SATERDAG 27 SEPTEMBER 2025
Hierdie hele week deurgeloop onder koors, verstopte neus, hoes … maar die ergste was die nagte: warm, bedompig, en omdat enige briesie my neus nog verder sou laat toetrek, geen waaier of lugverkoeling nie.
’n Mens se immuunstelsel beskerm jou van kieme en virusse wat konstant op jou case is, wat jou agtervolg 24 ure per dag sewe dae per week, wagtend op die kleinste kans om jou verdediging binne te dring en jou siek te maak. Laat sak jou wapens vir ’n oomblik – soos om met ’n nat kop voor ’n waaier te sit, en jou fort word oorrompel.
Selfde met jou geestelike immuunstelsel. Solank jy relatief gesond is, en alles werk soos dit moet, kan jy ook meeste van die geestelike kieme en virusse afweer wat jou geluk wil ondermyn. Maar die oomblik as daar ’n algemene verswakking bespeur word …
Daar’s soveel dinge wat aangaan in die wêreld waarvan ’n mens moet probeer sin maak. Soveel geweld, en misdaad, en korrupsie, en politieke leiers wat mense na hulle dood toe stuur en hulleself dan op die skouer klop vir ’n taak goed verrig. En daar’s persoonlike herinneringe van tien jaar gelede, en twintig jaar gelede … herinneringe van jou kinderdae. Herinneringe van toe jy koors gehad het in ’n ander stad in ’n ander land. En dan kom ander herinneringe van daai tye ook uit wat jy sorgvuldig weggepak hou meeste van die tyd. En al hierdie geestelike kieme en virusse vloei by jou hekke in terwyl jy in die klein ure van die nag worstel om ’n paar ure se slaap in te kry voor die son op kom.
Dit maak jou oud. Dit verander jou.
______________________