OOR VRIENDE, EN ANDER PERSOONLIKE REDES

Deur 04 - 02 - 2004

[Derde en laaste brief in die 3-4 Februarie 2004-reeks.]

[...]

Jy’t moontlik nog nie eens die vorige brief gelees nie, maar om myself te vermaak, en om onsekerhede in die vorige skrywe op te klaar het ek besluit daar’s ruimte vir ‘n Derde Brief. (Is jy nie bly jy’t vae suggesties gemaak dat jy moontlik nie gaan terugkom nie?)

Ek is onseker hoe dit jóú lewe sal beïnvloed as ek uiteindelik slaag in my desperate pogings om die mat onder myself uit te ruk. Ek weet jy geniet my geselskap ten minste die helfte soveel soos wat ek joune geniet, en jy’t genoem in jou skrywe dat ek en ‘n paar ander vriende belangrike motiverings is vir jou moontlike besluit om terug te kom.

Ek voel egter verplig om te noem dat hierdie nie volhoubare motiverings is nie.

Dit laat my ook in die posisie om te verklaar watse invloed, al dan nie, jóú teenwoordigheid aan hierdie kant van die planeet op my besluitnemingsproses het. Jy weet hoe belangrik jy is vir my, maar daar is ander faktore wat ‘n belangriker rol moet speel in my besluit om te gaan of te bly (soos wat ek weet daar ander redes ook vir jou is – om te verwys na vriende is net makliker as om meer abstrakte motiverings te verwoord).

Verder voel ek genoodsaak om verskoning te maak oor die onsamehangende gebabbelry van die eerste deel van my tweede brief gister. Dis ongelukkig die prys van vriendskap wat ons moet betaal – soms kan vriende nie die versoeking weerstaan om dinge met ons te deel wat hulle karikature in ons begrip ietwat skade aandoen nie.

Dan weer, neem jy nog enige iets ernstig op wat handel oor my immerveranderende “planne”?

Ons kom alleen hierdie wêreld binne, en meeste van die tyd gaan ons dit alleen uit. Mense – familie, vriende, eggenote, minnaars, minnarese – is vir kort of lang periodes deel van ons lewenspad. Ons almal weet ons het ander mense nodig. Ons weet ook dat ons goed moet wees vir mekaar terwyl ons mekaar se lewens deel, omdat dit iets sê van ons eie natuur, en omdat ons beide die pyn en die samesyn saam met ons dra op ons reis.

So is dit ook met ons wat mekaar hier ken. Ons was voorheen vreemdelinge vir mekaar, maar met die verloop van tyd het ons mekaar begin nodig kry om staande te kan bly vir hoe lank ons ook al besluit om hier vas te haak.

Maar hierdie is nie ons land nie, en nie een van ons het formeel hierheen geëmigreer nie. Ons moet noodwendig op een of ander stadium weer ons eie rigtings ingaan, selfs al bly van ons langer hier as ander, en om verskillende redes.

My persoonlike redes het verstryk, hoewel ek steeds in nederigheid dankbaar is vir dié wat my staande gehou het vir die tyd wat ek hier was. As ek dus nie op daai vlug is op Donderdag, 4 Maart nie, sal dit wees om my ‘n beter kans te gee om familie in Engeland te besoek, en om meer as net vyf bokse met boeke te kan pos huis toe.

Soos ek egter gister genoem het, het ek nie meer enige illusies oor kassies en tafels en oefenfietse wat saamgaan nie. Dis die nuwe stand van sake; om finansiële redes, en omdat die konvensionele volgorde is om eers (ten minste voorlopig) jouself te vestig, en dan meubels te begin vergader – en omdat ek nog nooit kon erken dat wat ek gedoen het die afgelope vyf jaar vir alle praktiese doeleindes neergekom het daarop dat ek myself hier gevestig het nie.

Die prys vir die opheffing van my selfopgelegde ballingskap was voorheen uitermate hoog, deels omdat ek miskien onbewustelik wou sekerheid kry oor wie en wat ek is voor ek my lewe kon voortsit in my eie land. Hierdie vrae is opgelos.

Die prys vir repatriasie is nou laer as ooit tevore. Die teenoorgestelde moet noodwendig dan ook waar wees, naamlik as die prys vir terug gaan so laag is, moet ek in beginsel ‘n hoër waarde daaraan heg om hier te bly, dan nie? Watse waarde kan ek denkbaar nog daaraan heg? Soveel te meer as ek vir my beste vriende preek oor hoekom hulle self hulle mooi geverfde mure agter moet laat vir ‘n ongedefinieerde toekoms in die Land van Familie, Afrikaanse Kultuur, en Braaivleis in die Agterplaas op Saterdagaande.

My eie oortuigings oor die onderwerp van “selfopgelegde ballingskap” in die buiteland en die redes hoekom dit soms nodig is, is teen hierdie tyd goed geformuleer, en neergevel in honderde stukke teks. Min bly oor om te sê… oor hierdie onderwerp.

‘n Vraag dring homself tog by my op: Kan ons, selfs al is ons die beste van vriende, ooit werklik verstaan hoekom een so desperaat is om weg te gaan, en die ander so beslis daaroor is om terug te kom?

Soos gister, wens ek jou weereens ‘n aangename tyd toe saam met jou familie.

[...]

___________

Hierdie inskrywing dateer: 04 - 02 - 2004 om 15:43 en sorteer onder Die Februarie-Plan. [...]

Gesluit vir kommentaar.