MAN BY ‘n STASIE
‘n Man by ‘n treinstasie vra vir die vrou agter die toonbank hoe ver R300 hom kan vat. Ek sit agter my rekenaar, ‘n dag voor ek die verpligte mediese toets moet ondergaan as die eerste stap om hier aan te bly en ek vra, hoe ver kan NT$50,000 my vat?
Ek is desperaat om weg te gaan. Ek is ook desperaat om terug te gaan Suid-Afrika toe, as die ideale eindbestemming van die eerste aksie, maar nie noodwendig die enigste moontlikheid nie.
Wat is my opsies? Wat het ek nodig om te doen? Ek het nodig om omtrent twintig bokse met ornamente en ander artikels terug te karwei Suid-Afrika toe. Ek het ‘n paar duisend nodig om my ‘n redelike kans op oorlewing te gee gedurende die eerste paar maande in Suid-Afrika. Ek het beloftes gemaak oor besoeke aan my suster en haar eersgeborene in Engeland, en aan my goeie vriendin van lank gelede in Nederland.
Twintig bokse se verskeping gaan omtrent twintig duisend van my beskikbare kapitaal uitwis. Ek het klaar gekompromeer oor die meubels, maar my ornamente en boeke is belangrik. ‘n Enkelvliegtuigkaartjie na Johannesburg gaan my vyftien kos. Dit laat my met ongeveer drie duisend rand.
Aan die ander kant sal ‘n retoerkaartjie na Europa [binne die volgende maand] my ten minste dertig duisend kos. Wat my laat met ongeveer twintig duisend vir sakgeld, wat meer as voldoende is, maar dit laat my nie met genoeg geld om my visum te hernu vir verblyf in Taiwan nie.
Alternatiewelik kan ek vyf duisend spandeer op my visum, en tussen tien en vyftien spandeer op reisigerstjeks. Dit sal my egter na twee weke terugbring na ‘n nare realiteit in Taiwan: geen geld nie, steeds die sig van meubels in die verkeerde land, en twintig bokse se inhoud wat nog boekrakke volstaan en mure vol hang. (En dan is daar nog telefoonrekeninge en skuldpaaiemente wat betaal moet word.)
‘n Ander opsie is om doodgewoon te trek na ‘n ander stad in Taiwan. Dit sal van die meubels ontslae raak, ek kan ten minste die helfte van die bokse reeds Suid-Afrika toe stuur, en ek kan na ses maande genoeg geld uit die nuwe betrekking verdien om die res van die bokse te verskeep. Ek sal dan eers teruggaan Suid-Afrika toe, en daarna vir twee of drie weke in Europa gesig gaan wys.
Nog ‘n opsie is om ‘n sesmaand betrekking te kry in China. Dit sal ook van die meubels ontslae raak; ek kan al twintig my bokse Suid-Afrika toe stuur; vir ses maande in China werk; Chinees studeer; en werk aan materiaal met ‘n ietwat ander geur as waarmee ek die afgelope vyf jaar my tyd verwyl het. (“Geen ballingskap essays nie?” mag jy dalk vra. Nee. “Die Uitgerekte Proses van Ballingskapopheffing” is wel ‘n sterk moontlikheid.)
Wat sou jy gedoen het? Dis ‘n groot fokken jammerte dat daar niemand is wie se raad op hierdie gebied ek genoeg respekteer om daarvoor te vra nie. Hoekom dit so is kan ek maar net spekuleer, hoewel dit genoem kan word dat mense wat hulleself te veel aanstel oor ander nie in die gewoonte is om in beskeidenheid te luister na ander se advies nie.
Miskien het dit ook te make met die feit dat niemand in elk geval ‘n ander een so goed verstaan soos daai persoon self nie. (Is dit regtig so? Dit bevraagteken natuurlik die geldigheid van die hele sielkundige hulp bedryf.)
Dalk is dit net omdat ek in ‘n situasie is wat totaal uniek is – met al my vorige onsekerhede oor die lewe, waar ek vandaan kom, waarheen ek op pad is, twee jaar in Korea en toe die opheffing van daardie wegbly-aksie; agt maande van armoede en magteloosheid in Suid-Afrika; die skok van genoeg geld gedurende die eerste paar maande in Taiwan om ‘n rekenaar kontant te kan koop, en boeke, en musiek, en nuwe klere, en duur horlosies; die sekuriteit van ‘n drie slaapkamer woonstel wat ek net gedeel het met ‘n paar insekte; gemeganiseerde vervoer wat beteken het dat ek nie afhanklik was van enige iemand anders om fliek toe te gaan nie; fliekgeld…
Dis natuurlik vir die organisme om ‘n situasie van spanningsloosheid te verkies, of dan die moontlikheid naaste aan hierdie gewenste toestand. Om Korea te verlaat was gedoen om emosionele spanning te verlig. Ek het geweet ek moes dit doen, nie omdat iemand dit vir my as advies aangebied het nie, maar omdat ek moontlik na ontbyt, voor middagete, in ‘n fliek, of agter die kontroles van ‘n video game moedeloos gedink het, “Ek is sommer lus en gaan huis toe, so gou as moontlik.”
Die oomblik toe hierdie gedagte by my posgevat het, het die brein vorendag gekom met spesifieke planne en aksies wat geneem moes word. Die organisme het nie toe geweet van buitekamers met pienk mure en sponse vir ‘n bed, of ‘n vervelige deeltydse betrekking in ‘n kantoor in Johannesburg nie. Die organisme het nie geweet hoe dit gaan voel om elke dag met ‘n geleende fiets die sewe kilometer te trap kantoor toe nie. Die organisme het nie geweet hy gaan binne ‘n paar maande platsak wees nie. Al wat hy geweet het was dat die spanningsliggie ROOI-ROOI-ROOI gebrand het.
My spanningsliggie brand rooi. Dis die maklikste ding op aarde om môre in ‘n koppie te gaan poep en teen ‘n muur by die hospitaal te gaan pis, om sodoende oor twee weke nog ‘n stempel in my paspoort te hê wat my sal toelaat om vir nog ‘n paar maande my ongepakte ornamente en muurbehangsels met groot liefde te streel asof dit foto’s van ‘n geliefde is. Maar of dit my spanning gaan verlig is ‘n risiko waaroor ek binne die volgende twaalf ure ‘n besliste besluit moet maak.
Ek wens amper hierdie hele “teruggaan” tema was net ‘n literêre streek omdat ek nie lus is om kortverhale te skryf nie. Ek wens daar was iemand wat vir my kon raadgee. Maar my tyd is amper op.
Dis Woensdag, 4 Februarie. Ek moet besluit wat ek gaan doen. As ek besluit om te bly… dan’s dit hoe dit is.
Ek sal ook plegtig belowe dat die woorde “ballingskap”, “bokse pak”, “vliegtuigkaartjie” en “planne” nie gebruik sal word in enige stukke wat geskryf sal word tussen nou en wanneer ek ook al my bokse pak, my vliegtuigkaartjie koop, en met halfgebakte planne uiteindelik my ballingskap ophef nie. Ek weet nie lekker wat ek sal doen nie, maar ek is seker daarvan ek sal aan iets kan dink om te skryf (die “Fauna En Flora” idee het platgeval, die “Trip Na Die Strand” het plaasgevind maar het niks opgelewer om oor te skryf nie, en met hoeveel meer kan ek nog vorendag kom oor “Plek en Identiteit”?)
Voorwaar, voorwaar, sê ek vir myself, ek staan by ‘n stasie. Vorentoe of tru, links of regs, spring oor die spoor of hardloop weg; Beijing, Middelburg, Londen, Amsterdam, Bronkhorstspruit, of Berg van die Aasvoël Dorp. Ek weet fokol.
___________
