’n Rewolusie van ’n ander aard

DONDERDAG 12 FEBRUARIE 2004

Ek is die Persoonlike Republiek; die Skrywer is die diktator met ’n ystervuis. Die Skrywer besit die mees waardevolle hulpbron, naamlik Tyd (hoewel hy die Onderwyser toelaat om genoeg kapitaal te verdien om die Persoonlike Republiek aan die gang te hou).

Dit het egter duidelik geraak vir almal, selfs vir die Skrywer, dat die Algemene Gang van Sake nie onbepaald gehandhaaf kan word onder die huidige bewind nie. Die Volk murmureer al vir te lank. Probleem is dat sprake van rewolusie al so alledaags geraak het dat niemand hulleself meer daaraan steur nie. Tog weet almal dat daar geen ander uitweg is nie!

Anders as in talle ander rewolusies in die geskiedenis van aardse beskawings is die struktuur nie die probleem nie. Wat verander moet word, is die finansies van die Republiek. Wat benodig word is dus nie ’n Kulturele Rewolusie, ’n Politieke Rewolusie, of ’n Spirituele Rewolusie nie. Wat benodig word, is ’n Kommersiële Rewolusie.

Die Skrywer – slim soos hy is – is egter nie bekwaam daarvoor om ’n Kommersiële Rewolusie te begin of deur te voer nie. Niemand twyfel daaroor dat die Skrywer se Saak goed is nie, maar Een van Ander Bekwaamheid en Talent moet ingeroep word vir die noodsaaklike taak wat voorlê.

Die Volk moet gered word. Die Onderwyser moet gered word. Die Student moet gered word. En soos dinge staan, moet ook die Welwillende Diktator gered word. Dit sal inderdaad nie oordrewe wees nie om te beweer dat die Toekoms van die Persoonlike Republiek op die skouers rus van ’n Bekwame Kommersiële Leiersfiguur.

Die Skrywer weet wat gedoen moet word. Hy Wat Met ’n Ystervuis Regeer moet die een ding doen wat hy vrees soos ’n hondsdol, uitgeteerde hiëna: Hy moet die greep laat vaar wat hy het oor die ure wat sy dae en nagte vul. Hy moet afstand doen van Eksklusiewe Besit van Tyd, ten minste tot sake beter begin lyk – op die finansiële front.

Omdat Besit van Tyd die sleutel is tot mag en om enige iets uit te rig in die Persoonlike Republiek, beteken dit egter ook dat die Skrywer tydelik afstand sal moet doen van sy status as Dominante Rolspeler. Hy sal steeds die Spirituele Leier wees, maar ter wille van die Republiek, die Volk, die Onderwyser en die Student, en ter wille van sy eie Saak, moet tyd en daarmee saam die vermoë om dinge te dóén eerder as om net te praat daarvan, vir ’n periode van nie meer nie as Drie Maande oorhandig word aan Een Wat Nie Skryf Nie, aan iemand wat in hart en wese sal wees … ’n Kommersiële Diktator.

Hierdie Rewolusionêre Figuur sal eksklusiewe beheer oor tyd geniet. (Natuurlik sal die Onderwyser, tot sy spyt, steeds aangepor word om elke dag uit te gaan om brood- en huurgeld te verdien.) Die Nuwe Leier sal dag en nag moet arbei vir ’n Beter Ekonomiese Bestel vir Alle Karakters. Hy sal toegewyd wees aan die Persoonlike Republiek – dit weet en verwag almal, en hy sal dit doen vir die Saak van die Skrywer.

Die Kommersiële Diktator se Rewolusie sal tydelik, sowel as kragtig wees. As hy misluk, loop die Republiek die gevaar om onder te gaan. As hy slaag, sal dit die Begin van ’n Goue Era beteken. Maatreëls wat gedurende hierdie periode geïmplementeer sal word, sal dien as ’n Ekonomiese Model vir ’n Nuwe Republiek – uiteindelik weer onder die bekwame leierskap van die Langtermyn Dominante Figuur.

Die Skrywer sal in die aanloop tot die Nuwe Tyd die Tydelike Diktator bystaan met propagandabaniere, slagspreuke en kort toesprakies. Sodra die Nuwe Tyd egter aangebreek het, begin die Skrywer se periode van Selfopgelegde Stilte. Maklik sal dit nie wees nie. Die Skrywer weet dat hy sy mond sal moet hou en sy tikvingers meestal in sy sak. So moet dit noodwendig wees. Twee honde kan nie op dieselfde tyd aan dieselfde been knaag nie. So ook kan twee diktators nooit op dieselfde tyd dieselfde republiek met ’n ystervuis regeer nie. Die Skrywer sal stil wees, en sy tikvingers sal slegs beweeg as die Kommersiële Diktator dit vereis. So sal dit wees vir Drie Maande lank.

Vandag is die Vierde Dag van die Week, die Twaalfde Dag van die Tweede Maand van die Jaar. Oor Elf Dae is dit Nuwe Tyd.

______________________