Oor reise, kettings en die Christelike kerk

DINSDAG 3 NOVEMBER 2009

Almal is op hulle eie reise. Almal se stryd is anders, en ewe werklik. Almal weet iets, baklei met iets, sukkel met iets, probeer iets oorleef, of probeer om iets na te streef, waarvan jy niks weet nie. (Dieselfde kan natuurlik oor jou, vir iemand anders gesê word.)

Voor jy jouself vergelyk met iemand anders, vra jouself: Begryp jy die kompleksiteit van die ander persoon se lewe?

DONDERDAG 12 NOVEMBER 2009

Indien jy aanvaar dat jy nooit werklik vry is nie, staan jy voor ’n keuse: óf jy kies jou eie kettings, óf dit word op jou afgedwing.

’n Redelike vraag volg: Indien jy in die relatiewe bevoorregte posisie is om jou eie kettings te kan kies, hoe kies jy?

DONDERDAG 19 NOVEMBER 2009

Om minder veroordelend, en minder krities te wees teenoor ander mense, is ’n goeie ding.

Die laaste veertig-plus maande se gesukkel het my meer beskeie gemaak. En minder gretig om ander mense se swakhede uit te wys.

SATERDAG 28 NOVEMBER 2009

Die Christelike kerk is ’n sosio-kulturele instelling wat die ontwikkeling en handhawing van persoonlike identiteit help fasiliteer. Vir vele mense gee die kerk se teologie [religieuse oortuiginge en teorie] en ideologie [stelsel van idees en ideale] betekenis aan die lewe, asook ’n morele raamwerk om reg van verkeerd te onderskei.

______________________

Vra die regte vrae – selfrespek en geld

SATERDAG 21 NOVEMBER 2009

Die vraag, “Hoe kan ek geld maak?” is problematies. Dit fokus op die een wat geld wil maak, en hoe kan ’n mens verwag dat jy geld gaan maak met iets wat fokus op die een wat die geld nodig het?

’n Beter reeks vrae kan voorgestel word: Op watse manier kan ek waarde gee aan iemand se lewe wat ook geld in my eie sak gaan sit? Op watter wyses kan ek bydra tot ’n verhoging in iemand se lewenskwaliteit wat ook vir my profyt gaan bring? Op watter wyses kan ek waarde toevoeg tot iets wat iemand reeds produseer of geproduseer het wat ook vir my wins gaan oplewer?

Hierdie is nie die eerste keer wat ek langs hierdie lyne dink nie, maar as ek weer sien, het ek weereens die spoor verloor, en vra ek opnuut: Wat kan ek verkoop? Hoe kan ek geld maak met hierdie projek?

Tensy jy die vermoëns en die kapitaal het om te spekuleer met geld, gaan die antwoord op die vraag na hoe jy geld kan maak, altyd wees deur waarde te voorsien aan mense wat bereid is om te betaal daarvoor.

MAANDAG 23 NOVEMBER 2009

20:46

Ek het net een ding nodig wanneer ek oor drie weke en vyf dae Suid-Afrika toe gaan, en dit is nie ’n klomp geld nie. My enigste versoek is dat ek kalm vertroue in myself sal manifesteer.

Dit is wel so dat geld gewoonlik ’n bron is van oppervlakkige selfvertroue. Vele mense se koppe spin ook van verwarring as jy kalm en selfversekerd is ten spyte van die feit dat jy nie baie geld het nie.

Die vraag is, kan jy jouself respekteer as jou beursie aan die dun kant is? Kan jy regtig kalm vertroue in jouself manifesteer as jy jou sente ’n paar keer moet omdraai voor jy dit spandeer?

Daar is uiteindelik baie redes hoekom iemand nie rol in die geld, of dik in die krediet is nie. As ander mense dit moeilik vind om jou te respekteer as jy nie geld het nie, is dit hulle probleem. As jy steeds jouself kan respekteer al is finansiële hulpbronne skaars, is kontantvloei jou enigste probleem.

21:41

Diere kan vrees ruik, en reageer onwillekeurig daarop. So ook het meeste mense ’n aanvoeling vir gebrek aan selfrespek in ’n ander persoon. Ook dan, is die reaksie onwillekeurig.

______________________