Deur 22 - 12 - 2003

Dis Maandag, 22 Desember 2003, sewe minute oor twaalf in die middag. Ek het so ‘n uur gelede opgestaan, ontbyt geëet, en gelees oor die verhouding tussen Rusland en Europa tot en met 1856. Toe het ek my wasgoed versorg, my skottelgoed gewas, my tande geborsel, en die rekenaar aangesit.

Ek het eers die woorde getel van twee stukke wat ek verlede week geskryf het, en toe ‘n FreeCell game begin speel. Laasgenoemde het – soos dit blyk die afgelope paar dae – te ingewikkeld geraak, en ek reken toe ek skryf eerder hierdie stuk oor die veranderinge wat noodwendig in die nuwe jaar aangebring moet word in my lewe.

Eintlik wou ek net ‘n paar dinge neersit op papier, en ek was lus om eerder te tik as om te skryf. My voorneme was spesifiek om nié ‘n opstel te skryf nie – ek wou net my gedagtes agtermekaar kry.

Die oomblik toe ek die eerste sin skryf, het ek egter geweet mens kan nie ‘n proses begin, en dit dan verloën wanneer dit jou nie pas nie. Hierdie tipe van stukke is hoe ek myself uitdruk deesdae. Ek kan myself nie meer verhelp nie. Ek gaan sit agter die rekenaar om net ‘n onskuldige nota aan myself te skryf, en as ek weer sien het DIE SKRYWER my onbeleefd van die stoel afgestoot, en sy twee vet middelvingers freneties oor die sleutels begin gooi. Hierdie is dus noodwendig nou:

DIE LAASTE BALLINGSKAP (MERK 15)

Terwyl Die Skrywer besig is om nog ‘n paar FreeCell games te verloor, knoop ek ‘n gesprek aan met ‘n ou vriend. As deel van die vyftiende ballingskap opstel, laat my toe om dié keer die tromme te rol vir:

DIE TWEEDE ONDERHOUD TUSSEN BRAND EN DIE WYSGEER

[...]

DIE LAASTE BALLINGSKAP (vervolg)

Alle grappies op ‘n Chinese eetstokkie. My planne wissel tussen twee pole: Aan die een kant is ek desperaat om einde Februarie volgende jaar terug te gaan Suid-Afrika toe, aan die ander kant wil ek nog sewe jaar in die Ooste bly. Tussen hierdie twee ekstreme lê al my begeertes, my vrese, my belangstellings, en my hoop vir ‘n lewe wat beter is as die een wat ek nou my eie noem.

Ek moet myself egter dwing om ‘n paar feite aan die gesig te vat:

a) Ek is nie meer 25 nie.
b) My probleem met ‘n vaste betrekking by ‘n instelling of korporasie in my geboorteland is teen hierdie tyd goed gedokumenteer. Feit bly egter staan dat ek geld nodig het om te oorleef en planne uit te voer, en ek het nodig om sekere stappe te neem om te verseker dat ek oor – wie weet? – die volgende veertig jaar kan voortgaan om kos te koop.
c) My groot droom is ‘n drie slaapkamer huis met ‘n tuin en ‘n lappie gras, in ‘n stil voorstedelike area, of in ‘n groterige dorp in Suid-Afrika (die land waar ek gebore is en groot geword het anders het ek hierdie boek in Sweeds of Spaans geskryf en was my naam Hans of Jose).

Is dit goed genoeg om net te jy wil ‘n drie slaapkamer huis in ‘n stil dorp hê? Natuurlik help dit om ambisie te hê, en as jy genoeg sinne in jou rede het behoort jy te weet dat jy bepaalde stappe moet neem om die drie slaapkamer huis te bekom. Maar soms dink ek fatalisties hieroor, asof dinge vooraf bepaal word, en as dit nie in jou kaarte is nie kan jy maar probeer wat jy wil. As dit dus in jou teeblare sê, “Woonstel in Kowloon tot jy doodgaan van eensaamheid” dan gaan dit nie help as jy in desperaatheid teruggil, “Drie slaapkamer huis in stillerige dorp!” nie.

Gewoonlik gaan slaap ek as my gedagtes in sulke sinneloosheid verval, en dit help dat my idees altyd sulke rigtings inhel diep in die nag as ek in elk geval oorweeg het om een of ander tyd te gaan lê vir ‘n paar ure.

Vanoggend staan ek toe op, en na my gebruiklike stukkie geskiedenis (die ongemaklike verhouding tussen Rusland en Europa tot en met 1905), besluit ek toe dat net omdat ek blykbaar nie meer ‘n sosialis kan wees nie, dit nie noodwendig beteken dat ek nie deur die gebruik van rasionele denke en aksie my eie maatskaplike stelsel, en gepaardgaande verhoudings kan bewerkstellig nie.

Wat ‘n baie omslagtige manier is om te sê dat ek nie glo ek is noodwendig gedoem tot ‘n eensame bestaan op ‘n subtropiese eiland in Noordoos-Asië nie. Maar beteken dit ek kan volgende Februarie – oor bietjie meer as twee maande – teruggaan Suid-Afrika toe? Kan ek in die ry gaan staan vir ‘n drie slaapkamer huis in ‘n stillerige area? Duidelik nie.

Ek dink toe weer aan die implikasie van wat my goeie vriendin N.S. laat val het so tussen happe vol rys en groente die ander dag. Sy’t die opinie uitgespreek dat mens soms geduldig moet wees. Goed en wel om dinge te wil uitsorteer, om antwoorde te wil soek, maar nie alle antwoorde val voor jou voete neer net omdat jy ‘n slim vraag gevra het nie. So ook met ons ambisies. Net omdat ek na al die jare die woorde “drie slaapkamer huis in ‘n stil area” kan prewel sonder om te dink ek verloën myself, is nie te sê dat ek al klaar een toilet en ‘n halwe slaapkamer agter my naam kan skryf nie.

So kan ek aankarring en al in die rondte bly dans, te vertel van hoe ek ‘n sigaret gerook het, gedagtes op die trein gehad het oor die mooi berge, uiteindelik my telefoonrekening gaan betaal het, en huis toe gekom het om verder te skryf aan hierdie opstel. Die intelligente leser kan sekerlik raai wat volgende gaan kom: Ek het ‘n plan nodig.

* * *

Ek reken nou al vir jare dat hierdie beroep van om Oosterse kinders die lingua franca van die wêreld te leer beter is as om strate te vee, of om papiere op ‘n kantoorlessenaar rond te skuif. Ek weet ook dat dit jou siel kan uitdroog van verveling.

Verder het dit nie my aandag ontglip dat die tye wat ek die gelukkigste was die afgelope paar jare, die tye was wat ek net twee of drie ure per dag in ‘n klaskamer moes deurbring nie, met die res van die tyd agter my rekenaar.

Wanneer ek wel ‘n uur of wat in ‘n klaskamer spandeer, en kontant kort daarna hande verruil, voel dit asof ek oor die antwoord struikel maar dit nie sien vir wat dit is nie. Om ‘n Engelse onderwyser te wees in Taiwan is ideaal vir mense met onopgeloste issues wat veroorsaak dat hulle nie vrede kan vind in ‘n mooi middelklasvoorstad nie (of nie nou nie, in elk geval). Daar is ook ander voordele verbonde aan hierdie manier van geld maak, soos dat dit bevorderlik is vir die bemeestering van ‘n vreemde taal, en eerstehandse kontak met ander kulture moontlik maak.

In kort, waar anders sou ek twaalf ure per week Engelse klasse kon gee (minimale voorbereiding is voldoende as jy reeds al die lesse uit jou kop uit ken), en genoeg geld verdien daarmee om my basiese lewenskoste te dek? Waar anders kan ek, sonder om ‘n enkele streep op ‘n kontrak te trek, in ‘n ou woonstel intrek en my muurbehangsels teen die muur vasspyker? Waar anders kan ek selfs my hawermout in die oggend met stokkies eet – wat nie werk nie, net so terloops – en ‘n gesprek in Chinees voer met ‘n mooi vrou buite die supermark as sy laat in die aand vir my ‘n vars hoenderdy op haar braai gooi?

Waar sou ek al hierdie dinge kon doen, en dit terwyl ek vyftien ballingskap opstelle kon skryf vol weemoed en verlange na my mense?

Ek moet klaarmaak. Ek sien kortverhale in my teeblare, Chinese woordeboeke in my koffiebone, en as ek my oë opslaan na die sterre, nog ten minste sewe jaar van klasgee in die Ooste. Die voordele is reeds genoem; die nadele lê hierdie hele boek vol. Een ding moet egter sneuwel in die stryd wat vir my voorlê: BALLINGSKAP!

Ek lei nou al vir jare aan hierdie koorsagtige hoop dat die lewe wat ek nou my eie noem, nie die beste sal wees wat ek denkbaar kan bewerkstellig nie. Hierdie hoop word saam met my vrese en my begeertes ineen gesmelt deur die verterende vure van frustrasie en verlange. Dit is wat maak dat ek al vanaf Junie 1999 ballingskap opstelle skryf. Dit is wat maak dat ek nooit verder kan sien as die volgende ses maande nie. Hoe anders kyk ‘n mens uit oë wat altyd op skrefies soek na kitsoplossings vir ‘n onvolhoubare situasie?

Ek is moeg vir ballingskap.

* * *

Is u as leser so deurmekaar soos ek? Dit moet van talent spreek om soveel te sê, en aan die einde weg te kom met so min wat nuut is. Gaan ek terug Suid-Afrika toe op vlug CX 1749 wat vanaf Hong Kong vertrek op Donderdag, 4 Maart 2004 om 11:50 in die nag? Dis sekerlik wat my reisagent glo.

Die einde van die verhaal is naby. [Of so het ek gedink...]

___________

Hierdie inskrywing dateer: 22 - 12 - 2003 om 22:50 en sorteer onder Boek Twee. [...]

Gesluit vir kommentaar.