Stilte. En stemme.

WOENSDAG 10 NOVEMBER 2004

22:59

Ek het geleer dat om nie te verskyn nie, beteken stilte. En dat stilte, indien jy dit kan hanteer, goed is.

23:57

Toe ek jonger was, het dit gevoel asof ek iets verkeerd doen as ek “te veel” tyd op my eie spandeer. Wat nie verbasend is nie, want van jongs af word dit ontmoedig; “Jy moet meer uitkom,” “Spandeer bietjie tyd saam met ander mense,” “Dis nie goed om so alleen te wees die heeltyd nie!” sal mense gereeld hulle goed bedoelde menings uitspreek.

Dit vat soms jare van alleenwees voordat jy alternatiewe insigte kry oor hierdie aangeleentheid, soos dat sosiale verskynings – wat terloops baie meer persoonlike informasie vereis as anonieme verskynings, en selfs verskynings in professionele kapasiteit – baie “geraas” beteken. En hierdie geraas maak stemme stil wat baie mense vrees – en miskien in sommige gevalle nodig het om te vrees.

Hierdie “stemme”, indien jy lank genoeg jou “ore” spits, en lank genoeg nadink oor wat jy “hoor”, openbaar uiteindelik insigte wat net beskore is vir dié wat bereid is om te luister, en wat bereid is om die lugweë skoon te hou ter bevordering van hierdie proses.

———–

[Vele mense in die geskiedenis van die wêreld het al “stemme” gehoor, en gereageer daarop deur aksies te neem wat die rigting van duisende, selfs miljoene mense se lewens beïnvloed het, en steeds doen.

Daar is ook vele mense wat nooit enige tasbare impak sal maak op hulle omgewings nie, wat ook stemme hoor elke dag. Die feit dat baie van hulle in inrigtings opgesluit is, of opgesluit gaan word, spreek van hoe hierdie figure bejeën word deur die gemeenskap – ongeag of dit regverdigbaar is of nie.

Watse “stemme” hoor ek? Hoewel die term ’n handige een is om te gebruik, moet ek noem dat ek nie (meeste van die tyd, in elk geval) werklik stemme hoor nie. Die tye waarna ek verwys wanneer ek kwansuis iets “hoor”, is eerder tye waar my eie stem die lugweë vul soos ek met myself in diepe gesprek verkeer. Dat my self-gesprekke ongeïnhibeerd is – ek probeer niemand beïndruk in ’n sosiale verskyning nie, om een voorbeeld te noem – beteken dat ek die spreekwoordelike tafel vol kaarte kan gooi. Hierdie “kaarte” is moontlike antwoorde op vrae, moontlike oplossings vir probleme waarmee ek gereeld myself teister ongeag of ek op my eie is, anonieme verskynings maak, of as “Brand Smit” verskyn aan die gemeenskap. As hierdie kaarte eers op die tafel is, kan die geldigheid van elkeen op meriete oorweeg word. Geen antwoord of oplossing word uiteindelik blindelings aanvaar omdat een of ander stem dit vir my gedikteer het nie.]

______________________

Nuwe bestaan – zig-zag

DINSDAG 9 NOVEMBER 2004

’n (nuwe) Bestaan in drie noodsaaklike stappe

[Nie die eerste vermelding van hierdie gedagtes nie, maar wie hou telling as iets in stappe uitgedruk kan word?]

Stap Een: Konfronteer jou Gegewe Self, en aanvaar wat jy nie kan verander nie.

Stap Twee: Definieer, in ag genome onveranderbare aspekte van jou Gegewe Self, wie jy wil wees, hoe jy wil verskyn aan die wêreld, en watse rol jy wil speel. Besluit of jy sal verkies om alleen te wees, of saam met ’n ander persoon. Besluit ook wáár jy alleen jou lewe wil spandeer, of waar jy dit sáám met iemand wil doen.

Stap Drie: In ag genome al bogenoemde besluite, stel was op watter wyses jy in jou daaglikse behoeftes kan voorsien wat nie net nié die Self wat jy wil wees, sal verloën nie, maar wat dit wie jy wil wees, jou rol, en jou ideale bydrae tot die samelewing, sal bevorder.

Zig-zag

Dit is altyd moontlik om die waarheid te sien. Die vraag is net, teen watse prys?

Mense sê baie keer, “Jy’s skaamteloos!” as hulle jou wil berispe. Vreemd.

Uit die China Post:

“People don’t have to like what I do. I’m happy as long as I get them to talk about the issues.” ~ Die mening van foto-kunstenaar, “Olaf”

In Hong Kong het Health Secretary, York Chow, aan verslaggewers gesê: “Suicides are committed for different reasons, but the most common is that (victims) feel disconnected from society.”

______________________

Die nuwe dag

DINSDAG 9 NOVEMBER 2004

Die brein is soos ’n rekenaar – die eerste paar minute na jy hom aangeskakel het in die oggend, word die files en programme wat die vorige aand ook aktief was, weer stadig geaktiveer. Na ’n paar minute maak ’n bekende karakter weer sy of haar verskyning: jy’s weer van voor af skaam oor dieselfde insident as die vorige aand (omdat die “program” wat jare gelede geïnstalleer is, natuurlik weer geaktiveer is om “skaamte” te stimuleer); jy’s weer opgewonde oor dieselfde dinge; jy’t dieselfde drome, dieselfde ambisies, en dieselfde oortuigings. Sekere onsekerhede, verleenthede en angstighede het dalk wel ’n bietjie gaan lê, maar jy’s in wese dieselfde mens.

Kan dit dus steeds gesê word dis ’n nuwe dag? Soos ek hierdie woorde sit en skryf, is dit “Dinsdagoggend” om “08:06”. Ek het nou net ontbyt geëet. Dis redelik vroeg in die oggend, en tog is dit dertien en ’n halwe ure later as my aandete “gisteraand”.

Janis Joplin het eenkeer gesê (of geskree), “Because as a matter of fact, as we discovered on the train, tomorrow never happens, man! It’s all the same fucking day, man!”

Tog, die idee van ’n nuwe dag is veels te waardevol om te laat vaar op ’n tegniese punt. Elke nuwe Tydseenheid van Daglig gevolg deur Donkerte bied etlike moontlikhede wat nooit onderskat kan word nie: geleenthede om droog te maak, geleenthede waar jou lewe in gevaar kan wees, geleenthede waar jou lewe in een oomblik kan eindig … en geleenthede om op te hou om rond te fok, en op ’n beter pad te klim as die een waarop jy sover rondgedrentel het.

’n Nuwe dag dan – al is dit net omdat dit meer poëties klink – wag op my, en op jou …

______________________

Notas oor die materiaal en die karakter

WOENSDAG 3 NOVEMBER 2004

Nota oor die hoofkarakter

Teen teen die tyd wat mens kom by “Persoonlike Agenda, BOEK DRIE” gaan die materiaal nie meer oor my nie – dit gaan oor ’n karakter. Hierdie karakter se naam is “Brand Smit” – selfde as myne, en sy storie stem toevallig 100% ooreen met my lewe. Die leser sien egter teen hierdie tyd die karakter, “Brand Smit”, op maniere wat beïnvloed word deur hul eie identiteite en agendas, en nie presies soos ek, as “skrywer”, die karakter beskou nie.

DONDERDAG 4 NOVEMBER 2004

Oor die materiaal onder oë

Vele vrae moes beantwoord word in die ontwikkeling van my gekose rol as skrywer: In watse genre wil ek skryf? Waaroor wil ek skryf? Hoe wil ek my materiaal beskikbaar stel aan die leser – gedrukte vorm, CD-rom, Internet? Indien boekvorm, wil ek dit self publiseer, of gaan ek dit stuur na uitgewers tot iemand dit “goedkeur”? Ook, watse doel wil ek dien met my materiaal? Wil ek mense vermaak, of vir hulle preek? (My keuse is om lig te werp op sekere aangeleenthede wat meeste mense raak op ’n persoonlike vlak.) Wil ek geld verdien met my materiaal? Anders gestel, hoe belangrik is finansiële kompensasie vir my skryfwerk, wat natuurlik inhoud, styl, genre en wyse van publikasie sal beïnvloed?

______________________

Notas vir ’n INLEIDING

DINSDAG 2 NOVEMBER 2004

Skrywers stuur die materiaal wat hulle in privaatheid produseer die wêreld in om verskeie redes. Hulle verwoord ook die gedagtes wat uiteindelik manifesteer as die leesstof wat in boekwinkels en op bedkassies opeindig, in verskeie genres waarmee lesers min of meer bekend is. Gedigte, romans, kortverhale, artikels, essays, en meningskolomme in plaaslike koerante is enkele voorbeelde van hierdie literêre tipes.

Ek, as beide leser van ander se materiaal en verwoorder van my eie gedagtes op papier, is bekend met bogenoemde genres. Die gedig, kan ek seker in eerlikheid erken, is ’n literêre tipe waarvoor ek heelwat sentiment koester. Die (gewoonlik) kort lengte van die gedig, die manier hoe elke woord en elke reël saak maak, die uitdaging om wat jy wil sê, te sê terwyl jy tred hou met ritme en rym, maak die gedig ’n uitsonderlike uitdaging. Ander skrywers verkies die roman – die langer verhaal, met sy karakters, sy milieu, sy dramatiese insidente, begin, middel, ontknoping en dies meer. Kortverhale is ’n medium wat ek meer aanloklik vind. Een van die aspekte van die kortverhaal wat my immers die meeste aantrek, is die kort aard daarvan – jy begin, jy skryf nog ’n paar bladsye, jy eindig, en jy begin die volgende een (om dit eenvoudig te stel). Meningskolomme het ek nog nooit geskryf nie. Artikels het ek al probeer skryf, maar ek het nog nie verder gevorder as die tweede opdrag van ’n skryfkursus waarvoor ek ingeskryf het drie jaar gelede omdat ek steeds sukkel om met vyf onderwerpe vorendag te kom waaroor ek artikels wil skryf. Die essay is ’n genre waarmee ek gemaklik geraak het die afgelope paar jaar. Essays kan kort wees – so min as 500 woorde, of dit kan aangaan vir bladsy na bladsy sonder om noodwendig ’n bevredigende konklusie te bereik (bietjie jammer vir die leser, maar nou ja).

Die literêre uitdrukkingsvorm wat my die meeste aanstaan, is die geskrewe nota. Die nota is onmiddellik. Titels is luukshede waaroor mens veel later eers besin. Die klem is op vars uitgedrukte idees. Soms sal enkele ure verbygaan voordat ’n gedagte dit maak tot op papier. Soms word die vertraging tussen gedagtevorming en gekrap in potlood of ink getel in sekondes. Natuurlik sal die soms rowwe bewoording van gedagtes en emosies later ’n bietjie gepolitoer word. Paragrawe, opskrifte en ander formaliteite van literatuur stuur uiteindelik die voormalig rowwe gekrap die wêreld binne soos ’n boemelaar wat skoongeskeer, en in nuwe klere gereed is om vir die kameras te glimlag.

Mens word gereeld herinner daaraan dat ander mense nie juis belangstel in jou persoonlike wroegings en dagboeknotas nie. As boekentrepreneur moet ek ook die verskil in verkope oorweeg tussen genres waarmee meeste lesers bekend is, en die meer obskure tipes. Die nota mag dalk ’n handige formaat wees wanneer jy onmiddellik uitdrukking wil gee aan gedagtes wat hulleself aan jou voordoen, maar die genres wat blykbaar deur meeste lesers verkies word, is romans en kortverhale. As jy dan meen jy’t iets om te sê wat jy nie soos ’n H.G. Wells of ’n George Orwell kan verwoord in ’n verhaal nie, is die essay gewoonlik die voorkeur keuse.

Wat my by ’n tegniese kruispad bring: Gaan ek die geskribbel in my laaste paar notaboeke hergiet in die vorm van opstelle, wat die boek waarvan dit deel gaan uitmaak, ’n beter kans sal gee om daai droom verkoopsyfer van ’n hele dosyn kopieë te haal, of gaan ek bloot die notas politoer tot ’n meer verteerbare styl, en dit die buitewêreld instuur naastenby soos dit oorspronklik my binnewêreld betree het – wat moontlik die verkoopsyfer sal afbring na ’n meer beskeie twee of drie kopieë?

Ek sê, laat die woorde vir eers staan soos dit is.

______________________