Oor godsdiens, en die waarde voorsien deur ’n legende

SONDAG 30 DESEMBER 2018

11:00

Vanoggend ’n artikel gelees wat argumenteer dat God verbeelding is – nie soos verbeelding nie, maar dat God in werklikheid Verbeelding is.

Elk geval, die deel waarvan ek op daai oomblik meer gehou het, was die skrywer se sortering van godsdiens met wetenskapfiksie, spookstories, en astrologie: “I was expelled from the Paradise of innocence that long ago summer, but imagination never abandoned me. It sank underground throughout my teen years in a voracious appetite for reading, especially science fiction, and hooked itself tenaciously to anything in popular culture that left it room to breathe — religion, ghost stories, astrology, the New Age …”

Dit het my herinner dat mense wat gelowig is, selfs in die mees tradisionele wyse, ’n versugting het na iets meer – iets verder as hierdie soms vervelige, soms eentonige, soms verskriklike, en soms hartseer lewe. Ek kan selfs insien hoe so ’n tradisioneel gelowige persoon iemand wat glad nie glo in God nie, sien as iemand sonder ’n verbeelding, selfs dat so ’n persoon bekrompe is.

Hierdie is ’n positiewe beskouing van godsdiens – dat dit kreatief is, kenmerkend van ’n persoon met ’n lewendige verbeelding.

My probleem met godsdiens soos ek dit ken, en soos dit aan my as kind geleer is, is die sterk assosiasie met voorskrifte en doktrine, waaraan eenvoudig geglo móét word as jy ewige verdoemenis wil vryspring. Hierdie manifestasie van godsdiens is allesbehalwe kreatief – dit sê immers ’n vet rooi, waarskuwende “Nee!” vir enige iets wat buite die lyne beweeg. Dit vereis wel verbeelding. Dit vra dat jy jou kop (of jou “hart”) moet oopmaak en bereid moet wees om te glo in iets wat jy nie kan sien nie. Dit vereis egter dat jy jou verbeelding nét genoeg moet gebruik om te kan aanvaar wat die sogenaamde heilige tekste voorskryf, of wat die gesaghebbendes in die geloofsgemeenskap jou leer om te glo. Gee jy jou verbeelding vrye teuels, soek jy moeilikheid. Die “waarheid” is immers reeds “geopenbaar” – hoekom wonder oor dinge wat net probleme kan veroorsaak?

16:11

Dis ’n bewolkte dag, met die temperatuur in die lae twintigs. Ek is in Kaohsiung se West Bay (Sizihwan) – ongeveer 25 minute se fietsry van ons woonstel af, by die National Sun Yat-Sen Alumni House – op die kaai wat oor die Straat van Taiwan kyk. Behalwe vir die see, sluit my uitsig ook in die groot rots met die ligtoring op die piek – volgens my een van Kaohsiung se beste natuurlike besienswaardighede, die berg by die universiteit, en ’n verskeidenheid mense.

Ek peusel aan klein tamaties, ’n piesang, en ’n filo-deeg koekie met botter en suiker in die binnekant wat ’n student Donderdagaand vir my gegee het. Met my nuwe wit oorfone op my kop, het ek eers geluister na twee Wealth & Mindset praatjies, en toe na Bruce Springsteen se Darkness on the Edge of Town.

Alles in ag genome, is dit my beste Sondag-uitry van die jaar.

* * *

Die tweede praatjie waarna ek geluister het, het gepraat van waarde wat ’n mens moet lewer as jy geld wil maak.

Soos ek toe daarna na die eerste twee Springsteen snitte luister, onthou ek wat ek gelees het oor wat resensente geskryf het oor hom toe sy debuut-album verskyn het in die vroeë sewentigs: dat sy lirieke herinner aan Bob Dylan, en sy sangstyl aan Van Morrison. Daar was dus nog nie Springsteen soos mense hom vandag ken nie, net iemand wat soos een bekende sanger liedjies geskryf het, en soos ’n ander bekende sanger gesing het.

Wat het hy gedoen? Hy’t aangehou liedjies skryf, en aangehou sing, en uiteindelik sy eie plek in die son gevind.

Wat het egter van hom ’n legende gemaak, om nie te praat van miljoene dollars nie? Hy het oor en oor en oor waarde geskep vir mense wat betaal het om hom te sien optree. Hy’t stories vertel. Hy’t sy hart uit gesing. Anders as sommige groepe of sangers, het hy nie net uitgekom op die verhoog en sy vyftien of twintig liedjies gesing en weer verdwyn nie – hy sou aand na aand vir drie of vier ure lank konsert hou. En aand na aand het konsertgangers gevoel hulle ervaar iets spesiaals.

Dit is wat Springsteen gegee het vir mense. En dit het nie net van hom ’n kreatiewe en kommersiële sukses gemaak nie, dit het van hom ’n legende gemaak.

______________________