Covid notas: September/Oktober 2021

VRYDAG 17 SEPTEMBER 2021

22:54

Hooftemas van Covid-19/SARS-COV-2 [met teks bygevoeg op Sondag, 20 Junie 2022]:

1. Die dodelikheid van die virus [Spesifiek, hoe dodelik is dit vir mense onder 18 met geen ander ernstige mediese toestande nie? Mense tussen 18 en 30 met geen ander ernstige mediese toestande nie? Mense tussen 30 en 49 met geen ander ernstige mediese toestande nie? Tussen 50 en 65? Ouer as 65?]

2. Die bron van die virus [“Nat mark” in Woehan? Laboratorium in Woehan? ’n Grot iewers in China, moontlik maande voor Januarie 2020?]

3. Grendelperiodes [Waar kom die idee van die grendelperiode vandaan? Waarom het regerings een na die ander besluit om grendelperiodes toe te pas? Waarop het hulle hul besluite gegrond – ’n belangrike vraag aangesien hulle moes geweet het dat dit ernstige nadelige gevolge vir die ekonomie en vir die normale funksionering van die samelewing, insluitend kinders se opvoeding, sou hê? Is inperkings en grendelperiodes gesien as geldige maatreëls om pandemies te hanteer in die jare voor Covid-19, aangesien die wêreld immers al ander pandemies ervaar het? Watter ander maatreëls het regerings reeds uitgewerk gehad wat opsygeskuif is toe China met hul inperkings en grendelperiodes begin het?]

4. Maskers, sosiale distansiëring en ander maatreëls om verspreiding te voorkom [Hoe effektief is nie-chirurgiese maskers om die verspreiding van virusse in die lug te voorkom? Watse fisiese en sielkundige effekte het die langdurige dra van maskers dag in en dag uit op mense, veral op kinders?]

5. Entstowwe [Hoe lank neem dit gewoonlik voordat entstowwe goedgekeur word? Hoekom neem dit so lank? Was daar al ooit gevalle van entstowwe wat aanvanklik goedgekeur is, maar toe onttrek is van die mark na newe-effekte ingeskop het wat nie in toetse verskyn het nie? Het die huidige groep entstowwe enige newe-effekte? Is die entstofvervaardigers wetlik aanspreeklik vir ernstige nadelige gesondheidseffekte van hulle entstowwe?]

6. Entstofmandate en entstof-“paspoorte” [Is dit moreel regverdigbaar om mense te dwing om ’n inspuiting te kry as hulle redes kan aanvoer waarom newe-effekte van die entstof ’n groter risiko vir hulle inhou as die virus self? Is dit moreel regverdigbaar om mense te dwing om inspuitings te kry van entstowwe wat nie deur die gewone prosedures gegaan het om die doeltreffendheid en langtermynveiligheid daarvan te toets nie?]

7. “Lang Covid” [Hoe onderskei mense tussen die langtermyn-effekte van Covid en ander oorsake, soos veranderinge in fiksheidsroetine, dieet en ander leefstylgewoontes? Hoe weet mense wat hulle ook al voel, is nie die effek van negatiewe verwagting en bevestigingsvooroordeel (“confirmation bias”) nie?]

23:06

Idee voorgestel deur ’n paar redelik intelligente mense: As daar 1) ’n massiewe aansporing is om in ’n verkiesing te verneuk, 2) mense weet daar is ’n hoë waarskynlikheid dat hulle daarmee sal wegkom, en 3) daar is ’n verskeidenheid maniere om te verneuk, is dit amper 100% seker dat daar verneuk sal word.

Op dieselfde trant kan gevra word: 1) Is daar mense wat toegang het tot ’n verskeidenheid hulpbronne – van media en kapitaal tot politieke mag, met moontlike internasionale verbintenisse – wat hulleself beskou as natuurlike leiers van die samelewing, ongeag die publiek se mening of ondersteuning van hulle? 2) Indien sulke mense bestaan met toegang tot ’n verskeidenheid hulpbronne, is dit verregaande om te dink dat hulle sekere idees en voorstelle het vir hoe die bevolking en die samelewing oor die algemeen bestuur moet word? (Dit is moontlik dat hulle glo hulle ambisies strek tot die voordeel van die mensdom, en dit op so ’n wyse aan hulleself regverdig.) 3) Indien daar sulke mense is met talle hulpbronne en selfs politieke mag tot hulle beskikking, met ’n bepaalde stel idees vir die samelewing, hoe hoog is die waarskynlikheid dat hulle ’n uitstekende geleentheid sou laat verbygaan wat ’n wêreldwye noodgeval soos ’n pandemie hulle bied om hulle verkose beleid te implementeer en sekere meganismes in plek te stel?

VRYDAG 8 OKTOBER 2021

My posisie oor die Covid-19 entstof op Vrydag 8 Oktober 2021 om nege minute oor tien in die aand: Ek het nou nog meer vrae oor die entstowwe as verlede week, en ek is nog meer skepties daaroor dat dit die groot oplossing is. Aan die ander kant is ek onwillig om Suid-Afrika toe te gaan om my familie te besoek (onmiddellike familie, tien mense wat almal met die uitsondering van een susterskind Covid gehad het en goddank oorleef het) sonder om eers ingeënt te word. Hoekom? Ek aanvaar steeds dat die entstowwe die kans sal verhoog dat jy milder simptome sal ondervind as die virus jou wel byt.

DINSDAG 12 OKTOBER 2021

’n Gekristalliseerde oortuiging: Om ingeënt te word teen Covid-19 is ’n persoonlike keuse. Om te diskrimineer teen iemand wat ’n persoonlike keuse maak om nie ingeënt te word nie met ’n entstof waaroor daar steeds onsekerheid is, wat beperkte beskerming bied, en wat kan lei tot ernstige nagevolge, is onredelik, en onregverdig. Om aan te dring daarop om iemand se inenting-status te wéét voor hulle burgerregte mag geniet, is ’n minagting van die persoon se burgerregte; dit is ook immoreel, en behoort onwettig te wees in enige land of gemeenskap georganiseer volgens redelike wette en beginsels.

______________________

Los gedagtes van September en Oktober 2021

SONDAG 12 SEPTEMBER 2021

Ek ag dit as meer as net ’n klein vooruitgang in my lewe dat ek kon uitwerk – ten minste vir myself – waaroor die lewe gaan, wat dit beteken om ’n mens te wees, wat ek met my lewe moet doen, wat die betekenis van die lewe is, en wat die basis moet wees vir my etiek.

Ek moes al hierdie dinge uitwerk omdat ek, soos REM dit gestel het in hulle treffer van die vroeë negentigs, my godsdiens verloor het.

Godsdiens het tot en met my vroeë twintigs ’n mees betekenisvolle rol gespeel in my lewe. Dit het verduidelik wat die doel was van my bestaan, waar ek vandaan gekom het en wat sou gebeur wanneer ’n mens sterf, hoe ’n mens jou lewe moes lei, en hoekom jy sekere dinge moes doen en ander dinge nie moes doen nie. Dit het my van ’n wêreldbeeld voorsien. Dit het verduidelik hoe alles – die kosmos en planete, en mens en dier en natuur – in mekaar steek. Ek het selfs sterk oorweeg om ’n beroep te volg waar godsdiens ’n belangrike aspek sou wees.

Dit alles het soos ’n kaartehuis inmekaar getuimel vir my. Ek moes van voor af begin. En ek het dit gedoen op skrif, een stel paragrawe na die ander, tot ek genoeg uitgepluis het om te kon sê, “Ek verstaan nou weer. Ek kan nou méér doen as net funksioneer.”

DONDERDAG 16 SEPTEMBER 2021

Redelike doelwitte van ’n volwasse lewe:

1. Oorleef, fisies en geestelik.

2. Probeer om nie skade aan te rig nie. As jy skade aanrig in die proses van oorlewing, probeer om dit tot die minimum te beperk.

3. Probeer om goed te doen – beskerm ander mense, diere en die natuur teen skade; verleen hulp in die handhawing van lewe, en verleen hulp in die verbetering van die lewens van ander mense of diere.

4. Probeer om ’n outentieke lewe te lei wat ooreenstem met die besef dat jy nie ’n masjien is wat deur onsigbare magte beheer word nie.

DINSDAG 28 SEPTEMBER 2021

Ek hou nie van hierdie idee van voorwaardelike geluk nie: “Ek is gelukkig omdat …”

Ek hou van waan-geluk, mal geluk: Ek is gelukkig ten spyte van …

Kan dieselfde gesê word oor goed voel oor jouself – ’n noodsaaklike bestanddeel van positiewe selfbeeld? Jy voel goed oor jouself ten spyte van X, Y, of Z.

DONDERDAG 30 SEPTEMBER 2021

As die maatstaf van sukses is dat jy dinge kan skep uit hout en staal, dan was my pa ’n sukses.

As die maatstaf is om karre te kan regmaak, selfs ’n wrak wat op bakstene staan te omskep in ’n padwaardige voertuig waarmee die gesin op vakansie gaan, was my pa ’n sukses.

Maar as die maatstaf is om vir iemand anders te werk en te sê, “Ja, Baas … nee, Baas” en jou mond te hou die res van die tyd, wel, dan’s dit maar net een van daai dinge.

SONDAG 10 OKTOBER 2021

“Ek is hartseer.”

As jy kies om te wees. (En tog voel dit gepas in sekere omstandighede.)
[Donderdag 11 November 2021]

______________________

Is dit moontlik vir ’n fundamenteel slegte idee om breë ondersteuning te ontvang?

DINSDAG 5 OKTOBER 2021

Ek sien ’n satiriese grappie op Twitter in die vorm van ’n opskrif: “Parents who think that their children don’t belong to the State are dangerous, explained.”

Natuurlik sal meeste mense nie hierdie idee aanvaar nie (reg?), en die opskrif self is van ’n nie-bestaande webwerf met opgemaakte satiriese opskrifte. Tog, as so ’n artikel op hoofstroom media soos CNN of BBC sou verskyn, wed ek jou ten minste 20% van lesers sal die idee ondersteun.

Stel jouself voor die redakteur van die aanlyn media wat so ’n artikel publiseer. Die persoon glo werklik in die konsep dat kinders aan die staat behoort. Die persoon is daartoe verbind om hierdie idee te bevorder.

Verbeel jou nou hierdie redakteur is nie alleen nie. Honderde ander redakteurs, joernaliste, verslaggewers en aanbieders by hoë-profiel media stem saam met hierdie persoon.

Stel jou nou voor dat duisende akademici ook die idee ondersteun. So ook TV- en filmsterre, en ander bekendes – sodra dit oortuigend genoeg geraam is as “progressief”.

Ouers wat glo dat hulle die reg het om hul kinders op te voed en groot te maak soos hulle goeddink, en dat húl regte seëvier oor enige aanspraak wat die staat het oor hulle nageslag, word in honderde TV-programme, geselsprogramme, akademiese joernale, en koerant- en tydskrifartikels beskryf as “tradisioneel”, “ondraaglik konserwatief”, “radikaal” en selfs “fundamentalisties”. Omdat die idee dat kinders aan die staat behoort as koel en progressief voorgehou word, steun tieners toenemend die idee, en beïnvloed op tydlose wyse hulle jonger broers en susters om dieselfde te doen.

En tog, is die idee goed? (Onthou: die idee dat die staat jou kinders opeis, is net ’n nuttige voorbeeld.)

Is dit moontlik vir ’n fundamenteel slegte idee om breë ondersteuning te ontvang onder diegene met die kragtigste stemme, wat toegang het tot miljoene mense se koppe deur sosiale media en opvoedkundige ruimtes? En hoeveel miljoene kykers en lesers sal so ’n idee ondersteun bloot omdat dit op gunstige wyse aangebied word?

______________________

Media en ander stemme beïnvloed die publiek

______________________