Liefde van ʼn vrou – gereed vir nog ’n dag se reis

DONDERDAG 1 MEI 2008

Die liefde van ’n vrou – uit die man se oogpunt

Stel jou voor ’n man stap deur ’n woestyn. Hy loop al vir dae lank. Sy kos en water is op en hy is gedehidreer. Hy struikel soos hy by ’n duin afgaan. Rol tot aan die onderkant. Lê net daar.

Dan, op daai oomblik, verskyn ’n reddingsvliegtuig in die blou lug bo hom. Iemand met noodvoorraad daal neer met ’n valskerm. Drie ure later arriveer ’n jeep-ambulans.

’n Paar dae later word hy wakker in ’n hospitaal. Hy is gekoppel aan buise, en dokters en verpleegsters monitor sy toestand. Hy gaan orraait wees, verseker die dokter almal in die wagkamer.

Dit, vanaf die oomblik dat die reddingsvliegtuig verskyn het tot by die versekering van die dokter, dit is die liefde van ’n vrou. Dit is ’n hoogs gunstige wending in die lewe van enige man.

(vir Natasja)

VRYDAG 2 MEI 2008

[…]

Die gedagte kulmineer toe in ’n vraag na wat die afgelope twee jaar in my lewe genoem kan word. Ek het reeds ’n paar maande gelede daarna begin verwys as die Tweede Kommersiële Diktatorskap, maar bedoelende om ’n bietjie meer beskrywend en meer akkuraat te wees, sê ek toe: ʼn Tyd van ontdekking, mislukking, verleentheid, geloof, ontnugtering – en die begin van die einde van finansiële onbevoegdheid.

DONDERDAG 8 MEI 2008

Teen Woensdag of Donderdag of Vrydag raak herhaling van dieselfde vervelige aksies en gebrekkige kreatiewe vervulling ’n probleem. ’n Goeie manier om dit te verwerk, is om uit te gaan vir ʼn bier, te gaan tennis speel, of om ’n film te gaan kyk.

Ek dwing myself egter terug in my kantoorstoel, en sit die roetine voort – wat ook al die roetine is daai week. My gemoedstoestand is derhalwe vatbaar vir enige foute wat ek maak, resultate wat nie so goed is as wat ek verwag het nie, selfs vir goeie resultate wat “te min, en te stadig” is.

Die uiteinde is voorspelbaar: “Dit” werk nie. Ek moet “iets anders” doen. “Dit” is te stadig. Dalk moet ek weer na “dit” of “dat” kyk.

As ek net gaan sit het – op die groen rusbank, en gelees het, of ’n film gaan kyk het, was ek na ’n paar ure, of die volgende dag, weer op pad. Uitgerus. Gereed vir nog ’n dag se reis.

Hoe ék egter die probleem benader, is soos iemand wat op die pad is sedert kort na ontbyt. In plaas daarvan om ’n motel te soek wanneer dit begin donker raak, na tien of so ure op die pad, ry die man voort, sonder stop. Tot hy in ’n trok of ’n telefoonpaal vasry.

______________________