My mening oor die Rusland-Oekraïne situasie

VRYDAG 25 FEBRUARIE 2022

1. Ek hoop vir alle betrokkenes, veral burgerlikes en militêre personeel direk betrokke, dat die konflik binnekort verby sal wees.

2. Ek het simpatie met die Oekraïners wat sal ly as gevolg van die militêre aksie.

3. Weet dat NAVO en die Clinton-, Bush-, Obama- en Biden-administrasies die primêre oorsaak van hierdie konflik is. Hulle dwaasheid, onkunde en die hebsug van wapenvervaardigers wat altyd op soek is na nuwe markte, het direk tot hierdie situasie gelei.

Kim Iversen, Amerikaanse radio-omroeper en joernalis, het, tot ergernis van verskeie mense op Twitter, genoem dat die beste ding wat Oekraïne kan doen, is om tou op te gooi. Volgens haar sal verset die situasie net vererger en ’n onvermydelike Russiese oorwinning uitstel.

(Indien die twiet nie laai nie, kliek hier vir ’n skermgreep.)

’n Mens kan byvoeg: Om dit te doen, kan die vinnigste, mins pynlike en goedkoopste manier wees om die dwaasheid van NAVO en die roekeloosheid van Amerikaanse administrasies oor die afgelope drie dekades teë te werk. Uiteindelik sal Oekraïne vriendskaplike betrekkinge met beide die Europese Unie en met Rusland hê, maar sal nie ’n lidstaat van NAVO wees nie, en sal dus nooit NAVO-soldate huisves nie, en ook nie missiele en militêre hardeware wat net in een rigting gestel is nie.

______________________

Verantwoordelik, maar in staat tot iets

VRYDAG 25 FEBRUARIE 2022

Vanoggend weer herinner aan ’n goeie “mind hack” wat ek ’n paar jaar gelede geleer dat. As jy verantwoordelikheid aanvaar vir iets waarvoor ’n redelike argument gemaak kan word jy werklik skuld dra, stuur dit ’n boodskap aan die onderbewuste: “As iets jou skuld was, is jy in staat daartoe om so iets te laat gebeur. En as jy in staat was daarin om dit te laat gebeur, is jy moontlik in staat daartoe om dit te verhoed, of te vermy. Dalk het jy dit nie hierdie keer gedoen nie omdat jy simpel of onnosel, of onverantwoordelik of roekeloos was. Maar jy is in staat daartoe. En as jy in staat is daartoe, het jy die keuse om volgende keer harder te probeer, of om beter te doen. Of jy het die keuse nóú om jou gedrag te verander om dit volgende keer te verhoed, of om jou vaardigheid te verbeter om dit volgende keer te vermy. Jy is in staat.”

Oorweeg die teenoorstaande. “Dit was nie my skuld nie,” wanneer ’n redelike argument gemaak kan word dat jy, in werklikheid, ten minste medeverantwoordelik daarvoor was. Dit stuur die boodskap aan die onderbewuste dat jy dit nie kon vermy of verhoed nie. Jy was ’n slagoffer van ’n situasie buite jou beheer, of van iemand anders se gedrag. Jy was nie in staat daartoe om die situasie te verbeter, of die gevolge te minimaliseer nie. Jy is nie in staat nie. Jy is, min of meer, magteloos.

______________________

Een van die dinge verkeerd met die wêreld

DONDERDAG 17 FEBRUARIE 2022

Op ’n stadium was daar mense wat reg en korrek ingelig was oor ’n onderwerp, en wat ’n logiese argument kon maak om te bewys hulle is aan die regte, of redelike, kant van die saak, en daar was mense wat verkeerd en oningelig was oor die saak, en wat beledigend sou wees om te verdoesel dat hulle nie in staat was om ’n logiese, redelike argument te maak nie.

In reaksie teen die absurde, oningeligte stellings wat die een kant sou maak, sou die ingeligte, redelike kant soms hulle koppe skud, hulle gesigte in hulle hande druk, en dinge sê soos, “Hierdie mense sal enige iets glo.”

Toe gebeur daar ’n verskriklike ding: Die oningeligte mense wat nie ’n logiese argument kon maak om hulle posisie te verdedig nie, het die reaksies en gedrag van die ingeligte, redelike mense begin na-aap. Wanneer ’n ingeligte, redelike persoon nou feite staaf en ’n logiese argument uiteen lê, skud die oningeligte, onredelike persoon ook sy kop, en plant so nou en dan sy gesig in sy handpalm. En, soos ’n papegaai wat nie regtig die klanke verstaan wat hy uiter nie, sal ook hy soms sê: “Hierdie mense sal enige iets glo.”

Saterdag 26 Februarie 2022

Ook hierdie:

Persoon A bied aan ’n omvattende, sinvolle argument met kaarte, grafieke, verifieerbare feite, datums, direkte aanhalings wat bevestig kan word.

Persoon B: “Dis propaganda! Jy’s duidelik ’n marionet van [die leier van die vyand]! Ha-ha! Moenie vir my sê jy glo nog daai storie nie! Ha-ha! Hierdie mense sal enige iets glo …”

______________________

My posisie oor inentings, natuurlike immuniteit, en maskers

VRYDAG 11 FEBRUARIE 2022

Op 11 November 2021 het ek my eerste en enigste inenting gekry teen COVID-19. Op daai stadium het ek gereken ek gaan in die eerste maande van 2022 Suid-Afrika toe gaan, waar die Delta variant nog paniek gesaai het. Ek het reeds verstaan die inenting sal my nie steriliseer teen die virus nie, maar het gereken dat dit my simptome ligter sal maak indien ek dit wel kry. Dit het geklink na ’n redelike argument om ingeënt te word.

Ek beplan egter nie om ’n tweede inenting of enige “boosters” te kry nie. Rede nommer een is die feit dat dit algemeen aanvaar word dat simptome van Omicron – wat nou die dominante variant is, matiger is. Tweede rede is omdat ek glo dat SARS-CoV-2 reeds deel geword het van die familie van meer as 200 griep-tipe virusse wat mense wêreldwyd teister elke jaar, en dat die enigste redelike langtermyn weerstand teen dit natuurlike immuniteit is. Hierdie natuurlike immuniteit word opgebou en gehandhaaf met herhaaldelike blootstelling aan die virusse, sodat die immuunstelsel die nodige verstellings kan maak teen genetiese veranderings wat deurlopend plaasvind in virusse.

Om my immuunstelsel die beste kans te gee teen SARS-CoV-2, sal ek my bes doen om fiks en gesond te bly, insluitende deur ’n gesonde dieet te volg, gereeld vars lug en sonskyn te geniet, en gereeld te oefen. Die enigste alternatief is inspuitings elke vier tot ses maande vir die res van my bestaan.

Dit bring my by die derde rede vir my huidige posisie oor inentings. Ek reken daar is ’n hoë waarskynlikheid dat nasionale gesondheidsdepartemente, internasionale gesondheidsorganisasies, en Groot Medisyne nie eerlik is oor die newe-effekte van die inentings nie. En massamedia en politici kan nie vertrou word om seker te maak die waarheid kom uit nie, vanweë biljoene dollars wat jaarliks vloei uit die koffers van Groot Medisyne na massamedia en politieke leiers met besluitnemingsvermoëns oor hierdie sake.

Siende dat ons op die onderwerp is, ek dra ’n masker as ek fietsry in die verkeer en ek nie die uitlaatgasse van trokke, busse, karre en bromponies wil inasem sonder die beskerming van een of ander filter nie. Ek het ook altyd as onderwyser in ’n klaskamer met kinders wat simptome wys van griep of verkoue, verkies dat hulle maskers dra om te verhoed dat hulle nies en hoes oor my en ander studente. Ek verstaan ook dat dokters en ander mediese personeel maskers dra om hulleself en hul pasiënte te beskerm teen liggaamsvloeistowwe wat bakterieë en ander kieme bevat. Om vereis te word om ’n masker te dra orals in die publiek, insluitende wanneer jy op jou eie in die park of op die strand stap en jyself het nie enige hoes of nies simptome nie, is, aan die ander kant, absurd.

______________________