Boek Een: INLEIDING
Meeste mense soek na iets. Dat jy moontlik eers na jare ‘n vinger daarna kan wys en kan sê, “Dit!” maak gewoonlik nie die soektog minder freneties nie. Party mense soek na maniere om geld te maak, of maniere om gewild te wees. Ander soek na ‘n plek, waar hulle na die lang soektog kan terugsit en vir die eerste keer in hulle lewens kan sê, “Ek het gearriveer.” Ander mense (of dieselfde mense wat na al voorafgenoemde dinge ook soek) soek na ‘n persoon – iemand wat saam met hulle die pad kan stap, wat moontlik saam met hulle kan soek na iets anders, of na soortgelyke dinge.
Een universele aspek van al die soektogte is dat vrae gevra word. ‘n Betekenisvolle persentasie van die vrae handel dan ook oor die individuele vraagsteller self – elke persoon word gedryf deur instink om informasie in te win oor hom- of haarself, en om verwante redes soortgelyke informasie oor ander mense.
Die vrae is bekend aan almal: Hoe lyk ek? Is ek mooi of lelik? Is ek slim of dom? Is ek ‘n “ingenieur” of ‘n “advokaat” of ‘n “kunstenaar”? Hou ek van pizza? Hóé hou ek van my pizza? Hoe hou ander mense van hulle pizza? Wat wil ek met my lewe doen? Wil ek ryk wees? Hoe ryk? Sal dit OK wees as ek nie in die grootste huis in die straat bly nie? Wil ek ‘n kar hê, of ‘n motorfiets? Hoe wil ek my hare dra? Hou ek van pienk? Van watse musiek hou ek? Glo ek in God? Is dit goed genoeg om net elke nou en dan kerk toe te gaan? Vir watter party stem ek? Kyk ek sport, en indien wel, wie of wat ondersteun ek? Wie’s my vriende? Van watse tipe mense hou ek? Hoekom hou ek spesifiek van hierdie mense? Watse tipes mense hou van my (en weereens om watter redes)? Wat doen ek in my vrye tyd…
En hierdie is net die vrae waaraan ek gedink het terwyl ek besig was om ‘n ander CD op te sit. Ek kan nog dosyne hierby voeg. En dan kan jy as leser na die lys kyk en sê, “Goed, maar jy’t ‘n paar duisend gemis.”
Dink ons die heeltyd aan hierdie dinge? Nee. Sommige van hierdie vrae vereis dat ons moontlik sal stilsit vir ‘n wyle om daaroor te dink; ander wéét ons net. Die punt is hóé ons hierdie vrae beantwoord, bepaal hoe ons onsself sien – op ons eie, in die privaatheid van ons eie spasies, en ook wanneer ons tussen ander mense is.
Vele van ons bevind onsself ook op een of ander stadium op vreemde plekke waar niemand ons ken nie, wat ons dan dwing om onsself voor te stel aan ‘n vreemde skare: “Hallo, ek is ‘X’. Ek hou van popmusiek. Ek wil eendag my eie boekwinkel hê. Ek hou nie van uie op my pizza nie, en ek gaan een keer ‘n maand kerk toe.”
Die vrae wat ons onsself afvra, die maniere hoe ons dit beantwoord, hoe ons onsself voorstel aan vreemdelinge, en hoe hierdie mense reageer, bepaal uiteindelik of jy saam met ander pizza-eters uithang of nie; of jy glo dat jou siel uitgesorteer is die dag as jy doodgaan; of, en saam met wie jy moontlik eendag kinders sal produseer; en hoe jy jou vrye tyd spandeer. Om weer maar net ‘n paar voorbeelde te noem.
Dit bring my by die boek wat nou voor jou ooplê. Hierdie is die resultaat van my eie pogings – veral gedurende die afgelope vier jaar op die eiland van Taiwan – om ‘n paar vrae te formuleer, en om bypassende antwoorde bymekaar te skraap.
Wie ek is in die konteks van die wyer wêreld is nie van groot belang nie. Ek is inderdaad ‘n skim, wat nooit meer as ‘n paar van die mense sal ontmoet wat hierdie woorde sal lees nie. (Wat net sowel is! As ek moes wag tot ek bekend is aan meer as net tien mense voor ek hierdie projek sou aanpak, het ek eerder nou gesit en TV kyk.)
Wat wel belangrik is, is dat ek ‘n mens is. Sekere dinge wat ek ervaar het, het ander mense ook al ervaar, en sal nog ervaar word deur vele ander. Probleme wat ek het, gehad het, en nog gaan hê, is soortgelyk aan die probleme wat miljoene mense elke dag die hoof moet bied. Baie wat hierdie bladsye sal lees, het ook al ander, en heel moontlik interessanter dinge ervaar; of het meer, en ernstiger probleme as wat ek ooit sal hê. Daar is ook die mense wat moontlik nog nooit so gelukkig was soos wat ek is, was, of moontlik nog gaan wees nie. Ander kan weer getuig van die teenoorgestelde. Wat almal van ons bind, is dat ons soortgelyke vrae op die een of ander tyd aan onsself móét vra. Vrae waarop antwoorde gevind móét word, al vat dit ‘n leeftyd.
***
Die Voorwoorde het ten doel om ‘n bietjie agtergrond te voorsien, om sodoende nie heeltemal met die ossewa in die huis te val nie. Die res van die materiaal is hoofsaaklik chronologies, en is veronderstel om ten minste te lyk soos die storie van iemand se lewe.
Gooi dus vandag se koerant eenkant toe, sit die TV se klank af, maak vir jouself ‘n vars koppie tee, en lees verder.
Brand Smit
Fengshan, Taiwan
Sondag, 18 Mei 2003
Post-notas:
1. Briewe aan familie en vriende maak ook ‘n verskyning in hierdie projek, en ek verwys soms na hierdie mense in ander stukke: M. is my ouer suster wat in Engeland woon; L. is my ou vriend van hoërskool; O., N.S., en J. is vriende van my in Taiwan (ook Suid-Afrikaners); S., F. en A.N. is mense van Australië, Amerika en Kanada wat ek in Korea ontmoet het. A. was deel van my argument in 1991 oor hoekom ek die Kaap geag het as my mees ideale habitat, en T. is ‘n vriendin van my in Suid-Afrika.
2. Meeste van die gedigte kom uit ‘n versameling wat ek twee jaar gelede saamgebundel het onder die titel, Verskeie Faktore Wat Aanleiding Gee Tot Koors, En Die Helderheid Daarna.
3. Die teks in [blokhakies] is my redakteurstem; dit bevat opinies en verduidelikings wat ek bygelas het soos ek die teks verwerk het (voetnotas word in sommige gevalle benut vir dieselfde doel).
4. Die eerste honderd bladsye of so is effens gefragmenteerd. Daar is vele kort stukkies wat ek aangepas het uit die oorspronklike gekrap in notaboeke. Ek kon dit meer lyf gegee het om dit te laat verskyn as voller teks, maar dit sou onvanpas gewees het vir hierdie tipe literêre projek. Beskou dus maar die vroeë dele (en latere fragmente) as noodsaaklike dokumente om die hoofkarakter te skets.
