Toekomsvisie, moontlikheid een

SATERDAG 24 MEI 2003

Brand Smit woon in Blousteenweg nommer 273. Hy’s getroud met Elsa Kleynhans (nou Junie was dit sewe jaar). Hulle het twee kinders: Martie is vyf en ’n half, en Ben is drie. Brand werk by ’n plaaslike koerant as sub-redakteur. Hulle het die huis in Blousteen gekoop drie jaar gelede by ’n werkskontak van Elsa se broer (net voor klein Ben se geboorte). Dis ’n aangename huis, met ’n kleinerige voortuin en ’n boom in die agterplaas. Brand sê altyd hy’t die huis gekoop omdat daar nie te veel gras is om te sny nie. Dan voeg Elsa elke keer by, “en die studeerkamer”.

Die gesin was verlede Desember Sodwana toe, en Brand het gesweer nooit weer nie. Die kinders het siek geword van die drinkwater, en hy en Elsa het daarna nie ’n nag se rus gehad vir ’n volle week nie. Brand het aanvanklik gesê hulle bly by die huis hierdie Desember, maar hy en Elsa het weer daaroor gepraat. Hulle beplan nou om ’n draai te gaan maak by familie van Elsa in die Weskus.

Brand praat so nou en dan oor sy jare in die Ooste; Elsa luister maar altyd geduldig. Soms, soos nou Aprilmaand, kom daar iemand kuier waarmee hy bevriend was in Taiwan. Hulle gesels dan tot laat in die nag oor dié en daai, oor tifone, besoedeling, epidemies, Engelse klasse, en Chinees.

Brand onthou nog ’n paar Chinese woorde, en hy sê altyd as hy weer Taiwan of China toe moet gaan, hy weer die taal sal kan optel. In die badkamer (die een langs die spaarkamer) hang ’n rol bamboespapier met groot Chinese karakters op. As ’n gas die badkamer gebruik het, hoop Brand altyd hulle vra hom wat die woorde beteken. Hy gaan dan gewoonlik aan daaroor tot Elsa hom herinner dat nie almal ewe geïnteresseerd is in Oosterse tale nie.

Brand het verlede jaar veertig geword, en as ’n geskenk aan homself ’n boek oor Confucius gekoop. Die boek lê in die sitkamer langs die stoel waar hy altyd sit, maar hy’t nog net die eerste paar bladsye gelees.

Hy skryf nog, maar meeste van die tyd is dit net goed vir die koerant. Hy’t eenkeer ’n artikel geskryf vir ’n nasionale tydskrif, en was baie opgewonde oor wat hy gereken het moontlik ’n nuwe bron van gereelde inkomste kan word. Dit was drie jaar gelede.

Brand is lief vir sy vrou, en hy’s toegewyd aan sy kinders. Hy hoop Martie gaan iets soos ’n argitek of ’n veearts word. Hoewel dit nog bietjie vroeg is om te sê, reken hy klein Ben mag dit dalk in hom hê om ’n skrywer te word. Hy vertel dit vir almal wat wil hoor, en lyk elke keer verleë as Elsa vir hom sê, “Laat die kind toe om sy eie mens te word.” Al wat hy dan sê voor hy oor iets anders begin praat, is dat hy dit in die seun se oë kan sien. ’n Skrywer, of miskien ’n sielkundige.

______________________

Brand Smit en ’n besoldigde posisie

SATERDAG 24 MEI 2003

Ek dink nie ek kan nog ’n jaar in Taiwan bly nie. Dis nie dat ek skielik moeg is vir die plek nie. Dis nie dat ek nie weet ek kan volgende maand op vakansie gaan, terugkom, die kleuterskoolwerk los, fokus op my Chinees en my teaching materiaal vir ses maande, en ’n ander woonstel kry nie. Dis nie dat ek nie weet ek kan dan volgende Februarie vir twee maande op vakansie gaan, en terugkom en ’n ander werk kry nie.

Waaroor dit gaan, is bloed: my familie. My ouers raak nie jonger nie. My jongste suster, met wie ek altyd ’n noue verhouding gehad het, is al ’n paar jaar getroud, en ek het nog net een keer sedertdien by haar aan’t huis gekuier. My ouer suster woon in Engeland. Ek sal graag ook by haar wil gaan kuier, maar dat ek dit nog nie kon doen nie, is ten minste nie iets waaroor ek skuldig voel nie, want sy het, soos ek, weggegaan.

Nog ’n ding: onlangs het die nuus gebreek dat my ouer suster swanger is met haar eersteling. My jonger suster kan ook enige tyd swanger raak. Waar laat dit my? Die “oom” wat in die Verre Ooste woon, wat miskien een keer per jaar kom kuier? En wanneer my ouer suster en haar gesin Suid-Afrika toe gaan, is die kans goed dat ek aan die ander kant van die planeet sit. Dis nie goed genoeg nie.

Een ding wat ek lankal weet maar wat weereens bevestig is die laaste paar jare in my observasie van Taiwannese mense en hulle kultuur, is hoe belangrik familie is. Ek sien oupas wat laatmiddag in die straat afstap wat weet hulle sien weer vanaand, soos elke aand, hulle kleinkinders. Ek sien tannies en ooms wat hul eie kinders, en hulle broers of susters se kinders, by dieselfde kleuterskool optel op dieselfde laatmiddag. Dít, dit is die lewe wat ek wil hê! ’n Lewe van gemeenskap, waar ek my ouers gereeld kan besoek, en naweke by my suster en swaer kan braai. En as hulle dan kinders het, om te sien hoe hulle my onmiddellik herken, en vir my ’n storie vertel soos ’n kind net ’n storie vertel vir iemand wat nie ’n vreemdeling is nie. En wie weet, as dinge dan so uitwerk, dan sien ek ook hoe my eie kinders eendag so is met my suster en my swaer. Dan is daar my ouer suster en haar man. Goed en wel, Engeland is ’n bietjie ver vir ’n weeklikse braai, but it’s still a hell of a lot closer than the Farthest East!

’n Vraag het soos ’n vlaggie wat aan ’n veer vas is by my mond uitgepop die oomblik toe hierdie gedagtes geregistreer het as ’n nuwe verwikkeling: Hoe gaan ek dit regkry?

Soos verskillende bestanddele maar altyd saamvloei op enige oomblik om iets groots te produseer, was ek dié keer besig om ’n George Orwell boek te lees met die titel, Coming up for Air. Die ou gaan in die eerste honderd bladsye of so erg aan oor Engeland in die twintigs, en oor ’n betrekking wat jou net genoeg geld gee sodat die kinders nooit regtig weet dat julle nooit baie geld gaan hê nie, met die vrou wat altyd kla oor rekeninge en so aan. Ek dink toe half dromerig, “Hmm … ’n job, né?”

Om iets wat naastenby kwalifiseer as ’n vaste betrekking te beklee in Suid-Afrika is gewoonlik vir my niks meer as ’n ietwat vermaaklike teoretiese moontlikheid nie (ek sal so nou en dan ’n vlugtige dagdroom daaroor hê). Maar dit is ook iets wat ek vrees, as gevolg van my probleem met gesagsfigure, en omdat ek bang is ek mors my lewensdae in ’n ewigdurende stryd om genoeg geld te hê. En as dit nie in ’n kantoor job is nie, dan enige van ’n duisend ander jobs waar jy moet sê, “Ja Baas,” en “Dis waar, ek hét lelik drooggemaak. Ek belowe ek sal nooit weer nie.” (En dan huis toe gaan in die aande en met niemand wil praat nie, of op almal wil skree.)

Hoekom sou George Orwell van alle mense die idee van ’n “job” vir my lekker laat klink? Sy hoofkarakter het immers aan soortgelyke dinge geglo as wat ek daagliks aan myself resiteer as persoonlike dogma. Miskien was dit nie in die eerste plek die idee van ’n vaste werk nie, maar die idee van mense om jou, ’n vrou en kinders, en plekke wat jy ken. En miskien was dit ook omdat ek weet dat ek die konsep van ’n vaste betrekking – so sentraal aan ’n lewe van middelklas semi-sekuriteit – koppel aan al die dinge waarna ek vir jare lank al smag.

Hierdie verband tussen wat ek vrees en wat ek begeer hou my nou al vir jare lank in ’n ongewenste situasie vasgevang. Ek wil die goeie dinge hê wat ’n mens gewoonlik kan kry as jy ’n sogenaamde job het, sonder om in werklikheid so ver te gaan om my eie oortuigings te verloën en ’n vaste werk te probeer bekom – of dan ten minste iets wat op papier lyk soos ’n vaste werk.

Is dit nie hoekom ek vir die duisendste Saterdagaand alleen in my woonstel in die Verste Ooste sit, terwyl my familie op ’n ander kontinent die vleis begin uitsit vir vanaand se braai nie? Omdat dit dogma geraak het dat Brand Smit nooit ’n besoldigde posisie sal kan verduur nie.

______________________

Naskrif II

Uit: Brief aan Ouers

SATERDAG 18 NOVEMBER 2000

“[…]

Ek het gister my 22-maand herdenking gehad van die dag wat ek in Taiwan aangekom het, wat belangrik is vir die eenvoudige rede dat ek in Korea was vir 22 maande en drie dae. Teen volgende week sal ek dus langer in Taiwan wees as wat ek in Korea was.

So gaan die tyd verby. Ek staan gereeld in my sitkamer en kyk om my rond, en as ek dink hoe hierdie einste sitkamer gelyk het toe ek hier aangekom het, kan ek nie anders as om te dink ek het orraait gedoen sover nie. Ek sien my netjiese klein rekenaar; ek sien al die CD’s en al die boeke. Ek sien ook die Spaanse kitaar wat ek vir R60 by die pandjieswinkel gekoop het, en ek sien my blou elektriese kitaar, en die kleur-TV …

Ek gee nie op die oomblik soveel klasse as verlede jaar nie. Dit was ’n sinnelose gejaag wat my nooit behoorlik tyd gegee het vir wat ek regtig wil doen nie. Dit mag klink of ek nie my vinger op die pols van die werklikheid het nie, maar ek het reeds genoeg van die wêreld leer ken om te weet dat ’n mens moet doen wat jy goedvind, en waarvan jy hou, anders word jy oud en jy’t net die game gespeel wat dié wat kastig beter weet, vir jou geleer het. Pa het altyd gesê ek kan nie net doen wat ék wil doen nie, ‘dis nie hoe dit werk nie’. Ek moet bieg dat ek nie veel respek het vir hoe dinge werk nie.

As ’n mens net jou lewe leef volgens hoe dinge veronderstel is om te werk, word jy uitgebuit deur dié wat nie die reëls nakom nie. Ek het al ’n bietjie insig gekry in die werkinge van hierdie wêreld, en ek het nie tyd vir mense wat oor my baas wil speel net omdat hulle meer geld het as ek, en daarom – ‘omdat dit is hoe dit werk’ – ek moet doen soos hulle sê nie. In elk geval het hierdie wêreld nie vorentoe beweeg omdat mense altyd die ‘sinvolle’ ding gedoen het nie.

Dit moet egter kategories gestel word dat ek nie heeltemal naïef is nie. Ek weet al te goed wat gebeur met mense wat die geld storie nie ernstig opneem nie. Ek weet al te goed hoe die hiërargie van ons samelewing werk. My edel politiek sal my nêrens bring as ek nie geld het om dit te ondersteun nie. Dosyne geskiedenisboeke het ook vir my ’n goeie idee gegee van hoe mense in posisies van mag kom, en hoe hulle daar bly. En ek het al genoeg eerstehandse ervaring opgedoen om te weet mense word om die bos gelei om sekere dinge te glo, sodat dié wat bo is, bo kan bly.

Genoeg politiek. Dis voldoende om te sê dat ek ander maniere ondersoek om geld te maak. Ek beplan nie om weer arm te wees nie. Maar ek beplan ook nie om ander se agendas te dien nie.

Hierdie hardkoppige onafhanklikheid kom natuurlik teen ’n prys. As ek ’n meer konvensionele pad gevolg het, sou ek moontlik teen dié tyd die konvensionele belonings gehad het van ’n huis – waarvoor ek vir die res van my lewe aan die bank sou behoort, ’n pragtige gesinsmotortjie – waarvoor ek vir ten minste ’n dekade aan ’n ander bank sou behoort, en ’n lieflike vrou met wie ek my lewe kon deel.

Dink ek daaraan om een of ander tyd terug te gaan Suid-Afrika toe? Ek kontempleer sporadies die moontlikheid. Ek kan dink aan baie redes hoekom dit goed sal wees. Die realiteit is egter dat ek in hierdie land, met wat in werklikheid ’n deeltydse werk is, R10 000 per maand kan verdien, en selfs meer. In Suid-Afrika sal ek wáár, en vir hoe lank elke dag moet werk om die helfte daarvan in die hande te kry?

Daar is sekerlik moontlikhede waaraan ek nog nooit gedink het nie. Die probleem is om hierdie dinge te ontdek. As ’n mens ’n jaar in ’n plek spandeer waar jy gereeld idees uitruil met ander mense, sal ’n mens sekerlik aan ’n paar moontlikhede kan begin werk. Maar hoe gemaak om terug te gaan, jouself aan die lewe te hou, nie jou momentum te verloor met die projekte waarmee jy besig is nie, én terselfdertyd maniere van geldmaak te ontdek wat jou en jou persoonlike agenda pas …”

______________________

 

Boek Een: Inleiding

Die vrae wat ons vra

Meeste mense soek na iets. Dat jy moontlik eers na jare ’n vinger daarna kan wys en kan sê, “Dit!” maak gewoonlik nie die soektog minder freneties nie. Party mense soek na maniere om geld te maak, of maniere om gewild te wees. Ander soek na ’n plek, waar hulle na die lang soektog kan terugsit en vir die eerste keer in hulle lewens kan sê, “Ek het gearriveer.” Ander mense (of dieselfde mense wat na al voorafgenoemde dinge ook soek) soek na ’n persoon – iemand wat saam met hulle die pad kan stap, wat moontlik saam met hulle kan soek na iets anders, of na soortgelyke dinge.

Een universele aspek van al die soektogte is dat vrae gevra word. ’n Betekenisvolle persentasie van die vrae handel oor die vraagsteller self – elke persoon word gedryf deur instink om informasie in te win oor hom- of haarself, en om verwante redes soortgelyke informasie oor ander mense.

’n Paar bekende vrae: Hoe lyk ek? Is ek mooi of lelik? Is ek slim of dom? Is ek ’n “ingenieur” of ’n “advokaat” of ’n “kunstenaar”? Hou ek van pizza? Hóé hou ek van my pizza? Hoe hou ander mense van hulle pizza? Wat wil ek met my lewe doen? Wil ek ryk wees? Hoe ryk? Sal dit orraait wees as ek nie in die grootste huis in die straat bly nie? Wil ek ’n kar hê, of ’n motorfiets? Hoe wil ek my hare dra? Hou ek van pienk? Van watse musiek hou ek? Glo ek in God? Is dit goed genoeg om net elke nou en dan kerk toe te gaan? Vir watter party stem ek? Kyk ek sport, en indien wel, wie of wat ondersteun ek? Wie’s my vriende? Van watse tipe mense hou ek? Hoekom hou ek van hierdie tipe mense? Watse tipes mense hou van my (en weereens om watter redes)? Wat doen ek in my vrye tyd …

En hierdie is net die vrae waaraan ek gedink het terwyl ek besig was om ’n ander CD op te sit. Ek kan nog dosyne hierby voeg. En dan kan jy as leser na die lys kyk en sê, “Goed, maar jy’t ’n paar gemis.”

Dink ons die heeltyd aan hierdie dinge? Nee. Sommige van hierdie vrae vereis moontlik dat ons sal stilsit vir ’n wyle om daaroor te dink; ander dinge wéét ons net. Die belangrike ding is, hóé ons hierdie vrae beantwoord, bepaal hoe ons onsself sien – op ons eie, in die privaatheid van ons eie spasies, en ook wanneer ons tussen ander mense is.

Vele van ons bevind onsself ook op een of ander stadium op vreemde plekke waar niemand ons ken nie, wat ons dwing om onsself voor te stel aan ’n skare vreemdelinge: “Hallo, ek is (X). Ek hou van popmusiek. Ek wil eendag my eie boekwinkel hê. Ek hou nie van uie op my pizza nie, en ek gaan een keer ’n maand kerk toe.”

Die vrae wat ons onsself vra, die maniere hoe ons dit beantwoord, hoe ons onsself voorstel aan vreemdelinge en hoe hierdie mense reageer op ons teenwoordigheid, bepaal uiteindelik of jy saam met ander pizza-eters uithang of nie, of jy glo dat jou siel uitgesorteer is die dag as jy doodgaan, of, en saam met wie jy moontlik eendag kinders sal produseer, en hoe jy jou vrye tyd spandeer. Om weer maar net ’n paar voorbeelde te noem.

Dit bring my by die boek wat nou voor jou ooplê. Hierdie is die resultaat van my eie pogings – veral gedurende die afgelope vier jaar op die eiland van Taiwan – om ’n paar vrae te formuleer, en om bypassende antwoorde bymekaar te skraap.

Wie ek is in die konteks van die wyer wêreld is nie van groot belang nie. Ek is inderdaad ’n skim, wat nooit meer as ’n paar van die mense sal ontmoet wat hierdie woorde sal lees nie. (Wat net sowel is! As ek moes wag tot ek bekend is aan meer as net tien mense voor ek hierdie projek sou aanpak, het ek eerder nou gesit en TV kyk.)

Ek is tot ’n groot mate net ’n gewone mens. Sekere dinge wat ek ervaar het, het ander mense ook al ervaar, en sal nog ervaar word deur vele ander. Probleme wat ek het, gehad het, en nog gaan hê, is soortgelyk aan die probleme wat miljoene mense elke dag die hoof moet bied. Baie wat hierdie bladsye sal lees, het ook al ander, en heel moontlik interessanter dinge ervaar; of het meer, en ernstiger probleme as wat ek ooit sal hê. Daar is ook die mense wat moontlik nog nooit so gelukkig was soos wat ek is, was, of moontlik nog gaan wees nie. Ander kan weer getuig van die teenoorgestelde.

Wat almal van ons bind, is dat ons soortgelyke vrae op die een of ander tyd aan onsself móét vra. Vrae waarop antwoorde gevind móét word, al vat dit ’n leeftyd.

* * *

Die materiaal is merendeels chronologies, en is veronderstel om ten minste hier en daar te lyk soos die storie van iemand se lewe.

Belangrik ook om te noem dat ek nie gaan sit het, ’n boek beplan het en toe begin skryf het nie. Die boek is saamgestel uit ’n paar jare se notas – meestal aan myself, joernaalinskrywings, briewe aan vriende en familie, en ’n paar essays wat ek van tyd tot tyd geïnspireer was om te skryf – weereens, hoofsaaklik vir my eie vermaak en latere verwysing. Die idee om dit saam te bundel in ’n enkele projek en dit beskikbaar te stel aan ’n wye lesersmark, het eers redelik onlangs by my opgekom.

Gooi dus vandag se koerant eenkant toe, sit die TV se klank af, maak vir jouself ’n vars koppie tee, en lees verder.

Fengshan, Taiwan
Sondag 18 Mei 2003

______________________

Naskrif I

Ek het aan die begin die edel bewering gemaak dat hierdie versameling materiaal [1999 tot 2003] opgedra is aan ’n paar spesiale mense. Vir die rekord moet ek byvoeg dat ek hierdie boek ook vir myself geskryf het – sekere administratiewe sake moes afgehandel word voordat ek kon aanbeweeg na enige ander plek op hierdie planeet. Vir jare al dreig ek om al die stukke wat ek geskryf het, asook al die stukke wat ek begin skryf het maar nooit klaargemaak het nie, bymekaar te maak in een folder. Opstelle wat ek op die rekenaar geskryf het, moes uitgedruk word, e-posse wat ek geskryf het moes van die Hotmail server afgelaai word, en ek wou ’n paar gedagtes vervat in notaboeke en joernale, oortik.

Hierdie projek is dus, op ’n elementêre vlak, goeie kantooradministrasie – om items op ’n dinge-om-te-doen-lys deur te haal. Maar dit het ook vir my van eksistensiële belang geraak om iets voor myself op die tafel te kan gooi en te sê: “Dáár – dis onder andere wat ek met my tyd gedoen het.”

Ek het ook vermoed ek mag dalk, met die wyer beeld wat so ’n projek vir ’n mens gee van jou lewe, op ou insigte afkom waarvan ek vergeet het, of op idees wat dalk bestaande planne deurmekaar kan krap.

Aan die einde het ek tot ’n mate geslaag in al bogenoemde doelwitte.

Die proses van materiaal deurlees en verwerk het selfs ’n paar ander, onverwagte vrugte afgewerp. Ek het nie verwag om ’n goue lyn te sien vleg deur vier jaar se skrywery nie, maar ek sien tog nou meer redes as ooit hoekom dit nodig was om Taiwan toe te kom, en hoekom dit nodig was om vir so lank hier vas te haak.

Wat maak ’n mens as jy klaar is met so ’n projek? Jy kan begin deur jou woonstel skoon te maak … vir ’n slag weer ’n besem oor die stoep te trek … weer ’n bietjie deur ’n supermark te stap … maar wat dan? Jy begin natuurlik te werk aan ’n volgende projek, of jy gaan voort met die projek wat sonder waarskuwing op ys geplaas is ’n paar maande tevore.

Wat ek ook al volgende aanpak, ek hoop dat dit moontlik sal wees om weg te stap van hierdie selfgesentreerde Sake van die Hart – ten minste wanneer ek iets skryf. Vrae sál steeds in die lug hang, en ek sal steeds soms in die nag wakker skrik om ’n voorlopige antwoord te mompel in die rigting van die plafon. Maar daar is immers ander onderwerpe wat my besig kan hou: die pluspunte van Oosterse kos, die redes hoekom dit goed is vir jou om elke dag groen tee te drink, en my idee oor hoekom Taiwannese mense so vrot bestuur.

As ek gelukkig is, sal ek net soms wonder of al hierdie alternatiewe temas my enigsins nader bring aan ’n plek – ’n punt in my lewe, waar ek nog altyd wou wees.

Mei 2003

______________________