Een waarheid en ’n paar brokkies advies

DINSDAG 5 MAART 2024

Jy’s hier.

Doen jou bes om dit die moeite werd te maak.

Probeer om nie te veel skade te doen nie.

Probeer om vertroosting te bied – as jy kan.

Probeer om iemand anders se las te verminder – as jy kan.

Probeer om gesond te bly.

Probeer om sterk te bly.

Kyk uit vir groot en klein deurbrake wat jou kan vat na ’n hoër bestaansvlak toe, of net na ’n beter plek toe.

Wees dankbaar vir die goeie dinge in jou lewe. Wees dankbaar as jy die slegte oorleef het.

En onthou: Ons word nie gebore in dieselfde omstandighede nie, of met dieselfde vermoëns of talente nie. Tog is jou lewe, tot ’n betekenisvolle graad, die resultaat van hoe jy speel met die kaarte wat aan jou gedeel is.

______________________

Wat is jou reisfilosofie?

DONDERDAG 15 FEBRUARIE 2024

Jy word gebore as deel van ander mense se lewensreis.

Teen die tyd wat jy ’n bewussyn ontwikkel van wat aangaan, is jou eie reis reeds ’n geruime tyd aan die gang.

Wat is die punt? Wat is jou doelwit? Hoekom gaan jy voort met die reis? Wat is jou reisfilosofie?

Maak jou reis so pynloos en gelukkig as moontlik. As jy een ander persoon se reis, of etlike ander mense se reise, ook minder pynvol kan maak, gemakliker, en gelukkiger, dan is dit ook goed so – en sal waarskynlik jou eie reis meer die moeite werd maak.

(Terloops, gelukkige 20-jaar herdenking van die eerste keer toe ek hierdie presiese gedagte geformuleer het.)

______________________

Hoe sake staan op Dinsdag 30 Januarie 2024?

DINSDAG 30 JANUARIE 2024

Vir nuwe lesers: Ek is 52 jaar en sewe maande oud. Woon al vir meer as 25 jaar in die suide van Taiwan, vir die laaste 15 jaar of so saam met my vrou, en vir die laaste dekade met twee katte. En so aan en so aan.

Israel en Gaza: As ’n mens waarneem wat Israel aan Gaza en die Palestyne gedoen het sedert 7 Oktober 2023, stel ek myself voor ’n gesprek tussen die Eerste Minister van Israel, Benjamin Netanyahu, en ’n raadgewer:

Netanyahu: “What should our response be to Hamas?”

Raadgewer: “We need to destroy Hamas, even if we destroy the entire territory of Gaza and wipe out every man, woman and child who live there.”

Netanyahu: “Wouldn’t that be considered genocide?”

Raadgewer: “I guess it would.”

Netanyahu: “Let’s go.”

Trump as volgende Amerikaanse president: Wat weet ek van Amerikaanse politiek, en ek is buitengewoon sleg met voorspellings, maar ek dink Trump gaan inderdaad die verkiesing wen in November 2024. Hoekom sal die Diep Staat en hulle duisende medewerkers in die politieke establishment, die media, die akademie, en die vermaaklikheidswêreld dit toelaat? Want Trump sal vir hulle gee wat hulle nodig het. Hy sal ’n stop sit aan die golwe van ongedokumenteerde immigrante wat oor die Amerikaanse grens vloei. Hulle sal hom kritiseer terwyl hy dit doen, ten spyte daarvan dat hulle sal weet hy los ’n probleem op wat húlle veroorsaak het. Hy sal ’n stop sit aan die buitensporighede van die sogenaamde Social Justice Left van die laaste dekade of so. Natuurlik sal hulle lippediens doen aan die ideologie terwyl hy probeer om dit terug in ’n bottel te druk. Hy sal ook ten minste ’n poging aanwend om met Poetin te onderhandel – waarvoor hulle hom ook sal kritiseer, wetende dat almal insluitende hulle troetelprojek Zelenski dit nodig het. Israel is nie ’n probleem nie, want Trump sal voortgaan om Israel te ondersteun in hulle poging om Gaza en waarskynlik die Wesbank te leeg van Palestyne.

Amerika in die Midde-Ooste: As Amerika voortgaan om met wapens, geld, en morele ondersteuning Israel by te staan in hulle massamoord van die inwoners van Gaza in ’n poging om die area voor te berei vir kolonisasie deur Israeli besetters, sal gewapende groepe in Palestina, Libanon, Sirië, Jemen, Irak, en dalk Egipte voortgaan om Amerikaanse troepe en basisse in die Midde Ooste aan te val. Dit sal Amerika in ’n moeilike situasie plaas. Meer Amerikaanse stewels op die grond gaan nie werk nie. Bom-veldtogte sal net werk op ’n skaal wat Iran nie betrek nie. As Iran betrokke raak, sal dit waarskynlik wees met missiele waarteen Amerika nie hulle bates in die streek kan beskerm nie. Amerika weet dit, wat beteken hulle weet hulle speel met vuur. Is hulle onnosel genoeg om hulle vingers in petrol te druk en dan in die vlamme te steek?

Rusland en Oekraïne: Nog ’n paar maande van duisende mans (en vrouens) wat desperaat druk teen die Russiese oormag, om ’n moreel korrupte regering in Kiëf aan bewind te hou, wat hulle bloedlustige politieke meesters in Washington in staat te stel om nog ’n paar miljard dollar te steel by die Amerikaanse belastingbetaler. Uiteindelik sal Rusland Kiëf beset, en onder andere ook Odessa inlyf by die Russiese Federasie – ter goedkeuring van die meerderheid van die bevolking in daai areas. Dit wat oorbly en steeds bekend sal staan as Oekraïne, se hoofstad sal skuif na Lvov.

Volgende Suid-Afrikaanse verkiesing: Suid-Afrika het ongelukkig nie ’n lewensvatbare alternatief vir die regerende African National Congress nie. Indien daar egter wel ’n koalisie ontstaan tussen opposisie partye en dit lyk asof daar ’n groter as 50% kans is dat hulle die ANC sal ontsetel, sal die regering skielik ontdek dat die Amerikaanse regering besig is om in te meng in die verkiesing ten einde die ANC te straf vir die saak wat die regering in Januarie 2024 gebring het teen Israel by die Internasionale Geregshof. Ek vermoed dit is wat die ANC-regering beweeg het om in die eerste plek die saak te maak teen Israel, siende dat dit algemeen bekend is dat die ANC regering self moreel korrup is. Die regering sal dan hierdie werklike of verbeelde inmenging gebruik om die verkiesing uit te stel, of as die verkiesing plaasvind en hulle aansienlik genoeg steun verloor, weier om die uitslae te aanvaar.

* * *

Wat betref die bestaanservaring van om ’n 52-jarige man te wees in die suide van Taiwan, getroud, twee katte – eintlik my vrou se troeteldiere want hulle aanvaar my bloot as ’n vierde dier in die huis … Bly ingeskakel.

______________________

Hoekom die waarheid nie ’n swart pil hoef te wees nie

VRYDAG 15 SEPTEMBER 2023

Weereens, waaroor gaan die lewe? Dis ’n stryd om oorlewing, en vir ’n mate van geluk om die stryd die moeite werd te maak. En op die ou end hoop jy dat jy nie ’n pynlike dood sterf nie. En wanneer jy dood is, sal ’n paar mense jou vir ’n tydperk mis, maar die res van die wêreld sal voortgaan asof jy nooit geleef het nie.

Hierdie is koue, harde feite.

Maar ’n mens is in die versoeking om te wonder of die pil nie ’n bietjie te swart is om te sluk nie.

Die sleutel is in die graad van geluk.

Daar’s ook verskillende grade van oorlewing. As jy optimisties is en glo aan die wye spektrum van moontlikhede beskikbaar om ’n goeie lewe te lei, kan jou oorlewing relatief gemaklik wees – van die kos waaraan jy smul drie tot vyf keer per dag, tot die drankies wat jy in jou keel afgooi, tot die beddegoed waaronder jy slaap, en die hoeveelheid tyd wat jy spandeer om die wêreld te verken en te spandeer met jou geliefdes en vriende.

Die kwaliteit van jou oorlewing dra ook by tot jou bewussyn van geluk.

En as jy ander mense bystaan in húlle stryd om oorlewing en húlle pogings om die lewe die moeite werd te maak, verhoog dit jou eie bewussyn van ’n lewe wat die moeite werd is om te leef.

Die einde is egter gewoonlik nie jou keuse nie.

Wat dit soveel belangriker maak om gelukkig te wees voor die einde aanbreek – stadig en uitmergelend, of genadig vinnig.

______________________

Beter as geen plan nie

MAANDAG 16 JANUARIE 2023

As ’n sensasie van geluk nie ’n gereelde ervaring in jou daaglikse bestaan is nie, of indien ’n netto positiewe bewussyn nie iets is wat jou lewe kenmerk nie, sal sommige mense tot die gevolgtrekking kom dat hulle daaglikse bestaan nie die moeite en die somtydse swaarkry werd is nie.

As jou daaglikse bestaan nie die moeite en die somtydse swaarkry werd is nie, sal sommige mense argumenteer dat jy net sowel jou eie lewe kan beëindig. Tensy – jou lewe-eindigende daad te veel skade sal doen aan mense vir wie jy omgee. In so ’n geval moet jy eenvoudig die moeite doen om te oorleef en die somtydse swaarkry verduur.

Indien jy godsdienstig is, het jy dalk ander redes om voort te gaan met jou lewe – al reken jy dit is die moeite nie werd nie. Jy glo dalk dis nie jou reg om jou eie lewe te eindig nie, of dat die god waarin jy glo ’n plan het met jou lewe. Dat jy eenvoudig die swaarkry en die moeite moet verduur tot die plan ontbloot word, of tot die tyd aanbreek vir jou om te doen waarvoor jy op aarde geplaas is, by wyse van spreke.

Klink swartgallig (veral vir ’n eerste stukkie teks van die jaar), maar dit was ook die idee agter ’n stuk van jare gelede: Die lewe is soms swaar en moeilik. Om geluk te ervaar, balanseer soms die swaarkry en die moeite van daaglikse bestaan. Dis ook maklik genoeg om jou eie lewe te beëindig. As jy egter nie méér swaarkry en ellende wil veroorsaak vir jou geliefdes nie, doen wat jy kan om jou lewe die moeite werd te maak. Sodoende kan jy dalk ook jou geliefdes (en selfs vreemdelinge) se pogings om húlle lewens die moeite werd te maak, fasiliteer, sodat hulle nie húl lewens beëindig en jóú lewe daarmee ellendig maak nie.

In ander woorde: Ek maak myself gelukkig sodat my lewe die moeite werd is om te leef, en sodoende help ek jou om gelukkig te wees sodat jóú lewe ook die moeite werd is om te leef.

Werk nie altyd nie, maar dis beter as om met geen plan deur die lewe te gaan nie.

______________________