SLAAF AAN DIE WOORD

Deur 03 - 02 - 2004

[Tweede brief in die 3-4 Februarie 2004-reeks.]

Hoogs gerespekteerde vriendin, kon jy nie net ‘n paar oppervlakkige opmerkings gemaak het nie… jy maak dit moeilik om jou nie te mis nie!

Ek haat die rol wat ek soms tot vervelens toe probeer speel. Ek haat dit om voor te gee ek verstaan meer as die gemiddelde ou. Ek haat dit om ‘n beeld voor te hou van iemand wat presies weet wat hy doen. Ongeag of dit is wat jy van my dink of nie, dis die karikatuur wat ek van myself skets op die sosiale landskap.

Hier’s die feite: ek het nog steeds nie besluit of ek op die 4e Maart teruggaan Suid-Afrika toe, en of ek nog ‘n paar maande hier gaan bly nie.

Ek het twee keuses: 1) bly hier, maar kry meer klasse; 2) gaan volgende maand terug Suid-Afrika toe en staan my plek vol buite al die sosio-ekonomiese klasse waarvan ek bewus is. It’s a showdown of enormous proportions.

Ek sê altyd ek het my vinger op my eie pols, maar ek begin die idee te kry ek het iets onderskat die afgelope paar maande. Ek is verslaaf daaraan om te skryf. En nie noodwendig in die romantiese sin van die woord nie. ‘n Heroïen-slaaf gaan deur 72 uur van ondraaglike ontrekkingsimptome as hy die dwelm los; ek glo vas ek sal in ‘n bodemlose depressie verval as ek minder begin skryf ter wille van meer klasse, ter wille daarvan om met ál my meubels en ál my koppies en bekers en vadoeke en kussings en ou jeans wat ek vier jaar gelede laas gedra het, te kan teruggaan Suid-Afrika toe, en dan ‘n lewe te kan bekostig wat nie te veel wind sal vang nie.

Ek is in ‘n netelige posisie. Ek het my siel verkoop ter wille van my saak. En miskien behoort my saak aan ‘n Hoër Wese, en dan is dit seker OK. Maar ek kan nie meer terugdraai nie. Ek het al die ander opsies oorweeg, en te lig bevind. Ek glo nie eens liefde kan my meer help nie. (Vir miskien ‘n paar weke sal dit werk, tot ek op die lakens begin notas maak terwyl die vrou wag op iets meer opwindends…)

(Op dié punt het my vingers amper aan die brand geslaan. Ek gaan koop toe instant noodles, rook ‘n sigaret, praat met [‘n ander vriendin], en lees verder aan my geskiedenisboek. Ek voel nou ietwat beter.)

Ek dink nie dis ‘n goeie idee om bogenoemde teks vir jou te stuur nie.

Siende dat ek oënskynlik hierdie teks vir jou skryf om 00:55 op Woensdagoggend, 4 Februarie terwyl ek nie eens seker is of jy dit gaan lees nie, dien dit as ‘n duidelike bewys van hoe heilig ek Die Woord ag. Soos ek hier sit en hierdie teks dus vir myself skryf – op die oomblik, meer as vir jou – glo ek steeds dit is relevant vir iemand anders as net die uwe.

Ek wens ek en jy kon vir 24 uur liggame geruil het. Behalwe vir die ooglopende pret wat ons sou gehad het – is dit vulgêr om so daaraan te dink? – sou ek baie vinnig al jou issues opgelos het, en jy kon… my kop ‘n paar keer teen die muur stamp om die los dele uit te skud wat nou al vir jare sorg dat ek soos ‘n baba slaap, en soos ‘n mal mens wakker is.

Ek dink ek het die idee laat vaar om al my meubels terug te stuur Suid-Afrika toe. Wat gaan ek in elk geval daarmee doen? ‘n Karavaan is te klein daarvoor, en ek kan dit nie in ‘n boomhuis sit nie. En op die gras in iemand se tuin gaan dit natreën.

As my planne om myself te repatrieer vergelyk kan word met onderhandelinge, het die magsbalans definitief verskuif die afgelope jaar of twee. Aanvanklik het die een deel gesê, “Ek wil teruggaan Suid-Afrika toe.” Dan sal die ander deel, wat hoofsaaklik verantwoordelik daarvoor was dat ons in die eerste plek Taiwan toe gekom het, antwoord: “Goed, maar gee my X-hoeveelheid kontant vir ‘n huis, ‘n kar, ‘n nuwe rekenaar, nuwe klere, ‘n pruik, ‘n hond, ‘n kat, en ‘n grassnyer, Y-hoeveelheid boeke klaar geskryf, en Z-hoeveelheid Chinees wat ons kan praat. Dan kan ons repatriasie oorweeg.”

Huidiglik smeek laasgenoemde party vir genade. Hy’s bereid om alles behalwe die pruik en die grassnyer op te gee, “solank ons net so gou as moontlik huis toe kan gaan”. En die karakter wat voorheen bekend was vir sentimentele pleidooie moet noodwendig die stem van rede wees – ‘n rol wat effens nuut is vir hom, maar wie anders gaan dit doen as die verwaande een van vroeë onderhandelinge op die punt is om kranksinnig te raak van te veel “planne” waarmee tred gehou moet word?

Tog, ek haat dit om te sien hoe jy by ‘n soortgelyke pad afstap as ek: onsekerheid, huis-opsit aan die verkeerde kant van die planeet, sterk opinies oor die keuses wat soveel van ons vriende en tydgenote maak.

Hoeveel ander mense sit in soortgelyke posisies? Miskien kan ons ‘n konsultasie besigheid begin. Ek kan hulle tot op die rand van hulle eie persoonlike afgronde verveel met teorie, en dan kan jy met jou befaamde volharding seker maak hulle mors nie hulle lewens met verkeerde beroepskeuses nie. (Jy kan hulle twintig keer op ‘n dag telefoneer, en hulle oortuig ons hou hulle dop.) Dan weer, ons sal die hele Westerse beskawing op sy knieë hê binne ‘n paar maande, en dan sit ons met werklose half-kunstenaars wat ons dalk aanbid asof ons gode is.

Nee wat, kom dan maar eerder terug, kom verf jou mure klaar, en sit vars lemoene in daai bak. Ek sal intussen al my meubels verbrand, my boeke op nagmarkte verkwansel, en genoeg kontant inwin vir ‘n groot karavaan. Wanneer ek uiteindelik terug is in ons lieflike land, sal ek jou verpes met dosyne briewe elke week om seker te maak jy bly nie aan die einde langer as ek in hierdie geweste nie.

En om jou te herinner daaraan om elke dan en wan jou lemoenbak te verskuif. Klein verstellings soos dit sal jou uiteindelike repatriasie soveel makliker maak op die siel…

___________

Hierdie inskrywing dateer: 03 - 02 - 2004 om 20:17 en sorteer onder Die Februarie-Plan. [...]

Gesluit vir kommentaar.