DIE EINDE VAN ‘n ADRES/TRANSFORMASIE

Deur 26 - 09 - 2003

Ek sit in ‘n kaalgestroopte woonstel en wag vir die verhuisingstrok om my en my gemors te verskuif na ‘n nuwe habitat. Sommige gedagtes moet egter dringend genoteer word.

Eerstens, soos ek reeds talle kere genoem het, is my sin van waar ek behoort hoogs onstabiel op die beste van tye. Dit het die vraag laat ontstaan of ek ooit werklik êrens tuis sal voel. Ek bedoel, sommige mense pas nooit in op enige plek nie, reg? Is dit nie die betekenis van die etikette “swerwer” en “eensame” nie?

Teenstrydig met die eerste punt het ek ook onlangs ‘n méér ontwikkelde sin van waar ek hoort, ervaar. Ek is ook skepties daaroor om té goed in te pas. Is dit omdat ‘n mens moet konformeer aan stelle reëls (wat meestal nooit uitgespel word nie) om te kan inpas? Sulke reëls sluit in wat en hoe jy moet aantrek, hoe jy moet optree teenoor verskillende mense, hoe jy jouself moet gedra, wat jy moet sê en wat nie, wat jy moet glo, watter ideale aanvaarbaar is en watter nie, en watse ambisies mens behoort te hê. Maar wat help dit om eerlik te wees – om nie te konformeer ten koste van wie jy glo jy werklik is nie – as jy alleen opeindig? Wat is die waarde daarvan om getrou te bly aan jouself, as dit beteken dat jy altyd alleen loop?

Die ander ding wat ek graag wil noem – wat verwant is aan die eerste saak, is dat ek miskien myself moet transformeer in ‘n kreatuur wat makliker inpas. Dit kan tog nie só moeilik wees nie – ek het immers vriende! (Familie tel nie regtig in hierdie geval nie – hulle het ‘n morele verpligting om jou te aanvaar in hulle midde… dis nou te sê as jou klerestyl, jou gedrag, wat jy sê, waarin jy glo, en jou ideale, nie jou familie so teen die bors stuit dat hulle die punt bereik waar hulle voel dit sal beter wees vir almal as jy nie daarop aandring dat hulle jou behoefte moet bevredig om deel te wees van hulle intieme sirkel nie. My klerestyl, my gedrag, en selfs my ambisies is gelukkig nie van so ‘n aard dat dit my ouers of my twee susters se waardigheid te lelik krenk nie. Dit strek natuurlik ook tot my voordeel om so te glo.)

So, terwyl die behuisingslorrie al nader kom, wat is die kanse dat ek myself tot so ‘n mate kan transformeer dat ek makliker ‘n toetrede kan maak tot groepe en gemeenskappe?

***

Teen vyf voor drie was alles verby. Ek wou die vorige deel geëindig het met die woorde, “So, terwyl die skurke in hulle blou lorrie al nader kom…” maar ek het gedink ek sal hulle die voordeel van die twyfel gee. Hulle was toe wel skurke, maar vriendelik genoeg na hulle twee keer meer geld van my afgepers het as wat ek gehoop het die hele operasie my sal kos. Ek wou geargumenteer het, maar hulle het dreigend saamgegroepeer, met die een wat sy T-hemp so effens opgetrek het om sy onderwêreld-tatoeëermerk te vertoon. Op daai oomblik onthou ek toe nog een van die Belangrike Beginsels van Oorlewing: “Beteuel jouself van fisiese konflik met meer as een skurk op ‘n slag as jy alleen is.” Hierdie beginsel is natuurlik nog meer van toepassing as die skurke die tipe is wat groot rusbanke en wasmasjiene op hulle rûe by drie stelle trappe opkarwei, en soveel te meer as jy self, sal ons maar net sê, die skolastiese tipe is. (Is dit nodig om by te voeg dat dit nie ‘n goeie idee is om los papiere met notas op uit die rusbank te wil trek, terwyl die reeds genoemde skurk besig is om die rusbank by ‘n stel trappe op te dra nie?)

Alles in ag genome, het die proses sonder veel insident verloop. Ek sit nou buite my gunsteling koffieplek, rustig suigende aan ‘n koppie romerige Weense koffie, terwyl ek die swael-besoedelde lug van hierdie deel van die dorp inadem.

In die ure wat verby gegaan het tussen die trekkery en die koffie, moes ek ook ‘n klas gee by die skool waar ek al amper vyf jaar lank werk. Hier was ek in die gelukkige posisie om ‘n paar keer so uit die hoek van die een oog ‘n Taiwanese kollega – wat in die kantoor werk – raak te sien. Nodeloos om te sê besiel haar sensuele skoonheid my om soveel as moontlik fotokopieë te maak, en selfs om gesprekkies met haar aan te knoop in my eiesoortige dialek.

Ek het gehoor sy lig een van die studente in dat sy nog nie ‘n knoop gehaak het met ‘n manlike lid van ons spesie nie. Dit forseer my toe om my eie reputasie te kontempleer as ‘n swerwende wolf van die pad tussen my huis en… wel, die Seven Eleven. ‘n Vinnige hoofberekening van die redes vir hierdie jammerlike stand van sake herinner my toe daaraan dat ek ‘n probleem het met my plek in die wêreld.

Dit bring ons terug by my pre-konfrontasie-met-die-getatoeëerde-vervoerman-vraag: Is dit moontlik dat ek myself kan transformeer in ‘n individu wat die gawe sal hê om êrens te kan inpas?

(Vrydag, 26 September 2003)

___________

Hierdie inskrywing dateer: 26 - 09 - 2003 om 19:29 en sorteer onder Boek Twee. [...]

Gesluit vir kommentaar.