Dit kan dalk net ’n nagmerrie wees om oud te raak

MAANDAG 28 MAART 2022

Wanneer ek doodgaan, is die minimum wat ek wil nalaat geen skuld nie; genoeg geld sodat my naasbestaandes of wederhelfte nie uit hulle eie sak die onkoste hoef te dek om my te begrawe of te veras nie; en ten minste NT$2 miljoen/$70,000/€60,000/R1 miljoen om my wederhelfte finansieel by te staan in die eerste jaar of so na my heengaan.

Nadat jy 65 of 70 bereik het, is daar ’n paar moontlikhede hoe jy aan die lewe kan bly:

1. Hou aan werk tot jy dood neerslaan.

2. Hoop iemand sorg vir jou tot jy doodgaan.

3. Hoop jou pensioenfonds hou aan uitbetaal tot jy doodgaan.

4. Hoop die geldjies wat die staat vir jou gee elke maand is genoeg dat jy nie doodgaan van honger nie.

5. Hoop jou spaargeld hou tot jy doodgaan.

Wat ’n mens laat dink: Dis nie noodwendig ’n goeie ding om te oud te raak nie.

En selfs al het jy genoeg geld wat jou behoort te hou tot jy doodgaan in jou tagtigs of negentigs, is daar altyd slegte kinders of kleinkinders wat jou uit jou geld kan swendel, of sogenaamde wettige voogde wat ’n regter kan oortuig dat jy seniel is en nie meer jou eie finansies kan behartig nie, en dat hulle vir jou eie beswil jou finansies moet oorneem.

Weereens tref dit jou: Tensy jy werklik goeie kinders groot gemaak het, of besonders goedhartige familie het, kan dit dalk net ’n nagmerrie wees om oud te raak.

______________________

’n Paar rowwe gedagtes oor die WEF, Amerikaanse imperialiste, en Kritiese Sosiale Geregtigheid

WOENSDAG 23 MAART 2022

Volgens sommige mense op sosiale media is die Wêreld-Ekonomiese Forum (WEF) ’n bose organisasie wat gerig is op wêreldoorheersing.

Ander mense noem hierdie “doom and gloom” ’n klassieke voorbeeld van ’n samesweringsteorie en wys op goeie werk wat die WEF doen op gebiede soos gesondheid en wetenskap.

Hier is wat ons weet: Die WEF is in 1971 deur Klaus Schwab gestig. Die doelwitte van die organisasie is geen geheim nie. Hulle eie webwerf sê die volgende:

The World Economic Forum is the International Organization for Public-Private Cooperation. The Forum engages the foremost political, business, cultural and other leaders of society to shape global, regional and industry agendas. […] The Forum strives in all its efforts to demonstrate entrepreneurship in the global public interest while upholding the highest standards of governance. Moral and intellectual integrity is at the heart of everything it does. […] We believe that progress happens by bringing together people from all walks of life who have the drive and the influence to make positive change.

In ’n artikel getiteld, “How do we do our work?”, verduidelik die WEF dat hulle vier jaarlikse vergaderings hou: ’n vergadering in Davos-Klosters, Switserland, wat daarop gemik is om globale, streeks- en nywerheidsagendas te ontwikkel aan die begin van elke kalenderjaar; ’n vergadering in die Volksrepubliek van China oor innovasie, wetenskap en tegnologie; ’n vergadering in die Verenigde Arabiese Emirate wat kundiges in die kennisgemeenskap bymekaarbring om hul insigte te deel oor groot uitdagings wat die wêreld in die gesig staar; en ’n vergadering wat daarop gemik is om bedryfsagendas te ontwikkel, en te verken hoe nywerhede kan oorskakel van die bestuur van verandering na baanbrekerswerk met verandering.

Die WEF se stigter het ook twee boeke geskryf: The Fourth Industrial Revolution, gepubliseer in 2016, en Shaping the Fourth Industrial Revolution, gepubliseer in 2018. Die doelwitte van sy organisasie word weereens uitgespel in die publikasies.

Ten minste kan ’n mens nie sê dat hulle geheimsinnig is oor hulle doelwitte nie.

Dit is ook waar dat hulle ’n program het vir jong en belowende leiers in politiek, besigheid en ander sektore van die samelewing: die Forum of Young Global Leaders, vir leiers onder 40, is begin in 2004, en die Global Shapers Community vir potensiële leiers tussen 20 en 30, is begin in 2011. Die doel van hierdie forums is om potensiële leiers van die toekoms op te lei in die doelwitte van die organisasie. Leiers wat deel van die program is, of was, sluit in hoëprofiel-Amerikaanse Demokrate (Peter Buttigieg en Tulsi Gabbard) en Republikeine (Tom Cotton en Daniel Crenshaw); die Adjunk Eerste Minister van Kanada, Chrystia Freeland; die eerste minister van Nieu-Seeland, Jacinda Ardern; Emmanuel Macron, die president van Frankryk; die Eerste Ministers van België en Finland; die kroonprins van Noorweë; verskeie ander lede van Europese kabinette; verskeie hoëprofiel-politici in die Midde-Ooste, Afrika en Suid-Amerika. Dan is daar Elon Musk; Mark Zuckerberg; medestigter van PayPal, Peter Thiel; die stigter van Wikipedia, Jimmy Wales; medestigter en uitvoerende hoof van YouTube, Chad Hurley; en ander invloedryke lede van media, kuns, kultuur, sport en wetenskap in lande regoor die wêreld.

Wikipedia sê die volgende:

The [WEF] suggests that a globalised world is best managed by a self-selected coalition of multinational corporations, governments, and civil society organizations, which it expresses through initiatives like the “Great Reset” and the “Global Redesign”. It sees periods of global instability – such as the financial crisis of 2007–2008 and the COVID-19 pandemic – as windows of opportunity to intensify its programmatic efforts. […] The World Economic Forum and its annual meeting in Davos have received criticism over the years. Challenges raised about the conference and the WEF include: the organization’s corporate capture of global and democratic institutions, and institutional whitewashing initiatives; the public cost of security, the organization’s tax-exempt status, unclear decision processes and membership criteria, a lack of financial transparency, and the environmental footprint of its annual meetings. As a reaction to criticism within Swiss society, the Swiss federal government decided in February 2021 to reduce its annual contributions to the WEF.

So, is hulle boos en gemik op wêreldoorheersing? Noem dit ’n samesweringsteorie as jy wil, maar dit laat sekerlik wenkbroue lig as ’n “self-selected coalition of multinational corporations, governments, and civil society organizations” op hulle eie besluit wat die beste manier is om ’n “globalised world” te bestuur. [Teenpunt: Hoekom moet mense wat reeds in posisies van mag en verantwoordelikheid is nié bymekaar kom om van mekaar te leer en hul pogings te optimaliseer nie? Dit beteken nie dat hul pogings edel is nie, maar dit is sekerlik nie vreemd dat hierdie spesifieke mense saam sou kom en politiek praat nie.]

Om dit meer interessant te maak, noem sommige mense ook die Open Society Foundations van George Soros, en sy leër van nie-regeringsorganisasies werksaam in 37 lande. Doelwitte: die bevordering van geregtigheid, onderwys, openbare gesondheid en onafhanklike media. Daar is egter mense wat sommige nie-regeringsorganisasies daarvan beskuldig dat hulle sedert die einde van die Koue Oorlog Westerse belange eerder as plaaslike gemeenskappe dien. Een voorbeeld: “The NGO Invasion of the Arab World”.

Daar kan aangevoer word dat die WEF se doel op ’n manier soortgelyk is aan dié van die Bolsjewiste na die rewolusies van 1917 in die ou Russiese Ryk. Die plan was dat ’n elite absoluut oor die massas sou regeer in die naam van ’n edele saak. In die geval van die Bolsjewiste was die saak, “Die proletariaat en die grondlose boer”. In die geval van die WEF sal hul mandaat om te regeer ’n nie minder edele doelwit wees nie as, “Die voortgesette oorlewing van die mensdom op planeet aarde”. Natuurlik, wanneer jy in die naam van so ’n verhewe doel optree, wanneer jy optree vir die beswil van die mensdom, watter tipe teenstand kan redelik en wettig wees? Is daar enige hoop dat heterodokse denke en protes in enige vorm nie verpletter sal word nie?

Die WEF is egter nie die enigste groep met planne wat dalk kan lyk soos wêreldoorheersing nie. Daar is mense wat beskryf kan word as aan die “ou” linkerkant van die politieke spektrum (Consortium News, The Grayzone) wat stewige argumente voer oor Amerikaanse ambisies om die nommer een mag in ’n unipolêre wêreld te bly (een voorbeeld: “The Target is China”), waar die hulpbronne en nasionale belange van ander lande onderhewig is aan Amerikaanse behoeftes (weereens, ’n voorbeeld: “Super Imperialism: The economic strategy of American empire with economist Michael Hudson”). Dit is ’n wêreld waar lande wat weerbarstig is of wat minder entoesiasties is om ondersteunende rolle te speel, gestraf word, of geïsoleer word totdat hulle hulself weer waardig bewys het vir Amerikaanse ondersteuning.

Hoe sien die mense van die WEF/Open Society – meestal Europeërs en/of nie-Amerikaners – hul doelstellings afspeel op ’n planeet waar een magtige land hulself sien as die draers van ’n godgegewe mandaat om onbetwiste heersers van die wêreld te wees?

Nog ’n vraag is watter effek sogenaamde Kritiese Rasseteorie (Critical Race Theory) in die volgende dekade of twee op die Amerikaanse samelewing gaan hê.

As jy te besig was om op te let: Kritiese Rasseteorie het in die laaste kwart van die vorige eeu uitgebreek uit akademiese duisternis tot ’n dominante posisie in veral die Engelssprekende akademiese, politieke, korporatiewe, opvoedkundige, en vermaaklikheidswêrelde. Sommige denkers, veral John McWhorter, voer ’n goeie argument dat Kritiese Rasseteorie/Kritiese Sosiale Geregtigheid behoort te kwalifiseer as ’n religie. Wat bedoel hy hiermee? ’n Resensie van McWhorter se boek, Woke Racism, som dit mooi op:

McWhorter’s case rests on identified similarities between wokeness—disciples of which he calls the “Elect” – and religion. The Elect have internally inconsistent views, which require dogmatic commitment to hold. They have “superstition,” which is to say questions they deem it impolite to ask or try to answer. They have “clergy,” in the form of woke influencers like Robin DiAngelo and Ibram X. Kendi. They have “original sin” in the sense that being born white confers an irremovable moral stain. They evangelize. They have an eschatology, a belief in a coming “racial reckoning” when America will own up to its racial sins and be purified. And of course they “ban the heretic” wherever possible.

As daar twyfel is dat die aanhangers van hierdie ideologie optree en praat met die sekerheid en gevoel van morele meerderwaardigheid wat herinner aan fundamentalistiese godsdienstige dissipels, oorweeg die volgende gevalle: “Why America Needs College Football — Part 2”, “Good-bye, Theresa. Hello, Boris?” (gaan af na die sub-opskrif, “New York City’s Illiberal Education Department”), en “Evergreen State and the Battle for Modernity Part 2: True Believers, Fence Sitters, and Group Conformity”. En ’n paar grepe videomateriaal: “Yale University Students Protest Halloween Costume Email” en “Campus Argument Goes Viral As Evergreen State Is Caught In Racial Turmoil”.

Watter langtermyn effek sal hierdie ideologie hê op die Amerikaanse samelewing? Sal sy fondamente uitgehol word? Sal konflik en verskille van opinie te veel raak, en die unie wat al staan sedert die einde van die Amerikaanse Burgeroorlog in 1865 inmekaar tuimel? Dien Kritiese Rasseteorie die doelwitte van die WEF/Open Society? Sal ’n opstand teen die nuwe religie die imperialistiese doelwitte van die Amerikaanse politieke establishment bevoordeel?

______________________

Interessante tye vir die redelike mens

DINSDAG 1 MAART 2022

Wat as dit blyk dat ’n samesweringsteorie reg was? En hierdie vraag is van toepassing op samesweringsteorieë in 1500, 1900, 2000 en in Maart 2022.

Dit sou beteken dat die alleenstaande intellektueel, of die minderheidsgroep denkers, verguis en mishandel is, hul loopbane vernietig en in vroeër tye moontlik gemartel en vermoor deur ’n meerderheid gemeenskapsleiers, politici en intellektuele wat die gevestigde narratief ondersteun het.

Dit sou beteken dat die alleenstaande intellektueel, wat opgestaan het vir dit waarin hy geglo het – wat letterlik opgestaan het toe almal stil bly sit het, wat sy ongewilde mening uitgespreek het in die aangesig van die magtige meerderheid, verpletter is – al het dit uiteindelik geblyk dat hulle verkeerd was, en hy reg.

Hoe weet ons in Maart 2022, met Covid-19 en die Rusland-Oekraïnse konflik en die rioolput wat Amerikaanse politiek is, dat die sogenaamde samesweringsteoretikus nie dalk tog reg is nie, en die establishment met hul vingers op die stuur van politiek, tradisionele massamedia, sosiale media, akademie en massavermaak in werklikheid verkeerd? Hoe kan jy weet tensy debat en intellektuele nuuskierigheid en die vrye uitruil van idees en menings ongehinderd deur politieke korrektheid en vooraf goedgekeurde ideologie toegelaat word om voort te gaan?

Hier’s ’n toets: Wie onderdruk vrye spraak? Wie verguis wetenskaplikes, bloggers, podcasters, en denkers en joernaliste wat dit waag om buite goedgekeurde narratiewe te praat?

Ek weet, ek weet. Die frases “establishment”, “goedgekeurde narratiewe”, “politieke korrektheid”, en “vryheid van spraak” gee my alreeds ’n reuk van die samesweringsteoretikus, nie waar nie?

Ek het vroeër gedink dat hierdie interessante tye blyk te wees vir redelike en redelik intelligente nie-konformiste. Maar ons almal voldoen aan reëls en regulasies in die alledaagse lewe – ek bedoel, ignoreer jy elke rooi lig? Miskien is dit meer gepas om te sê hierdie tyd raak by die dag interessanter vir enigiemand wat hulself as redelik en redelik intelligent beskou.

Dan weer, is dit nie hoe ons almal onsself sien nie?

______________________