Sondag 31 Desember 2023

Ek het nie hierdie jaar veel geskryf nie – minder as 2,000 woorde gepubliseer teenoor meer as 22,000 verlede jaar.

Een rede: Ek het gevoel dat ek gesê het wat ek wou sê.

Ek het in 2023 ’n paar gedagtes verwoord oor die lewe en die dood. Ten spyte daarvan dat die oorlog in Oekraïne steeds voortwoed, het ek nie veel bygevoeg tot wat ek verlede jaar gesê het nie. Daar was ook nie veel wat ek kon bylas oor my opinie oor die China-Taiwan vraagstuk nie. Ek was soos meeste mense geskok oor wat gebeur het in Israel op 7 Oktober, en het sedertdien met afgryse op sosiale media gevolg wat besig is om te gebeur in Gaza.

Ander nuus het gekom en gegaan.

Soos elke jaar, voorspel mense die einde van die wêreld in die nuwe jaar.

Soos elke jaar, sal hulle waarskynlik verkeerd wees.

Aan die ander van die spektrum voorspel sommige mense ’n goeie jaar – vir sommige mense.

Ekself is agnosties. En vol hoop.

Dalk sal dit blyk te wees ’n goeie tyd om dinge bymekaar te bring.

Saterdag 31 Desember 2022

Ek het besluit om hierdie jaar my eie tradisie te breek en nie ’n jaareinde stukkie te skryf nie.

Gewoonlik voel ek dit nodig om uit te spel dat die jaar wat binne enkele ure verby sal wees, goed was.

Ek voel dit ook nodig om vir die rekord (siende dat dit is wat hierdie hoekie van die wêreldwye informasie-netwerk is: ’n rekord van my bestaan) te sê dat ek hoop die volgende jaar ook goed sal wees.

Omdat ek, sover ek kan onthou, nie in die publiek gekla het oor enige iets hierdie jaar nie, kan ek nie op hierdie laat uur beweer dat die jaar nie goed was nie.

En omdat ek van nature optimisties is, vind ek dit ook onnodig om dit vir die rekord duidelik te maak dat ek optimisties is oor volgende jaar.

Omdat ek dus nie hierdie gewone stellings kan insluit in my stukkie aan die einde van die jaar nie, waaroor anders kan ek woorde tik en minute later publiseer vir mense in Argentinië en Siberië en Alaska en Durbanville om te lees?

Niks.

So, bly positief. Selfs al maak dit nie altyd sin nie. (Behalwe natuurlik as iemand jou wil ontvoer. In daai geval moet jy die ergste verwag en baklei asof jou lewe daarvan afhang.)

______________________

Vrydag 31 Desember 2021

Kon sekerlik verwag word na al die jare. My woorde het opgeraak. Of ek moes nuwe woorde gaan koop, maar ek het vergeet. Of ek’t die woorde bestel, maar die vragskip het gesink. Of die trein het ontspoor. Of die vliegtuig het sonder petrol gaan staan.

Voorheen het ek gepraat oor wat gedoen is. Maar dis gedoen.

Of ek het gepraat van wat gedoen gaan word.

Of ek het anekdotes vertel van woede, hartseer, vreugde, vrees, en verleentheid.

Maar almal raak kwaad. Hartseer dinge gebeur. Vreugde is wonderlik. Vrees is ’n pes, en verleentheid is ’n mors van tyd. Meeste van die tyd.

Beste van alles, ek sien uit na volgende jaar. Ek dink dit gaan ’n uitsonderlike goeie jaar wees.

Soos elke jaar.

______________________