Sê dit beter, volume 1 – Inleiding

So graag soos wat ’n mens wil beweer jy doen ’n projek soos hierdie vir ander mense, moet ek bieg: ek het hierdie versameling in die eerste plek vir myself gedoen.

Vir maande lank het ek rondgeloop met ’n opgevoude vel A4-papier in my pennesakkie, en elke keer wat ek ’n Afrikaanse woord teëgekom het – in ’n tydskrif, ’n boek, maar meestal op die Internet – wat ek óf nie verstaan nie, óf wat ek bitter weinig hoor maar self graag meer wil gebruik, het ek die woord op my stuk papier geskryf.

Hierdie versameling is die resultaat van omtrent die helfte van al die woorde wat ek versamel het.

Met ’n lys woorde soos vervat op hierdie blaaie gaan dit nie daaroor om slim te klink nie. Dit gaan daaroor om oor die vermoë te beskik om te kan sê wat jy wil sê. Dit gaan daaroor om met selfvertroue uitdrukking te kan gee aan wat jy glo, en voel, en hoop, en dink.

Dit gaan uiteindelik daaroor om te kan sê wat jy wil sê, in volle kleur en nuanse.

* * * * * * * * * * *

Die verklarings kom hoofsaaklik uit die HAT 5 Met CD-rom (F. F. Odendal, R. H. Gouws, 2005), die Makro Blokraaisels Woordeboek (Louisa L. Pansegrouw, 1998) en die Kernwoordeboek (F.F. Odendal, 2000).

Die voorbeeldsinne kom uit ’n skatkis van Afrikaanse literatuur oor die laaste amper 100 jaar.

Brand Smit

Mei 2013


A – G »» H – L »» M – P »» R – T »» U – Z


Vir meer inligting, besoek NEWELDORP.COM

______________________