Saterdag 31 Desember 2011

Die laaste dag van die jaar is soos die laaste wakker uur van ’n dag: Sommige mense ly aan ligte skok en teleurstelling dat dit verby is, dat dit wat jy nie vandag gedoen kon kry nie, moet wag vir môre.

Oor ’n paar ure is 2011 verby.

Hierdie was ’n goeie jaar, ’n besonderse jaar. My en Natasja se verhouding was van die begin af van so ’n aard dat ons nie ’n dokument nodig gehad het om te weet ons hoort bymekaar nie. Nietemin, verlede maand het ons na amper sewe jaar amptelik en wettiglik trou aan mekaar gesweer. Op die werksfront het ek hoofsaaklik op twee kommersiële projekte gefokus. In Februarie het ek ook begin om weer die beste ure van my dag te spandeer aan my skryfprojekte – iets wat ’n so te sê daaglikse realiteit geword het. En laastens, ek het heelwat tyd gespandeer die afgelope twaalf maande by ’n tandarts genaamd Harmony, met die gelukkige resultaat dat ek uiteindelik weer behoorlik kan eet.

Vanuit die posisie waarin ek myself op hierdie oomblik bevind, as gevolg van wat ek gedoen het tussen Saterdag 1 Januarie en nou, Saterdag 31 Desember, lyk 2012 asof dit dalk net ook ’n goeie jaar mag wees.

’n Nota van Dinsdag 4 Januarie 2011 mag dalk gepas wees: “’n Jaar in ’n mens se lewe is soos ’n kind. Jy kan beplan, jy kan voorberei, en jy kan hoë verwagtinge koester. Maar uiteindelik moet die kind toegelaat word om sy eie gang te gaan, om sy eie karakter te ontwikkel. Jy kan, en moet, leiding gee, maar aan die einde sal jy moet vrede maak: Doen jou absolute bes, en vertrou vir die res.”

Mag 2012 ’n goeie jaar wees, vir myself, vir my beminde, en vir al ons vriende en familie. En mag dit ’n goeie jaar wees vir alle goeie mense op hierdie planeet wat elke dag hoop en stry vir ’n beter dag.

____________________

Daar is nie genoeg vir almal nie (of is daar?)

WOENSDAG 3 AUGUSTUS 2011

Daar is nie genoeg vir almal in Suid-Afrika nie – nie genoeg voedsame kos nie, nie genoeg kontant vir almal om ’n bietjie geld in die bank te hê nie, nie genoeg huise vir almal om veilig en warm te slaap nie, nie genoeg klere vir almal om goed te voel oor hoe hulle in die openbaar verskyn nie, nie genoeg werksgeleenthede vir almal om ’n leefbare inkomste te verdien nie, nie genoeg hospitaalbeddens vir al die siekes en beseerdes nie, en nie genoeg goed toegeruste klaskamers vir almal se kinders om ’n goeie opvoeding te kry nie. Honderd jaar gelede was daar nie genoeg vir die Engelse EN die Afrikaners, of die Boere nie. Vyftig jaar gelede was daar nie genoeg vir die wittes EN almal wat nie wit was nie. En vandag is daar nie genoeg vir AL die mense wat swaargekry het onder die vorige bedeling nie.

So, as jy geld gemaak het onder die vorige bedeling – ongeag van ras, en jy kon daaraan vashou, is jy in. So ook as jy die regte besigheid- en politieke verhoudings opgebou het die afgelope vyftien tot twintig jaar, en die kontant stroom onbeheersd in jou bankrekeninge in. Jy het duidelik die regte dinge gedoen, en/of die regte mense geken – ook jý is in.

Vir die res, blank en arm in ’n plakkers-karavaanpark, swart en arm in plakkerskampe of op gehuggies êrens op die platteland, en alle ander kleure wat nie blank of swart is nie maar ook arm, is daar doodgewoon NIE GENOEG NIE.

Daar sal gepraat word. Daar sal pleisters op gebreekte bene geplak word. Maar aan die einde van die dag bly hierdie realiteit: Daar is eenvoudig nie genoeg vir almal nie. (Of is daar?)

DONDERDAG 29 DESEMBER 2011

Ek verstaan dat daar nie genoeg is vir almal nie. Maar dit is nie die enigste probleem nie. Selfs as jy slaag daarin om ’n meer regverdige verspreiding van hulpbronne te bewerkstellig, sal ’n deel van die bevolking uiteindelik hulpbronne en geleenthede verspil, óf weens gebrek aan opleiding, óf ’n gebrek aan wilskrag, óf ’n gebrek aan talent, of weens ’n kombinasie van hierdie faktore.

Dan sal daar mense wees wat yweriger en vindingryker sal wees. Hierdie mense sal binne ’n generasie of twee op die hoogste vlak van die samelewing wees, as beide heersers en voorste begunstigdes van geleenthede.

Een of twee generasies later sal die nageslag van diegene wat minder goed presteer, onreg protesteer en hulle protesbaniere voorberei om ’n regverdiger samelewing te vereis – ’n meer gelyke verspreiding van hulpbronne.

Teenargument: Verdien die lui, talentlose, verbeeldinglose nageslag van suksesvolle vroeë geslagte beter onderwys en beter geleenthede as die hardwerkende, talentvolle en bekwame nageslag van minder suksesvolle vorige geslagte?

______________________

Nota nommer 517 aan myself

DONDERDAG 3 NOVEMBER 2011

Hou op om met elke man en vrou op straat te baklei.

Hou op om met elke persoon wat jy teëkom ’n argument aan te knoop.

Hou op om elke geleentheid wat jy kry aan te gryp om rusie te maak.

Hou op om die hond te wees wat elke kat jaag wie se reuk die wind na hom toe aanwaai.

Hou op om die hond te wees wat by ieder en elke boom op blaf, of daar ’n kat in is of nie.

Stry die stryd waar jy ’n redelike kans het om te wen.

VRYDAG 23 DESEMBER 2011

As mens in ’n betekenisvolle verhouding is … Of, kom ek maak dit meer persoonlik. Ek vind my verhouding met Natasja maak dit vir my makliker om myself toe te laat om gelukkig te wees. Die rede is omdat ek weet die geluk van die vrou wat ek liefhet en vir wie se welsyn ek omgee, hang tot ’n groot mate daarvan af of ék gelukkig is.

As jy nie jouself toelaat om gelukkig te wees nie, gaan die mense naaste aan jou geaffekteer word daardeur. As jy omgee vir die mense naaste aan jou, as jy opreg hoop dat hulle daaglikse bestaan ’n graad van geluk sal insluit, sal jy jouself dit vergun om gelukkig te wees.

Dis die onbaatsugtige ding om te doen.

______________________