Vele mense weet nie wat hulle doen met hulle lewens nie

DONDERDAG 4 SEPTEMBER 2025

Ek is 54 jaar oud. Ek is geseënd en bedonderd (kan nie sê vervloek nie) met die neiging om te besin oor my bestaan: Wat doen ek met my lewe? Hoe maak hierdie aktiwiteit deel uit van die groot geheel? Wat behoort ek te doen?

Ek het dit gedoen toe ek 24 was. Ek doen dit steeds.

So, wat doen ek?

Ek maak geld – om te oorleef en ’n relatief goeie lewenstandaard te handhaaf – niks fancy nie, maar ordentlik genoeg. Ek dink ook konstant aan maniere om my inkomste uit te brei, en dit deel te maak van ’n daaglikse roetine. Ek wil nie op die spreekwoordelike straat staan en hustle nie. Ek wil goed-geoliede, inkomste-genererende masjiene bedryf. Ek gee nie om om self agter die knoppies en skakelaars en hefbome te sit nie, maar my hoop is dat sommige van die masjiene uiteindelik outomaties sal funksioneer. Heelwat van my ure elke week, indien nie elke dag nie, word tans gespandeer nie aan die instandhouding van sulke masjiene nie, maar aan dink oor hoe ek sulke masjiene kan opbou – en natuurlik aan die actual opbou van die apparaat.

Ek het nodig om ’n honderd-miljoen dalers of so bymekaar te skraap sodat ons kan begin dink aan aftree oor so tien jaar. Wat sal aftrede beteken in 2036? Wie weet. Maar ek hoop dat ons in ’n veilige gemeenskap woonagtig sal wees; dat ons genoeg sal hê om te eet; dat ons ’n eenvoudige maar goeie leefstyl sal kan handhaaf; dat ons mediese sorg sal kan kry sonder om paniekerig te raak oor die koste; dat ons so nou en dan plaaslik kan reis, en so elke dan en wan ’n week of twee kan spandeer in ’n ander land. As ’n mens al hierdie dinge kan doen sonder ’n klein fortuin in 2036, fantasties. Indien nie, gaan ek en my lewensmaat heelwat meer geld moet spaar oor die volgende dekade as wat ons tans doen.

Dan, dinge wat verder strek as geld. Ek hoop om my huidige positiewe uitkyk en redelike goeie gesondheid te behou so lank as moontlik. Ek hoop om my lewensmaat by te staan in háár strewe om gelukkig en gesond te bly. En dan hoop ek om op my beskeie manier ’n bietjie kennis en insig te deel met wie ook al my pad kruis – en natuurlik ’n bietjie kennis en insig op te tel by hierdie individue. Ek hoop ook om ’n fasiliteerder te wees, op watse klein skaal ook al, van die prosesse waardeur ander mense die vermoë ontwikkel, of verfyn, om te oorleef en produktiewe en gelukkige lewens te lei.

Dit is waaroor my lewe gaan op Donderdag 4 September 2025. Tot ’n groot mate is dit die breë trekke van my hele volwasse bestaan – hoewel ek uit die aard van die saak dertig jaar gelede meer gedink het aan genoeg geld om “vry” te wees as om gemaklik af te tree.

Terug na die goed-geoliede, inkomste-genererende masjiene. Dit voel asof ek honderde stukke het op die vloer rondom my lessenaar, en op die rakke langs die lessenaar, en uitgepak in klein hopies bo-op my lessenaar. En ek het dosyne notas soos hierdie een wat probeer orde skep van die honderde onderdele, in allerlei “privaat” en “amptelike” Word dokumente. Ek het ook lyste.

Anyways, ek wou maar net sê vele mense weet nie wat hulle doen met hulle lewens nie. Sommige van die mense is 24. Sommige is 54. En ek is seker daarvan sommige van hulle is 64.

______________________

Dalk reg, maar nie eerlik nie

DINSDAG 10 JUNIE 2025

Ek skryf nie meer juis oor mense se godsdienstige oortuigings nie, maar ek het onlangs ’n gedagte gehad oor eerlikheid.

’n Paar weke gelede hoor ek ’n storie oor ’n man wat sy werk bedank het. Tydens ’n godsdienstige samekoms sê hy toe aan almal teenwoordig dat hy voortaan op God sal vertrou vir sy brood en botter. Iemand in die gemeente staan toe kort daarna op en verklaar dat hy ’n plaas het, en dat hy die beheer daarvan sal oorlaat aan die man wat nou sonder werk is.

“Prys die Here!” roep dosyne mense uit. God het voorsien.

’n Alternatiewe verklaring is dat dit in almal teenwoordig se belang is dat “God sal voorsien.” Die man wat die plaas besit het, het gedink: Ek het iemand nodig om die plaas te bestuur. Staan ek nou op en maak dit bekend, sal God tog voorsien het in die man se behoeftes.

Wat hy dalk nie sou gedink het nie, maar wat waar sou wees: Sy aansien in die geloofsgemeenskap sou ook styg, want hy sou gesien word as ’n “instrument in God se hande”.

Dis waar eerlikheid inkom.

Gestel ’n persoon wat identifiseer as Christen sê: “Ek sien wat jy bedoel. Dalk is dit net ’n geval van ’n groep mense wat wil hê dat sekere dinge waar moet wees, en dit is in hulle belang om dinge te doen wat die indruk sal skep dat dit waar is. Ek kan sien hoe dit so verstaan kan word. Nietemin, ek kies steeds om te glo dat God werklik voorsien het, en dat Hy deur die man met die plaas gewerk het.”

As so ’n persoon hierdie stelling maak, is die argument verby. Ek sal niks verder hê om by te voeg nie. Ek sal die man se hand skud, hom bedank vir sy eerlikheid, en hom ’n goeie lewe toewens.

Gestel nou so ’n persoon wat identifiseer as ’n Christen neem ’n ander posisie in, en hou vol dat dit God was wat voorsien het, en dat hy weier om enige ander moontlikheid in te sien.

Vir hierdie persoon sal ek sê: “Jy is dalk reg, maar jy is nie eerlik nie.”

______________________

Hoop vir ’n goeie en gelukkige lewe – selfs in Gaza

WOENSDAG 30 APRIL 2025

Doelwit: ’n Goeie en gelukkige lewe, nou. En ’n gemaklike aftrede en oudag later – indien ’n mens dit so ver maak.

Is dit nie waarvoor almal hoop nie?

“Nie mense in Gaza nie,” sal iemand sê. “Hulle hoop net vir vrede, en vir die bomme om te stop.”

Korrek, sal ek antwoord. Vir nou hoop hulle elke dag desperaat vir vrede en stilte, en vir kos en medisyne en ander voorrade om hulle te bereik. En om te kan begin om hulle huise en skole en hospitale en ander infrastruktuur te herbou.

Maar waarvoor sal hulle wens indien die psigoties-terroristiese Europese koloniale projek genaamd Israel uiteindelik verslaan word in hulle pogings om Palestyne uit te wis en hulle grond te steel? Waarvoor sal hulle hoop wanneer hulle huise en hospitale en skole en moskees en kerke herbou is?

Hulle sal heel waarskynlik hoop vir ’n goeie en gelukkige lewe, en ’n gemaklike aftrede en oudag, indien hulle lewens so ver strek.


Wat ek sê en wat ek doen

MAANDAG 14 APRIL 2025

As ek myself moes vra wat my primêre doelwit was die afgelope … sê, twintig jaar, sou ek gesê het dit is om geld te maak. Twintig jaar gelede was ek skielik nie meer alleen nie. ’n Jong vrou het besluit om ’n kans te vat op my, en ek moes haar ongelooflik optimistiese hoop regverdig.

Laaste ding wat ek wil doen, is om weer die leser te verveel met ’n lys van projekte en skemas waarmee ek gepoog het om geld te maak die afgelope twee dekades. Punt is, heelwat daarvan het niks te make gehad met kennis of insig versamel nie, en nog minder met kennis en insig deel met mense wat dit dalk nodig gehad het.

Nou, as ek klasgee, verduidelik ek nie net grammatika of woordeskat nie – ek gebruik elke geleentheid wat ek kry om ’n bietjie geskiedenis in te werk. Of ek probeer ’n nie-geykte opinie gee wanneer die gesprek gaan oor verhoudings, of ander aspekte van menslike bestaan waaroor ek dalk ’n intelligente gedagte gehad het in die verlede. Meeste van die materiaal wat ek sover geskep het vir ESL-studente, en die sosiale media materiaal wat ek deesdae publiseer, verklap die ambisie van die persoon agter dit om kennis te deel. (Natuurlik neem ek aan meeste mense weet nie reeds wat ek te vertelle het nie.)

Ander persoonlike projekte, soos Asian Histories of Listed History, en selfs Familiegeskiedenis, is nie juis veronderstel om geld te maak nie. Die ambisie was nog die heeltyd meer edel.

My primêre taak – by verstek, al dink ek nie elke dag so daaraan nie – is om kennis en insig te versamel. En as ek dan nog ’n brokkie kennis of insig bekom het, om dit te deel op ’n manier wat ’n bietjie anders is as die volgende versamelaar van kennis en insig, om sodoende dit hopelik ietwat makliker te maak vir die persoon wat die kennis en insig ontvang, om ’n gelukkiger en meer produktiewe bestaan te voer.

______________________

Oud, klein, magteloos, en useless

WOENSDAG 19 MAART 2025

Ek droom gisteraand ek moet instaan vir ’n onderwyser by ’n hoërskool. Ek vind myself omring deur honderde tieners.

Na ’n paar minute word ek geswendel uit my selfoon. Om een of ander rede word ek ook oorreed om my skoene uit te trek. Die skoene kry kort daarna voete.

Nou loop ek rond op my sokkies en vra rond oor my selfoon. Ek sê ek moet kontak maak met my familie in Suid-Afrika, en hoe kan ek dit doen as ek nie my foon het nie.

Ek word geïgnoreer, en elke nou en dan uitgelag deur groepies tieners wat orals rondstaan.

Na ’n verwarrende uur waar ek verlore ronddrentel tussen wat nou voel soos duisende tieners, help iemand my om my foon op te spoor. Al die telefoonnommers en WhatsApp boodskappe en so aan is afgevee.

Ek kry steeds nie my skoene nie.

Twee jong dames wat verantwoordelik was vir die verdwyning van my foon, probeer verduidelik dat húlle lewens ook nie maklik is nie.

Nie net het ek geen simpatie met hulle nie, maar ek het die sterk begeerte om hulle ’n vroeë dood toe te wens. (Neem in ag dat ek nie bewustelik hierdie gedagtes gedink het nie. Nietemin, die volle gedagte was dat ek aan die tieners nie net ’n vroeë dood wou toewens nie, maar ’n pynvolle vroeë dood.)

Ek word wakker met ’n hoofpyn. Ek dink: Wat ’n nagmerrie.

Die gevoel wat druk selfs nadat ek my kop opgelig het, is dat ek oud is, en klein, en magteloos, en useless.

(Roffel die tromme vir ’n Grok-geskepte prentjie van ’n gelukkige, glimlaggende, bleskop, middeljarige man.)

______________________