Saterdag 31 Desember 2016

Ek is bewus daarvan dat dit die laaste dag van die jaar is, maar ek was te besig tot nou met projekte wat ek regtig geniet om te dink aan al die werk wat ek gedoen het hierdie jaar aan projekte wat ek regtig geniet het.

Ek het my familie hierdie jaar twee keer gesien – in Februarie, en in Desember. Die eerste keer was lekker. Die tweede keer was ook lekker, maar ook baie spesiaal.

Ek het ook genoeg geld hierdie jaar gemaak om nog geld in die bank te hê.

En nou gaan ek ’n bietjie rus.

Vir so ’n uur. Dan gaan ek verder werk.

Een van die redes hoekom 2016 spesiaal was – ’n besoek aan die area in die Vrystaat waar my oupa aan moederskant gebore is in 1900
Nog ’n rede – Suid-Afrikaanse kos

______________________

Hoekom het ons nodig om geld te maak?

DONDERDAG 29 DESEMBER 2016

Hoekom het ek, of jy, nodig om geld te maak? Glo dit of nie, maar daar is mense wat onnosel genoeg is om elke nou en dan die antwoord te vergeet, en dan moet iemand in die omtrek altyd verduidelik.

Ek is een van hierdie eenvoudige mense. Gelukkig het ek net genoeg kompleksiteit binne my om na ’n paar minute uit my beswyming te ontwaak, en dan kan ek genoeg breinselle opkommandeer om self ’n antwoord te formuleer.

Dit verduideliking gaan soos volg:

Rede nommer 1. Jy moet probeer oorleef (as jy nie wil nie, geld niks van hierdie verduideliking vir jou nie). Om te oorleef, het jy geld nodig om kos te koop, huur te betaal, en te betaal vir water en elektrisiteit. Jy’t ook nodig om klere, en van tyd tot tyd medisyne te koop. Dit sal ook help as jy iets doen wat dit makliker sal maak om te oorleef een jaar van nou af, en tien jaar van nou af, en wanneer jy veel ouer is as nou en dalk nie meer kán of wíl werk nie. Jou oorlewing is dalk ook ten nouste gekoppel aan die oorlewing van mense na aan jou vir wie se oorlewing jy verantwoordelik is. Dit beteken nog meer geld vir kos, en klere, en medisyne, en ander items.

Rede nommer 2. As jou oorlewing goed genoeg op dreef is, maak dit sin om jou oorlewing die moeite werd te maak – andersins, wat is die punt? Om jou oorlewing die moeite werd te maak, het jy nodig om dinge te doen wat jy geniet. Dit beteken jy het geld nodig om boeke te koop, of sport te beoefen, of bioskoop toe te gaan, of kos te kook omdat jy hou van koskook, of vir dosyne ander dinge wat mense doen vir die plesier daarvan, of omdat dit hulle gelukkig laat voel en oor die algemeen positief oor die lewe.

Rede nommer 3. Jy wil dalk ander mense bystaan in hulle stryd om oorlewing (dis dalk iets wat jou eie oorlewing die moeite werd maak). Kans is goed dat jy geld nodig sal hê in jou pogings om ander te help.

Rede nommer 4. Jy wil dalk ook ander mense bystaan in hulle pogings om húlle oorlewing die moeite werd te maak. Weereens is dit nie altyd nodig om kontant op die tafel te lê nie, maar dit sal heel waarskynlik die proses vergemaklik.

Daar het jy dit – of dalk eerder, daar het ék dit nou, weereens. Ons het geld nodig om te oorleef. Ons het geld nodig om ons oorlewing die moeite werd te maak. Ons het geld nodig as ons ander mense wil help oorleef, en ons het geld nodig om hulle te help om van opinie te verander indien hulle nie dink hulle oorlewing is die moeite werd nie.

______________________

’n Goeie en suksesvolle dag word opgebou laag vir laag

WOENSDAG 28 DESEMBER 2016

Wie begin sy dag met ’n manifes op sy lippe, en ’n fyn-uitgewerkte bloudruk in sy kop?

Feit is, meeste mense se dae begin met noodsaaklikheid: jy staan op want jy’t nodig om badkamer toe te gaan, omdat jy honger is, en omdat jy afsprake gemaak het met mense en ondernemings en as jy nie opdaag nie, gaan jy in die moeilikheid wees.

En so begin jou dag. Uiteindelik stort jy en jy borsel jou tande, jy trek aan, en jy gaan êrens heen om jou brood en botter te verdien, of om andersins van waarde te wees vir die gemeenskap.

Laag vir laag word jou dag opgebou. Hier en daar maak jy ’n fout. Hier en daar sê jy iets of doen jy iets wat jou in verleentheid stel, maar na ’n paar minute of ’n uur of so is jy weer volstoom aan die gang.

Teen die tyd wat die dag verby is, kyk jy dalk terug na ’n goeie en relatief suksesvolle dag. Het jy dit begin met slagspreuke wat oor jou lippe gerol het, en ’n plan wat netjies uitgedruk langs jou bed gewag het vir jou om dit meganisties te volg? Heel waarskynlik nie, hoewel jy sekerlik ’n goeie idee gehad het hoe jy graag sou wou hê jou dag moet verloop.

So is dit met ander ondernemings en projekte wat jy aanpak. Jy het ’n goeie idee wat jy moet doen om redelike goeie resultate te bewerkstellig. Jy het ’n goeie idee wat jy nie moet doen nie om uit die moeilikheid te bly. Jy maak nogtans so nou en dan foute, en jy gly so nou en dan op ’n piesangskil. Maar suksesvolle resultate sal soos ’n goeie en suksesvolle dag opgebou word laag vir laag – tien, twintig, honderd groot en klein aksies en stappe wat een na die ander volg om ’n goeie resultaat te bou.

Slagspreuke is goed. Manifeste het hulle plek. Sekerlik moet jy weet wat jy moet doen. Maar sukses is meestal die resultaat van een laag klein, oënskynlik onbelangrike aksies op die ander. Net soos ’n goeie en suksesvolle dag.

———————-

Nie presies op dieselfde onderwerp nie, maar in dieselfde gees: Scott Adams skryf die volgende op sy blog by Dilbert.COM: “The idea of a talent stack is that you can combine ordinary skills until you have enough of the right kind to be extraordinary. You don’t have to be the best in the world at any one thing. All you need to succeed is to be good at a number of skills that fit well together.”

______________________

Was dit die tyd en geld werd omdat jy iets geleer het oor jouself?

WOENSDAG 21 DESEMBER 2016

Mens leer jouself ken in uiteenlopende situasies: deur te reis na vreemde lande toe, deur tyd te spandeer met mense van wie jy nie werklik hou nie, en in moeilike tye, alleen of saam met ander mense.

Jy leer ook baie oor jouself deur te spekuleer met geld, sê nou maar op die finansiële markte. Jy sien hoe jy voel en optree na ’n goeie wins, en hoe jy voel en optree na ’n verlies. Jy leer ook hoe jy voel, en hoe jy optree, na ’n katastrofiese mislukking.

Hoe lank dit jou vat om op te gee, is nog ’n belangrike ding wat jy van jouself leer, asook hoe lank jy aanhou met ’n ding omdat jy nie wil opgee nie, al kan selfs ’n stokblinde mens sien jy kom nêrens nie.

Kwalifiseer dit as opgee as jy jou ervaring verskuif na iets anders toe, of as jy dinge wat jy geleer het toepas op ’n totaal ander mark? Het jy dan steeds jou tyd gemors? Het jy dan steeds jou geld gemors?

Hoe bereken ’n mens “wins” as dit kom by selfkennis? En beteken dit noodwendig iets was minder van ’n mors van tyd omdat jy ’n paar waardevolle dinge geleer het oor jouself?

______________________