Donderdag 31 Desember 2015

DINSDAG 29 DESEMBER 2015

Paul Eddington van Yes, Minister-faam het ’n paar dae voor sy dood in 1995 die volgende gesê: “A journalist once asked me what I would like my epitaph to be and I said I think I would like it to be ‘He did very little harm’. And that’s not easy. Most people seem to me to do a great deal of harm. If I could be remembered as having done very little, that would suit me.”

DONDERDAG 31 DESEMBER 2015

As jy op enige dag vir my vra wat ek die volgende dag wil doen, sal ek ’n hele paar dinge kan noem. Wat ek nie sal sê nie, is dat ek maar net gaan wakker word en gaan wag en kyk wat gebeur, want ek wil nie iets beplan en dan werk dit nie uit nie.

Selfde met die laaste dag van die “ou” jaar en die eerste dag van die “nuwe” jaar. Sommige mense reken jy moenie te veel planne hê nie, of doelwitte stel nie, of vaste datums resiteer nie. Ek reken: Ek is dankbaar dat ek nog hier is, en as ek môre ook nog hier is, gaan ek nie my tyd mors nie. Ek sal besig raak met dinge wat ek wil doen, en as dinge nie tussen Vrydag 1 Januarie 2016 en Saterdag 31 Desember 2016 uitwerk soos ek hoop nie, sal ek dit so aanvaar.

______________________

Roetine ondersoek oor waaraan ek glo

WOENSDAG 23 DESEMBER 2015

Vra jouself of jy steeds X sal doen, of besorg sal wees oor wat Y van jou dink, as jy moet weet jy gaan nie meer oor vyf jaar leef nie. Vra dan dieselfde vraag oor drie jaar, twee jaar, een jaar …

* * *

Elke nou en dan doen ek ’n vinnige roetine ondersoek oor waaraan ek glo.

Antwoord: Ek glo aan rede, en om redelik te wees. En ek glo aan Beskawing. Ek glo dat mense beter met mekaar oor die weg kan kom, dat meer mense gelukkiger lewens kan lei, en dalk meer kan uitrig met hul lewens, indien meer mense beter saamwerk.

Hierdie mees onlangse ondersoek is gedoen op die sypaadjie naby ’n besige kruising in Kaohsiung soos ek teruggestap het van waar ek aandete koop op ’n Woensdagaand. Vir die soveelste keer in die laaste tyd het ek gesien hoe motoriste aanhou ry ten spyte daarvan dat hulle moes kon sien die verkeerslig gaan hulle vang. Hulle het natuurlik opgeëindig, saam met ’n dosyn of meer ander voertuie, in die middel van die kruising toe die verkeer in die ander rigting moes begin ry – en toe voetgangers oor die pad moes begin loop.

“Stel jouself die wêreld voor as mense net wil saamwerk,” het ek gemurmureer in die rigting van die een motoris, wat, soos verwag kon word, zombie-agtig voor hom bly kyk het.

______________________

Rusies aan die linkerkant van die spektrum

WOENSDAG 23 DESEMBER 2015

Wat is dit met liberale mense wat mekaar so in die hare vlieg op sosiale media, op kletsprogramme, en in artikels op die internet?

Vir in geval jy nie die aksie volg nie, hier is ’n paar voorbeelde:

Sam Harris & Noam Chomsky

The Limits of Discourse – As Demonstrated by Sam Harris and Noam Chomsky

Scoring the Noam Chomsky/Sam Harris debate: How the professor knocked out the atheist

Sam Harris & Glenn Greenwald

Sam Harris vs. Glenn Greenwald on Islam

Christopher Hitchens & Noam Chomsky

A Rejoinder to Noam Chomsky

Reply to Hitchens

Ben Affleck & Bill Maher, Sam Harris

Real Time with Bill Maher: Ben Affleck, Sam Harris and Bill Maher Debate Radical Islam (HBO)

Can Liberalism Be Saved From Itself?

______________________

Hoe weet jy wat is waar?

SONDAG 20 DESEMBER 2015

Hoe kan ’n mens enige iets glo as jy nie self kan verifieer of dit waar is of nie?

Feit is, ek moet ander mense glo wanneer hulle sê of skryf dat Napoleon geleef het, en sy finale veldslag verloor het by ’n plek genaamd Waterloo. Ek moet ander mense glo wanneer hulle sê of skryf dat daar ’n monster was met die naam van Adolf Hitler. Ek moet ander mense glo wanneer hulle sê of skryf dat daar ’n konserwatiewe oom was met die naam van Paul Kruger, en ander ou ballies soos George Washington en Abraham Lincoln en Henry VIII. Ek moet ook ander mense se argumente of bewyse glo dat die aarde rond is en nie plat nie, dat die aarde om die son draai, dat daar ’n ewig vergrotende heelal is, dat die mens afstam van vroeër kreature wat meer soos sjimpansees gelyk het as moderne mense, selfs dat ek bestaan uit klein deeltjies genaamd atome – wat self bestaan uit nog kleiner deeltjies.

So, hoe glo mens enige iets as jy nie self data kan versamel, historiese bronne noukeurig kan nagaan, en self gesofistikeerde laboratorium eksperimente kan doen nie?

Jy kyk na twee of meer verduidelikings vir iets wat totaal van mekaar verskil. Jy luister na mense wat verskillende posisies verteenwoordig, en jy kyk deeglik na wat hulle voorlê as bewyse. Dan luister jy hoe hulle mekaar beledig, hoe hulle mekaar se argumente dekonstrueer, en hoe hulle versigtig teenargumente laag vir laag opbou.

Dan besluit jy: Watter weergawe klink redeliker? Hoe deeglik is bewyse wat ter tafel gelê is, bevraagteken, en op grond van wát is bewyse weerlê of argumente verwerp? Watter weergawe het ’n hoër waarskynlikheid om waar te wees?

Laastens, wanneer jy besluit het op A, of B of hoeveel opsies daar ook al is, moet jy jouself afvra hoekom jy reken daai spesifieke weergawe redeliker klink, en ’n hoër waarskynlikheid het om waar te wees. Baie belangrik: Is dit moontlik dat jy ’n diepgesetelde behoefte dat daai weergawe die waarheid moet wees? Ook, kies jy een weergawe bo ’n ander omdat jou lidmaatskap van een of ander groep in gedrang is, veral waar lidmaatskap iets is wat waarde en betekenis aan jou lewe gee?

Mense wat ’n verduideliking kies omdat hulle nodig het dat dit die waarheid moet wees, is soos ’n magistraat wat ’n man skuldig bevind aan diefstal omdat ’n ander man eenkeer, lank gelede, iets van hom gesteel het, en hy al vir jare hierdie begeerte in hom ronddra om wraak te neem. Wat die persoon nodig het, is een ding; bewyse dat daai ou skuldig is, is iets heeltemal anders.

* * *

Net vir die pret daarvan, kom ons kyk na ’n paar onderwerpe waaroor mense argumenteer tot hulle blou in die gesig raak.

1. Is ewolusie een van die belangrikste ontdekkings wat die mens ooit gemaak het oor lewe op aarde, of is dit ’n klomp twak?

Lees meer en besluit self:

15 Answers to Creationist Nonsense

12 Arguments Evolutionists Should Avoid

The Scientific Case Against Evolution

How To Argue For Evolution: 7 Common Creationist Arguments, Debunked

Objections to evolution

2. Was John F. Kennedy die slagoffer van ’n enkele sluipskutter genaamd Lee Harvey Oswald, of was daar ’n groter komplot agter sy sluipmoord?

Lees meer en besluit self:

John F. Kennedy assassination conspiracy theories

What is the Case Against a Conspiracy in the JFK Assassination?

What is the Case For a Conspiracy in the JFK Assassination?

3. Was die veertigste President van die VSA, Ronald Reagan, ’n bastion van vryheid en demokrasie, of was hy ’n boelie wat meer vernietig het as wat hy opgebou het?

Lees meer en besluit self:

Not Even a Hedgehog: The stupidity of Ronald Reagan

Ronald Reagan: Impact And Legacy

Five myths about Ronald Reagan’s legacy

The Sad Legacy of Ronald Reagan

4. Was Moeder Teresa werklik ’n hoop vir die armstes van die armes, of was sy ’n fanatiese fundamentalis wat mense ’n rat voor die oë gedraai het?

Lees meer, of kyk, en besluit self:

20 Facts About Mother Teresa

Mother Teresa of Calcutta

Christopher Hitchens – Mother Teresa: Hell’s Angel

Mother Teresa: Why the Catholic missionary is still no saint to her critics

______________________

Die werklike, of nie werklike, doel van ons bestaan

DINSDAG 15 DESEMBER 2015

Roer die moontlikheid aan dat die mens se bestaan ’n doel dien, en jy praat noodwendig van die mens se oorsprong.

Ek reken daar is drie moontlikhede: die mens is geskape deur ’n godheid; die mens was stadig besig om te ontwikkel uit vroeë lewensvorms, toe arriveer wesens van die buitenste ruim en plant van hulle DNS in ’n vroeë inkarnasie van wat uiteindelik die moderne mens sou word; die mens het stadig oor miljoene jare ontwikkel uit vroeë lewensvorms tot in die organisme wat ons vandag sien, sonder enige inmenging van godhede of vreemde wesens.

Elk van hierdie moontlike oorspronge het unieke implikasies vir die moontlikheid van ’n doel van ons bestaan.

As ’n godheid die mens geproduseer het, maak dit sin dat ons die doel van ons bestaan moet gaan soek by hierdie godheid: Wie is die godheid? Wat wil die godheid van ons hê? Hoekom het hierdie godheid ons geskape? Wat sal gebeur as ons nie doen wat ons moet doen nie, of indien ons om enige van verskeie redes nie kan uitwerk wat ons moet doen nie?

Indien ons die resultaat is van inmenging van wesens van die buitenste ruim, is die vrae soortgelyk: Wie is hulle? Waar kom hulle vandaan? Hoekom het hulle kom inmeng met ons? Wat is ons veronderstel om te doen? Wat sal gebeur as ons dit nie doen nie, of as ons nie kan uitwerk wat hulle wil hê ons moet doen nie?

Indien ons stadig ontwikkel het oor miljoene jare, en dalk soveel as honderde maar heel waarskynlik ten minste dosyne verskillende inkarnasies deurgegaan het voor ons gekom het by die organisme wat ons vandag “mens” noem, kan ons nie werklik kyk na ’n mag buite ons wat lank gelede een of ander plan in gedagte gehad het nie.

Indien ons ons bestaan te danke het aan laasgenoemde, ’n hoogs waarskynlike en tog vreemd genoeg hoogs kontroversiële moontlikheid, kan ons ’n redelike afleiding maak. Dit sal beteken “doel van bestaan” is, soos identiteit, iets waarmee onsself vorendag gekom het om onsself te help om deur die spreekwoordelike dag te kom. Dit is met ander woorde nie regtig werklik nie.

Iets hoef egter nie regtig werklik te wees om praktiese waarde te hê nie. Identiteit is een voorbeeld: Ek is nie regtig “Brand Smit” nie. Of, “Brand Smit” is nie ’n regte ding soos ’n hond of ’n olifant of ’n potlood nie. Dis iets wat uitgedink is, oorspronklik deur my ouers, en toe het ék ’n bietjie bygedra, en ander mense het hand bygesit, en toe ek ouer geraak het, het ek meer kreatief geraak daarmee, en deesdae speel ander mense soms saam met wat ek sê, en soms nie. “Brand Smit” het wel praktiese waarde. Nie net help dit die skrywer van hierdie teks om deur sy dag te kom en redelik mooi saam te werk met ander organismes en kreature in die omgewing nie, dit kan hom selfs motiveer om van sy tyd en geld op te offer om bystand te verleen aan ander mense en diere.

Meeste mense wat sal baat by sy onbaatsugtige aksies sal heel waarskynlik nie veel omgee hoe hy dink aan die doel van sy bestaan nie. Hy kan byvoorbeeld ’n sopkombuis begin vir honger mense wat by die treinstasie slaap, en ek reken hulle sal nie juis omgee as die helper verklaar dat hy dit doen omdat hy dit sien as die doel van sy bestaan soos geopenbaar deur wesens van die buitenste ruim nie.

* * *

Daar is dus ’n groot kans dat beide identiteit en oortuiging dat ons bestaan ’n doel dien, dinge is wat ons self uitdink. Dit is ook so dat sommige van ons hierdie dinge hanteer asof dit heilige waarheid is waaraan ons nie veel kan skaaf of verander nie.

Is dit goed om te dink jou bestaan dien ’n doel?

Ek het reeds die idee vermeld dat iemand warm sop en brood kan voorsien aan honger mense sonder vergoeding, en teen geen koste vir die persoon wat die sop en brood kry nie, moontlik omdat die voorsiener glo dis ’n manifestasie van die doel van sy of haar bestaan.

Dan is daar ook die ou wat nie glo sy bestaan dien enige doel nie; dat hy gebore is en uiteindelik sal doodgaan en tussen-in maar net sy bes sal doen om so goed as moontlik oor die weg te kom met sy bure, uit die moeilikheid te bly meeste van die tyd, en die lewe soveel as moontlik die moeite werd sal maak vir homself, siende dat hy maklik genoeg sy eie lewe kan beëindig.

Persoonlik het ek nie ’n probleem met ’n persoon wat nie glo sy bestaan dien enige doel nie. En as die persoon by die sopkombuis sê sy is ’n wese van die buitenste ruim wat maar net haar opdrag uitvoer, gaan ek ook nie ’n probleem hê met haar nie – solank die sop en brood van ’n kwaliteit is wat gewone aardbewoners deur die dag kan help.

Aan die ander kant van die spektrum sal ek wél omgee as iemand my kop wil afsny omdat, volgens hierdie persoon, antieke geskrifte hom opdrag gee om dit te doen; dat dit inderdaad deel is van die doel van sy bestaan soos geopenbaar deur sy “heilige” boek.

Die oortuiging dat jou bestaan ’n doel dien is, soos identiteit, nie inherent goed of sleg nie. Beide kan jou help om heel en redelik gesond deur die dag te kom, en nie in die tronk of die malhuis te beland nie. Beide kan ook jou pad na die tronk of die malhuis besonders kort en reguit maak. En beide kan jou óf in staat stel om in relatiewe vrede te leef met meeste mense in die gemeenskap, óf dit kan jou op ’n oorlogspad sit met hulle, of met mense in ander gemeenskappe.

Wie is jy, aan die einde van die dag? En glo jy jou bestaan dien ’n doel? Indien wel, wat is hierdie doel, en waar het jy aan die idee gekom dat dit die doel van jou bestaan moet wees?

______________________