Opinie oor Israel sedert Oktober 2023

WOENSDAG 20 MAART 2024

My opinie oor Israel het verander sedert verlede Oktober.

Dit is nou duidelik dat ’n betekenisvolle persentasie van die Israeli bevolking, en waarskynlik die meerderheid van die politieke elite, vir dekades al ’n Finale Plan in gedagte het vir die Palestynse bevolking van die Bybelse Israel.

Die plan is om, indien moontlik, alle Palestyne te forseer om te vlug oor die grens na Jordanië, Sirië, Libanon, en Egipte. En Palestyne wat weier om die res van hulle lewens te slyt as vlugtelinge, sal eenvoudig voor die voet vermoor word – een vir een, man, vrou, kind en oumens, koelbloedig, of dosyne op ’n slag met bom-veldtogte. Om mense aan te moedig om te vlug, maak Israel seker dat hulle elke gebou of fasiliteit wat gebruik kan word vir opvoeding of mediese sorg of enige tipe gemeenskapsaktiwiteit stelselmatig vernietig.

En wanneer die areas nou onder beheer van die Palestyne leeggemaak is, en huise en skole en hospitale en universiteite en moskees tot rommel gereduseer is, sal Joodse immigrante van Amerika en elders in die Weste, saam met burgers van Israel intrek, en nuwe huise bou, en nuwe skole, en nuwe hospitale, en nuwe geboue om húlle godsdiens te beoefen.

Die Palestynse Probleem sal uiteindelik opgelos wees.

Mense sal Israeli’s vuil aankyk vir ’n paar jaar, maar – so reken ek, reken ’n betekenisvolle persentasie van die Israeli bevolking, en waarskynlik die meerderheid van die politieke elite – uiteindelik sal mense vergeet, en aan beweeg na ’n ander gruwelstorie in ’n ander deel van die wêreld.

Die droom sal werklikheid wees.

______________________

’n Laagtepunt wat my nou nog nagmerries gee

DONDERDAG 7 MAART 2024

Aan die einde van die film, Fight Club, sê die hoofkarakter vir sy vriendin: “You met me at a very strange time in my life.”

My vrou het my ontmoet, nie soseer op ’n vreemde tyd in my lewe nie, maar net voor ek ’n jarelange struikel begin het na ’n laagtepunt wat my nou nog soms nagmerries gee.

Tussen Maart en Julie 2003 het ek koorsagtig gewerk aan ’n stel skryfwerk wat ek later genoem het, “Die Persoonlike Agenda van Brand Smit.” En omdat ek nie opgehou skryf het aan daai tipe materiaal nie, het ek later bygevoeg dat dit Boek Een was. Die later maande van 2003 en die eerste twee maande van 2004 was ook redelik koorsagtig, met die koors wat gebreek het met “Die Februarie Plan” en “[Die Groot Ongetiteld]”. Die stof het toe gaan lê vir ’n paar weke, en teen Mei was ek weer hard aan die dink en skryf aan nuwe insigte wat veronderstel was om sin te maak van my lewe – en selfs lewe oor die algemeen. Teen Julie 2004 het ek definitief nuwe grond gebreek in terme van helderheid en vertroue in wie en wat ek was.

Teen die herfs van 2004 (Oktober in Taiwan), het ek egter op walms gery: my tenk was leeg.

En dit was presies tóé wat ek ’n sekere jong dame ontmoet het wat pas in Taiwan geland het.

Die opwinding van nuwe liefde – as ek nou moet terugkyk – het my nuwe lus vir die lewe gegee. Maar ernstige liefde is ’n ander wêreld as die een van die Alleenloper. En as jy nie meer alleen loop nie, is jy nie dieselfde mens wat jy was ’n paar maande tevore nie. Jy verskyn deurlopend aan iemand wat jy wil beïndruk, en jy verskyn anders aan jouself.

Met spirituele toewyding en oorgawe het ek in 2003 en 2004 gewerk aan stukke teks wat veronderstel was om die waarheid te ontbloot aan myself, en as dit leesbaar was, aan enige iemand in wie se hande die stukke papier sou val.

En ek het steeds notas gemaak in 2005.

Maar ek wou beter doen. Ek wou geld maak. Ek wou ’n beter lewe bewerkstellig vir nie net myself nie, maar vir die persoon wat my lewe as Alleenloper so pragtig deurmekaar gekrap het.

Min het ek geweet ek het reeds die piek van die berg bereik. Die afgrond was naby. En ek het dit al kletsend oorgesteek.

Dit sou my jare vat om weer gelyke grond te bereik.

______________________

Een waarheid en ’n paar brokkies advies

DINSDAG 5 MAART 2024

Jy’s hier.

Doen jou bes om dit die moeite werd te maak.

Probeer om nie te veel skade te doen nie.

Probeer om vertroosting te bied – as jy kan.

Probeer om iemand anders se las te verminder – as jy kan.

Probeer om gesond te bly.

Probeer om sterk te bly.

Kyk uit vir groot en klein deurbrake wat jou kan vat na ’n hoër bestaansvlak toe, of net na ’n beter plek toe.

Wees dankbaar vir die goeie dinge in jou lewe. Wees dankbaar as jy die slegte oorleef het.

En onthou: Ons word nie gebore in dieselfde omstandighede nie, of met dieselfde vermoëns of talente nie. Tog is jou lewe, tot ’n betekenisvolle graad, die resultaat van hoe jy speel met die kaarte wat aan jou gedeel is.

______________________