Kort opstel oor die kloof van onortodokse sienings

DINSDAG 2 NOVEMBER 2004

Dis heeltemal te verwagte dat die onverbonde enkeling iemand sal soek met wie hy sy solitêre bestaan vir ’n wyle – as dit dan nie beter kan wees nie – kan ophef. ’n Ryk verskeidenheid van probleme verhoed egter soms die bestes onder ons om die kloof oor te steek tussen Ek-op-my-eie, en Ek-saam.

Onortodokse sienings oor die lewe, die mens se bestaan, wie en wat ons is, godsdiens, politiek, en wat mense doen met ten minste agt ure van elke weeksdag, is een faktor wat die sprong oor die kloof inhibeer.

Die skrywer van hierdie nota is, soos een of twee lesers moontlik al teen hierdie tyd agtergekom het, een van die miserabele siele wat glo sy eie oortuigings is so ongewoon dat mense wat hom nie sy hele lewe lank al ken en tot ’n mate vrede gemaak het met die woorde wat gereeld oor sy lippe vloei nie, so verskrik sal wees deur hom dat hulle al gillend sal hardloop na die naaste bus- of treinstasie om so vinnig as moontlik afstand te bewerkstellig tussen hulleself en hierdie vreemde kreatuur.

Soos enige miserabele leuenstoel-filosoof wat sy sitplek werd is, plaas ek die blaam vir my situasie op ander se kortsigtigheid. Indien mense net bietjie die gange van hul eie verstand wil verbreed, die vensters miskien oop wil beur, en hier en daar ’n alternatiewe deur wil oopmaak, sal ek nie kan bybly met al die sosiale afsprake nie.

Ek bevind myself in ’n omgewing waar potensiële vroulike metgeselle in twee groepe verdeel kan word: vrouens wat in Taiwan gebore is en hier grootgeword het, en vrouens wat in Westerse lande gebore is en daar grootgeword het. Laasgenoemde kom in werklikheid, vir my eie doeleindes, neer op vrouens van my eie land, en meestal van my eie taal en kulturele agtergrond.

Daar is een belangrike verskil tussen Taiwannese en Afrikaanse kandidate, wat my persoon aanbetref: my onortodokse sienings, en my leefstyl waarin hierdie sienings ’n daaglikse tasbare werklikheid is, is ’n meer pertinente onderwerp van gesprek met laasgenoemde groep. Dit is in vele gevalle byvoorbeeld makliker om weg te kom met my spesifieke godsdienstige oortuigings met ’n Taiwannese vrou wat self óf geen duidelike godsdienstige oortuigings het nie, óf wat haar eie mengsel volg van meer as een godsdiens, as met ’n Afrikaanse vrou wie se identiteit en wêreldbeeld gevorm is in ’n Calvinistiese huishouding.

Ook die omgewing wat Taiwan is, is bevorderlik vir my om voltyds “skrywer” te wees, en deeltyds steeds ’n goeie inkomste te verdien as “English teacher”. Indien ek ’n verhouding aanknoop met ’n vrou met wie ek ’n taal en kultuur deel, is daar ’n sterk moontlikheid dat ons sal terugkeer na Suid-Afrika. Die uitdaging om dinge in Suid-Afrika vir my te laat werk soos in Taiwan, is egter veel meer ingewikkeld.

My sogenaamde onortodokse sienings kom amper altyd ter sprake met Afrikaanse vrouens, in ’n taal waar ek nie kan wegkruip agter gebrekkige woordeskat of swak uitspraak nie, en in terme en implikasies wat ek wéét, ons albei alte goed ken en verstaan. Om ’n vrou van my eie taal en kultuur te ontmoet met wie ek my sienings en oortuigings kan deel sonder inhibisie, is derhalwe ’n uitdaging van ’n uitsonderlike moeilikheidsgraad.

Dit kan gesê word dat ek nodig het een van twee tipes vrouens in my lewe:

* ’n vrou wat onbewus is van presies waarin ek glo; of

* ’n buitengewone vrou wat my oortuigings en persoonlike politiek verstaan, en breed genoeg kan dink om te kan sê: “Ek stem nie noodwendig saam met alles nie, maar ek hou van jou.”

______________________

Enige iemand vergeet – ek is ryk

SATERDAG 23 OKTOBER 2004

Vir as enige iemand vergeet het

Ons het nodig om te funksioneer, en om dit te kan doen het ons inligting nodig – wie ons is, wat ons is, wat ons nodig het, wat ons wil hê, en wat ons moet en mag doen om te kan kry wat ons nodig het en/of wat ons wil hê.

Ons moet ook ’n omgewing skep, of ons deel bydra in die skepping van ’n omgewing, wat bevorderlik is vir ons om te word wat ons wil wees.

Hierdie proses van “word” moet egter nie beperk word tot mense wat net hul eie agendas dien nie, wat net hul eie behoeftes en begeertes najaag nie. Die deelname van individue in ’n groter proses wat gemik is op ’n resultaat waarby meer as net ’n enkele persoon of ’n handvol individue sal baat, moet altyd opreg en aktief aangemoedig word.

Hoekom? Vir een rede, soos jy bydra tot die verbetering van iemand anders se omgewing, so dra iemand anders by tot die verbetering van joune. Ons deel ook omgewings, beide in die groter sin van die woord en in ’n meer plaaslike sin. As ons almal bydra tot die verbetering van ons gemeenskaplike omgewings, trek ons almal individueel voordeel daaruit.

MAANDAG 1 NOVEMBER 2004

Ek is ryk – tot my pap weer op is

Almal weet hoe belangrik dit is om rykdom te meet … of dan almal wat ernstig is oor geld (is daar nog mense wat simpel genoeg is om nie ernstig te wees oor geld nie?).

Verskeie maatstawwe word dan ook benut om rykdom te bepaal: die tipe motorvoertuig waarin mense rondrits; die hoeveelheid motorvoertuie waaroor die persoon beskik; die hoeveelheid toilette wat iemand in sy of haar woonplek het om van te kies wanneer noodsaaklike besigheid druk; die hoeveelheid kere per jaar wat mens oorsee gaan, en in watter klas sitplek jy jou agterstewe in neerplak op die vliegtuig; die kwantiteit en kwaliteit klere wat mense het om oor hul naaktheid te drapeer; blink stukkies wat mense aan hul ledemate hang, en so kan jy aangaan.

Ek, soos mens kan raai, is ook baie ernstig oor geld. (Hoekom anders sal ek hierdie stukkie teks produseer?) Maar van wanneer af word mens nie ernstig opgeneem met finansiële sake as jy jou rykdom meet aan die hoeveelheid bokse ontbytpap in jou kombuis nie? Ek meen, weet enige een met drie karre en sewe toilette en ’n snyerspak en ’n goue horlosie hoeveel kos Amerikaanse muesli deesdae? En ek besit ten minste vier bokse daarvan!

______________________

Goeie regering – identifikasie – idealisme

DINSDAG 19 OKTOBER 2004

“Goeie regering” en voldoende identifikasie data

Een van die doelwitte van goeie regering moet wees om die proses te fasiliteer waardeur mense voldoende identifikasie data bekom (nie noodwendig om die data te verskaf nie); om ’n omgewing te skep wat bevorderlik is vir die individu om hom- of haarself te identifiseer met iets groter as hulself.

Hierdie “iets groter” moet egter nie die regering self of die staat wees nie, maar eerder die “nasie”, of historiese figure, taal, kultuur, ensovoorts.

As ’n aktiewe agent in die konstruktiewe proses waardeur mense hulself identifiseer aan hulself, aan ander in hul gemeenskap, en aan mense beide binne en buite hul landsgrense, kan en moet goeie regering ’n belangrike rol speel in die verwesenliking van resultate voordelig vir beide die individu en die gemeenskap in wie se midde die individu leef en werk.

WOENSDAG 20 OKTOBER 2004

Die teenstrydigheid in my idealisme

Ek glo elke man, vrou en kind het ’n reg tot waardigheid, en ek glo elke man en vrou het ’n geboortereg om uiting te gee aan hul natuurlike begeerte vir vrye, kreatiewe werk onder eie beheer.

Hier is my probleem: Ek kan nie die teenstrydigheid ignoreer in my beskouing nie. Vir my om self vry te wees om kreatiewe vervulling na te jaag, het ek ’n magdom mense nodig om die gladde verloop en administrasie van die wêreld buite my voordeur te verseker, wetende dat die wyses hoe hulle dit doen, soms in direkte teenstryd is met waardes wat ek as baie belangrik ag.

______________________

’n Eksistensiële sprokie

DINSDAG 19 OKTOBER 2004

Eendag, lank, lank gelede, was daar ’n man wat gewoon het net so ’n kluitgooi van ’n baie klein dorpie af. Sommige mense het gemeen hy was ’n reus; ander sou stry dat hy groot was, maar darem nie reusagtig nie. Maar dat hy heelwat groter was as die mense in die dorpie, was duidelik aan almal wat hom teëgekom het.

Hierdie man was … eensaam, omdat hy alleen gewoon het, en ook omdat hy … anders was as die dorpenaars. Op tye het sy eensaamheid ondraaglik geraak – so ondraaglik dat hy nie anders kon as om sy huis te verlaat, die paar honderd meter te stap deur digte bosse, en sy verskyning te maak in die dorpie nie.

Sou hy hom dan by tye bevind in die dorpie, het hy sy bes probeer om vriende te maak. Dit was egter altyd ’n stadige proses. Hoewel hy vriendelik was, kon hy nooit sy ongemak wegsteek oor sy andersheid nie. Hy’t hard probeer om die mense te oortuig dat hy soos hulle was. Hy’t klere aangetrek wat, so’t hý in elk geval gereken, soortgelyk was aan hulle s’n, en hy’t probeer om te praat oor dinge waaroor hulle saam kon gesels. Hy’t ook ’n poging aangewend om te praat op maniere wat soortgelyk was aan hulle maniere van praat, alles in ’n poging om hulle nie te vervreem nie.

Die inwoners van hierdie gehuggie het almal in klein huisies gewoon, met klein deure, klein vensters, klein stoele en tafels, en baie lae plafonne. Elke keer wat die man gaan kuier het by mense in die dorp, moes hy laag afbuk om hulle huise te betree. Sy boude het seer geraak van sit op hulle klein stoeltjies, en soms was hy ietwat lomperig by hulle klein tafeltjies. Sy kop het ook gestamp teen die plafon, en sy oë het gebrand van uitkyk by hulle klein venstertjies. Sy rug het elke keer gepyn wanneer hy terugstap huis toe – van al die afbuk, natuurlik.

Die struktuur wat hierdie man sy huis genoem het – wat hyself, met sy eie hande gebou het – was veel, veel groter as selfs die grootste huis in die dorp. In vergelyking met sy huis, het die huise in die dorp gelyk soos pophuise; in vergelyking met die huise in die dorp, het sy woning gelyk soos ’n kasteel. Natuurlik het die man nie graag gepraat oor sy woonplek nie. Hy’t geweet, of vermoed, dat die dorpenaars skaam sou voel oor hulle eie beknopte woonplekke. En die man het nooit die dorpenaars genooi om sy huis te besoek nie, want hy was bang dit vervreem hulle soveel van hom dat hulle nooit weer met hom sou wou praat nie.

So het die tyd aangestap, met die eensame, skugter, saggeaarde “reus” wat sy bes probeer het om deel te wees van die gemeenskap in wie se midde hy gewoon het – al was dit dan so ’n entjie weg.

Elke nou en dan het hy homself toegelaat om te droom dat ’n jong vrou van die dorp dalk net eendag met ander oë na hom sou kyk, en miskien saam met hom in sy majestueuse woning sou kom woon. Maar die tyd het voortgesleep, sonder dat enige jong vrou van die dorp na hom gekyk het en enige iets anders as ’n effens lelike, kaalkop reus gesien het.

Hierdie man het begin moeg raak vir afbuk die hele tyd. Hy’t moeg geraak vir die lae deurkosyne en die lae plafonne. Hy’t moeg geraak daarvoor om te probeer fokus op die uitsig buite die klein venstertjies. Hy’t selfs moeg geraak vir die boudkrampe wat hy gekry het van sit op die dorpenaars se klein stoeltjies.

Die “reus” wou so graag net één keer regop staan, in die middel van die dorp waar almal hom sou kon sien, en ’n uitnodiging bulder aan al die dorpenaars om hom te kom besoek – by sý huis, sy kasteel. Hy wou vir hulle wys wie hy regtig is. Hy wou vir hulle verduidelik waar hy vandaan kom, hoekom hy anders as hulle is, maar dat ook hý net ’n mens is.

Hy’t geweet hy sou ’n groot kans waag om dit te doen. Die dorpenaars was so gewoond aan hulle eie huisies, hulle eie klein deurtjies, hulle eie klein venstertjies, hulle eie klein meubelstukkies en hulle eie lae plafonne, dat hulle onrustig sou raak in die groot kasteel. Die groot, swaar deur sou hulle bang maak. Die hoë plafon sou hulle verskrik na mekaar laat gryp, en hulle sou baie klein voel op sy groot, sagte stoele, langs sy reusagtige tafel. Laastens sou hulle dronk geraak het in die kop van die verskriklike wye uitsig uit sy reuse vensters.

Die mense sou weghardloop, weg van hom en sy kasteel af. Hulle sou hom heel waarskynlik nooit weer wou sien nie, en hulle sou sekerlik onrustig geraak het indien hy weer geselskap kom soek het in hul klein gehuggie. Nimmer as te nooit sou hy dan ’n jong vrou van die dorp kon oortuig om saam met hom te kom woon nie!

Tog, die man was moeg vir al die afbukkery. Vir eenmaal wou hy regop staan. Net een keer wou hy hê dat die dorpenaars hom kon sien vir wie en wat hy werklik is; om die man te kon sien wat hý sien wanneer hy in die spieël gekyk het.

______________________

Enkele punte op Maandag 18 Oktober 2004

Die soeke na identiteit word van die begin af gekortwiek deur die beperkte stel opsies wat aan jou beskikbaar gestel word.

* * *

Ek glo nie meer in wat ek voorheen “rewolusie” genoem het nie [om Taiwan te verlaat en terug te keer Suid-Afrika toe]. Ek glo daaraan om eerder die huidige struktuur te behou, dit mettertyd te hervorm, en iets beters te skep uit wat ek het.

* * *

Ek het grootgeword met die God van die Rykes, wat jou beproef met armoede, en beloon met rykdom. Hoe sou die God van Armes dit doen? Jou beproef met rykdom en beloon met armoede?

* * *

My laagste punt op ’n Maandag kom deesdae tydens my 16:30 tot 18:00 klas. Vandag het ek egter ’n redelik vreedsame negentig minute met die sewejariges gehad. En die klas was vreedsaam nie omdat ek onverwags getref was deur positiewe gedagtestrominge nie – inteendeel, ek het gedink aan my ouers, en hoe dinge na al die jare steeds nie vir hulle uitwerk nie.

Dit lei my toe tot die gedagte dat, ten spyte van ons neiging om hoop te kies bo niks (gevolg deur fisiese dood), mens soms moet erken dat “dinge” nie altyd in almal se gevalle “uitwerk” nie – wat ons dalk nie so ver kan kry om op te gee op ons hoop nie, maar dit staan steeds as ’n verifieerbare een-plus-een-is-gelyk-aan-waarheid tipe feit.

Ek dink toe hoe dit wil voorkom asof ek dieselfde probleem het as my ouers. Dis toe dat ek die konneksie maak tussen God en geld – dat dit wil voorkom asof dié met geld beloon word met dinge wat uitwerk, en dat dié wat arm is maar net aanhou hoop en glo dat dinge miskien ook vir húlle sal uitwerk.

Ek het verbasend vreedsaam gevoel na ek hierdie gedagtes gedink het, asof ek dit al vir ’n geruime tyd wou sê, maar miskien geglo het ek mag nie; dat dit sal kwalifiseer as rebellie teen God, strafbaar met die verdoemenis van my siel.

’n Uur of wat later – na aandete, besig om ’n bubble tea oorkant die coffee shop te drink – reken ek dis totaal aanvaarbaar om die gedagte te bedink van die God van die Rykes, en die Middelklas, want hierdie god is in diens van die rykes en die middelklas, en derhalwe nie die Ware God nie.

[Hoop is ’n snaakse ding. Iemand kan dalk sy hand opsteek en sê, “Kyk na my lewe. Wat van as ek een van daai mense is vir wie dinge nie gaan uitwerk nie? Waar laat dit my?”

Ek glo nie die lewe is ’n draaiboek wat ons soos marionette of tweederangse akteurs vertolk en dan gaan ons dood nie. As jy nóú al van mening is dat dinge nie vir jou gaan uitwerk nie, dan neem jy vir alle praktiese doeleindes ’n reuse sprong in presies daai rigting.

Nog ’n ding: my held is nie verniet die ou wat aanhou glo nie; die ou wat hardkoppig vashou aan sy hoop, al het hy ’n sterk vermoede die slag is reeds so te sê beslis.]

———–

Noam Chomsky het die volgende gesê in ’n onderhoud: “You basically have two choices: you can give up hope, feel hopeless and therefore ensure that the worst is going to happen, or you can have hope, and then try to realize the hope, and then there’s a chance that things will improve.”

____________________