Gesprek met ’n kosmiese waarnemer

DINSDAG 29 OKTOBER 2019

12:48

Ek werk aan die stuk “Gifplantjie in die Tuin van jou Gedagtes” van Maart 2019:

“Maar wat is maklik, en wat is moeilik?” kom die vraag weer. Ek weet dit is belangrik om dit te beantwoord, want vir dekades het ek geglo dit moet moeilik wees om geld te maak, om suksesvol te wees, om jou drome te realiseer. Dit moet ’n stryd wees. Maar hóé moeilik? Wanneer het ’n mens genoeg gesukkel?

“Die antwoord waarna jy soek al het jy nie die regte vraag gevra nie,” kom die gedagte uit die deel van my brein wat nie aktief aan die praat was in die stort nie, “is dat jy dit nooit sal maak nie. You’ll never make it. That was your actual programming. Die ‘struggle’ deel is net omdat jy iets moet doen. Jy moet probeer. Andersins, wat doen jy met jou lewe?”

Dink ek: Dis amper asof twee kosmiese karakters oor die jare waargeneem het wat ek doen, met die een wat vir die ander een vra, “Moet ons nie maar vir hom sê nie?”

“Wat?” vra die ander ou. “Dat hy net ’n masjien is wat sy programmering uitvoer, dat hy nie veronderstel is om dit te maak nie? Nee wat. Sy gesukkel gee vir hom iets om te doen. Dit gee betekenis aan sy lewe. Wat gaan hy andersins doen – sit en TV kyk die heeldag, vet raak, siek raak en doodgaan? Die gesukkel gee hom hoop. Hoop gee vir hom iets om voor te leef.”

12:57

“Jislaaik, hoe lank moet ek nog sukkel? Hoekom is alles so moeilik vir my? Hoekom wil dit blyk asof ek weet wat om te doen, maar ek doen dit nie?” vra ’n fiktiewe weergawe van my uit die nie-te-verre verlede.

Een van my kosmiese waarnemers trek skielik sy skouers styf, en kyk in die rigting van die balkon waar die ander waarnemer in die verte tuur.

“Wat?” vra die fiktiewe weergawe van my. “Weet jy iets wat ek nie weet nie?”

Die kosmiese waarnemer maak sy oë groot. Sy wenkbroue lig. Sy kop kantel. “Wel …”

“Komaan, uit daarmee!” roep ek.

Die waarnemer skud stadig sy kop. “Ek kan in die moeilikheid kom,” begin hy. “Ek is nie veronderstel om vir jou enige iets te sê nie.”

“Maar jy is nou hier, en ons is besig om te praat, en die ander ou is besig op die balkon, en ek weet klaar jy wil iets sê.”

“Oukei,” sug die waarnemer. “Die feit van die saak is dat jy nie veronderstel is om dit te maak. Jammer … Jy’s veronderstel om te sukkel jou hele lewe lank, en dan gaan jy dood. Dis jou programmering.”

“My programmering?” vra die fiktiewe weergawe van my uit die nie-te-verre verlede geskok. “Wat beteken dit? Alles wat ek doen is verniet?”

“Wel, nie heeltemal nie. Jy sien … jy’s basies ’n masjien wat maar net jou programmering uitvoer. Al jou pogings en projekte en gesukkel … gee vir jou iets om jou dae mee op te vul. Ek meen, wat sou jy andersins doen? Dit gee vir jou iets om aan te glo. Dit gee vir jou hoop vir ’n beter môre. En dis mos beter om te glo aan iets en te hoop vir iets as om geen hoop en geloof te hê nie, dan nie?”

“So ek is maar net ’n masjien wat my programmering uitvoer, en dan gaan ek dood?”

“Wel … dit gaan dalk vreemd klink, maar die waarheid is meer kompleks. Om eerlik te wees, dis veel beter, en veel hoopvoller as dit. Dis net – en al die kosmiese waarnemers is dit eens – dat meeste mense net hulle programmering uitvoer, min of meer gelukkige lewens leef – sommige uit die aard van die saak veel gelukkiger as ander, en dan gaan hulle dood. So, jy’s soos meeste mense in hierdie opsig. En jy is mos immers gelukkig meeste van die tyd, is jy nie?”

“Maar daar is soveel meer wat ek wil doen, soveel meer van die lewe wat ek wil geniet, soveel meer van die lewe wat ek wil ervaar. En as ék dit kan doen … Ek weet hoe om dinge te verduidelik aan ander mense dat hulle ook beter kan verstaan, dat hulle ook meer van hulle eie probleme kan oplos, en beter lewens kan leef, en hulle kinders in staat kan stel om beter lewens te leef.”

“Wel,” begin die kosmiese waarnemer weer, “niks hier is vasgestel nie. Dis wat meeste mense nooit besef nie. Meeste mense leef hulle lewens uit sonder om ooit te besef dat hulle hulleself kan herprogrammeer. Daar is nie ’n sentrale punt of figuur in die kosmos wat almal programmeer, en dan moet hulle maar net slaafs die programmering uitvoer nie. Mense programmeer mekaar. Ouers programmeer hulle kinders. Mense in gesagsposisies programmeer mense wat kyk na hulle vir leiding. En so gaan die wêreld maar aan. Ons kosmiese waarnemers hou net alles dop. Ons beheer niks. Júlle trek julle eie toutjies. Meeste mense breek net nooit deur die dun papiermuur wat staan tussen hulle en die voller lewe wat enige tyd hulle s’n kan wees nie. Glo my, jy’s nie die enigste persoon met gebrekkige of problematiese programmering nie. Ek meen, daar’s mense met problematiese programmering wat betref romantiese verhoudings, wat betref drank en dwelms, wat betref verhoudings met mense wat nie soos hulle dink of leef of glo nie. Jy wil nie weet hoeveel mense elke dag sneuwel as slagoffers van hulle problematiese programmering nie. En ek sê nie dis altyd maklik nie, maar mense kan kyk na hulle eie programmering, en hulle kan verander wat nie werk nie. Mense het enorme kapasiteit om hulleself te transformeer en lewens te leef wat voller is as wat hulle ooit kon droom. Maar meeste mense is, jammer om te sê, tot ’n groot mate masjiene wat meeste van die tyd net hulle programmering uitvoer. Dit hoef nie so te wees nie. Jy hét toegang tot die sleutels en die koppelvlak om jou programmering te verander. Niks is vooraf bepaal nie. Jy is in beheer van jou eie lewe.”

______________________

’n Paar dinge waaroor ek nie omgee nie

MAANDAG 7 OKTOBER 2019

Ek gee nie om wat die velkleur, geslag of seksuele oriëntasie is van die staatspresident of enige nasionale leier nie, solank hy of sy bevoeg is en die belange van die republiek en haar burgers op die hart dra.

Ek gee nie om wat die velkleur of seksuele oriëntasie is van die spelers van enige nasionale sportspan nie, solank hulle die beste spelers is wat die land kan bied.

Ek gee nie om wat die velkleur, geslag of seksuele oriëntasie is van die burgermeester, of die lede van die dorps- of stadsraad, of die verteenwoordigers van die gemeenskap in die parlement of enige ander raad nie, solank hulle bevoeg is en weet wat hulle doen, en die belange op die hart dra van die mense wat hulle verteenwoordig.

Ek gee ook nie om wat die velkleur, geslag of seksuele oriëntasie is van my baas, of bestuurder, of opsiener nie, solank hy of sy bevoeg is, en die belange van die besigheid, die kliënte en die werknemers op die hart dra.

Laastens gee ek ook nie om wat die velkleur, etnisiteit, geslag, seksuele oriëntasie, taal of kulturele agtergrond is van die kommersiële boer wat die kos voorsien wat ek in die supermark koop nie – solank hulle voortgaan om kos te voorsien.

Watse blanke persoon sal immers nie omgee dat ’n onbevoegde, korrupte persoon in beheer is van die nasionale regering of die plaaslike munisipaliteit, of die dorp of stad of provinsie se water of rommel of infrastruktuur of gesondheidsdienste of skole nie, solank die persoon blank is? Watse persoon in sy gesonde verstand sal dit wil hê? Enige redelike persoon sal sê: Gee die posisie vir die mees bevoegde persoon wat na die gemeenskap se belange sal omsien, ongeag hulle velkleur, geslag of seksuele oriëntasie.

Hoekom moet ’n mens dan versigtig wees as jy kla oor onbevoegde mense in leiersposisies, net omdat die persoon waaroor jy kla swart is? Onbevoeg is onbevoeg, korrup is korrup, oneerlik is oneerlik, en bedrieglik is bedrieglik, maak nie saak of jy wit is en die persoon waaroor jy kla ook wit is nie, en of jy swart is en die persoon waaroor jy kla swart is nie.

______________________

Taiwan is uiteindelik my skip

MAANDAG 7 OKTOBER 2019

Dit kan uiteindelik gesê word dat Taiwan my skip is, en al was vir die afgelope twee dekades, soos in die film, The Legend of 1900, waar die titelkarakter sy lewe uitgeleef het op ’n groot passasierskip.

Die sentrale idee word beskryf in hierdie monoloog deur “1900”: “Take a piano. The keys begin, the keys end. You know there are 88 of them and no-one can tell you differently. They are not infinite; you are infinite. And on those 88 keys the music that you can make is infinite. I like that. That I can live by. But you get me up on that gangway and roll out a keyboard with millions of keys, and that’s the truth, there’s no end to them. That keyboard is infinite. But if that keyboard is infinite there’s no music you can play. You’re sitting on the wrong bench. That’s God’s piano. Christ, did you see the streets? There were thousands of them! How do you choose just one? One woman, one house, one piece of land to call your own, one landscape to look at, one way to die. All that world weighing down on you without you knowing where it ends. Aren’t you scared of just breaking apart just thinking about it, the enormity of living in it? I was born on this ship. The world passed me by, but two thousand people at a time. And there were wishes here, but never more than could fit on a ship, between prow and stern. You played out your happiness on a piano that was not infinite. I learned to live that way.”

Ek het reeds in Desember 2000 ’n stuk begin met die laaste sin van bogenoemde aanhaling. Ek het toe al geworstel met die idee dat as die wêreld jou oester is, waar eindig jy? As die moontlikhede eindeloos is, hoekom by een plek stop, een huis, by een lewensmaat en een stel kinders, by een beroep? Hoe kan jy dit regverdig, as daar soveel ander moontlikhede is, om te sê, “Dis oukei, ek het my plek gevind, en die persoon aan wie se sy ek wil wees tot die einde toe”?

Taiwan is die skip waarop ek uiteindelik gebly het, soos die karakter in die film. Daar was tye wat ek amper afgeklim het, maar op die nippertjie besluit het om te bly. En soos die karakter in die film het ek ook geleer om my geluk uit te speel op ’n klavier wat nie gestrek het tot in der ewigheid met moontlikhede nie.

______________________

In kort, hou aan met skryf

DONDERDAG 3 OKTOBER 2019

Waaroor skryf ’n mens?

Kyk jy na stories wat net verskyn het in die laaste jaar, sien jy boeke oor dwelms en liefdesverhoudings, kinders wat verdwyn het en liefdesverhoudings, en klein dorpies en liefdesverhoudings; jy sien stories oor arm mense, ryk mense, en die drome van middelklasmense. Kyk jy na storielyne van films wat die afgelope paar jare verskyn het, sien jy superhelde, aksiehelde, fantasiewêrelde, dinosourusse, moorddadige masjiene, en mense wat wegkruip in bosse. Is jy geïnteresseerd in nie-fiksie, sien jy temas gedek in boeke wat net in die laaste jaar verskyn het, sluit in politici, eggenote van politici, wêreldoorloë, ander oorloë, godsdiens, maniere om jouself te verbeter, maniere om geld te maak, en die dinge wat jy leer as jy om die wêreld reis. Selfde met materiaal op die Internet. Daar’s populêre webwerwe oor net mooi enige gier, stokperdjie, belangstelling of obsessie waaraan jy kan dink.

Waaroor skryf jy dan?

Jy skryf steeds stories wat jý wil vertel, al het soortgelyke stories reeds verskyn. En ag jy jouself nie veel van ’n storieverteller nie maar jy voel jy’t ’n mening of twee wat jy wil deel, skryf jy oor sake wat vir jóú belangrik is, maak nie saak hoeveel boeke of artikels oor die onderwerp reeds verskyn het nie.

Hoekom? Want jóú perspektief is anders as die volgende man of vrou s’n. En selfs as dit soortgelyk is, sal jy waarskynlik anders daaroor skryf, met ander voorbeelde, of ander gevallestudies, of met ander woorde situasies beskryf of standpunte konstateer.

Aan die einde deel jy jouself met mense wat die planeet met jou deel, of wat die planeet sal bewoon lank na jy die aarde verlaat het vir ’n kolonie op Mars, of ’n plekkie in die Nietigheid. Jy deel met ander wat jy glo, hoe jy dinge sien, hoe jy dinge ervaar, wat jy dink van wat ánder mense glo, selfs wat jy dink van stories wat ánder mense geskryf het, of films wat ánder mense gemaak het, of politieke manifeste wat ánder mense gepubliseer het.

Jy is nie die volgende persoon nie, en jou ervaring van die menslike kondisie op die planeet Aarde is tot ’n groot mate uniek. Skryf daaroor – vir jouself, vir jou bure, jou vriende, jou familie, en vir mense wat jy nooit sal ontmoet nie want hulle sal eers jou skryfwerk ontdek vyftig jaar van nou af in ’n digitale vorm wat eers oor tien jaar ontwikkel sal word. En net dalk vind één persoon één ding wat jy gesê het, of die wyse waarop jy iets verduidelik het, vermaaklik, of bemoedigend, of opvoedkundig.

In kort, hou aan met skryf.

______________________