VOORWOORD VIR DIE TOTALE PROJEK
PERSOONLIKE AGENDA bestaan uit drie boeke:
- Die BOEK EEN-materiaal, ‘n versameling notas, korrespondensie en ander stukke, strek vanaf Januarie 1999 tot en met Mei 2003, en was afgehandel sonder enige definitiewe planne om ‘n tweede deel by te voeg.
- BOEK TWEE is geskryf tussen Mei en Desember 2003, met die vaste bedoeling dat dit die einde van die projek sal wees. In kontras met die eerste boek, is die materiaal in hierdie deel geskryf met die akute bewustheid dat ek besig was om te werk aan ‘n boek.
- Die laaste stopteken sou nie ingepons kon word sonder dat ek tevrede was dat ek, vir eers, genoeg gesê het nie. BOEK DRIE is die einde van hierdie projek, geskryf tussen Januarie en Julie 2004.
My aanvanklike werkstitel vir die projek was eenvoudig: Brand se Boek. Teen die tyd wat ek die eerste uitdruk gemaak het van wat nou BOEK EEN is, het die titel verander na, “Oor Aartappelslaai en Ander Belangrike Sake” (ek het selfs ‘n opstel geskryf oor my gunsteling kantgereg).
Nadat ek die tweede naskrif tot die eerste boek afgehandel het, het die idee van die “persoonlike agenda” homself aan my voorgedoen. Ek het gehou van die eerlike aard daarvan. Die frase word ook gereeld gebruik in skinderpraatjies, om ander te waarsku dat die betrokke individu ‘n “agenda” het, en dat hierdie soms geheimsinnige sake sy of haar eerste prioriteit is. Dit was vir my belangrik om nie te wag tot iemand anders ‘n lig daarop werp nie, my eie agenda as’t ware vir my te verduidelik nie. Ek wou dit van die voorblad af bekend maak: Hierdie materiaal beskryf ‘n persoonlike agenda.
Aan die einde het dit geblyk dat om hierdie agenda te verwoord deel was van die hele storie. En om my eie storie te vertel, en daardeur die sin van ‘n eiesoortige agenda te laat deurskemer, het veel later ‘n wyer betekenis verleen aan die hele idee.
(28 Julie 2004)
