ’n ander manier hoe ons dieselfde resultaat kan kry (heel waarskynlik geld) deur iets te doen wat minder van ons tyd opneem nie?”

SATERDAG 8 DESEMBER 2018

Waaroor gaan my skryfwerk?

Ek het ’n diepgesetelde behoefte om myself te verstaan, en so ook die wêreld waarin ek my daaglikse bestaan voer, en om soveel as moontlik te maak van die een lewe wat ek het.

Dan, wanneer ek reken ek het iets uitgesorteer, of tot een of ander insig gekom, het ek ’n sterk behoefte om dit te deel met mense. Om te skryf het nog altyd geregistreer in my kop as ’n goeie manier om dit te doen.

WOENSDAG 12 DESEMBER 2018

Ek sal uiteindelik kan sê die proses om finansieel onafhanklik te raak, was genotvol, stimulerend, vervullend, en uiters interessant, omdat feitlik alles wat ek gelees het, en toegepas het, neergekom het daarop om myself te verbeter.

DONDERDAG 13 DESEMBER 2018

Eerste samehangende gedagte na ek vanoggend wakker geword het: “Ek moet ‘net redelik’ verander na ‘steeds redelik’.” (In verwysing na ’n titel, “Het ek die rooi pil gesluk, of is ek net redelik?”)

Hier’s ek nou, ’n paar ure later, en ek dink steeds dis ’n goeie idee. Maar het ek regtig die idee gekry die oomblik toe ek wakker geword het? Ek glo nie. Ek dink dit was gister al in my gedagtes, maar te veel ander gedagtes het dit blokkeer. Toe ek vanoggend wakker word, was daar geen blokkasie nie – en die idee was as’t ware ontbloot.

Moet wees hoekom baie mense goeie dinge sê oor meditasie.

SATERDAG 15 DESEMBER 2018

Ek kan wat ek hierdie jaar geleer het oor finansiële sake opsom onder drie hoofde:

Een: Finansiële intelligensie: Wat is geld? Hoe bestuur banke werklik hulle besigheid? Waar en hoe moet jy jou geld belê?

Twee: Tegniese aspekte daarvan om geld te maak te ontvang: Om ’n besigheid te begin, volg hierdie stappe … of, om handel te dryf op die finansiële markte, begin hier …

Drie: Welstand ingesteldheid – sorteer onder Positiewe Ingesteldheid/Positiewe Sielkunde

Neem dit in ag wanneer jy boeke oor persoonlike finansies oorweeg. Min boeke dek meer as een van hierdie areas.

DINSDAG 18 DESEMBER 2018

My pa ís uiteindelik my held. Ten spyte van terugslae wat baie ander mans oor die afgrond sou gestoot het, het hy eenvoudig homself elke keer opgetel, en aangehou stap. Dit is hoe ek wil wees. En nie net het hy aangehou stap nie, hy doen dit met vreugde. En nie met vals vreugde omdat hy glo hy moet die skyn voorhou nie – dis ’n hardnekkige vreugde.

DONDERDAG 20 DESEMBER 2018

Ek lees Nagmaalsnaweek deur die jare van Prof. Bun Booyens. Ek besef weereens: Die godsdiens van die Afrikaner behels heelwat tradisie – om die waarheid te sê, heelwat volkstradisies van die Afrikaner is godsdienstig van aard.

Dit volg dus dat toe ek die godsdienstige oortuigings van my jeug laat vaar het, ek ook afstand gedoen het van belangrike tradisies van die kulturele groep waarbinne ek gebore en getoë is.

Watse alternatief het ek egter gehad? Tradisie is belangrik – sonder dit vind ’n mens dit moeiliker om jouself verbind te voel met jou voorsate. Maar hoe kon ek voortgaan om die godsdienstige tradisies van my voorsate te eerbiedig as die metafisiese onderbou daarvan nie meer vir my geloofwaardig was nie? Ek meen, is oneerlikheid ’n tradisionele waarde?

______________________