Die Nuwe Linkerkant, of Programmeer Jouself – enkele opmerkings

SATERDAG 28 APRIL 2018

Daar blyk te wees ’n konflik tussen twee stelle idees in die Weste.

Aan die een kant is mense wat sê: “Hierdie stel oortuigings is die waarheid. Dis al wat tel. Enige iemand wat nie met ons saamstem of ons ideologie ondersteun nie, is deel van die probleem, en is derhalwe ’n wettige teiken vir ons protes, beledigings, en selfs fisiese geweld.”

Hierdie stel idees word gesien deur aanhangers as teologie – wat nie bevraagteken, gedebatteer, of krities geanaliseer mag word nie, en wat verkondig word met die oortuiging en passie van sendelinge.

Aan die ander kant van die konflik is mense wat reken dat sommige van die dinge wat hulle “opponente” verkondig oor strukture wat mense onderdruk, en oor geslag, en identiteit, en so aan, interessant is. Hulle gaan so ver om te glo dat ’n mens waarskynlik ’n meer intelligente gesprek sal kan voer oor die aard van die mens, verhoudings tussen mense en groepe, en die aard van mag, indien jy na hierdie idees kyk en dit ernstig oorweeg.

Maar, hulle sê ook: “Hoe waardevol is dit om jouself te sien as die slagoffer van jare, of dekades, of eeue se onderdrukking? Jy sal waarskynlik die helfte van die bevolking – of meer – moet oortuig dat jy swaarder gekry het sover in jou lewe as húlle, of dat hulle en hulle voorgeslagte strukturele voordele en geleenthede geniet het ten koste van jou en jou voorgeslagte, en dat hulle jou derhalwe iets skuld. Van die dinge wat jy sê is dalk waar. Maar help dit jou om kos op die tafel te sit? Help dit jou om jou kinders te versorg, en ’n dak oor jou kop en oor húlle koppe te sit?”

“Fokus op jou sterkpunte,” sal hulle byvoeg. “Fokus op wat jy het, en vergeet van dinge wat jou nie gaan help om kos op die tafel te sit nie. Fokus op die positiewe; verbeel jouself die negatiewe is net ’n illusie. Skep jou eie toekoms, van vandag af, deur jouself te sien as ’n skepper, nie as ’n slagoffer nie.”

* * *

Ek verstaan – of ek dink ek verstaan – beide kante. Ek het groot geword met lojaliteit aan ’n bepaalde stel oortuigings. Ek is geleer dat geloof ’n saak van lewe en dood was. Ek het mense wat nie geglo het soos ek nie, gesien as blind, onkundig, verkeerd, en verdoem. Selfs jare nadat ek besluit het om eerder rede te volg as oorgelewerde tradisie, kon ek nie heeltemal wegkom van ’n sekere manier van dink nie: Ek het myself steeds gesien as ’n Soeker na die Waarheid.

Die laaste paar jare het ek myself egter toenemend aangetrokke gevoel tot ’n ander stel idees: praktiese idees, wat enige een se lewe kan verbeter wat bereid is om dit ’n kans te gee. Hierdie stel idees sluit in dat die mens programmeerbaar is – dat jy inderdaad die vermoë het om jou eie werklikheid te skep. Dit sluit in dat jy jouself dalk om die bos moet lei aan die begin. Jy mag dalk moet glo dat jy dinge kan doen wat jy nie kan bewys jy kan doen nie. Jy mag dalk nodig hê om dit te “fake” vir ’n tyd. Maar wat gebeur uiteindelik? Dit word jou realiteit. En uiteindelik is dit wat dalk nie wáár was aan die begin nie, jou nuwe waarheid – jou nuwe realiteit.

* * *

In eenvoudige terme: As jy dink aan jouself as ’n slagoffer van strukturele onderdrukking aan wie iets geskuld word, gaan dit jou daaglikse realiteit wees. As jy dink aan jouself as ’n skepper, of ’n programmeerder van jou eie psige en gepaardgaande realiteit, en jy fokus op wat moontlik is, en op wat jy kan uitrig, is daar ’n goeie kans dat jy ’n beter realiteit vir jouself gaan bewerkstellig. En siende dat hierdie realiteit gebou sal wees op positiewe denke, op kreatiewe energie, is daar geen einde aan wat jy kan uitrig nie.

Is dit te sê dat jy ongerieflike waarhede moet ignoreer? Glad nie. Jy erken aspekte van verifieerbare realiteit – soos dat jy byvoorbeeld nie die gebruik van jou arms en/of bene het nie, maar jy vra ook: Hoe kan ek te werk gaan hiermee?

* * *

Die kant wat aandring daarop dat hulle begrip van sake die enigste waarheid is, word verblind deur lojaliteit aan hulle ideologie. Hulle glo aantygings omdat die “regte” mense beskuldig word. Hulle soek nie vir bewyse nie, want die een wat beskuldig is van iets, is in elk geval skuldig aan groter misdade, so dit maak nie saak as hulle “tegnies” onskuldig is aan die misdaad waarvan hulle beskuldig word nie. Goeie, redelike argumente word van die hand gewys omdat die “verkeerde” mense die argument maak. Mense wat vrae vra, word beskuldig daarvan dat hulle die “verkeerde” kant help met hulle vrae, en derhalwe groter sondaars in staat stel om groter sondes te pleeg.

Beginsels wat mense al sedert die agtiende eeu help om beter lewens te leef, om beter lewens te verseker vir die maksimum aantal mense, en wat kundiges in staat stel om tot ’n beter begrip te kom van hoe die mens en die natuur werk, is ook in die spervuur. Beginsels van wetenskaplike ondersoek wat verifieerbare resultate oplewer, word geïgnoreer of eenvoudig verwerp wanneer dit nie die aanvaarde ideologie versterk of bevestig nie. En vryheid van spraak word gesien as ’n instrument in die hande van die onderdrukker, eerder as ’n reg wat elkeen het om sy of haar opinie te lug, ongeag hoe vreemd of ongewild die opinie mag wees.

Dat daar ’n konflik van idees woed in die Weste, is nie altemit nie. Dat die een kant hulleself in die voet skiet en hulle vingers in hulle eie oë steek, is dalk nie heeltemal so ooglopend nie.

______________________

Wat ek graag vir my veeboer-voorouers sou wou sê

DONDERDAG 5 APRIL 2018

Die feit dat die lede van die Smit-Bornman gesin – my ouers, ek, en my twee susters, so ’n ingewikkelde verhouding het met geld, het heel waarskynlik te make met die feit dat ons voorgeslagte vir 250-300 lank hoofsaaklik veeboere was, en tot en met twee geslagte gelede nog geboer het, hoewel met meer as net vee.

Die verskil tussen ’n veeboer en ’n groenteboer is ’n verskil nie net in leefstyl nie, maar in boerderytegniek. Die groenteboer moet weet wanneer om wát wáár te plant, en wanneer om te oes, en sal twee keer dink voor hy goeie grond opgee om te trek net omdat weiveld vir sy beeste of skape yl raak. Daar’s ook ’n verskil in die bestuur van arbeiders – die groenteboer het byvoorbeeld meer hande op die plaas nodig. Ondernemingsgees is nog ’n faktor – die groenteboer moet weet watse groente en vrugte in aanvraag is, hoe groot die aanvraag is, en teen watse prys hy sy produkte moet verkoop om ten minste gelyk te breek.

Al hierdie verskille is relevant tot die begrip van ons gesin se verhouding met geld, omdat, soos ek reeds uitgewys het, my voorouers vir eeue gewortel was in die kultuur, leefstyl en professie van veeboerdery.

Sover ek kon vasstel, het nie een van my grootouers veel geweet van die vier dinge wat ’n mens moet baasraak om ryk te word in die stad nie: verkoop en bemark, om waarde te put uit die arbeid van mense wat min of meer jou sosiale gelyke is, om jou diens of produk te adverteer, en om jou wins sodanig te belê sodat jy ryker kan word – met ’n bietjie geluk. My eie ouers was plaasjapies wat op hulle eie die stad moes leer ken. Hulle moes waarneem wat ander stedelinge doen, en het weldra geleer om goed genoeg te oorleef in die stad.

Maar ook húlle het nie veel geleer van die dinge wat jou finansieel onafhanklik sal maak nie. Wat hulle geleer het, was dat jy ’n vaardigheid opdoen, en jouself dan bruikbaar maak vir een of ander onderneming of maatskappy, of vir die staat. En as jy gelukkig is, dan slaan jy ’n “vaste betrekking” los, jy fokus op jou “beroep” vir veertig jaar lank, en intussen begin jy ’n gesin in ’n middelklas voorstad met mooi, gesnyde grasperke en skoon, stil strate.

Dit is wat my ouers geleer het, en dit is wat hulle my en my twee susters geleer het. Leer hard, matrikuleer, gaan universiteit toe, kry ’n graad, maak ’n indruk op ’n firma of maatskappy, en sit die hele siklus voort.

Enigste probleem is, hierdie model werk nie lekker vir almal nie. Nog ’n ding: Bitter min mense word ooit finansieel onafhanklik deur hulle tyd aan iemand anders te verkoop.

Daar is sekerlik meer as een pad na die Beloofde Land, maar om te weet hoe om te verkoop en te bemark, hoe om waarde te put uit die arbeid van mense wat op ’n soortgelyke maatskaplike vlak as jy is, hoe om jou diens of produk te adverteer, en hoe om jou wins sodanig te belê dat jy ryker en ryker word met ’n bietjie geluk, is beslis een pad.

My grootouers het min van hierdie stedelike vaardighede aan my ouers geleer, en derhalwe het my ouers min daarvan aan ons geleer.

Natuurlik was en is ons slim genoeg om dit op ons eie baas te raak. En mits jy gou genoeg uitwerk dat dit spesifiek daai dinge is wat bemeester moet word, en geluk is ten minste ’n bietjie aan jou kant, kan jy oor die uitgestrekte vlaktes van die Oos-Kaap, die Vrystaat en die ou Transvaal aan jou veeboer-voorouers fluister: Bekommer julle nie oor my nie; ek maak dit in die stad. Maar as jy te lank vat om dit baas te raak en die lewe begin aan jou skaaf, is ’n tipe lewe in die stad jou voorland waaroor jy liefs nie jou beskeie voorsate sou wou inlig nie.

______________________