Raad oor kom of bly

[Agtergrond vir die stukke teks, “Raad oor kom of bly”, “Slaaf aan die woord” en “Oor vriende, en ander persoonlike redes”: ’n Goeie vriendin van my wat ook toe in Kaohsiung gewoon het, het tydens haar vakansie in die Kaap genoem dat sy sommer lus is en bly in Suid-Afrika. Ek het vermoed dat dit net emosie is wat praat, maar ek het nietemin die geleentheid aangegryp om sekere dinge te sê.]

——————–

DINSDAG 3 FEBRUARIE 2004

My vriendin

[…]

Jy ken my gevoelens oor die onderwerp van huis toe gaan. Ek glo, en glo dit al vanaf my tweede jaar in hierdie land, dat die leefstyl wat ons hier voer, dit maklik maak vir ons om onsself te bedrieg. Ons koop koppies en sitkamerstelle, en teelepels en motorfietse; ons verf ons mure op allerhande snaakse maniere, en ons begin verhoudings met mense wat nie eens “braaivleis” kan spel nie.

Ons doen al hierdie dinge deels omdat dit natuurlik is, en deels om onsself te kompenseer vir wat ons nie hier het nie: ’n gemeenskap van innige geliefdes. Sommige van ons vind wel liefde hier, en in sulke gevalle werk dinge dan uit. Maar vele van ons weet dat die mense wat die meeste vir ons beteken, ver is. Te ver.

So stap die tyd aan. Ons formuleer voortdurend nuwe planne, en ons praat van huiskoop, en van beter sosio-ekonomiese situasies wanneer ons uiteindelik so ver kom om ons teelepels en verfkwaste te verskuif na die Republiek van Ons Geboorte. Intussen gaan ons lewens voort, en ons raak ouer. Aan die ander kant van die planeet gaan ons geliefdes se lewens ook voort, en ook húlle raak ouer. Ons raak bewus hiervan elke keer wanneer ons vir ’n paar weke huis toe gaan om onder andere ons hard verdiende kontant te gaan blaas, op maniere wat vir almal wat wou weet, vertel dat ons goed doen in die vreemde.

Is dit dan sleg om oorsee te gaan? Nee. Partykeer het ons nodig om weg te kom van mense en omgewings wat vir ons belangrik is. Sommige van ons doen dit omdat ons “issues” het. Ander doen dit omdat hulle verveeld is. Daar’s ook dié wat dit doen nie omdat hulle noodwendig wil nie, maar omdat hulle sosio-ekonomiese vooruitsigte in hulle eie land van so ’n aard is dat hulle eenvoudig alternatiewe moet oorweeg. Sommige van ons doen dit om al hierdie redes, en ’n paar ander.

Elkeen van ons moet egter na die verloop van ’n paar maande, of ’n paar jaar, besluit waar ons prioriteite lê. Ons moet besluit of hierdie tydelike reëling permanent gaan word, en of ons bereid is om die prys te betaal daarvoor. Of ons kom op ’n punt waar ons besef dat, ten spyte van ons persoonlike issues, ten spyte van ons beskouing van ’n sogenaamde konvensionele lewe, en ten spyte van die harde maatskaplike werklikheid wat ons saam met die doeane-beampte sal terug verwelkom in ons eie land, ons nie anders kan as om terug te keer nie, omdat ons nie bereid is om langer die prys te betaal vir die voordele van ’n lewe in watse ander land ons ook al ’n paar jare gespandeer het nie.

Jy moet self besluit waar jy staan met hierdie aangeleentheid. Dalk kies jy om jou sitplek op daai vliegtuig koud te laat terugkom Taiwan toe. Dalk besluit jy om terug te kom, maar net vir ’n paar maande. Of dalk kom jy terug om jou aanvanklike plan van nog twee jaar uit te voer. Alles, soos jy goed weet, het ’n prys.

As jou vriend herhaal ek my vorige opmerkings: Ek sal jou geselskap mis, maar as jy moet besluit om nie terug te kom nie, sal ek jou voorspoed toewens.

[…]

______________________

Een gedagte op “Raad oor kom of bly”

Kommentaar is gesluit.