Waar trek mens die streep vir moord?

WOENSDAG 19 OKTOBER 2016

Op Vrydag 5 Oktober 2007 om 17:04 het ek ’n nota geskryf wat soos volg begin het: “Is self-verloëning – die verloëning van jou waardes, van wie jy is – regverdigbaar as die eindresultaat goed is?”

Ek skets toe ’n situasie van iemand wat skynbaar ’n goeie mens is, wat ’n slegte daad pleeg, maar vir goeie redes.

Lang storie kort, ek besluit toe om nie die oorspronklike teks te gebruik nie, want ek reken as ’n “goeie mens” ’n slegte daad pleeg – soos moord, vir ’n goed genoeg rede – soos om honderd mense se lewens te red, hy nie werklik sy morele waardes verloën het nie, en nie regtig sy “goeie gewete” opgeoffer het op dieselfde wyse as wat iemand anders sy lewe of ’n ledemaat opoffer om iemand anders te red nie.

Nietemin, ek dink toe, daar is sekerlik ’n streep wat êrens getrek moet word:

I

Sê byvoorbeeld iemand red honderd mense se lewens deur iemand anders te bedrieg en dan te vermoor in die middel van die nag – nadat hy sy vertroue gewen het, of so iets. Die persoon voel baie skuldig, maar die wêreld is ’n beter plek. Is dit nie ook ’n geval van hierdie persoon wat homself opgeoffer het vir ander mense nie?

II

Sê byvoorbeeld iemand slaag daarin om langtermyn huisvesting te voorsien aan twee honderd hawelose mense deur iemand anders te bedrieg en dan te vermoor in die middel van die nag – nadat hy sy vertroue gewen het. Hy voel baie skuldig, maar die wêreld is ’n beter plek – daai twee honderd mense het vanaand ’n warm plek om in te slaap. Is dit nie ook ’n geval van hierdie persoon wat homself opgeoffer het vir ander mense nie?

III

Sê byvoorbeeld iemand red ’n duisend mense se gevoelens deur iemand wat hulle godsdiens beledig het, te bedrieg en dan te vermoor in die middel van die nag. Hierdie persoon voel skuldig, maar die wêreld, so glo hy, is ’n beter plek, omdat die gemeenskap voel geregtigheid het geseëvier. Is dit nie ook ’n geval van iemand wat homself opgeoffer het vir ander mense nie?

Waar trek mens die streep?

______________________

Die gesproke woord – en sokker

WOENSDAG 22 JUNIE 2016

Op ’n ander noot. Op 22 Junie 1986 het Argentinië vir Engeland verslaan 2-1 in die kwarteind van die Wêreldbeker. Albei Argentynse doele was aangeteken deur Diego Maradona. Die eerste was die berugte “Hand van God” doel. Die tweede, enkele minute later, word beskryf as een van die beste doele ooit.

Hier is hoe Víctor Hugo Morales, ’n joernalis van Uruguay, die “Goal of the Century” beskryf het in sy kommentaar (vertaal uit Spaans):

“He’s going to pass it to Diego, there’s Maradona with it, two men on him, Maradona steps on the ball, there goes down the right flank the genius of world football, he leaves the wing and he’s going to pass it to Burruchaga … Always Maradona! Genius! Genius! Genius! There, there, there, there, there, there! Goaaaaaaaal! Goaaaaaaal! I want to cry, oh holy God, long live football! What a goal! Die-goal! Maradona! It’s to cry, excuse me! Maradona, in a memorable run, in the best play of all times! Little cosmic comet, which planet did you come from, to leave so many Englishmen behind, so that the country becomes a clenched fist crying for Argentina? Argentina 2, England 0! Die-goal, Die-goal, Diego Armando Maradona! Thank you, God, for football, for Maradona, for these tears, for this Argentina 2, England 0.”

Die gesproke woord.

Ek reken as iemand skryf met soveel ritme, soveel passie, emosie gelaai met soveel blydskap en vreugde en hoop en selfs hartseer, behoort hulle outomaties in aanmerking te kom vir die Nobelprys vir literatuur.

______________________

Waarin ek glo, en ’n paar ander punte

DONDERDAG 14 APRIL 2016

1. Dit is moeilik om te sê waarin ek glo.

2. Dit is ook moeilik vir my om te commit tot iets, want ek moet 100% glo daaraan (sien punt 1), en ek sal deurentyd toewyding daaraan aan myself moet verkoop.

3. Ek dink soms as mens dink aan ’n onderwerp, of jy kry ’n idee vir ’n boek, dat daar waarskynlik reeds ’n boek daaroor geskryf is. Mense het 50 jaar gelede ook so gedink, en natuurlik was dit nie waar nie, maar deesdae met Facebook en YouTube en Medium en Reddit en Digg emails met hoogtepunte van oral oor die internet is dit moeilik om te glo as jy ’n idee het vir ’n boek, dat niemand anders, in die hele wye wêreld, nog daaraan gedink het om so ’n boek te skryf nie. En dalk dink jy aan iets wat redelik uniek is, dan sien ’n ander skrywer of uitgewer met meer hulpbronne dit en dink hulle gaan iets soortgelyk doen, net beter, of interessanter, of snaakser. Wat ek wel wens ek meer kan sien van ander mense maar nog min ontdek het, is kosmiese verslag-tipe skryfwerk: ek is bewus daarvan dat ek bestaan; ek het leer lees en skryf; ek het identiteit ontwikkel; ek oorleef (hoe?); ek funksioneer (hoe?); ek skryf wat ek dink en hoe ek voel en hoe ek dinge ervaar. Indien ek so ’n langtermyn skryfprojek van iemand anders ontdek, sal ek nie my eie literêre pogings vergelyk met daai persoon s’n nie. Ek sal verheug wees. Ek sal gretig lees wat die persoon dink, hoe hy of sy voel, en hoe hy of sy die lewe ervaar.

4. Tien jaar gelede of so het ek geglo ek kan iets skryf, en iemand sal dit lees en dink, “Hierdie ou is reg. Dit moet eintlik so wees. Ek sal van nou af anders optree.”

5. Op Dinsdag 2 Junie 2015 om 17:26 skryf ek die volgende: [Dalk verskil my lewe nie veel] van die volgende ou s’n nie, en ek mors my tyd met my sogenaamde skryfwerk. Aan die ander kant glo ek daar is ’n skraal moontlikheid dat ek my volwasse lewe sover op ’n manier geleef het wat aan my ’n unieke beskouing gee van die mens se bestaan, en die lewens wat ons leef, en dat ’n kombinasie van persoonlikheid en tersiêre opleiding dit moontlik maak dat ek iets skryf wat iemand anders sal laat sê, “Ek hou van die bewoording hiervan. Dis nie regtig iets waaraan ek self nog nooit gedink het nie, maar die manier hoe die ou daaroor praat, maak dit makliker vir my om my eie gedagtes agtermekaar te kry.”

6. Op Vrydag 31 Julie 2015 om 10:06 het ek die drom laat rol vir ’n belangrike insig: Mens sê graag, “Maar iemand anders het dit klaar gesê,” of “Iemand anders doen klaar dit.” Feit is, nie almal het gehoor toe daai ander iemand gesê het wat hulle ook al gesê het nie, of hulle het nog nie daai movie gesien nie, of daai boek gelees nie. En selfs mense wat gehoor het wat daai man of vrou gesê het, of wat ’n sekere movie gesien het, of ’n sekere boek gelees het, het al vergeet van die liggies wat aangekom het in hul koppe! Almal vergeet dinge! Dit, aan die einde van die dag, is hoekom belangrike dinge herhaal moet word.

7. Op Donderdag 28 Januarie 2016 om 13:26 het ek geskryf: Dalk is die beste roman wat ooit geskryf sal word in enige taal, reeds geskryf. Maar steeds moet ons aanhou om te skryf. Dalk is die mees vrygewige mens wat ooit sal leef, dekades of eeue al dood. Maar steeds moet ons aanhou om vrygewig te wees.

MAANDAG 18 APRIL 2016

Ek dink nou al ’n geruime tyd aan hierdie ding dat ek nie werklik weet waarin ek glo nie.

Tref dit my vanmiddag soos ’n bliksemstraal: ek glo in bome.

Dink daaraan: bome is mooi; dit voorsien beskutting aan mens en dier en voël; bome voorsien voedsel aan mens en dier en voël, en insek; bome huisves ekologiese sisteme met sommige kreature wat hul hele lewensiklus in die boom uitleef; bome maak besoedelde lug skoon en maak dit derhalwe makliker vir mense om asem te haal; bome voorsien hout vir huise en hutte en ander skuilings, en vir meubels; bome voorsien hout vir warmte; bome voorsien papier vir boeke; ’n mens kan ’n aktivis vir die saak van bome word – om die waarheid te sê wy vele mense reeds hul lewens toe aan hierdie saak; bome kan vir honderde jare aanhou groei; en laastens maar nie die minste nie, vind jy jouself skielik een dag dat jy nakend buite rondwandel, kan jy eenvoudig oorstap na die naaste boom, sagkens ’n takkie vol blare afbreek, en jou gesig daarmee bedek.

______________________

Arm skrywer of ryk entrepreneur

DONDERDAG 17 MAART 2016

’n Gedagte het gisteraand gehop van een ding tot ’n volgende, en toe ek my weer kon kry, vra ek myself: Wat sal ek eerder wil wees, ’n arm skrywer of ’n ryk entrepreneur, met begrip dat ek as ryk entrepreneur geen kreatiewe werk sal doen nie?

Dit was ’n moeilike vraag.

Tien blokke later (ek was op my fiets) was ek tevrede met my voorlopige antwoord: Dit is moeilik om te sê, het ek gereken, want hoe arm sal ek wees, en wat sal ek skryf?

Die implikasie was dat ek steeds bereid is om ’n eenvoudige bestaan te voer ter wille daarvan om produktiewe tyd te kan spandeer aan skryfwerk, maar ek is nie bereid om swaar te kry ter wille van een opstel elke week of twee oor die weer in Kaohsiung of iets anders onbenulligs nie. Die vraag is ook hoe eenvoudig die bestaan sal wees. Ek wil nie in die park slaap nie, al moet ek dan ’n paar goeie, geïnspireerde stukke prysgee in die proses. (Hoeveel sal ek in elk geval produseer voordat ’n hawelose digter my notaboek en my pen steel?) Feit is ook dat ek nie alleen is nie. Verwag ek dat my lewensmaat saam met my moet suffer? Of sal ek beweer dat ek bereid is om te suffer, wetende dat dit nie nodig sal wees nie want my lewensmaat sal jammer voel vir my en haar kos met my deel?

Die vraag, en die gedagte, het gespruit uit dinge wat ek oor die volgende paar dae moet doen vir een van my bronne van inkomste – ’n vryskut diens wat ek lewer aan ’n paar kliënte. Ek het gedink hoe ek doen wat nodig is om die besigheid aan die gang te hou; dit is, solank ek nie op ’n straathoek hoef te gaan staan en my ware of my diens te verkoop nie – by wyse van spreke. Ek het ook gedink aan iets anders wat ek ’n tyd gelede geskryf het – dat ek enige ambisies om my eie besigheid te begin of te bestuur genadeloos moet vergruis. Hoekom? Ek was van opinie dat ek nie myself 100% daaraan sal kan toewy nie. Natuurlik is daar ander mense wat beskou word as suksesvolle besigheidsmense of entrepreneurs wat sukkel met presies dieselfde dinge as ek. Hoekom is húlle dan suksesvol? Hoekom kom hulle weg daarmee en ek nie? Dis nie ingewikkeld om uit te werk nie: hulle neem mense in diens of werk andersins saam met mense wat dít doen wat hulle nie kán of wil doen nie.

Dit is dus nie ’n geval dat ek nie in staat is om ’n suksesvolle entrepreneur te wees nie; ek werk net nie saam met die regte mense nie … of eerder, ek probeer steeds om alles self doen.

Een ander rede hoekom ek myself bogenoemde vraag gestel het, is omdat ek gereeld wonder wat ek sal kan uitrig as ek voltyds moet skryf, eerder as om ’n halfdosyn inkomstebronne aan te gang te probeer hou. Dis natuurlik ’n ope vraag. Dalk sal al die oefening in woordkuns lei tot ’n paar kortverhale of artikels wat deur meer as 10 mense gelees sal word, en – wie weet? – ek mag dalk selfs genoeg geld maak om ’n nuwe fiets te kan koop. Of dalk sal ek na ’n jaar of twee met honger oë opnuut kyk na dinge wat ek voorheen beskou het as benede my.

Daar is immers niks soos hongerte en vernedering om ’n mens te laat vergeet van boheemse drome nie.

______________________

Om te weet hoe om te verkoop

WOENSDAG 13 JANUARIE 2016

Ek het die laaste paar dae gelees deur notas van 2010. Een ding wat duidelik geblyk het in elke tweede nota, was dat ek baie hard probeer het om dinge te verkoop daai jaar – produkte, dienste, enige iets wat ek gedink het of geglo het ’n spesifieke mark nodig het. Dat ek grootliks misluk het, is deel van ’n minder opwindende deel van my persoonlike geskiedenis.

Ek wonder toe gisteraand op pad Fengshan toe wat ek nou sou doen as ek weer moes probeer om iets te verkoop, siende dat ek ’n bietjie meer hulpbronne tot my beskikking het.

Ek kon nie sê wat ek sou doen nie.

Die gedagte stoot toe op dat “selling” dalk eenvoudig nie almal se koppie tee is nie.

Kom die teenargument: Wat is “selling”? Is dit nie maar net om iemand te probeer oortuig van iets nie?

Dink ek: daar is ’n fundamentele verskil tussen om iets te probeer verkoop aan iemand en om iemand van iets te probeer oortuig. Wanneer jy iemand probeer oortuig om iets te koop, verwag jy dat daai persoon geld moet spandeer wat jy en hy weet tot jou voordeel sal strek.

Ek besef toe ook dat ek nie ’n probleem het daarmee om iemand te probeer oortuig van iets nie. Ek het ook nie juis ’n probleem daarmee om vir iemand te sê dat iets nie verniet is nie. Om oor geld te praat, veral as iemand vir my moet geld gee, is beslis nie my gunsteling onderwerp nie, maar ek kan omsien na besigheid. Die probleem is, om iemand te probeer oortuig om iets by my te koop, voel vir my soos ’n vorm van bedel. En as dit kom by bedel, skop my trots in. Ek gaan eerder dood.

Ek gaan dus eerder dood as om iemand te probeer oortuig om iets by my te koop, as ek die storie tot sy dramatiese konklusie moet voer.

Daar is natuurlik situasies waar ek nie myself hoef te verskoon om onmiddelik selfmoord te gaan pleeg in ’n agterkamertjie eerder as om ’n kliënt van diens te voorsien nie. As ek byvoorbeeld in ’n hoedwinkel werk, en ’n bles ou kom ingestap en vra vir ’n goeie pet, sal ek nie te verleë wees om vir hom ’n paar pette te wys nie. Kans is dalk dat hy ’n voorkeur vertoon vir ’n spesifieke pet, wat hy erken effens buite sy begroting is. In hierdie situasie kan ek insien dat dit nie vir my te moeilik sal wees om hom te probeer oortuig daarvan dat die duurder pet inderdaad die een is wat hy ten sterkste moet oorweeg nie. Ek kan hom byvoorbeeld wys op die hoër kwaliteit, die vorm, hoe goed dit op sy kop pas, en dies meer.

Verskil is, hy wil klaar ’n pet koop. Hy het immers in my hoedwinkel ingestap. Hy het vir my gevra vir ’n pet. Ons albei weet ek gaan ’n bietjie breër glimlag as hy die duurder pet koop, maar daar’s geen kans dat ek gaan voel ek bedel nie. Ek doen hom ’n guns. En hy weet hy sal my ’n guns doen deur meer geld te spandeer. Maar ons albei sal gelukkig wees met die transaksie.

Ek vermoed sterk dat my probleem “cold selling” is – om iemand tromp-op te loop op straat en iets aan hom of haar te probeer verkwansel. Of die internet weergawe daarvan waar jy probeer om besoekers aan jou webwerf te oortuig om iets by jou te koop. (Goed en wel, die besoekers mag dalk op jou webwerf wees omdat hulle iets spesifiek soek, maar dit is nie noodwendig wat jy aan hulle probeer verkoop nie.)

Uit die aard van die saak leef miljoene mense ’n volle bestaan uit van geboorte tot dood op hoë ouderdom sonder om soveel as ’n glas water of ’n nuwe paar sokkies aan iemand anders te probeer verkoop. Maar as jy nodig het om dit te doen, of as jy ’n paar items het wat vir jou van geen waarde is nie en waarvan jy graag sal wil afsien teen ’n redelike prys, is dit altyd goed om ’n paar handige reëls te onthou: Dit is aansienlik makliker om iets aan iemand te verkoop as dit wat jy verkoop ’n probleem oplos vir die ander persoon, of as dit wat hulle by jou koop iets is wat vir hulle groot plesier of satisfaksie verskaf.

Ek het nooit gedink ek sal in ’n posisie wees om advies aan te bied oor hoe om ’n meer suksesvolle verkoopspersoon te wees nie. Maar as jy iets ten duurste geleer het, kan jy dit net sowel deel met ander, reg?

______________________