Wat is jou reisfilosofie?

DONDERDAG 15 FEBRUARIE 2024

Jy word gebore as deel van ander mense se lewensreis.

Teen die tyd wat jy ’n bewussyn ontwikkel van wat aangaan, is jou eie reis reeds ’n geruime tyd aan die gang.

Wat is die punt? Wat is jou doelwit? Hoekom gaan jy voort met die reis? Wat is jou reisfilosofie?

Maak jou reis so pynloos en gelukkig as moontlik. As jy een ander persoon se reis, of etlike ander mense se reise, ook minder pynvol kan maak, gemakliker, en gelukkiger, dan is dit ook goed so – en sal waarskynlik jou eie reis meer die moeite werd maak.

(Terloops, gelukkige 20-jaar herdenking van die eerste keer toe ek hierdie presiese gedagte geformuleer het.)

______________________

Lewe en dood – ’n reeks gedagtes

SONDAG 30 APRIL 2023

Twee dinge wat albei waar is:

’n Mens gaan nie so maklik dood nie.

Maar net soos dit, en jou lewe is verby.

* * *

Jy leef asof jy nié vandag gaan sterf nie. En tog kán jy vandag sterf.

Of, jy moet leef asof jy inderdaad vandag gaan sterf!

Maar as jy dit doen … het jy nie geld om môre kos te koop nie.

* * *

Die lewe is vieslik. Die lewe is mooi.

Die lewe is wreed … en vol genade.

Die lewe is voorspelbaar. En die volgende dag is jy weg.

* * *

Ons wat agterbly, moet voortgaan. Tot dit ons beurt is.

* * *

Dié wat nog lewe diskrimineer teen dié wat reeds ontslape is.

Die ontslapenes wéét wat dié wat nog leef, nié weet nie.

* * *

Lewe word aan ons geleen.

En wat geleen word, word uiteindelik teruggeëis.

(Opgedra aan ’n vriend)

______________________

Alternatiewe lewenspaaie het gekruis vir my in 1995

MAANDAG 18 JULIE 2022

Toe ek in Maart 1995 Europa toegegaan het, het ek net genoeg geld gehad vir omtrent twee weke se goedkoop akkommodasie.

Ek het geland by Orly lughawe, omtrent tien kilometer suid van een van die mooiste stede in Europa – Parys. Dit was aan die begin van Maart, so toe ek uit die Kaap weg is, was dit nog warm genoeg vir ’n kortbroek en T-hemp. Die oomblik toe ek uit die vliegtuig klim en die 2º Celsius lug my gesig tref, het ek gedink ek gaan dood vries nog voor ek die Eiffeltoring gesien het.

Oorblyfsel van ’n vliegtuigkaartjie

Ek het ’n bus gevat stad toe. Uit die venster het ek karikature van Frankryk gesien: ’n man met ’n vet snor met ’n baguette onder sy arm; ’n taxibestuurder met ’n vet snor wat met oordrewe handgebare verduidelik dat die man in ’n ander kar verkeerd was; ’n aantreklike vrou in ’n bloedrooi rok en los, golwende hare, wat ek seker was na parfuum geruik het.

Ek het uitgeklim toe ek gereken het ons min of meer in die middestad was. Die bushalte was ’n paar blokke van die Seine af, en aan die ander kant van ’n groot park was die Les Invalides – waar ek ’n paar dae later ’n loopgraafjas sou sien met moddervlekke van die Eerste Wêreldoorlog.

Uitsig van die woonstel af

Ek het op ’n bankie langs die bushalte gaan sit en ’n Paul Revere gerook, en myself hoogs gelukkig geag.

Toe het ek begin soek na my blyplek – ’n een slaapkamer woonstel van ’n kennis van hoërskool. Al leidrade wat ek gehad het, was die kriptiese notas van ’n gemeenskaplike vriend wat ’n jaar tevore daar oornag het. Dit het my omtrent sewe ure gevat om dit op te spoor. Teen laatmiddag het ek my eerste frank gespandeer by ’n supermark in die buurt – op ’n stuk kaas, ’n pak macaroni, en twee blikkies Tsjeggiese bier.

Bron van kaas en goedkoop bier

Die eerste week was ek alleen in die woonstel. Ek het elke dag kilometers ver gestap – na die Eiffeltoring toe, na die Place de la Concorde, na die Père Lachaise begraafplaas, na die Moulin Rouge, en op en af die Champs-Elysées. Ek het ook een dag die trein gevat uit die stad uit na die paleis in Versailles – ’n definitiewe hoogtepunt.

Kennis se woonstel in Parys

Aan die einde van die week het my kennis teruggekom. Ek het nog ’n paar dae gebly, en toe ’n buskaartjie gekoop Amsterdam toe. Hier het ek die Anne Frank Huis besoek … en nie die Van Gogh Museum nie omdat dit te duur was.

Die plan was van die begin af dat ek een of ander werk moes kry om myself aan die lewe te hou en elke nou en dan interessante plekke te besoek. In Parys was dit nie moontlik nie vanweë die taal. In Amsterdam het ek na ’n McDonald’s toe gegaan en gevra oor werk. Die aansoekvorm het aangedui dat indien ek nie ’n burger was nie (bedoelende van die land, nie die tipe wat ’n mens eet nie), ek moes kon bewys dat ek ’n vlugteling was. Ek het ook ontmoet met die seun van ’n vriend van ’n professor van universiteit. Hy’t vae idees gehad oor klop aan deure om jou dienste aan te bied as skoonmaker, of so iets.

Volgende stop, Londen: Die hoofstad van onwettige werk vir enige iemand van enige plek in die wêreld. Ek het ’n bed gekry in ’n kamer saam met ses of sewe ander mans in ’n klein hotelletjie nie ver van Victoria Stasie af nie. Vinnig vriende gemaak en rondgeloop vir ’n paar dae – ’n foto laat neem van myself met Tower Bridge in die agtergrond, en die Imperial War Museum en die Britse Museum besoek, maar nie juis werk gesoek nie. Een aand op die nuus was daar ’n item oor ’n man van Nigerië wat onwettig gewerk het. Die polisie het hom kom soek waar hy gewoon het. Hy’t geskrik, by die venster uitgespring, en homself doodgeval. ’n Ander Suid-Afrikaner wat ook in die hotel gebly het, het gepraat van konstruksiewerk, en dat dit help as jy ’n werkvakansie permit het.

Hotel in Londen
Brug met toeris op ’n sonnige dag in Londen

Vriende van my het die vorige jaar ses maande in Brittanje spandeer op werkvakansie permitte. Geen verrassing dat dit na ’n aantrekliker opsie gelyk het as om vir die polisie te vlug nie.

Rooiligbuurt in Amsterdam

Ek het besluit om terug te gaan Amsterdam toe, vanwaar my vlug bespreek was terug Suid-Afrika toe – eintlik eers maande later, maar ek kon dit verander. Iemand het gepraat van goedkoop jeughostelle in die rooiligbuurt waar ’n mens gratis bed en ontbyt kan kry as jy help skoonmaak en wasgoed was. Ek het plek gekry in ’n hostel in ’n kamer wat geruik het na stink sokkies en ongewaste lywe. Ek het navraag gedoen oor werk, en hulle het gesê hulle sal dink daaroor (om te kyk of jy betroubaar is, het ek later verneem). Ek het egter net genoeg geld oorgehad vir ’n paar dae, so op die derde dag het ek die lugdiens gebel en plek bespreek op die vroegste vlug terug Suid-Afrika toe. ’n Dag voor ek sou vlieg, lig die bestuurder my in dat hulle van my dienste gebruik kan maak as ek nog belangstel. Ek het egter teen daai tyd minder as die ekwivalent van tien euro oorgehad.

Hande in die sak, maar platsak

Natuurlik dink ek vandag terug aan geleenthede wat ek nie aangegryp het nie. Hoekom het ek nie aansoek gedoen vir ’n werkspermit voor ek gegaan het nie, siende dat ek goed geweet het watse voordele dit sou inhou? Feit is, ek het probeer, maar die reisagent het gesê dit sal iets soos twee weke vat, en ek het nie twee weke gehad nie. Eers later het ek uitgevind dit vat net ’n dag of twee. Die twee weke in Parys, al het ek nie betaal vir verblyf nie, het ook geëet in my finansies in. Hoekom het ek nie in die eerste week in Amsterdam uitgevind oor die gratis bed-en-ontbyt as jy werk by die plek nie? Weet nie. Hoekom het ek nie meer aktief rondgevra in Londen vir geleenthede nie? Gebrek aan selfvertroue? Gebrek aan motivering? Die man wat na sy dood gespring het, sou seker op enige iemand ’n indruk gemaak het, maar daar was tog immers duisende ander mense wat onwettig gewerk het in Londen of elders op die eilande. En hoekom nie tog die werk vat in die hostel en kyk of ek oorleef vir ’n paar weke tot iets anders gebeur nie? Seker gedink my plan om terug te gaan Suid-Afrika toe, aansoek te doen vir ’n werkspermit, en dan terug te kom was meer sinvol. En veiliger.

Vriende gemaak op ’n servet

Sou dit gehelp het as ek ’n maat gehad het daar wat gesê het: “Kom ons doen dit! Kom ons vat ’n kans!”?

Ja, dit sou ’n verskil gemaak het.

’n Paar weke nadat ek terug was in Suid-Afrika, hét ek aansoek gedoen vir ’n werkspermit, en dit gekry. Pragtig het dit gepryk in my paspoort vir ses maande, en toe verval. Nooit genoeg geld bymekaar gemaak vir ’n tweede vliegkaartjie Europa toe nie.

Net mooi in die tyd wat die werkspermit verval het (einde 1995), het ek ’n advertensie gesien vir “Teaching in Korea” in die Cape Times. Wat daarna gebeur het, is die tydlyn van my werklike lewe die afgelope kwarteeu.

Hoeveel alternatiewe tydlyne het nie in daai paar maande van 1995 kruis en dwars oor mekaar geloop nie?

Kan ’n mens sê met sekerheid dat alles anders sou uitgewerk het as jy een ding verander het jare gelede, ja gesê het vir iets, nee gesê het vir iets anders, ’n later vlug gevat het, ’n ander rigting gestap het, ’n groter kans gewaag het? Wil jy hê dat dinge anders moes uitgewerk het?

Ek is gelukkig met my huidige lewe, en met hoe my lewe verloop het die laaste 27 jare. Maar sou ek my oë toemaak en die alternatiewe lyne word aan my ontbloot, sien ek ’n interessanter lewe as die een wat ek geleef het? Sou dit meer droom gewees het as nagmerrie, of andersom?

______________________

Persoonlike Agenda, Boek Twee: Inleiding

Deel een: Opsies vir die jong volwassene

Middelklas Suid-Afrikaners het in die laaste halfeeu of so met groot entoesiasme ’n hoeksteen van die geïndustrialiseerde wêreld omhels: die Vaste Betrekking. Die idee is om klaar te maak met hoërskool en dan deur tersiêre studie en/of praktiese ondervinding jouself te kwalifiseer vir ’n beroep. Na die suksesvolle afhandeling van hierdie opleidingsfase – gewoonlik as die jong volwassene in sy of haar vroeë twintigs is – dan dikteer die reëlboek dat die jong gegradueerde of pas gekwalifiseerde ’n frenetiese soektog moet begin na ’n geleentheid om arbeid te verrig en geld te verdien – en hoe vaster die geleentheid, hoe beter.

Die stabiele inkomste wat ’n vaste betrekking aan ’n jong volwassene sal gee, sal die enkellopende man of vrou finansieel onafhanklik maak van hul families; indien hulle dit so verkies, sal dit ook die jong volwassene in staat stel om in die huwelik te tree. Status in die gemeenskap, jaarlikse verhogings, professionele bevordering, en ander byvoordele van ’n vaste betrekking soos ’n mediese fonds, sal die jong getroude paartjie in staat stel om ’n gesin te begin, en ’n goeie, stabiele lewe te verseker vir hulleself en hul onmiddellike nageslag.

Natuurlik is ’n vaste betrekking nie vir almal wat dit begeer, beskore nie. Ekonomiese realiteit, en ander faktore maak dit soms onmoontlik vir almal om matriek te behaal, wat nog te sê van om ’n tersiêre kwalifikasie te bekom. Die idee van die vaste betrekking bly egter die ideaal, selfs in hierdie gevalle.

Een alternatief vir die vaste betrekking is om jou eie besigheid te begin. Selfs al sou jong volwassenes wat talent vertoon as entrepreneurs se ouers graag wou hê dat hulle een of ander tersiêre kwalifikasie moes behaal – miskien om op “terug te val” – sal ’n entrepreneur sy vryheid van die konvensionele pad kan koop met harde kontant wat gegenereer word uit sy eie besigheid. Laasgenoemde mag enige iets wees van professionele tuindienste, tot ’n reeks pizza restaurante, of die maak van tuinstoele en -tafels. Solank as wat so ’n besigheid aan die entrepreneur ’n gereelde inkomste gee, en hy derhalwe kan bewys dat hy nie net vir homself nie, maar ook op die langtermyn vir die welsyn van ’n gesin mede-verantwoordelikheid kan aanvaar, sal wat hy doen goedkeuring en selfs respek van sy familie ontvang.

Talent, persoonlikheid, oortuigings – godsdienstig of polities, of ’n kombinasie van motiverings dryf sommige jong volwassenes egter daartoe om hulle dae te vul met werk wat nie noodwendig ’n inkomste genereer nie. Een voorbeeld wat genoem kan word is die musikant wat net genoeg geld verdien om vir ’n kamer in ’n losieshuis te betaal, en wat gereeld in argumente betrokke raak met sy familie omdat hy nooit vir hulle kan verduidelik hoe hy eendag ’n gesin gaan onderhou nie. ’n Ander voorbeeld is die sendeling, wat teen karige betaling die Evangelie verkondig vir maande op ’n slag in soms eksotiese lande ver van die huis af. Laasgenoemde kan ten minste nog hoop op ’n bietjie simpatie as hy met ’n ou bakkie rondry, en nie geld het om by duur restaurante te eet nie. Hy kan sy finansiële situasie regverdig omdat wat hy doen, gesien word as selfopoffering vir ’n Goeie Saak.

Deel twee: Die skrywer, geloof, en die vaste betrekking

Dit bring ons by die skrywer van hierdie materiaal. ’n Musikant sou hy graag wou wees, maar die enkele musiekinstrumente wat hy besit, vergaar vinniger stof as ’n skrynwerker se tafel. Entrepreneurswese, aan die ander kant, is iets wat hy altyd geassosieer het met ’n Saterdagmiddag in 1985 buite die destydse Loftus Versfeld, met hom wat besig was om worsrolletjies te verkoop vir die koffers van die Christelike Jeugvereniging. Sy opinie van hierdie alternatief tot ’n vaste betrekking het egter in die laaste paar jare meer gesofistikeerd geraak, en hy’t selfs boeke en ander leesmateriaal begin aanskaf om homself uiteindelik suksesvol te kan voordoen as ’n smous van enige iets wat geld kan maak.

Dit moet ook genoem word dat die skrywer in sy jeug sekere godsdienstige oortuigings baie ernstig opgeneem het. (Om watter ander rede sou hy worsrolletjies wou verkwansel op ’n middag wat al die ander mense in die omgewing rugby wou kyk?) Sekere persoonlikheidstrekke, en sy erns met kerklike leerstellings het sy familie laat glo dat hy moontlik nie bestem was vir enige iets in die wêreld van geld en besigheid nie. ’n Predikant miskien, of ’n sendeling, is daar gefluister.

Helaas, geld vir die luuksheid van ses jaar se teologiese studie om uiteindelik ’n vaste betrekking in die Kerk te aanvaar, was daar nie. En so het die skrywer die tweede beste opsie uitgeoefen – hy’t onderwys gaan studeer.

Sy belangstelling in teologie en sy erns met godsdienstige leerstellings is egter nooit oorskadu deur die realiteite van die grootmenswêreld nie. Toe hy vakke moes kies vir sy Baccalaureus graad in die kunste, het hy Bybelkunde (later Godsdienskunde) gekies eerder as ’n vak wat hom ’n beter kans sou gee op ’n vaste betrekking in die onderwys. Vir die volgende paar jare was sy belangstelling toenemend gefokus op teologiese studie – dat hy eintlik besig was om onderwys te studeer, was net van akademiese waarde.

Teen die tyd wat hy uiteindelik by die Diploma vir Hoër Onderwys gekom het, het sy godsdienstige oortuigings egter ’n transformasie ondergaan. Hy het in groot opregtheid vrae begin vra wat sy ouers, en enige skoolhoof, sou verkies het hy eerder nie moes uiter nie. Oor die bestaan van die god aan wie hy voorheen sy lewe wou toewy, was hy nou onseker. Teen die formele dogma van die kerk waarin hy gedoop en aangeneem is, het hy lang argumente afgesteek.

Hy het nietemin voortgegaan om die “ware doel en betekenis” van sy eie lewe te ondersoek. In die proses het hy enige sekerheid wat hy ooit voorheen gehad het oor wat dit beteken om ’n mens te wees, verloor. Hy het ook begin om aantekeninge te maak oor sy opinies, en oor die vrae wat hom gepla het.

Die skrywer se lewe het hierdie rampspoedige fase getref presies op die tyd wat hy veronderstel was om sy skoene te poets vir sy eerste poging tot ’n vaste betrekking.

Ernstige student soos die skrywer was, het hy op hierdie stadium reeds twee grade en ’n diploma verwerf. Dit sou dus sin maak vir hom om, soos dit ’n persoon betaam wat oor sulke kwalifikasies beskik, te probeer om ’n onderwyspos êrens los te slaan. Enige iets tydelik sou hom op die regte spoor plaas. As hy gelukkig was, en hy kon homself sover bring om ’n toegewyde onderwyser te wees, kon hy moontlik binne ’n dekade die mees gesogte prys toeëien wat enige jong onderwyser kan begeer: ’n vaste betrekking.

Wat het die jong, pas gekwalifiseerde onderwyser-skrywer gedoen? Het hy, soos sy maats in die Fakulteit Onderwys, die kennisgewingbord met skrefiesoë gefynkam vir ’n moontlike betrekking? Het hy navraag gedoen by plaaslike skole? Het hy ten minste ’n Curriculum Vitae opgestel, om aan enige skoolhoof wat daarna kyk ’n idee te gee van watse lojale en bekwame onderwyser hy kan wees? Nee. Wat hy wel gedoen het, was om sy hare te laat groei, en ’n gat in sy een oorlel te laat skiet waarin hy ’n silwer son gedruk het. En dit was die einde van sy onmiddellike kanse op ’n vaste betrekking …

Geld moes egter verdien word, dit sou hy geweet het selfs al het sy ouers en sy meer verantwoordelike ouer suster nooit die onderwerp aangeroer nie. “Wat gaan jy doen met jou lewe?”, “Wat is jou planne?” en “Hoe beplan jy om geld te verdien?” was vrae wat niemand werklik nodig gehad het om hom te vra nie. Tesame met al die vrae oor die bestaan van God, die doel en betekenis van sy lewe, en die vraag na wát presies die mens is, moes hy ook die vraag kontempleer oor waar in die arbeidsmark hy ’n begin gaan maak wat moontlik, na die verloop van tyd, mag lei tot ’n stabiele, besoldigde posisie. Want behalwe vir die geldaspek, moes hy ten minste probeer om in te pas, miskien ’n vrou te vind, en – wie weet? – dalk selfs ’n motorkar aan te skaf wat verder as die naaste dorp kon ry.

Oor die volgende paar jare het die skrywer probeer om ’n middeweg te vind in plekke soos Korea en Johannesburg, en uiteindelik, Taiwan. Hoe kon hy al die vrae beantwoord wat hom soos besete honde jaag, en terselfdertyd geld verdien? Hoe kon hy homself verbind aan iets wat aan hom ’n gereelde inkomste gee, terwyl hy terselfdertyd oortuig kon wees van die feit dat hy nie sy lewe mors in die oënskynlik eindelose stryd om oorlewing, en miskien ’n greintjie materiële gemak nie?

Die jong seun wat in groot erns gebid en getrou sy Bybel bestudeer het, het as ’n jong volwassene afstand gedoen van sy geloof in die leerstellings van die Kerk. Maar hierdie jong seun het ook ’n man geword wat steeds oortuig was daarvan dat hy “meer” moes doen met sy lewe as “net” geld maak.

As hy ’n sendeling geword het vir die Christelike boodskap, kon hy nog ’n beroep gedoen het op die ondersteuning van ’n Hoër Hand. Hy kon mooi Bybelversies aangehaal het in sy argumente oor hoekom hy nie ’n vaste betrekking wil, of kan, aanvaar in ’n maatskappy wat ingestel is op winsbejag nie. Hy kon aanspraak maak daarop dat hy ’n Goeie Saak dien, en saam met sy familie bid vir begrip – en finansiële ondersteuning.

Die werklikheid vir die skrywer was egter dat hy ’n toenemend persoonlike agenda begin dien het. Na ’n paar jaar het hy nie werklik meer omgegee as mense hom eiesinnig, verwaand en selfsugtig genoem het nie. Hy wou doen wat hý wou doen; basta met die res.

Behalwe dat hy sy familie baie gemis het, en steeds graag die basiese vertroosting van sy eie gesin eendag sou wou geniet, het hy geweet dat sy lewe in selfopgelegde ballingskap in die Verre Ooste hom sekere geleenthede gebied het wat hy nie in sy eie land as vanselfsprekend kon aanvaar nie. Hy’t tyd gehad om dae en nagte lank die vrae te kontempleer wat hom na al die jare steeds gepla het; hy kon ook met ’n paar Engelse klasse elke dag genoeg kapitaal verdien om aan sy familie (en aan die bank) te wys dat hy die hele geld-verdien-storie ernstig opneem, soos dit ’n verantwoordelike volwassene betaam.

Hy het egter geweet dat selfopgelegde sosio-ekonomiese ballingskap uit die land van sy geboorte nie volhoubaar is nie. Hy moes een of ander tyd terugkeer, ongeag hoeveel vrae onbeantwoord sou bly, en ongeag die implikasies van so ’n aksie vir sy finansiële en sosiale status.

Soos die tyd aangestap het, het hy ook toenemend oortuig geraak van sekere dinge wat hom tot ’n mate herinner het aan die leerstellings wat hy jare tevore verwerp het.

Dit was sekerlik so dat hy dit geniet het om te skryf, dat dit ’n goeie manier was om tred te hou met sy eie gedagtes, en ook dat hy sy eie vrese en ambisies op so ’n wyse kon verduidelik aan sy familie en enige iemand anders wat moontlik sou belangstel. In die jare sedert hy begin dink het aan homself as ’n “skrywer” het hy meermale probeer om materiaal te produseer wat van ’n kommersiële aard was. Hetsy kortverhale of artikels, hy het geglo dat hy moontlik op hierdie manier die kloof tussen sy persoonlike agenda en die ekonomiese realiteite van die moderne wêreld kon oorbrug. Hy kon egter nooit lank genoeg konsentreer op fiktiewe karakters, of relase oor nagmarkte om ’n beroep as ’n inkomste genererende skrywer van die grond af te kry nie. In stede daarvan het hy aanhou opstelle skryf oor sy eie lewe, oor die vrae wat hom pla, die emosionele armsaligheid van sy lewe in “ballingskap” en die potensieel noodlottige implikasies van ’n ontydige terugkeer na sy geboorteland.

Daar was egter meer agter sy skrywery as net ’n goeie argument, of ’n poging om iets na te laat wanneer alles verby is. Hy het nie net geskryf vir sy eie vermaak, of vir die vermaak van ander nie. Hierdie voormalige kind van die Hervormde Kerk, van Bybelstudie en gebedskringe, was besig om meer te doen as om net sy persoonlike agenda te verwoord – hy was besig om te preek. Dat hy dit gedoen het in sy eie woorde, gekleur in die skadu’s van sy eie politiek en gemotiveer deur sy eie onsekerhede en vrese, het niks weggevat van die feit dat wat hy skryf, toenemend begin lyk het soos ’n boodskap nie.

Hy wou nie net vertel van sy eie lewe nie (wat maar bra vervelig was op die beste van tye), en hy wou nie net meer hê dat sy familie moes verstaan hoekom hy nog steeds nie die moontlikheid wil oorweeg van ’n vaste betrekking in sy eie land nie. Hy wou verkondig wat hy in sy eenvoudige begrip as verkeerd geag het in die moderne wêreld. Hy wou verkondig wat hy geglo het gedoen kon word om die situasie te verbeter. Hy wou preek vir mense wat hy glo nie altyd die beste keuses maak onder die beskikbare moontlikhede nie. Hy wou bekend maak aan ander wat ook wonder – en wonder almal nie aan die einde nie? – dat hy al ’n bietjie hierdie sake oordink het, en dat dít is hoe hy reken dinge staan, al stem mense nie noodwendig saam met hom nie.

Hierdie kind van ’n soort van middelklas Afrikaner familie wou, na vele jare, sy eie visie verkondig van ’n beter lewe vir almal wat dit begeer.

Het die Skrywer dus, uiteindelik, ’n Sendeling geword vir ’n Goeie Saak? Al hoes en proes hy soms in ’n taal wat nie heeltemal kerklik is nie. Al weet hy nie aldag wie die Baas van die Goeie Saak is nie. Al raak mense helfte van die tyd aan die slaap met sy skryfmateriaal in hulle hande. Al het hy nog steeds nie uitgewerk hoe hy gaan opmaak vir die feit dat hy nie wíl, of kán soek vir ’n vaste betrekking nie. En al mag dit hom twintig jaar vat voordat hy die basiese vreugde en vertroosting van sy eie gesin kan geniet.

Deel drie: Administrasie

Hierdie is dan, soos jy sekerlik kon aflei, die begin van BOEK TWEE. Die hoofprotagonis van die eerste boek is weer aan die woord – en genoeg woorde, soos dit geblyk het, om ’n tweede boek te regverdig.

Die “verhaal” word hervat vanaf die eerste deel van Mei 2003, kort nadat ek BOEK EEN afgehandel het. Soos met die eerste boek, is die materiaal merendeels in chronologiese volgorde.

Dit moet ook genoem word dat hierdie tweede boek ’n ander tipe skryfproses as die eerste volume behels het. Teen Mei 2003 was ek deeglik bewus van die feit dat wanneer ek iets skryf, ek die versoeking moontlik nie gaan weerstaan om dit in te sluit by my “projek” nie. Dit het egter nie die integriteit van wat ek geskryf het, geaffekteer nie. Siende dat ek steeds nie seker was (en is) of hierdie projek ooit geborg sal word deur ’n kommersiële uitgewer nie, het ek geweet ek kan maar skryf wat ek wil, en op wyses wat ek ag as mees geskik vir die spesifieke inhoud. Hierdie benadering was versterk deur my oortuiging dat die eerlikheid en integriteit van die materiaal veel belangriker is as enige monetêre beloning wat ek ooit daarvoor mag ontvang. Sou hierdie projek dus ooit gepubliseer word (spesifiek deur ’n kommersiële uitgewer), sal ek kan bevestig dat hierdie teks nie geskryf was op ’n wyse wat dit meer publiseerbaar sou maak nie. En as dit nooit gepubliseer word nie, dan kan ek net my skouers optrek en verklaar dat ek ten minste gesê het wat ek wou sê.

Net nog ’n paar laaste opmerkings oor die inhoud, en die potensiële waarde daarvan vir jou as leser. Die materiaal is selfgesentreerd, dit erken ek. Hierdie boek gaan hoofsaaklik oor een persoon, oor sy werklikheidservaring, en oor hoe hy die lewe sien. Die potensiële waarde vir jou as leser lê daarin dat dit jou dalk sal laat wonder oor die keuses wat jy gemaak het in jou eie lewe, of oor keuses wat jy op die oomblik kontempleer. Dit is verder my opregte wens dat as jy nie saamstem met van die opinies in hierdie boek nie, jy sal poog om die redes daarvoor te verwoord. En as jy wel saamstem, ook goed so (weereens sal dit ideaal wees as jy weet hoekom). Hierdie projek is duidelik geen Stephen King riller of Dalene Mathee epic nie. Troos jouself dus as jy deur die soveelste stuk gegaap het: as die dobbelsteen anders geval het, het jý dalk hierdie boek geskryf.

Brand Smit

Dinsdag 6 Januarie 2004

______________________

Die laaste ballingskap

Dis Maandag 22 Desember 2003, sewe minute oor twaalf in die middag. Ek het so ’n uur gelede opgestaan, ontbyt geëet, en gelees oor die verhouding tussen Rusland en Europa tot en met 1856. Toe het ek my wasgoed versorg, my skottelgoed gewas, my tande geborsel, en die rekenaar aangesit. Eers het ek die woorde getel van twee stukke wat ek verlede week geskryf het, en toe ’n FreeCell game begin speel. Laasgenoemde het te ingewikkeld geraak, en ek reken toe ek skryf eerder hierdie stuk oor die veranderinge wat in die nuwe jaar aangebring moet word in my lewe.

Eintlik wou ek net ’n paar dinge neersit op papier, en ek was lus om eerder te tik as om te skryf. My voorneme was spesifiek om nié ’n stuk te skryf nie – ek wou net my gedagtes agtermekaar kry.

Die oomblik toe ek die eerste sin tik, het ek egter geweet wat kom. Hierdie tipe van stukke is hoe ek myself uitdruk deesdae. Ek kan myself nie meer help nie. Ek gaan sit agter die rekenaar om net ’n onskuldige nota aan myself te skryf, maar as ek weer sien, het DIE SKRYWER my onbeleefd van die stoel afgestoot, my stuk gekaap, en sy twee vet middelvingers manies oor die sleutels begin gooi.


My planne wissel tussen twee pole. Aan die een kant is ek desperaat om einde Februarie volgende jaar terug te gaan Suid-Afrika toe; aan die ander kant wil ek nog sewe jaar in die Ooste bly. Tussen hierdie twee ekstreme lê al my begeertes, my vrese, my belangstellings, en my hoop vir ’n lewe wat beter is as die een wat ek nou my eie noem.

Ek moet myself egter dwing om ’n paar feite in die gesig te staar: a) Ek is nie meer 25 nie. b) My probleem met ’n vaste betrekking by ’n instelling of korporasie in my geboorteland is teen hierdie tyd goed gedokumenteer. Feit bly egter staan dat ek geld nodig het om te oorleef en planne uit te voer, en ek het nodig om stappe te neem om te verseker dat ek oor – wie weet? – die volgende veertig jaar kan voortgaan om kos te koop. c) My groot droom is ’n drie slaapkamer huis met ’n tuin en ’n lappie gras, in ’n stil voorstedelike area of in ’n groterige dorp in Suid-Afrika (die land waar ek gebore is en grootgeword het anders het ek hierdie boek in Frans of Duits geskryf en was my naam Dieter of Pascal).

Natuurlik is dit nie goed genoeg om net te jy wil ’n drie slaapkamer huis hê nie. Natuurlik moet ek bepaalde stappe neem om so ’n huis te bekom. Maar soms voel ek asof hierdie dinge alles vooraf bepaal word, en as dit nie in jou kaarte is nie, kan jy maar probeer tot jy blou in die gesig is. As dit dus in jou teeblare sê, “Woonstel in Kowloon tot jy doodgaan van eensaamheid,” gaan dit nie help as jy in desperaatheid terug gil, “Drie slaapkamer huis in stillerige dorp!” nie.

Dit help gewoonlik as my gedagtes sulke rigtings in donder diep in die nag, wanneer ek in elk geval oorweeg het om te gaan lê vir ’n paar ure.

Vanoggend staan ek toe op, en na my gebruiklike stukkie geskiedenis (die ongemaklike verhouding tussen Rusland en Europa tot en met 1905), besluit ek toe dat net omdat ek blykbaar nie meer ’n sosialis kan wees nie, dit nie beteken dat ek nie deur die gebruik van rasionele denke en aksie my eie maatskaplike stelsel, en gepaardgaande verhoudings kan bewerkstellig nie. Wat ’n omslagtige manier is om te sê dat ek nie glo ek noodwendig gedoem is tot ’n eensame bestaan op ’n subtropiese eiland in Noordoos-Asië nie.

Maar beteken dit ek kan volgende Februarie – oor bietjie meer as twee maande – teruggaan Suid-Afrika toe? Kan ek in die ry gaan staan vir ’n drie slaapkamer huis in ’n stillerige dorp of voorstad? Duidelik nie.

Die ander dag is ek weer herinner daaraan dat ’n mens geduldig moet wees. Goed en wel om dinge te wil uitsorteer en om antwoorde te soek, maar antwoorde val nie voor jou voete neer net omdat jy ’n slim vraag gevra het nie. So ook met ons ambisies. Net omdat ek na al die jare die woorde “drie slaapkamer huis in ’n stil area” kan prewel sonder om te dink ek verloën myself, is nie te sê dat ek al klaar een toilet en ’n halwe slaapkamer agter my naam kan skryf nie.

So kan ek aankarring en al in die rondte bly dans, vertel van hoe ek ’n sigaret gerook het, gedagtes op die trein gehad het oor die mooi berge, uiteindelik my telefoonrekening gaan betaal het, en huis toe gekom het om verder te skryf aan hierdie stuk. Die intelligente leser kan sekerlik raai wat volgende gaan kom: Ek het ’n plan nodig.

* * *

Ek reken nou al vir jare dat hierdie beroep van om Oosterse kinders die lingua franca van die wêreld te leer, beter is as om strate te vee, of om papiere op ’n kantoorlessenaar rond te skuif. Ek weet ook dat dit jou siel kan uitdroog van verveling.

Verder het dit nie my aandag ontglip dat die tye wat ek die gelukkigste was die afgelope paar jare, die tye was wat ek net twee of drie ure per dag moes spandeer om geld te maak nie, met die res van die tyd agter my rekenaar besig met my eie projekte.

Wanneer ek wel ’n uur of wat in ’n klaskamer spandeer en kontant kort daarna hande verruil, kan ek nie die implikasie ignoreer nie: Om ’n Expat English Teacher te wees in Taiwan is ideaal vir mense met onopgeloste issues wat veroorsaak dat hulle nie vrede kan vind in ’n mooi middelklas voorstad nie (of nie nou nie, in elk geval). Daar is ook ander voordele verbonde aan hierdie manier van geld maak – mens kan ’n vreemde taal bemeester, eerstehandse kontak met ander kulture, en jy ontmoet soms mense wat jy nooit andersins sou ontmoet het nie.

In kort, waar anders sou ek twaalf ure per week Engelse klasse kon gee en genoeg geld verdien daarmee om my basiese lewenskoste te dek? Waar anders kan ek, sonder om ’n enkele streep op ’n kontrak te trek, in ’n ou woonstel intrek en my muurbehangsels teen die muur vasspyker? Waar anders kan ek selfs my hawermout in die oggend met stokkies eet – wat nie werk nie, net so terloops, en ’n gesprek in Chinees voer met ’n mooi vrou buite die supermark as sy laat in die aand vir my ’n vars hoenderdy op haar braai gooi?

Waar sou ek al hierdie dinge kon doen … terwyl ek die een ballingskap opstel na die ander skryf vol weemoed en verlange na my mense?

Ek moet klaarmaak. Ek sien kortverhale in my teeblare, Chinese woordeboeke in my koffiebone, en as ek my oë opslaan na die sterre, nog ten minste sewe jaar van klasgee in die Verre Ooste. Die voordele is reeds genoem; die nadele lê hierdie hele literêre projek vol.

Een ding moet egter sneuwel in die stryd wat vir my voorlê: Ballingskap!

Vir jare al lei ek aan hierdie koorsagtige hoop dat die lewe wat ek nou my eie noem, nie die beste sal wees wat ek denkbaar kan bewerkstellig nie. Verterende vure van frustrasie en verlange smelt hierdie hoop saam met my vrese en my begeertes. Dit is wat maak dat ek al vanaf Junie 1999 ballingskap opstelle skryf. Dit is wat maak dat ek nooit verder kan sien as die volgende ses maande nie. Hoe anders as ’n mens voortdurend met skrefiesoë soek na maniere om weg te kom van ’n onvolhoubare situasie?

Ek is moeg vir ballingskap.

* * *

Is u as leser so deurmekaar soos ek? Dit moet van talent spreek om soveel te sê, en aan die einde weg te kom met so min wat nuut is. Gaan ek terug Suid-Afrika toe op vlug CX1749 wat vanaf Hong Kong vertrek op Donderdag 4 Maart 2004 om 11:50 in die nag? Dis sekerlik wat my reisagent glo.

______________________