Oor vriende, en ander persoonlike redes

[Agtergrond vir die stukke teks, “Raad oor kom of bly”“Slaaf aan die woord” en “Oor vriende, en ander persoonlike redes”: ’n Goeie vriendin van my wat ook toe in Kaohsiung gewoon het, het tydens haar vakansie in die Kaap genoem dat sy sommer lus is en bly in Suid-Afrika. Ek het vermoed dat dit net emosie is wat praat, maar ek het nietemin die geleentheid aangegryp om sekere dinge te sê.]

——————–

WOENSDAG 4 FEBRUARIE 2004

[…]

Jy’t moontlik nog nie eens die laaste brief gelees nie, maar om myself te vermaak, en om onsekerhede op te klaar in die voorlaaste een, het ek besluit daar’s ruimte vir ’n Derde Brief.

[…]

Jy’t genoem in jou skrywe dat ek en ’n paar ander vriende ’n belangrike motivering is vir jou moontlike besluit om terug te kom. Wat ek hier en nou wil sê, is dat vriende nie ’n volhoubare motivering is nie.

[…]

Ons kom alleen hierdie wêreld binne, en meeste van die tyd gaan ons dit alleen uit. Mense – familie, vriende, eggenote, minnaars, minnaresse – is vir kort of lang periodes deel van ons lewenspad. Ons almal weet ons het ander mense nodig. Ons weet ook dat ons goed moet wees vir mekaar terwyl ons mekaar se lewens deel, omdat dit iets sê van ons eie natuur, en omdat ons beide die pyn en die samesyn saam met ons dra op ons reis.

So is dit ook met ons wat mekaar hier ken. Ons was voorheen vreemdelinge vir mekaar, maar met die verloop van tyd het ons mekaar begin nodig kry om staande te kan bly vir hoe lank ons ook al besluit om hier vas te haak.

Maar – hierdie is nie ons land nie, en nie een van ons het formeel hierheen geëmigreer nie. Ons moet op een of ander stadium weer ons eie rigtings ingaan, selfs al bly sommige van ons langer hier as ander.

My persoonlike redes om hier te bly het verstryk, hoewel ek steeds dankbaar is vir dié wat my staande gehou het vir die tyd wat ek hier was. As ek nie op daai vlug is op Donderdag 4 Maart nie, sal dit wees om myself ’n beter kans te gee om my suster in Engeland te besoek, en om meer as net vyf bokse met boeke te kan pos huis toe.

Soos ek egter gister genoem het, het ek nie meer enige illusies oor kassies en tafels en oefenfietse wat saamgaan op die reis vorentoe nie. Dis die nuwe stand van sake – om finansiële redes, en omdat die konvensionele volgorde is om eers, ten minste voorlopig, jouself te vestig, en dan meubels te begin bymekaarmaak. Die eenvoudige feit is dat ek nog nooit kon erken dat wat ek gedoen het die afgelope vyf jaar vir alle praktiese doeleindes neergekom het daarop dat ek myself hier gevestig het nie.

Die prys vir die opheffing van my selfopgelegde ballingskap was voorheen uitermate hoog, deels omdat ek miskien onbewustelik wou sekerheid kry oor wie en wat ek is voor ek my lewe kon voortsit in my eie land. Hierdie vrae is opgelos.

Die prys vir repatriasie is nou laer as ooit tevore. Indien ek kies om nie nou die prys te betaal nie, sal dit tog beteken dat ek ’n hoër waarde daaraan heg om hier te bly, dan nie? Watse waarde kan ek denkbaar nog daaraan heg om in Taiwan te bly? Soveel te meer as ek vir my beste vriende preek oor hoekom hulle self hul mooi geverfde mure agter moet laat vir ’n ongedefinieerde toekoms in die Land van Familie en Braaivleis in die Agterplaas.

My eie oortuigings oor die onderwerp van “selfopgelegde ballingskap” in die buiteland en die redes hoekom dit soms nodig is, is teen hierdie tyd goed geformuleer, en neergevel in dosyne stukke teks. Min bly oor om te sê … oor hierdie onderwerp.

’n Vraag dring homself tog by my op: Kan ons, selfs al is ons die beste van vriende, ooit werklik verstaan hoekom een so desperaat is om weg te gaan, en die ander so beslis daaroor is om terug te kom?

[…]

______________________