Stel jouself op vir geleenthede en geluk – al word jy nooit ’n superster nie

WOENSDAG 5 JANUARIE 2022

Om voort te bou op ’n gedagte van verlede week of so: As jy kyk na meeste mense in hulle middeljare of later, is dit duidelik dat hulle nooit supersterre geword het nie. Hulle is dalk “supersterre” vir hulle families, maar bitter weinig mense eindig op met uitsonderlike talente en prestasies in enige area, wat nog te sê op meer as een gebied – soos sport én kuns, of ingenieurswese én kookkuns.

Die ander deel van die gedagte is dat selfs mense wat superster-status bereik, soms meer skade doen aan ander mense as goed. Ten spyte van al hulle prestasies en pryse en status.

Al het jy dus nooit superster-status bereik nie, nooit enige pryse gewen vir jou werk nie, nooit veel presteer op enige gebied nie, maar dit kan ook gesê word dat jy min skade verrig het aan ander mense, aan diere, en aan die omgewing, dink ek dis heeltemal gepas om te sê jy kan jou kop hoog hou – jy’t goed gedoen.

MAANDAG 24 JANUARIE 2022

Punt 1. Soos reeds genoem word bitter weinig mense supersterre. Min mense slaag daarin om meer as een of twee van die dinge te bereik wat hulle eens voorgeneem het om te doen of gehoop het om te bereik.

Punt 2. Een persoon kritiseer ’n ander vir sy onindrukwekkende inkomste en lae bydrae tot ’n gemeenskaplike saak. Vra laasgenoemde: “Maak jý soveel geld soos wat jy denkbaar kan maak? Doen jý alles in jóú vermoëns om meer uit te rig? Hoekom maak jý nie meer geld nie? Te besig om die lewe te geniet? Kan nie uitwerk hoé nie? Het probeer maar het misluk? Het probeer maar nie hard genoeg nie?”

Punt 3. Min mense skep geleenthede uit die blou lug. Meeste mense aanvaar geleenthede wat aan hulle gebied word, en werk dan hard om hierdie bronne van inkomste in stand te hou. Maar het hulle in die eerste plek die geleentheid geskep? Nee.

Punt 4. Wat wel gebeur, is dat mense hulleself voorberei om voordeel te trek uit bestaande geleenthede deur opgelei te word in ’n sekere veld, en deur sekere kennis te bekom.

* * *

I. Identifiseer ’n goeie geleentheid – vir jou. Mense se behoeftes en begeertes is alles geleenthede.

II. Kry opleiding of doen ondervinding op in ’n spesifieke geleentheidsveld. Rig jouself dan in om voordeel te trek uit bestaande geleenthede. (Opleiding vind nie oornag plaas nie. As jy twintig is, kan jy nog tyd spandeer om vir verskeie dinge opgelei te word. As jy vyftig is, kan jy steeds opgelei word of self vaardighede leer, maar die kans is groter dat jy sal kyk waarvoor jy reeds opgelei is, of waarin jy reeds ondervinding het.)

III. Ek het aanvanklik gedink dat 99% van al die geld wat ek in my lewe gemaak het, gekom het van geleenthede wat my aangebied was – van mense wat my gevra het of ek belangstel in ’n posisie in ’n geskenkwinkel toe ek ’n student was, tot mense in Taiwan wat my tromp-op geloop het of gebel het by die huis of aan my deur geklop het en my gevra het of ek tyd het vir nog ’n Engelse klas. Besef ek toe omtrent ’n minuut gelede: Ek was opgestel vir die geleenthede, in die geval van laasgenoemde voorbeelde, deur Taiwan toe te kom en kontakbaar te wees.

Nog iets: Meeste mense “hustle” nie op ’n straathoek vir geld nie. Vreemd genoeg, die enigste mense wat dit doen, wat “cold calls” doen en mense vra vir geld, is bedelaars – wat gesien word as op die laagste trappie van die ekonomiese hiërargie. Ek wou gesê het straatverkopers “hustle” ook, maar hulle stel hulleself ook op vir geleentheid: mense wat verby hulle stap wat toevallig nodig het of lus is vir wat hulle verkoop – “Ek is honger, en hier’s ’n ou wat boereworsrolle verkoop”.

______________________