Maandag 1 Januarie 2024

Ten spyte van halfhartige pogings om 2023 se Oujaarsaand meer opwindend te maak, was dit, soos die vorige jaar, ’n anti-klimaks.

Ons het afgegaan na die Love River, Kaohsiung se hoof waterweg wat eindig in die Seestraat van Taiwan. By die hoogs moderne musieksentrum by die seiljagklub het ’n paar verlore siele rond gesit en gestaan en gestaar na hulle fone. Anders as verlede jaar, was daar geen reuse skerm om ’n mens in te lig hoeveel sekondes jy oor het om wilde beloftes te maak, en te probeer verskonings uitdink hoekom jou beloftes 365 dae gelede nie heeltemal uitgewerk het nie.

Twintig minute voor die einde. Ek drink stadig aan my warm tee en eet ’n Portugese eiertertjie.

Vyftien minute oor. Tyd om vinnig te kyk wat aangaan op X/Twitter.

Nege minute. Nog ’n tertjie. Staan op en strek my bene. Resiteer weereens wat ek geformuleer het vir 2024.

Drie minute. Neem ’n paar foto’s.

“Hoe sal ek weet wanneer die countdown begin?” Vinnige Google search.

Paniek skop in: 32 sekondes voor die einde van die jaar. Twaalf sekondes. “Moet ek aftel?” Vier sekondes … Skermgreep …

Drietweeeennul …

“Wag! Ek was nie gereed nie! Niemand het afgetel nie! Waar’s die vuurwerke?!”

En net so, is een jaar verby en nog een het begin.

Omhels ’n bietjie. Stuur ’n paar boodskappe. Gooi die laaste tee in my keel af. Frommel die laaste tertkrummels in die papiertjie toe, en druk dit in my sak.

Terug na die bromponie. Terug werk toe.

’n Glorieryke, onvergeetlike jaar wag vir niemand nie.

Sondag 31 Desember 2023

Ek het nie hierdie jaar veel geskryf nie – minder as 2,000 woorde gepubliseer teenoor meer as 22,000 verlede jaar.

Een rede: Ek het gevoel dat ek gesê het wat ek wou sê.

Ek het in 2023 ’n paar gedagtes verwoord oor die lewe en die dood. Ten spyte daarvan dat die oorlog in Oekraïne steeds voortwoed, het ek nie veel bygevoeg tot wat ek verlede jaar gesê het nie. Daar was ook nie veel wat ek kon bylas oor my opinie oor die China-Taiwan vraagstuk nie. Ek was soos meeste mense geskok oor wat gebeur het in Israel op 7 Oktober, en het sedertdien met afgryse op sosiale media gevolg wat besig is om te gebeur in Gaza.

Ander nuus het gekom en gegaan.

Soos elke jaar, voorspel mense die einde van die wêreld in die nuwe jaar.

Soos elke jaar, sal hulle waarskynlik verkeerd wees.

Aan die ander van die spektrum voorspel sommige mense ’n goeie jaar – vir sommige mense.

Ekself is agnosties. En vol hoop.

Dalk sal dit blyk te wees ’n goeie tyd om dinge bymekaar te bring.

Verwag die ergste, maar hoop vir beter

MAANDAG 23 OKTOBER 2023

Wat doen jy as jy dink die kans is sterk dat die vrot vrugte die elektriese waaier gaan tref in die volgende twintig jaar?

Ontwikkel volhoubare stelsels om jouself so fiks en gesond as moontlik te hou.

Leer hoe om jou eie kos te kweek.

Leer nuwe vaardighede aan, en verskerp bestaande vaardighede. Leer die basiese woordeskat en sinstrukture van addisionele tale. Leer vaardighede aan wat waarde vir ander mense sal hê, ongeag of die “vrugte” die waaier tref, maar veral as dit tref.

As jy op bates in die wolk of op papier gaan vertrou, belê in goeie gesondheidsversekering.

Belê in klein items wat ruilwaarde sal hê, soos goue en silwer munte en ander trosse goud en silwer.

Ontwikkel nuwe verhoudings, en hou bestaande verhoudings gesond. Jy moet op iets staat maak.

WOENSDAG 25 OKTOBER 2023

Beste is om te hoop die vrugte tref nie die waaier nie. Niks sal maklik wees nie. Selfs al het jy honderde stukkies goud en silwer en ander juwele om te ruil vir kos en mediese sorg en so aan – hoe lank sal dit vat voor iemand besef jy verskyn elke paar weke met ’n waardevolle item, en jou volg terug na jou huis toe? Jy’t wapens waarmee jy indringers kan uithou? Hoe lank voordat mense wat nie wapens het nie, en wat weet wat hulle kan bekom as hulle ’n wapen teen iemand se kop kan druk, jou beroof van joune? Hoe lank voor mense jou groentetuin stroop?

Natuurlik moet jy voorberei vir meer as een toekomscenario. Maar moenie dink die zombie-apokalips sal ’n stappie in die park wees omdat jy ’n honderd goudmuntstukke in jou kluis het, ’n groentetuin in jou sitkamer, en ’n AK-47 langs jou bed nie.

______________________

Hoekom die waarheid nie ’n swart pil hoef te wees nie

VRYDAG 15 SEPTEMBER 2023

Weereens, waaroor gaan die lewe? Dis ’n stryd om oorlewing, en vir ’n mate van geluk om die stryd die moeite werd te maak. En op die ou end hoop jy dat jy nie ’n pynlike dood sterf nie. En wanneer jy dood is, sal ’n paar mense jou vir ’n tydperk mis, maar die res van die wêreld sal voortgaan asof jy nooit geleef het nie.

Hierdie is koue, harde feite.

Maar ’n mens is in die versoeking om te wonder of die pil nie ’n bietjie te swart is om te sluk nie.

Die sleutel is in die graad van geluk.

Daar’s ook verskillende grade van oorlewing. As jy optimisties is en glo aan die wye spektrum van moontlikhede beskikbaar om ’n goeie lewe te lei, kan jou oorlewing relatief gemaklik wees – van die kos waaraan jy smul drie tot vyf keer per dag, tot die drankies wat jy in jou keel afgooi, tot die beddegoed waaronder jy slaap, en die hoeveelheid tyd wat jy spandeer om die wêreld te verken en te spandeer met jou geliefdes en vriende.

Die kwaliteit van jou oorlewing dra ook by tot jou bewussyn van geluk.

En as jy ander mense bystaan in húlle stryd om oorlewing en húlle pogings om die lewe die moeite werd te maak, verhoog dit jou eie bewussyn van ’n lewe wat die moeite werd is om te leef.

Die einde is egter gewoonlik nie jou keuse nie.

Wat dit soveel belangriker maak om gelukkig te wees voor die einde aanbreek – stadig en uitmergelend, of genadig vinnig.

______________________

Lewe en dood – ’n reeks gedagtes

SONDAG 30 APRIL 2023

Twee dinge wat albei waar is:

’n Mens gaan nie so maklik dood nie.

Maar net soos dit, en jou lewe is verby.

* * *

Jy leef asof jy nié vandag gaan sterf nie. En tog kán jy vandag sterf.

Of, jy moet leef asof jy inderdaad vandag gaan sterf!

Maar as jy dit doen … het jy nie geld om môre kos te koop nie.

* * *

Die lewe is vieslik. Die lewe is mooi.

Die lewe is wreed … en vol genade.

Die lewe is voorspelbaar. En die volgende dag is jy weg.

* * *

Ons wat agterbly, moet voortgaan. Tot dit ons beurt is.

* * *

Dié wat nog lewe diskrimineer teen dié wat reeds ontslape is.

Die ontslapenes wéét wat dié wat nog leef, nié weet nie.

* * *

Lewe word aan ons geleen.

En wat geleen word, word uiteindelik teruggeëis.

(Opgedra aan ’n vriend)

______________________