Persoonlike Agenda, Boek Twee: Inleiding

Deel een: Opsies vir die jong volwassene

Middelklas Suid-Afrikaners het in die laaste halfeeu of so met groot entoesiasme ’n hoeksteen van die geïndustrialiseerde wêreld omhels: die Vaste Betrekking. Die idee is om klaar te maak met hoërskool en dan deur tersiêre studie en/of praktiese ondervinding jouself te kwalifiseer vir ’n beroep. Na die suksesvolle afhandeling van hierdie opleidingsfase – gewoonlik as die jong volwassene in sy of haar vroeë twintigs is – dan dikteer die reëlboek dat die jong gegradueerde of pas gekwalifiseerde ’n frenetiese soektog moet begin na ’n geleentheid om arbeid te verrig en geld te verdien – en hoe vaster die geleentheid, hoe beter.

Die stabiele inkomste wat ’n vaste betrekking aan ’n jong volwassene sal gee, sal die enkellopende man of vrou finansieel onafhanklik maak van hul families; indien hulle dit so verkies, sal dit ook die jong volwassene in staat stel om in die huwelik te tree. Status in die gemeenskap, jaarlikse verhogings, professionele bevordering, en ander byvoordele van ’n vaste betrekking soos ’n mediese fonds, sal die jong getroude paartjie in staat stel om ’n gesin te begin, en ’n goeie, stabiele lewe te verseker vir hulleself en hul onmiddellike nageslag.

Natuurlik is ’n vaste betrekking nie vir almal wat dit begeer, beskore nie. Ekonomiese realiteit, en ander faktore maak dit soms onmoontlik vir almal om matriek te behaal, wat nog te sê van om ’n tersiêre kwalifikasie te bekom. Die idee van die vaste betrekking bly egter die ideaal, selfs in hierdie gevalle.

Een alternatief vir die vaste betrekking is om jou eie besigheid te begin. Selfs al sou jong volwassenes wat talent vertoon as entrepreneurs se ouers graag wou hê dat hulle een of ander tersiêre kwalifikasie moes behaal – miskien om op “terug te val” – sal ’n entrepreneur sy vryheid van die konvensionele pad kan koop met harde kontant wat gegenereer word uit sy eie besigheid. Laasgenoemde mag enige iets wees van professionele tuindienste, tot ’n reeks pizza restaurante, of die maak van tuinstoele en -tafels. Solank as wat so ’n besigheid aan die entrepreneur ’n gereelde inkomste gee, en hy derhalwe kan bewys dat hy nie net vir homself nie, maar ook op die langtermyn vir die welsyn van ’n gesin mede-verantwoordelikheid kan aanvaar, sal wat hy doen goedkeuring en selfs respek van sy familie ontvang.

Talent, persoonlikheid, oortuigings – godsdienstig of polities, of ’n kombinasie van motiverings dryf sommige jong volwassenes egter daartoe om hulle dae te vul met werk wat nie noodwendig ’n inkomste genereer nie. Een voorbeeld wat genoem kan word is die musikant wat net genoeg geld verdien om vir ’n kamer in ’n losieshuis te betaal, en wat gereeld in argumente betrokke raak met sy familie omdat hy nooit vir hulle kan verduidelik hoe hy eendag ’n gesin gaan onderhou nie. ’n Ander voorbeeld is die sendeling, wat teen karige betaling die Evangelie verkondig vir maande op ’n slag in soms eksotiese lande ver van die huis af. Laasgenoemde kan ten minste nog hoop op ’n bietjie simpatie as hy met ’n ou bakkie rondry, en nie geld het om by duur restaurante te eet nie. Hy kan sy finansiële situasie regverdig omdat wat hy doen, gesien word as selfopoffering vir ’n Goeie Saak.

Deel twee: Die skrywer, geloof, en die vaste betrekking

Dit bring ons by die skrywer van hierdie materiaal. ’n Musikant sou hy graag wou wees, maar die enkele musiekinstrumente wat hy besit, vergaar vinniger stof as ’n skrynwerker se tafel. Entrepreneurswese, aan die ander kant, is iets wat hy altyd geassosieer het met ’n Saterdagmiddag in 1985 buite die destydse Loftus Versfeld, met hom wat besig was om worsrolletjies te verkoop vir die koffers van die Christelike Jeugvereniging. Sy opinie van hierdie alternatief tot ’n vaste betrekking het egter in die laaste paar jare meer gesofistikeerd geraak, en hy’t selfs boeke en ander leesmateriaal begin aanskaf om homself uiteindelik suksesvol te kan voordoen as ’n smous van enige iets wat geld kan maak.

Dit moet ook genoem word dat die skrywer in sy jeug sekere godsdienstige oortuigings baie ernstig opgeneem het. (Om watter ander rede sou hy worsrolletjies wou verkwansel op ’n middag wat al die ander mense in die omgewing rugby wou kyk?) Sekere persoonlikheidstrekke, en sy erns met kerklike leerstellings het sy familie laat glo dat hy moontlik nie bestem was vir enige iets in die wêreld van geld en besigheid nie. ’n Predikant miskien, of ’n sendeling, is daar gefluister.

Helaas, geld vir die luuksheid van ses jaar se teologiese studie om uiteindelik ’n vaste betrekking in die Kerk te aanvaar, was daar nie. En so het die skrywer die tweede beste opsie uitgeoefen – hy’t onderwys gaan studeer.

Sy belangstelling in teologie en sy erns met godsdienstige leerstellings is egter nooit oorskadu deur die realiteite van die grootmenswêreld nie. Toe hy vakke moes kies vir sy Baccalaureus graad in die kunste, het hy Bybelkunde (later Godsdienskunde) gekies eerder as ’n vak wat hom ’n beter kans sou gee op ’n vaste betrekking in die onderwys. Vir die volgende paar jare was sy belangstelling toenemend gefokus op teologiese studie – dat hy eintlik besig was om onderwys te studeer, was net van akademiese waarde.

Teen die tyd wat hy uiteindelik by die Diploma vir Hoër Onderwys gekom het, het sy godsdienstige oortuigings egter ’n transformasie ondergaan. Hy het in groot opregtheid vrae begin vra wat sy ouers, en enige skoolhoof, sou verkies het hy eerder nie moes uiter nie. Oor die bestaan van die god aan wie hy voorheen sy lewe wou toewy, was hy nou onseker. Teen die formele dogma van die kerk waarin hy gedoop en aangeneem is, het hy lang argumente afgesteek.

Hy het nietemin voortgegaan om die “ware doel en betekenis” van sy eie lewe te ondersoek. In die proses het hy enige sekerheid wat hy ooit voorheen gehad het oor wat dit beteken om ’n mens te wees, verloor. Hy het ook begin om aantekeninge te maak oor sy opinies, en oor die vrae wat hom gepla het.

Die skrywer se lewe het hierdie rampspoedige fase getref presies op die tyd wat hy veronderstel was om sy skoene te poets vir sy eerste poging tot ’n vaste betrekking.

Ernstige student soos die skrywer was, het hy op hierdie stadium reeds twee grade en ’n diploma verwerf. Dit sou dus sin maak vir hom om, soos dit ’n persoon betaam wat oor sulke kwalifikasies beskik, te probeer om ’n onderwyspos êrens los te slaan. Enige iets tydelik sou hom op die regte spoor plaas. As hy gelukkig was, en hy kon homself sover bring om ’n toegewyde onderwyser te wees, kon hy moontlik binne ’n dekade die mees gesogte prys toeëien wat enige jong onderwyser kan begeer: ’n vaste betrekking.

Wat het die jong, pas gekwalifiseerde onderwyser-skrywer gedoen? Het hy, soos sy maats in die Fakulteit Onderwys, die kennisgewingbord met skrefiesoë gefynkam vir ’n moontlike betrekking? Het hy navraag gedoen by plaaslike skole? Het hy ten minste ’n Curriculum Vitae opgestel, om aan enige skoolhoof wat daarna kyk ’n idee te gee van watse lojale en bekwame onderwyser hy kan wees? Nee. Wat hy wel gedoen het, was om sy hare te laat groei, en ’n gat in sy een oorlel te laat skiet waarin hy ’n silwer son gedruk het. En dit was die einde van sy onmiddellike kanse op ’n vaste betrekking …

Geld moes egter verdien word, dit sou hy geweet het selfs al het sy ouers en sy meer verantwoordelike ouer suster nooit die onderwerp aangeroer nie. “Wat gaan jy doen met jou lewe?”, “Wat is jou planne?” en “Hoe beplan jy om geld te verdien?” was vrae wat niemand werklik nodig gehad het om hom te vra nie. Tesame met al die vrae oor die bestaan van God, die doel en betekenis van sy lewe, en die vraag na wát presies die mens is, moes hy ook die vraag kontempleer oor waar in die arbeidsmark hy ’n begin gaan maak wat moontlik, na die verloop van tyd, mag lei tot ’n stabiele, besoldigde posisie. Want behalwe vir die geldaspek, moes hy ten minste probeer om in te pas, miskien ’n vrou te vind, en – wie weet? – dalk selfs ’n motorkar aan te skaf wat verder as die naaste dorp kon ry.

Oor die volgende paar jare het die skrywer probeer om ’n middeweg te vind in plekke soos Korea en Johannesburg, en uiteindelik, Taiwan. Hoe kon hy al die vrae beantwoord wat hom soos besete honde jaag, en terselfdertyd geld verdien? Hoe kon hy homself verbind aan iets wat aan hom ’n gereelde inkomste gee, terwyl hy terselfdertyd oortuig kon wees van die feit dat hy nie sy lewe mors in die oënskynlik eindelose stryd om oorlewing, en miskien ’n greintjie materiële gemak nie?

Die jong seun wat in groot erns gebid en getrou sy Bybel bestudeer het, het as ’n jong volwassene afstand gedoen van sy geloof in die leerstellings van die Kerk. Maar hierdie jong seun het ook ’n man geword wat steeds oortuig was daarvan dat hy “meer” moes doen met sy lewe as “net” geld maak.

As hy ’n sendeling geword het vir die Christelike boodskap, kon hy nog ’n beroep gedoen het op die ondersteuning van ’n Hoër Hand. Hy kon mooi Bybelversies aangehaal het in sy argumente oor hoekom hy nie ’n vaste betrekking wil, of kan, aanvaar in ’n maatskappy wat ingestel is op winsbejag nie. Hy kon aanspraak maak daarop dat hy ’n Goeie Saak dien, en saam met sy familie bid vir begrip – en finansiële ondersteuning.

Die werklikheid vir die skrywer was egter dat hy ’n toenemend persoonlike agenda begin dien het. Na ’n paar jaar het hy nie werklik meer omgegee as mense hom eiesinnig, verwaand en selfsugtig genoem het nie. Hy wou doen wat hý wou doen; basta met die res.

Behalwe dat hy sy familie baie gemis het, en steeds graag die basiese vertroosting van sy eie gesin eendag sou wou geniet, het hy geweet dat sy lewe in selfopgelegde ballingskap in die Verre Ooste hom sekere geleenthede gebied het wat hy nie in sy eie land as vanselfsprekend kon aanvaar nie. Hy’t tyd gehad om dae en nagte lank die vrae te kontempleer wat hom na al die jare steeds gepla het; hy kon ook met ’n paar Engelse klasse elke dag genoeg kapitaal verdien om aan sy familie (en aan die bank) te wys dat hy die hele geld-verdien-storie ernstig opneem, soos dit ’n verantwoordelike volwassene betaam.

Hy het egter geweet dat selfopgelegde sosio-ekonomiese ballingskap uit die land van sy geboorte nie volhoubaar is nie. Hy moes een of ander tyd terugkeer, ongeag hoeveel vrae onbeantwoord sou bly, en ongeag die implikasies van so ’n aksie vir sy finansiële en sosiale status.

Soos die tyd aangestap het, het hy ook toenemend oortuig geraak van sekere dinge wat hom tot ’n mate herinner het aan die leerstellings wat hy jare tevore verwerp het.

Dit was sekerlik so dat hy dit geniet het om te skryf, dat dit ’n goeie manier was om tred te hou met sy eie gedagtes, en ook dat hy sy eie vrese en ambisies op so ’n wyse kon verduidelik aan sy familie en enige iemand anders wat moontlik sou belangstel. In die jare sedert hy begin dink het aan homself as ’n “skrywer” het hy meermale probeer om materiaal te produseer wat van ’n kommersiële aard was. Hetsy kortverhale of artikels, hy het geglo dat hy moontlik op hierdie manier die kloof tussen sy persoonlike agenda en die ekonomiese realiteite van die moderne wêreld kon oorbrug. Hy kon egter nooit lank genoeg konsentreer op fiktiewe karakters, of relase oor nagmarkte om ’n beroep as ’n inkomste genererende skrywer van die grond af te kry nie. In stede daarvan het hy aanhou opstelle skryf oor sy eie lewe, oor die vrae wat hom pla, die emosionele armsaligheid van sy lewe in “ballingskap” en die potensieel noodlottige implikasies van ’n ontydige terugkeer na sy geboorteland.

Daar was egter meer agter sy skrywery as net ’n goeie argument, of ’n poging om iets na te laat wanneer alles verby is. Hy het nie net geskryf vir sy eie vermaak, of vir die vermaak van ander nie. Hierdie voormalige kind van die Hervormde Kerk, van Bybelstudie en gebedskringe, was besig om meer te doen as om net sy persoonlike agenda te verwoord – hy was besig om te preek. Dat hy dit gedoen het in sy eie woorde, gekleur in die skadu’s van sy eie politiek en gemotiveer deur sy eie onsekerhede en vrese, het niks weggevat van die feit dat wat hy skryf, toenemend begin lyk het soos ’n boodskap nie.

Hy wou nie net vertel van sy eie lewe nie (wat maar bra vervelig was op die beste van tye), en hy wou nie net meer hê dat sy familie moes verstaan hoekom hy nog steeds nie die moontlikheid wil oorweeg van ’n vaste betrekking in sy eie land nie. Hy wou verkondig wat hy in sy eenvoudige begrip as verkeerd geag het in die moderne wêreld. Hy wou verkondig wat hy geglo het gedoen kon word om die situasie te verbeter. Hy wou preek vir mense wat hy glo nie altyd die beste keuses maak onder die beskikbare moontlikhede nie. Hy wou bekend maak aan ander wat ook wonder – en wonder almal nie aan die einde nie? – dat hy al ’n bietjie hierdie sake oordink het, en dat dít is hoe hy reken dinge staan, al stem mense nie noodwendig saam met hom nie.

Hierdie kind van ’n soort van middelklas Afrikaner familie wou, na vele jare, sy eie visie verkondig van ’n beter lewe vir almal wat dit begeer.

Het die Skrywer dus, uiteindelik, ’n Sendeling geword vir ’n Goeie Saak? Al hoes en proes hy soms in ’n taal wat nie heeltemal kerklik is nie. Al weet hy nie aldag wie die Baas van die Goeie Saak is nie. Al raak mense helfte van die tyd aan die slaap met sy skryfmateriaal in hulle hande. Al het hy nog steeds nie uitgewerk hoe hy gaan opmaak vir die feit dat hy nie wíl, of kán soek vir ’n vaste betrekking nie. En al mag dit hom twintig jaar vat voordat hy die basiese vreugde en vertroosting van sy eie gesin kan geniet.

Deel drie: Administrasie

Hierdie is dan, soos jy sekerlik kon aflei, die begin van BOEK TWEE. Die hoofprotagonis van die eerste boek is weer aan die woord – en genoeg woorde, soos dit geblyk het, om ’n tweede boek te regverdig.

Die “verhaal” word hervat vanaf die eerste deel van Mei 2003, kort nadat ek BOEK EEN afgehandel het. Soos met die eerste boek, is die materiaal merendeels in chronologiese volgorde.

Dit moet ook genoem word dat hierdie tweede boek ’n ander tipe skryfproses as die eerste volume behels het. Teen Mei 2003 was ek deeglik bewus van die feit dat wanneer ek iets skryf, ek die versoeking moontlik nie gaan weerstaan om dit in te sluit by my “projek” nie. Dit het egter nie die integriteit van wat ek geskryf het, geaffekteer nie. Siende dat ek steeds nie seker was (en is) of hierdie projek ooit geborg sal word deur ’n kommersiële uitgewer nie, het ek geweet ek kan maar skryf wat ek wil, en op wyses wat ek ag as mees geskik vir die spesifieke inhoud. Hierdie benadering was versterk deur my oortuiging dat die eerlikheid en integriteit van die materiaal veel belangriker is as enige monetêre beloning wat ek ooit daarvoor mag ontvang. Sou hierdie projek dus ooit gepubliseer word (spesifiek deur ’n kommersiële uitgewer), sal ek kan bevestig dat hierdie teks nie geskryf was op ’n wyse wat dit meer publiseerbaar sou maak nie. En as dit nooit gepubliseer word nie, dan kan ek net my skouers optrek en verklaar dat ek ten minste gesê het wat ek wou sê.

Net nog ’n paar laaste opmerkings oor die inhoud, en die potensiële waarde daarvan vir jou as leser. Die materiaal is selfgesentreerd, dit erken ek. Hierdie boek gaan hoofsaaklik oor een persoon, oor sy werklikheidservaring, en oor hoe hy die lewe sien. Die potensiële waarde vir jou as leser lê daarin dat dit jou dalk sal laat wonder oor die keuses wat jy gemaak het in jou eie lewe, of oor keuses wat jy op die oomblik kontempleer. Dit is verder my opregte wens dat as jy nie saamstem met van die opinies in hierdie boek nie, jy sal poog om die redes daarvoor te verwoord. En as jy wel saamstem, ook goed so (weereens sal dit ideaal wees as jy weet hoekom). Hierdie projek is duidelik geen Stephen King riller of Dalene Mathee epic nie. Troos jouself dus as jy deur die soveelste stuk gegaap het: as die dobbelsteen anders geval het, het jý dalk hierdie boek geskryf.

Brand Smit

Dinsdag 6 Januarie 2004

______________________

Persoonlike Agenda, Boek Een: Inleiding

Die vrae wat ons vra

Meeste mense soek na iets. Dat jy moontlik eers na jare ’n vinger daarna kan wys en kan sê, “Dit!” maak gewoonlik nie die soektog minder freneties nie. Party mense soek na maniere om geld te maak, of maniere om gewild te wees. Ander soek na ’n plek, waar hulle na die lang soektog kan terugsit en vir die eerste keer in hulle lewens kan sê, “Ek het gearriveer.” Ander mense (of dieselfde mense wat na al voorafgenoemde dinge ook soek) soek na ’n persoon – iemand wat saam met hulle die pad kan stap, wat moontlik saam met hulle kan soek na iets anders, of na soortgelyke dinge.

Een universele aspek van al die soektogte is dat vrae gevra word. ’n Betekenisvolle persentasie van die vrae handel oor die vraagsteller self – elke persoon word gedryf deur instink om informasie in te win oor hom- of haarself, en om verwante redes soortgelyke informasie oor ander mense.

’n Paar bekende vrae: Hoe lyk ek? Is ek mooi of lelik? Is ek slim of dom? Is ek ’n “ingenieur” of ’n “advokaat” of ’n “kunstenaar”? Hou ek van pizza? Hóé hou ek van my pizza? Hoe hou ander mense van hulle pizza? Wat wil ek met my lewe doen? Wil ek ryk wees? Hoe ryk? Sal dit orraait wees as ek nie in die grootste huis in die straat bly nie? Wil ek ’n kar hê, of ’n motorfiets? Hoe wil ek my hare dra? Hou ek van pienk? Van watse musiek hou ek? Glo ek in God? Is dit goed genoeg om net elke nou en dan kerk toe te gaan? Vir watter party stem ek? Kyk ek sport, en indien wel, wie of wat ondersteun ek? Wie’s my vriende? Van watse tipe mense hou ek? Hoekom hou ek van hierdie tipe mense? Watse tipes mense hou van my (en weereens om watter redes)? Wat doen ek in my vrye tyd …

En hierdie is net die vrae waaraan ek gedink het terwyl ek besig was om ’n ander CD op te sit. Ek kan nog dosyne hierby voeg. En dan kan jy as leser na die lys kyk en sê, “Goed, maar jy’t ’n paar gemis.”

Dink ons die heeltyd aan hierdie dinge? Nee. Sommige van hierdie vrae vereis moontlik dat ons sal stilsit vir ’n wyle om daaroor te dink; ander dinge wéét ons net. Die belangrike ding is, hóé ons hierdie vrae beantwoord, bepaal hoe ons onsself sien – op ons eie, in die privaatheid van ons eie spasies, en ook wanneer ons tussen ander mense is.

Vele van ons bevind onsself ook op een of ander stadium op vreemde plekke waar niemand ons ken nie, wat ons dwing om onsself voor te stel aan ’n skare vreemdelinge: “Hallo, ek is (X). Ek hou van popmusiek. Ek wil eendag my eie boekwinkel hê. Ek hou nie van uie op my pizza nie, en ek gaan een keer ’n maand kerk toe.”

Die vrae wat ons onsself vra, die maniere hoe ons dit beantwoord, hoe ons onsself voorstel aan vreemdelinge en hoe hierdie mense reageer op ons teenwoordigheid, bepaal uiteindelik of jy saam met ander pizza-eters uithang of nie, of jy glo dat jou siel uitgesorteer is die dag as jy doodgaan, of, en saam met wie jy moontlik eendag kinders sal produseer, en hoe jy jou vrye tyd spandeer. Om weer maar net ’n paar voorbeelde te noem.

Dit bring my by die boek wat nou voor jou ooplê. Hierdie is die resultaat van my eie pogings – veral gedurende die afgelope vier jaar op die eiland van Taiwan – om ’n paar vrae te formuleer, en om bypassende antwoorde bymekaar te skraap.

Wie ek is in die konteks van die wyer wêreld is nie van groot belang nie. Ek is inderdaad ’n skim, wat nooit meer as ’n paar van die mense sal ontmoet wat hierdie woorde sal lees nie. (Wat net sowel is! As ek moes wag tot ek bekend is aan meer as net tien mense voor ek hierdie projek sou aanpak, het ek eerder nou gesit en TV kyk.)

Ek is tot ’n groot mate net ’n gewone mens. Sekere dinge wat ek ervaar het, het ander mense ook al ervaar, en sal nog ervaar word deur vele ander. Probleme wat ek het, gehad het, en nog gaan hê, is soortgelyk aan die probleme wat miljoene mense elke dag die hoof moet bied. Baie wat hierdie bladsye sal lees, het ook al ander, en heel moontlik interessanter dinge ervaar; of het meer, en ernstiger probleme as wat ek ooit sal hê. Daar is ook die mense wat moontlik nog nooit so gelukkig was soos wat ek is, was, of moontlik nog gaan wees nie. Ander kan weer getuig van die teenoorgestelde.

Wat almal van ons bind, is dat ons soortgelyke vrae op die een of ander tyd aan onsself móét vra. Vrae waarop antwoorde gevind móét word, al vat dit ’n leeftyd.

* * *

Die materiaal is merendeels chronologies, en is veronderstel om ten minste hier en daar te lyk soos die storie van iemand se lewe.

Belangrik ook om te noem dat ek nie gaan sit het, ’n boek beplan het en toe begin skryf het nie. Die boek is saamgestel uit ’n paar jare se notas – meestal aan myself, joernaalinskrywings, briewe aan vriende en familie, en ’n paar essays wat ek van tyd tot tyd geïnspireer was om te skryf – weereens, hoofsaaklik vir my eie vermaak en latere verwysing. Die idee om dit saam te bundel in ’n enkele projek en dit beskikbaar te stel aan ’n wye lesersmark, het eers redelik onlangs by my opgekom.

Gooi dus vandag se koerant eenkant toe, sit die TV se klank af, maak vir jouself ’n vars koppie tee, en lees verder.

Fengshan, Taiwan
Sondag 18 Mei 2003

______________________