RAAD OOR KOM OF BLY

Deur 03 - 02 - 2004

[Agtergrond vir die tekste “Raad Oor Kom-Of-Bly”, “Slaaf Aan Die Woord” en “Oor Vriende, En Ander Persoonlike Redes”: My vriendin N.S. het tydens haar vakansie in die Kaap die moontlikheid genoem dat sy sommer lus is en bly in Suid-Afrika. Ek het vermoed dat dit net emosie is wat gepraat het, maar ek het nietemin die geleentheid aangegryp om sekere dinge te sê. Ek kon hierdie dinge in nog ‘n paar opstelle verwoord het, maar briewe het ‘n onmiddellike gehoor, en die versoeking om die gehoor uit te buit is altyd te sappig om te weerstaan.]

___________

My geliefde vriendin

Jy praat in terme wat ek verstaan. Ek kon ‘n vinnige, en ietwat oppervlakkige antwoord gegee het op wat ek glo opregte gevoelens is. Hier is wat ek verkies om te sê:

1. As jy moes besluit om nie terug te kom na die land van besete taxi-bestuurders en romerige koffies nie sal ek, en ‘n paar ander mense, jou geselskap mis.
2. As jy die – sal ons maar sê – onkonvensionele besluit neem om nie terug te kom nie, sal ek meer rede hê om jou te respekteer.
3. As jy besluit om te bly net waar jy is, sal ek die eerste een wees wat jou in alle opregtheid voorspoed sal toewens. Ek het geen twyfel in jou vermoëns, of jou talente nie. Ek glo jy kan ‘n beter lewe bewerkstellig in jou eie land, en vir redes wat jy net so goed ken as enige een.

(Nou vir die verpligte propagandistiese paragrafies wat jy sekerlik sou verwag in ‘n brief soos hierdie.)

Jy ken my gevoelens oor die onderwerp van huis toe gaan. Ek glo, en glo dit al vanaf my tweede jaar in hierdie land, dat die lewe wat ons hier geniet bevorderlik is daarvoor om onsself te bedrieg. Ons koop koppies en sitkamerstelle, teelepels en motorfietse; ons verf ons mure op allerhande snaakse maniere, en ons begin verhoudings met mense wat nie eens “braaivleis” kan spel nie.

Ons doen al hierdie dinge deels omdat dit natuurlik is, en deels om onsself te kompenseer vir wat ons nie hier het nie: ‘n gemeenskap van innige geliefdes. Sommige van ons vind liefde hier, en in so geval werk dinge dan goed uit. Ander van ons weet dat die mense wat nog altyd die meeste vir ons beteken het, ver is. Te ver.

So stap die tyd aan. Ons formuleer voortdurend nuwe planne, en ons praat van “huiskoop” en “beter sosio-ekonomiese situasies” wanneer ons uiteindelik so ver kom om ons teelepels en verfkwaste te verskuif na die Republiek van Ons Geboorte. Intussen gaan ons lewens voort, en ons raak ouer. Aan die ander kant van die planeet gaan ons geliefdes se lewens ook voort, en ook húlle raak ouer. Ons raak bewus hiervan elke keer wanneer ons vir ‘n paar weke huis toe gaan om onder andere ons hard verdiende kontant te gaan blaas, op maniere wat vir almal wat wou weet vertel dat ons “goed doen in die vreemde”.

Is dit dan sleg om “oorsee” te gaan? Nee. Partykeer het ons nodig om weg te kom van mense en omgewings wat vir ons belangrik is. Sommige van ons doen dit omdat ons “issues” het. Ander doen dit omdat hulle verveeld is. Daar’s ook dié wat dit doen nie omdat hulle noodwendig wil nie, maar omdat hulle sosio-ekonomiese vooruitsigte in hulle eie land van so ‘n aard is dat hulle alternatiewe móét oorweeg. Sommige van ons doen dit om al hierdie redes, en nog ‘n paar ander.

Elkeen van ons moet egter na die verloop van ‘n paar maande, of ‘n paar jaar, besluit waar ons prioriteite lê. Ons moet besluit of hierdie tydelike reëling meer permanent gaan word, en of ons bereid is om die prys te betaal daarvoor. Of ons moet besluit dat, ten spyte van ons persoonlike issues, ten spyte van ons persepsies van ‘n “konvensionele lewe”, en ten spyte van die harde maatskaplike werklikheid wat ons saam met die doeane-beampte sal terug verwelkom in ons eie land, ons inderdaad nié bereid is om langer die prys te betaal vir die voordele van ‘n lewe in watse ander land ons ook al ‘n paar jare gespandeer het nie.

Jy moet self besluit waar jy staan met hierdie aangeleentheid. Dalk besluit jy om jou sitplek op daai vliegtuig koud te laat terugkom Taiwan toe. Dalk besluit jy om terug te kom, maar net vir ‘n paar maande. Of dalk kom jy terug om jou aanvanklike plan van nog twee jaar uit te voer. Alles het ‘n prys, en dit weet ek, weet jy.

As jou vriend herhaal ek my vorige opmerkings: Ek sal jou geselskap mis, maar as jy moet besluit om nie terug te kom nie, sal ek jou voorspoed toewens.

[...]

N.S. Dis moontlik dat jy glad nie eens bedoel het dat jy nou al jou Oosterse avontuur vaarwel wil roep nie. Dis ook moontlik dat jy in die suggestie van onortodokse planne deels gemotiveer was deur die verstaanbare begeerte om die spektrum van reaksies te oorweeg, beide hier en in Suid-Afrika. Nietemin, sekere dinge is altyd goed om te noem, en is ek nie altyd gereed met opvoedkundige advies as enige iemand praat van “huis toe gaan” nie?

___________

Hierdie inskrywing dateer: 03 - 02 - 2004 om 16:25 en sorteer onder Die Februarie-Plan. [...]

Gesluit vir kommentaar.