Wat maklik is, en wat moeilik is, en alternatiewe bewoordings

WOENSDAG 15 MEI 2019

Die probleem daarmee om jou geld te verdien met kreatiewe werk, is dat jy óf baie gelukkig is dat mense aanhou om jou kreatiewe werk te koop al doen jy wat jý wil doen en in die styl wat jy dit wil doen, óf jy kyk uiteindelik ter wille van jou oorlewing tóg na wat in aanvraag is – watse produk, watse styl, en produseer dan wat die mark wil koop – wat beteken jy doen nie meer vrye kreatiewe werk nie.

So, jy’s óf baie gelukkig dat mense jou vrye kreatiewe werk bly koop, óf jy’s nie so gelukkig nie en doen maar wát die mark wil hê, en hoe hulle dit wil hê. En selfs as jy val in die gelukkige kategorie, hoe lank verwag jy dat jou geluk gaan hou?

DINSDAG 28 MEI 2019

01:30

Om geld te maak, het jy slegs nodig om ’n paar belangrike dinge te weet. Probleem is, jy moet hierdie paar dinge ontdek in ’n oseaan van inligting.

10:02

Die probleem is dus nie die hoeveelheid kennis of inligting wat jy moet ontdek en leer nie, maar om ’n handvol spesifieke brokkies te ontdek onder dosyne, selfs honderde brokkies inligting, en om te kies tussen verskeie opsies, geleenthede en moontlikhede.

DONDERDAG 6 JUNIE 2019

’n Vriend van my wat vanaf vroeg 1998 reeds in Taiwan was, het in Oktober van daai jaar aangebied om vir my geld te leen vir ’n vliegtuigkaartjie Taiwan toe – vir in geval ek my office job wou los en wou terugkeer na English teaching. As hy moes aangebied het om vir my geld te leen vir ’n vliegtuigkaartjie na enige stad in die Ooste … sou ek moontlik nog steeds in Johannesburg gewees het. Gelukkig vir my was die aanbod, en derhalwe die keuse, eenvoudig: Taiwan, Kaohsiung – take it or leave it. En kyk net hoe goed het dit uitgewerk.

MAANDAG 10 JUNIE 2019

00:17

Hoe lyk sukses? Die proses wat lei daarna is vervelig en eentonig, en jy sien eers die resultaat na maande of jare se harde, vervelige, eentonige werk.

Ek het altyd gedink dit kan gesien word in een briljante flits, een dag wat uitstaan – en dan weet jy.

Ek reken daar’s vele mense wat al meer as een keer in hul lewens sukses in ’n beroep, of in ’n projek of onderneming in die gesig gestaar het, maar keer op keer weggestap het, omdat hulle dit nie herken het vir wat dit is nie: die resultaat van eentonige en vervelige stappe wat herhaal word, vyf of ses dae per week, week in en week uit, een jaar na die ander.

23:03

Ek lees die Engelse stuk, “The correct answer, and what to do with my exercise bike”. Kon nie anders as om ’n stukkie teks uit te lig nie: “The problem is that I started cultivating and living the lifestyle here [in Taiwan] that I said back in Korea I wanted to live in South Africa. In other words, I got the lifestyle right; it’s just the environment that is wrong.”

VRYDAG 14 JUNIE 2019

Aanhaling uit Onder-Kouga – Bakermat van Gerbers en Ferreiras, deur O.J.O Ferreira:

“Die filosoof Marthinus Versfeld het die funksie van ’n huis só gesien: ‘Jou huis plaas jou in die wêreld. Dit gee jou ’n adres, êrens waar jy aangespreek kan word. Net soos jou siel jou liggaam nodig het om hom in die wêreld te plaas en hom warm te hou, so vereis ’n liggaam ’n huis om hom warm te hou. Derhalwe is jou huis ook ’n soort vlees en bloed waaruit jy die wêreld aanvaar en opbou. Jy gaan in om uit te gaan, en jy gaan uit om in te gaan. Daar waar hy staan, bepaal jou uitsig, en soos hy daarbinne uitsien, bepaal hoe jy die wêreld daarbuite gaan insien.’”

So gesien, is dit g’n wonder dat ek myself in Taiwan ingeburger het nie. Ek was amper 28 toe ek hier aangekom het. Ek was ’n siel desperaat vir ’n liggaam; ’n liggaam desperaat vir ’n huis. My innerlike konflik het gespruit uit die begeerte om eerder hierdie huis te vind in Suid-Afrika, en nie in Taiwan waar dit daagliks meer konkreet geraak het nie. Die konflik is uiteindelik opgelos toe ek aanvaar het dat ek reeds my huis gevind het, of geskep het – in Taiwan.

MAANDAG 17 JUNIE 2019

Die stappe wat jy uiteindelik neem om geld in ontvangs te neem, is – so glo ek – redelik eenvoudig, en sal sekerlik selfs as maklik beskryf kan word. Uiteindelik. Maar om te ontdek, of te leer, of uit te werk, presies watse stappe jy moet neem, wanneer, en hóé – wéét ek, is nie maklik nie, en is nie eenvoudig nie.

WOENSDAG 19 JUNIE 2019

Ek het vanmiddag ’n film gaan kyk by die Kaohsiung Film Archive. Daar het drie films gespeel. Die een net na middagete het my beter gepas, so dit was die een wat ek gaan kyk het. Ek was eintlik verlig dat daar nie meer opsies was nie. Ek het die film geniet – as ’n mens kan sê jy’t ’n romantiese drama geniet oor twee siek jongmense. Ek was ook bewus daarvan dat, het ek meer opsies gehad, ek nie hierdie film sou gekies het nie.

* * *

Omdat dit dalk ’n les kan wees vir iemand anders, drie redes hoekom finansiële welvaart … kom ons sê maar net, ’n stryd was vir my om te bewerkstellig:

1. Ek het te vinnig aannames gemaak.

2. Ek het te maklik my eie kop gevolg in stede daarvan om instruksies te volg.

3. Moeilik om te erken siende dat keuses so belangrik is in mens se lewe, maar … ek het te veel opsies gehad. As iemand moes gesê het, “Ons het die vrymoedigheid geneem om namens jou te kies: dis hierdie een, of niks; niks of hierdie een,” sou ek gesê het, “Wel, dan kies ek hierdie een.” Kans is dat dit goed genoeg sou uitgewerk het.

DONDERDAG 20 JUNIE 2019

Soms voel dit asof elke week is soos die een wat dit voorafgegaan het, asof dae en weke en maande inmekaar vloei.

Hier’s ’n alternatiewe bewoording vir hierdie situasie: Bly sterk en gesond.

______________________