Gaan diep om te herprogrammeer

WOENSDAG 8 AUGUSTUS 2018

Hoe lank is ek geprogrammeer oor geld, en geldmaak, en my rol en plek in die wêreld voordat ek gesê het, “Wag ’n bietjie, wat gaan hier aan?”

Die antwoord: Vir ’n lang tyd. Ten minste 25 jaar, maar dieselfde “operating procedure” het voortgegaan omdat ek dit nie vervang het met ’n ander manier van dink oor dinge nie. Selfs toe ek ’n periode van intense selfondersoek deurgegaan het, waartydens ek krities oorweeg het waarin ek geglo het en hoe ek te werk gegaan het, het ek nooit ver genoeg gegaan om myself werklik te herprogrammeer nie.

Ek het geleer hoe ander mense geld maak, en probeer om dieselfde, of soortgelyke aksies te neem. Maar dis soos om net vir iemand ’n paar Russiese frases te leer, en hom dan in die middel van Siberië te los en te verwag dat hy ’n suksesvolle spioen sal wees. Hy gaan nie inpas nie, want hy’s nie van daai omgewing nie. Hy is nie geprogrammeer in, en vir, daai samelewing nie. Hy mag dalk daarin slaag om klanke te produseer wat ander mense sal herken en waarop hulle toepaslik sal reageer, maar om werklik in sy missie te slaag, moet hy veel meer intensiewe opleiding ontvang.

Vir twee dekades is ek geleer om op “God” te vertrou vir leiding in my lewe. “God” sou my in ’n rigting stuur. “God” het geweet waar “Hy” my nodig gehad het. “God” sou sorg; ek moes net geduldig wees. Toe, op ’n dag, besef ek dat ek nie meer in “God” glo nie. Oeps, wat nou? Twee dekades van programmering dat die lewe op ’n bepaalde manier werk, dat my plek in die wêreld op ’n sekere manier bepaal word, en toe skielik – niks. Jy’s op jou eie. Voorspoed.

Ek het oukei gedoen in die amper drie dekades van volwasse lewe sedert daai traumatiese wending – nie fantasties nie, maar daar’s beslis ’n paar plusse in my goeie kolom. Maar ek sal dit moeilik vind om met iemand te argumenteer wat van mening is dat ek basies net aangekarring het die afgelope twee en ’n half dekades so goed as wat ek kon.

Feit is, ek kan steeds beter doen, maar ek sal dieper moet gaan as voorheen veral wat betref my verhouding met geld, en hoe dit my plek en rol in die wêreld affekteer – of hoe ek dink aan my plek en rol in die samelewing.

______________________