My lewe in Taiwan vanaf Januarie 1999 in blokke van vyf jaar

SONDAG 15 FEBRUARIE 2026

Januarie 1999~Januarie 2004: Vestig myself in Taiwan. Identiteitskrisis. Skryf verder aan notas begin in 1994. Werk aan eie projekte. Eksistensiële krisis. Trek na tweede woonstel. Produseer honderde bladsye notas en stukke. Besoek Suid-Afrika vier keer.

(Verlate huis in my nuwe woonbuurt)

Januarie 2004~Januarie 2009: Skryf nog. Ontmoet my lewensmaat. Begin obsessie met “make money from home”. Ervaar een mislukking na die ander. Leer hoe om te self-publish. Hou op rook. Besoek Suid-Afrika drie keer.

(Nuwe hoofstuk begin)

Januarie 2009~Januarie 2014: Begin persoonlike webwerwe. Publiseer skryfwerk. Nog meer mislukkings met “make money from home”. Kry meer klasse en bou weer finansies op. Trek na nuwe “kantoor”. Besoek Suid-Afrika drie keer.

(Bokse skuif na nuwe spasie)

Januarie 2014~Januarie 2019: “Make money from home” skuif na pre-race trading en football betting. Herhaaldelike mislukkings en hoë stres. Spandeer ses dae in Kioto en Osaka. Publiseer verskeie tematiese bundels van my skryfwerk. Besoek Suid-Afrika twee keer.

(Verdomde pre-race trading)

Januarie 2019~Januarie 2024: Spandeer ses dae in Ho Chi Min City (Saigon) in Viëtnam. Covid-19. Klasse word gekanselleer; skole sluit. Inkomste val met 60%. ChatGPT en ander Kunsmatige Intelligensie kommersieel beskikbaar. Publiseer my eerste produkte geskep met nuwe hulpbronne. Reis eerste keer om die hele eiland van Taiwan. Besoek Suid-Afrika een keer.

(Belangrike kruispad in Viëtnamese geskiedenis)

Januarie 2024~Januarie 2029: Gebruik verskeie KI-hulpbronne om meer produkte te produseer. Besoek Suid-Afrika twee keer sover.

(Suid-Afrikaanse ontbyt)

______________________

Diepe dankbaarheid as verset

SATERDAG 14 FEBRUARIE 2026

Diepe dankbaarheid as verset, ’n vorm van “Fok jou” teenoor enigiemand of enigiets wat jou wil onderdruk.

“Wat as jy met kanker gediagnoseer word, of selfs erger, jy ly al maande lank aan kanker?”

Diepe dankbaarheid dat ek nog leef. Ek het nog ’n kans om dit te oorkom.

“Wat as jy terminale kanker het, met net weke om te leef?”

Diepe dankbaarheid dat ek nog tyd het om my sake in orde te kry.

“Wat as jy in werklikheid reeds aan die kanker dood is?”

Diepe dankbaarheid dat die pyn verby is.

“Goed, wat as jy ’n man is en jy is in ’n bakleiery en dit gaan nie goed nie?”

Diepe dankbaarheid dat ek nog staan.

“Wat as jy reeds die geveg verloor het?”

Diepe dankbaarheid dat ek nog leef.

“Wat as die ander ou jou doodgeslaan het?”

Diepe dankbaarheid dat ek nie meer met assholes soos hy hoef te deal nie.

______________________

Woensdag 31 Desember 2025

As hierdie stuk te lank was, sou mense geglo het dis geskryf deur ’n masjien.

Hier volg dus ’n kort fotoverhaal van my bestaan in 2025 …

2025 het, soos omtrent elke jaar die afgelope dekade, begin by Kaohsiung se Love River.

Die eerste dag is gespandeer by die oorblyfsels van ’n ou dorpie in die middel van die industriële area van Kaohsiung.

Februarie het ons Suid-Afrika toe gegaan, vir die eerste keer sedert voor die ding wat gebeur het in 2020. Op pad het ons ’n paar ure in Hong Kong gespandeer.

Maart het ons ’n rigting ingevaar een Sondagmiddag en toe ge-Google, “Coffee shop near me.”

In April het ek ’n vissersdorpie ontdek omtrent dertig minute se ry van ons woonstel af.

In Meimaand het ek ’n verskyning gemaak in een van Kaohsiung se top universiteite om met studente te praat oor die res van die wêreld – waarop ek natuurlik ’n kenner is want ek kom van die res van die wêreld af.

Ook in Mei was dit weer tyd om Tainan te besoek – die oudste stad in Taiwan.

In Junie het ons Italiaanse kos geniet op die kampus waar ek in Mei ’n kort verskyning gemaak het, om te vier dat ek alweer ’n jaar ouer geword het. Ook op die kampus ontdek: een van Chiang Kai-shek se vele motorkarre.

Op pad terug huis toe is ons gevang in ’n lelike reënbui en ons was gelaat met geen keuse anders as om te stop vir versnaperings nie.

Taitung/Taidong was ons keuse vir ’n middel-van-die-jaar wegbreek.

In Augustus het ons IKEA besoek.

In September het ek myself gefotografeer in ’n leë klaskamer …

… en ons het redelik vervelige kuns besigtig in Kaohsiung se redelik vervelige kunsmuseum (dalk moes ek ’n reeks van my klaskamer-selfies in ’n leë vertrek vasgeplak het een die muur).

In Oktober het ek ten minste een ou gebou afgeneem …

… en ’n ou National Geographic ontdek.

November het ek weer my ouers, my susters, en ’n paar vriende besoek in Suid-Afrika, en ’n paar dosyn foto’s van kos geneem.

En in Desember het ons ou geboue en ’n verlate fabriek ontdek.

… en ’n fotoverhaal van 2025 bymekaar gesit.

______________________

Dalk reg, maar nie eerlik nie

DINSDAG 10 JUNIE 2025

Ek skryf nie meer juis oor mense se godsdienstige oortuigings nie, maar ek het onlangs ’n gedagte gehad oor eerlikheid.

’n Paar weke gelede hoor ek ’n storie oor ’n man wat sy werk bedank het. Tydens ’n godsdienstige samekoms sê hy toe aan almal teenwoordig dat hy voortaan op God sal vertrou vir sy brood en botter. Iemand in die gemeente staan toe kort daarna op en verklaar dat hy ’n plaas het, en dat hy die beheer daarvan sal oorlaat aan die man wat nou sonder werk is.

“Prys die Here!” roep dosyne mense uit. God het voorsien.

’n Alternatiewe verklaring is dat dit in almal teenwoordig se belang is dat “God sal voorsien.” Die man wat die plaas besit het, het gedink: Ek het iemand nodig om die plaas te bestuur. Staan ek nou op en maak dit bekend, sal God tog voorsien het in die man se behoeftes.

Wat hy dalk nie sou gedink het nie, maar wat waar sou wees: Sy aansien in die geloofsgemeenskap sou ook styg, want hy sou gesien word as ’n “instrument in God se hande”.

Dis waar eerlikheid inkom.

Gestel ’n persoon wat identifiseer as Christen sê: “Ek sien wat jy bedoel. Dalk is dit net ’n geval van ’n groep mense wat wil hê dat sekere dinge waar moet wees, en dit is in hulle belang om dinge te doen wat die indruk sal skep dat dit waar is. Ek kan sien hoe dit so verstaan kan word. Nietemin, ek kies steeds om te glo dat God werklik voorsien het, en dat Hy deur die man met die plaas gewerk het.”

As so ’n persoon hierdie stelling maak, is die argument verby. Ek sal niks verder hê om by te voeg nie. Ek sal die man se hand skud, hom bedank vir sy eerlikheid, en hom ’n goeie lewe toewens.

Gestel nou so ’n persoon wat identifiseer as ’n Christen neem ’n ander posisie in, en hou vol dat dit God was wat voorsien het, en dat hy weier om enige ander moontlikheid in te sien.

Vir hierdie persoon sal ek sê: “Jy is dalk reg, maar jy is nie eerlik nie.”

______________________

Hoop vir ’n goeie en gelukkige lewe – selfs in Gaza

WOENSDAG 30 APRIL 2025

Doelwit: ’n Goeie en gelukkige lewe, nou. En ’n gemaklike aftrede en oudag later – indien ’n mens dit so ver maak.

Is dit nie waarvoor almal hoop nie?

“Nie mense in Gaza nie,” sal iemand sê. “Hulle hoop net vir vrede, en vir die bomme om te stop.”

Korrek, sal ek antwoord. Vir nou hoop hulle elke dag desperaat vir vrede en stilte, en vir kos en medisyne en ander voorrade om hulle te bereik. En om te kan begin om hulle huise en skole en hospitale en ander infrastruktuur te herbou.

Maar waarvoor sal hulle wens indien die psigoties-terroristiese Europese koloniale projek genaamd Israel uiteindelik verslaan word in hulle pogings om Palestyne uit te wis en hulle grond te steel? Waarvoor sal hulle hoop wanneer hulle huise en hospitale en skole en moskees en kerke herbou is?

Hulle sal heel waarskynlik hoop vir ’n goeie en gelukkige lewe, en ’n gemaklike aftrede en oudag, indien hulle lewens so ver strek.