Gedagtes oor politiek, pandemies, en ’n alternatiewe Biden en Trump

DONDERDAG 19 NOVEMBER 2020

Nie juis ’n gevorderde politieke analise nie, en ek dink nie dit sal my kwalifiseer as ’n “Deep State Alt-right conspiracy nut” nie, maar hier is nietemin ’n gedagte:

Konsentriese sirkels, met karakters in die middel wat dalk bekend is aan die publiek, en dalk nie. Dit sluit in politieke leiers wat die toppunt van offisiële mag bereik het: Bill en Hillary Clinton, Barack en Michelle Obama, die Bush-familie.

In die volgende sirkel kry jy onder andere mense wat daagliks in die Withuis se gange rondloop: Nasionale Sekuriteit Adviseurs, sommige kabinetslede, Stafhoofde, hoofde van intelligensiedienste, en so meer.

Beroepsburokrate en agente van die FBI, CIA, en ander instansies en organisasies sit in die derde sirkel.

Dan kry jy skatryk en invloedryke figure van die wêreld van geld en groot maatskappye.

Die sirkel daarna sien presidente van top universiteite, en ander gesiene en invloedryke akademici.

En dan, na miskien nog een of twee sirkels, begin die spasies wat deur die algemene publiek bevolk word: tandartse en onderwysers, loodgieters en kleinbesigheidsmense, trokbestuurders en kokke.

Die regerende elite kry die nodige ondersteuning van die eerste paar sirkels – die mense wat gewoonlik weet wat regtig aangang, en wat besluit watter rigting ekonomiese beleid, en buitelandse beleid, en so aan, sal ontwikkel.

Die regerende elite het ook heelwat ondersteuning onder die figure van die wêreld van geld en groot maatskappye, en die invloedrykste akademiese leiers.

En dan kom die ondersteuning van miljoene “gewone” mense – wat gewoonlik aan jou Clinton of Obama of Bush die gevoel gee dat hulle wettig kan aanspraak maak daarop dat hulle leiers van die nasie is.

Presidente van die VSA is egter nie noodwendig deel van die binnesirkel van mag nie. Trump is die beste voorbeeld hiervan. Dat hy in 2016 president geword het, was ’n suiwer ongeluk, omdat die binnesirkels so dom was om voorspellings en meningspeilings te glo. Omdat die druk groot was in die eerste ure na die verkiesingsresultate uitgekom het in November 2016, het Hillary toegegee. Maar sy’t dit waarskynlik gedoen omdat die binnesirkel – die mense wat werklik die leisels van mag in hulle hande hou in Washington – haar belowe het dat hulle Planne B en C en dalk nog D ook het. Trump sal nie lank regeer nie, het hulle haar waarskynlik getroos, en as hy nie binne maande ontsetel is nie, sal hy kwaai gekniehalter wees. En as hy daarin slaag om vir vier jaar lank herhalende aanvalle en komplotte teen hom te oorleef, sal hy beslis nie ’n tweede termyn in die Withuis kry nie.

VRYDAG 20 NOVEMBER 2020

Twintig-twintig het grendeltydperke gebring; skole wat gesluit is met kinders wat by die huis moes klas bywoon; besighede wat by die duisende geforseer is om te sluit en moontlik nooit weer sal oopmaak nie; nasionale grense gesluit vir meeste internasionale toeriste, met die verwagte negatiewe gevolge vir plaaslike ekonomieë; mense wat verplig word om maskers te dra, wat selfs aangeraai word om die maskers oor hulle monde te trek tussen happe kos.

Data wat regoor die spektrum aanvaar word as akkuraat, dui aan dat meer as 99% van mense wat COVID-19 kry, die siekte oorleef. In vergelyking hiermee was die sterftesyfer met SARS in 2003, 9.5%.

Daar is mense wat argumenteer dat die reaksie teen COVID-19 totaal en al oordrewe was.

My vraag is, wat gebeur wanneer die volgende pandemie ons tref? Gaan mense maar net weer gehoorsaam wees en elke bevel uitvoer wat hulle regerings uitvaardig? Watse persentasie van ouers wat nie alternatiewe planne kan maak met hulle kinders wat in die skool behoort te wees nie, van eienaars van klein besighede, van gewone mense wat nie sal aanhou om soos politici ’n salaris te trek as hulle nie werk nie, sal weier om nogmaals riglyne te volg van regerings en internasionale organisasies met twyfelagtige lojaliteite?

SATERDAG 21 NOVEMBER 2020

Ek sien gisteraand op Twitter ’n video wat net eenvoudig die koek vat. Dit het my eerlikwaar met hoop gevul.

Stel jouself voor, êrens in ’n parallelle heelal, is daar ook ’n Joe Biden en ’n Donald Trump. Maar hierdie twee ou balies is nie politieke opponente gewikkel in ’n bitter stryd vir politieke mag nie. “Joe Biden” sit op ’n parkbankie en slaan ’n trom, en “Donald Trump”, in ’n netjiese pak met ’n rooi das, staan langs sy maat en dans terwyl hy so nou en dan geluide uiter wat dalk ’n liedjie kan wees. Dit terwyl mense in die agtergrond die koeler lug van die vroegaand geniet met ’n stappie langs die promenade.

En die prentjie sal natuurlik nie volledig wees sonder die wit kat in die voorgrond wat ritmies saam beweeg met sy neus teen die kamera nie.

______________________