Moet ’n mens negatiewe nuus vermy?

VRYDAG 7 DESEMBER 2018

Ek voel altyd dat ’n mens moet weet wat aangaan in die wêreld, sodat jy voorbereid is daarvoor as iets sleg gebeur, of as iemand oor jou pad kom wat jou skade wil aandoen. As jy net fokus op die positiewe, gaan jy immers so onvoorbereid wees op die negatiewe as wat die Maya of Inkas was toe Europeërs met hulle gehoes en geproes by hulle kuste aan wal gestap het 500 jaar gelede.

Feit is egter dat daar elke dag miljoene slegte dinge gebeur – letterlik, miljoene slegte dinge. Geweld word gepleeg tussen mense agter geslote deure; roof en moord word gepleeg; aanvalle word geloods op niksvermoedende mense; een persoon of groep boelie ’n ander persoon op die internet, of by die skool, op by die werk, of op die speelgrond; mense bedrieg ander mense uit hulle hardverdiende spaargeld uit. Dit wat ’n mens sien op die een of twee nuuskanale wat jy kyk, of die een of twee koerante of webwerwe wat jy besoek, is ’n druppel in die emmer. As jy dan op hoogte wil bly van slegte dinge wat gebeur, hoekom tevrede wees met ’n druppel in die emmer? Hoeveel dink jy gaan daai druppel jou voorberei daarvoor as jy in ’n situasie is waar jy die slagoffer kan word van ’n boosaard?

Die ander ding is dit: As jy fokus op positiewe mense, en positiewe omgewings, is die kans goed dat jy in elk geval mense wat jou skade wil aandoen, gaan vermy sover as moontlik, en jouself heel waarskynlik nié gaan begeef in omgewings waar risiko hoog is dat iets sleg gaan gebeur nie.

Aan die einde kan jy nie alles beheer wat met jou gebeur nie. Ons almal is tot ’n mate vasgevang in ’n tuimeltreinrit. Of sal ek eerder sê, ons almal is vasgevang in een of ander tuimeltreinrit. ’n Mens het wel ’n keuse waar jy sit, en jy hét soms ’n baie goeie idee watse tuimeltrein watse tipe draaie maak.

’n Nuwe jaar is amper op ons voorstoep, so dis dalk ’n goeie tyd vir ’n voorneme: Gaan deur jou sosiale media, en deur ander bronne van inligting wat jy deur die loop van die dag onder oë het, en maak skoon wat jou nie help om ’n beter lewe te skep en te lei nie. En, meer spesifiek vir myself, dalk is minder nuus tydens ontbyt ook glad nie so ’n slegte idee nie.

______________________