Beter as geen plan nie

MAANDAG 16 JANUARIE 2023

As ’n sensasie van geluk nie ’n gereelde ervaring in jou daaglikse bestaan is nie, of indien ’n netto positiewe bewussyn nie iets is wat jou lewe kenmerk nie, sal sommige mense tot die gevolgtrekking kom dat hulle daaglikse bestaan nie die moeite en die somtydse swaarkry werd is nie.

As jou daaglikse bestaan nie die moeite en die somtydse swaarkry werd is nie, sal sommige mense argumenteer dat jy net sowel jou eie lewe kan beëindig. Tensy – jou lewe-eindigende daad te veel skade sal doen aan mense vir wie jy omgee. In so ’n geval moet jy eenvoudig die moeite doen om te oorleef en die somtydse swaarkry verduur.

Indien jy godsdienstig is, het jy dalk ander redes om voort te gaan met jou lewe – al reken jy dit is die moeite nie werd nie. Jy glo dalk dis nie jou reg om jou eie lewe te eindig nie, of dat die god waarin jy glo ’n plan het met jou lewe. Dat jy eenvoudig die swaarkry en die moeite moet verduur tot die plan ontbloot word, of tot die tyd aanbreek vir jou om te doen waarvoor jy op aarde geplaas is, by wyse van spreke.

Klink swartgallig (veral vir ’n eerste stukkie teks van die jaar), maar dit was ook die idee agter ’n stuk van jare gelede: Die lewe is soms swaar en moeilik. Om geluk te ervaar, balanseer soms die swaarkry en die moeite van daaglikse bestaan. Dis ook maklik genoeg om jou eie lewe te beëindig. As jy egter nie méér swaarkry en ellende wil veroorsaak vir jou geliefdes nie, doen wat jy kan om jou lewe die moeite werd te maak. Sodoende kan jy dalk ook jou geliefdes (en selfs vreemdelinge) se pogings om húlle lewens die moeite werd te maak, fasiliteer, sodat hulle nie húl lewens beëindig en jóú lewe daarmee ellendig maak nie.

In ander woorde: Ek maak myself gelukkig sodat my lewe die moeite werd is om te leef, en sodoende help ek jou om gelukkig te wees sodat jóú lewe ook die moeite werd is om te leef.

Werk nie altyd nie, maar dis beter as om met geen plan deur die lewe te gaan nie.

______________________