DIE 99 DAE VAN DIE KOMMERSIËLE DIKTATOR

Deur 23 - 02 - 2004

Maandag, 23 Februarie 2004 (oftewel KD Dag 01)

Die Republiek het vanoggend gerys van sy slaap met ‘n wete dat hierdie nie net ‘n doodgewone Maandagoggend is nie. Dit is (en die snaarkwartet slaan ‘n paar vinnige note) die EERSTE DAG VAN DIE 99 DAE VAN DIE KOMMERSIËLE DIKTATOR!

Vroeg na ontbyt was daar alreeds ‘n bietjie onstuimigheid in die Raadsaal. Die KOM-DIK wou sy regime begin met ‘n bietjie “house cleaning”, en het die Skrywer gevra om asseblief handjie by te sit. Die Skrywer het verontwaardig sy kop geskud en gesê hy ráák nie aan ‘n besem nie, waarop die KOM-DIK teruggekap het met, “G’n wonder die plek lyk soos dit lyk nie!”

Laasgenoemde het toe self met besem en stowwer die Raadsaal bolangs opgeknap, terwyl die Skrywer verveeld deur ‘n foto-album geblaai het. (Wat toe amper ‘n tweede onderonsie tot gevolg gehad het, want die Volk wou toe weet of tyd aan foto-albums gespandeer mag word gedurende die Nuwe Tyd. Die Sektretaris het vir ‘n oomblik nagedink, en beslis dat in die Tyd Van Die Skrywer dit nie ‘n probleem sou gewees het nie, en omdat die Nuwe Tyd geskoei is op die Toewyding Van Die Skrywer, dit ook nie nou sake hoef te belemmer nie.)

Tydens die perskonferensie wat gevolg het, het die vraag ook ontstaan wie dan op hierdie oomblik verantwoordelik is vir die skryf van die teks wat u as leser huidiglik lees.

Die Sekretaris het oombliklik die mikrofoon vasgegryp in sy regtervuis, en bekend gemaak dat sulke vrae, veral na die onaangenaamhede met die besem, nie geduld sal word nie. Hy’t skuinsweg na sy tee gegluur wat besig was om koud te raak, en vir homself gemompel, “Die laaste ding wat die Republiek nou nodig het, is ‘n Nuwe Identiteitskrisis.” Toe ruk hy die mikrofoon uit sy staander en roep, “Hierdie Nuwe Tyd, sal onthou word as ‘n tyd van eenheid! Twis het geen plek in tye soos hierdie nie! Die Geëerde Skrywer staan tog immers vir sulke edel beginsels, en die KOM-DIK behoort van beter te geweet het as om ‘n besem in sy rigting te slinger… uhg-ugh.

“In elk geval, daar sal in die volgende 99 dae gefokus word op één ding, en een ding alleen: ‘n skaamtelose, ongeëwenaarde, koorsagtige gejaag na geld. Die redes is lankal uiteengelê; die motiverings is eerbaar. Sekere sake móét moontlik gemaak word, en die Raad het eenstemmig besluit ten gunste van hierdie Strategie op die laaste Groot Sitting op Donderdag, 12 Februarie 2004.

“Die Volk, en al die Sekondêre Karakters word dus voorspoed toegewens vir hierdie nuwe tyd,” het die Sekretaris gesê, met ‘n amper sigbare flikkering van optimisme op sy ongeskeerde bakkies. “Wysheid, vernuf en geluk word ook toegewens aan ons Tydelike Nuwe Leier, die Kommersiële Diktator.

“Laastens,” en met hierdie woorde het sy gesig weer somber geword, en die mikrofoon is teruggedruk in sy klem, “word die Skrywer ‘n aangename Lang Verlof toegewens. Aan die einde van hierdie 99-dag tydperk sal die Literêre Projek weer hervat word, hopelik met gepakte koffers, en koffers vol geld. Lank leef… alles wat goed is.”

Die Juluka-lied “Akanaki Nokunaka” is gekies as Hoofgesang van die Nuwe Tyd, maar nie een van die karakters kon die woorde behoorlik saamsing nie. Almal was egter bekend met die ou volkslied “Sarie Marais”, en almal was dit eens dat dit die stemming korrek vasgevang het. Die Musikant is ingeroep om te begelei op sy kitaar, maar hy’t die bewerasies – en ‘n “verskriklike hoofpyn” – gekry toe hy na soveel jare weer uit sy obskure kas geroep is.

Na die laaste weemoedige note by die oop Raadsaalvensters uitgetrippel het, het almal ‘n enkele vinger die lug ingesteek en uitgeroep, soos Een Man, “Laat die Nuwe Tyd Begin!”

___________

Hierdie inskrywing dateer: 23 - 02 - 2004 om 14:46 en sorteer onder Die Kommersiële Diktatorskap. [...]

Gesluit vir kommentaar.