Gedagtes in Januarie, Julie, September en Oktober 2020

VRYDAG 17 JANUARIE 2020

In my vroeë twintigs moes ek kies:

Eerlikheid en intellektuele integriteit, met “toestemming” om die resultate te oorweeg van weerlegbare teorieë blootgestel aan toetse en eksperimente,

OF

voortgesette lidmaatskap aan ’n gemeenskap van fundamentalistiese godsdienstiges.

Die sosio-politiese gemeenskap waar ek in my laat twintigs en dertigs min of meer aanvaar is as lidmaat, en wie se opinies en terminologie ek aanvaarbaar gevind het en self gepromoveer het, kan beskryf word Links-Liberaal.

Teen my vroeë veertigs het die vermoede my getref dat ek weereens ’n kruispad nader. Ek sou uiteindelik weer moes kies:

Eerlikheid en intellektuele integriteit, met “toestemming” om die resultate te oorweeg van weerlegbare teorieë blootgestel aan toetse en eksperimente,

OF

om voort te gaan om terminologie te gebruik en politieke standpunte te huldig wat aanvaarbaar is vir ’n gemeenskap van mense wat hulleself beskou as liberaal en progressief, maar wat beleid en tendense volg wat die teenoorgestelde is van liberaal, en beslis nie die samelewing verbeter en meer verdraagsaam maak nie.

SATERDAG 25 JULIE 2020

As student, en daarna, het ek gedink kritiese denke beteken jy aanvaar nie ’n bewering op gesigwaarde nie – jy ondersoek dit so objektief as wat jy kan, en kom eers na behoorlike oorweging tot ’n gevolgtrekking.

Wat Critical Social Justice (CSJ) bedoel met kritiese denke, is iets heeltemal anders. ’n Dissipel van CSJ kyk na data, of na ’n situasie, of na iets wat gebeur het in die verlede, en pas hulle “kritiese teorie” toe om uit te werk hoe hulle tot ’n gevolgtrekking kan kom waarop hulle reeds besluit het.

Hoe sou ’n Critical Social Justice-speurder ’n moord oplos?

Die gewone manier is om te kyk na alle moontlike leidrade soos DNS en vingerafdrukke, en dan te sien na watse verdagtes dit lei. Dan word die verdagtes ondersoek. Dan, na deeglike ondersoek, word daar bepaal dat een verdagte meer waarskynlik die pleger van die daad was as enige ander persoon.

’n Critical Social Justice-speurder sal van die eerste oomblik reeds “weet” wie die skuldige is: die naaste persoon wat deel is van ’n groep wat histories skuldig is aan kriminele dade, ongeag of daai spesifieke individu ’n alibi het, en ten spyte van die gebrek aan vingerafdrukke of genetiese materiaal wat hom of haar verbind aan die saak. Feite is dus minder belangrik as die historiese “skuld” van die groep waaraan die verdagte behoort. As werklike leidrade die persoon se skuld staaf, goed so. Indien leidrade dit nié staaf nie, word dit eenvoudig geïgnoreer. Wat meer is, indien leidrade dui op die moontlike betrokkenheid van iemand wat behoort aan ’n beskermde groep van historiese slagoffers, sal dit as korrekte en gepaste optrede geag word om hierdie leidrade te verwerp.

VRYDAG 4 SEPTEMBER 2020

Ek wonder hoekom ek deesdae nie meer so gretig is om te argumenteer nie. Die volgende gedagte kom toe by my op as rede:

Tensy jy kan aanhaal uit jou kop gedeeltes uit gesaghebbende boeke, en – weereens uit jou kop uit – syfers, datums, name, plekke en statistieke kan aanhaal, is jou selfvertroue tydens ’n argument slegs ’n vertoning.

Hoe argumenteer ’n mens as jy nie bogenoemde kan doen nie, maar jy is tog oortuig van wat jou posisie is? Een manier is om vrae te vra, en die ander persoon te dwing om aan te haal uit húlle koppe gedeeltes uit gesaghebbende boeke, en syfers, datums, name, plekke en statistieke. As hulle nie kan nie, is daar geen rede om hulle argument te aanvaar nie, net soos daar geen rede is vir hulle om jou argument te aanvaar as jy dit nie doen nie.

(Die enigste uitsondering is indien jy ’n logiese argument kan voer, en kan wys hoe ’n sekere gevolgtrekking die enigste logiese een is.)

SONDAG 27 SEPTEMBER 2020

01:31

Op 24 wou ek vry en onafhanklik wees – wat beteken het genoeg geld om elke dag te kon doen wat ek wou, met geen ernstige verantwoordelikhede nie. En wat ek wou doen, was skryf, reis, lees, en dinge leer.

Op 32 wou ek ’n vaste salaris verdien in ’n stabiele werk. Ek wou trou en kinders groot maak. Ek wou woon in ’n drie slaapkamer huis in ’n stil voorstad met my vrou en kinders, en ons hond en ’n kat.

Toe begin ek skryf met ’n erns wat ek nie geken het tot op daai stadium nie.

Dit het gelei daartoe dat ek op 49 nader is aan die tipe lewe wat ek wou gelei het op 24, as die een wat ek vir ’n rukkie begeer het in my vroeë dertigs.

14:08

(Anders gestel …)

Hoe het ek op 49 opgeëindig met die lewe waarvan ek gedroom het op 24, ten spyte daarvan dat ek op 32 ’n ander tipe lewe wou gehad het? Tot ’n baie groot mate, die skryfwerk wat ek geproduseer het in 2003 – toevallig die jaar toe ek 32 geword het.

DONDERDAG 1 OKTOBER 2020

Kritiese Rasseteorie: Omdat jy wit is, is jy ’n rassis. Jou individuele lewensverhaal, en wat jy al gedoen het of nie gedoen het nie, maak nie ’n duit saak nie.

Ook: Omdat jy swart is, is jy ’n slagoffer. Dit beteken jou toetse op skool en op universiteit moet makliker wees as die toetse wat studente van ander rasse skryf. Dit beteken ook jy kry die werk omdat jy swart is, nie omdat jy bekwaam is nie.

DINSDAG 13 OKTOBER 2020

’n Ou op ’n bromponie ry my (op ’n fiets) so te sê van die pad af – amper asof dit opsetlik is. Dan blok hy nog die gaping waar ek langs ’n kar verby moet ry om ’n hoek.

Ek is dadelik vies. Wil op hom skree. Wil hom konfronteer en hom vra of hy onnosel is.

Dink: Stay in the moment. Don’t go into programmed mode for how to behave in this type of situation.

Vra ek myself: As ek dan nie moet optree soos my programmering dikteer nie – of my programmering uitspeel soos ’n part in ’n toneelstuk nie, hoe dan?

Antwoord: Soos jy kies om te reageer.

Hoe’s dit? Trek my skouers op, en gaan voort met die gesprek wat ek besig was om met myself in my kop te voer.

______________________

’n Reeks moontlik gelaaide vrae

SONDAG 1 OKTOBER 2020

Wat volg, is ’n reeks vrae wat soms gelaai is*, maar ten minste behoort dit jou te help om jou standpunte oor ’n aantal kwessies duideliker te maak.

Ek wou spesifiek nie ’n klomp definisies en verduidelikings insit nie. Ek reken die leser weet wat oor die algemeen bedoel word met sekere frases. Plus, lesers kan sê, “Ja” of “Nee”, of hulle kan op hulle eie hulle antwoorde kwalifiseer.

* Ter wille van eerlikheid, hier is Wikipedia se definisie van ’n gelaaide vraag: “A loaded question or complex question is a question that contains a controversial assumption (e.g., a presumption of guilt). Such questions may be used as a rhetorical tool: the question attempts to limit direct replies to those that serve the questioner’s agenda.”

Vraag 1. Glo jy dat langtermyn grendeltydperke ’n gepaste maatreël is teen SARS-CoV-2, of is jy van mening dat hierdie maatreëls ’n oorskryding is van regeringsmag, en die begin van ’n gladde helling tot langtermyn outoritêre beheer van die bevolking?

Vraag 2. Glo jy dat grendeltydperke meer lewens sal red wat andersins deur Covid-19 beëindig sou word as wat beëindig gaan word as gevolg van ekonomiese koste, verhoogde spanning, verhoogde mishandeling by die huis, verhoogde dwelmmisbruik, en uitgestelde of gekanselleerde mediese toetse, prosedures of behandeling? Met ander woorde, glo jy dat die grendeltydperke meer mense sal red as wat dit gaan doodmaak?

Vraag 3. Glo jy dat klimaatsverandering ’n natuurlike verskynsel is, of ’n onnatuurlike verskynsel wat deur menslike aktiwiteit gedryf word?

Vraag 4. Glo jy dat indien klimaatsverandering nie onderdruk word nie, menslike lewe op die planeet Aarde in die volgende honderd jaar sal eindig?

Vraag 5. Watter oplossing sal volgens jou op goedkoper, skoner en doeltreffender wyse in ons energiebehoeftes voorsien in die toekoms: a) hernubare energie soos wind- en sonkrag, of b) Generasie IV-kernkrag?

Vraag 6. Watter land beskou jy as ’n groter bedreiging vir Westerse-styl demokrasie (byvoorbeeld, politieke leiers wat in- en uitgestem of herroep kan word, en media wat verantwoordelik is aan die publiek om politieke leiers se wandade bloot te lê): 1) China, b) Rusland, c) die VSA, of d) die Europese Unie?

Vraag 7. Glo jy Donald Trump is a) ’n fascistiese tiran wat daarop gemik is om Amerika in ’n blanke supremasistiese vesting te verander, of b) ’n politieke buitestaander wat die gevestigde politieke en burokratiese orde in Washington DC fundamenteel bedreig?

Vraag 8. Glo jy dat die organisasie Back Lives Matter (BLM) a) werklik besorg is oor alle swart mense en die kwaliteit van hulle lewens (ten minste in die VSA), of b) ’n radikale politieke organisasie is wat daarop gemik is om ’n vrye markekonomie te ontwrig en die basiese beginsels van liberale demokrasie te ondermyn (ten minste in die VSA)?

Vraag 9. Glo jy dat NAVO a) ’n noodsaaklike teenwig is teen Vladimir Poetin se ekspansionistiese ambisies, of b) ’n organisasie is wat militêre spierkrag verskaf vir die ekspansionistiese ambisies van die Europese Unie?

Vraag 10. Glo jy dat aksies wat van stapel gestuur is deur die Demokratiese Party in die Verenigde State en deur geaffilieerde amptenare in die intelligensiegemeenskap sedert 2016, en veral sedert 2017, neerkom op a) ’n poging tot ’n staatsgreep teen die Trump-administrasie, met die doel om die gevestigde politieke en burokratiese orde in Washington DC te beskerm, of b) eerlike en wettige pogings om die Verenigde State te beskerm teen buitelandse magte, of c) koverte aksie, insluitende die doelbewuste verspreiding van vals en misleidende inligting, gerig op die beskerming van die Verenigde State?

Vraag 11. Glo jy dat a) dit gepaste behandeling is om sekere kinders (jonger as twaalf) puberteitsblokkers te gee om te verhoed dat hulle ontwikkel tot ’n geslag wat volgens hulle nie vir hulle korrek is nie, of dat b) dit onverantwoordelik en selfs wreed is om kinders aan sulke behandeling te onderwerp as die kinders nie volwasse genoeg is om besluite oor hul eie liggame (of hul identiteit) te neem wat hul gesondheid nog dekades lank negatief kan beïnvloed nie?

Vraag 12. Glo jy dat rassisme beteken a) vooroordeel plus mag, of b) wanneer iemand aannames maak – dikwels negatief – oor ’n ander persoon, bloot op grond van hul velkleur of etnisiteit? Vraag 13. Is dit gepas in ’n land met ’n tradisie van vrye spraak en vryheid van oortuiging dat iemand verhinder word om uitdrukking te gee aan hul idees of om hul standpunte te beredeneer, of dat geleenthede gekanselleer word waar hierdie mense se menings op ’n openbare platform uitgedaag kan word, omdat ander mense of groepe nie hulle idees of sienings goedkeur nie, of beledig voel daardeur?

______________________